Skip to main content

Openbaring 21 – God skep hemel op aarde vir sy volk, die Nuwe Jerusalem

Die oorwinning oor die Satan en die oordeel oor die mensdom word opgevolg in hoofstuk 21 met:

  • die koms van die nuwe hemel en nuwe aarde – vers 1,
  • die vestiging van die Nuwe Jerusalem uit die hemel op die aarde as die woonplek van God.  Só word alles nuut gemaak – vers 2-8 en
  • die beskrywing van die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem – die bruid, die vrou van die Lam – wat in wese eintlik ook die beskrywing van God se heerlikheid is – vers 9-27.

Hoofstuk 22 sal dié prentjie afrond met ’n beskrywing van die water van die lewe wat uit die troon van God en die Lam uit die stad vloei – vers 1-6.  Die boek word daarna afgesluit met ’n versekering van die spoedige en besliste wederkoms belofte van die Here Jesus as aanmoediging vir die gelowiges om vas te hou aan die woorde van God.

Die koms van die nuwe hemel en aarde – vers 1

Die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde word in ’n enkele vers beskrywe.  Dit vervang die ou hemel en aarde wat tot niet gaan.  Die enigste detail waarop uitgebrei word, is die feit dat daar nie ’n see sal wees nie. Dit dui op die feit dat daar geen boosheid meer sal wees nie, aangesien die see as die woonplek van die Bose beskou is.

Daarmee sluit Openbaring presies aan by die belofte wat Jesaja al lank tevore van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gebring het, waarin daar ook ’n nuwe bedeling vir Jerusalem, die Godsvolk, sal wees (Jes. 65:17-18).

Die vestiging van die Nuwe Jerusalem – vers 2-8

Die Nuwe Jerusalem (vgl. ook Openb. 3:12 waar insluiting in hierdie stad as beloning aan Filadelphia belowe word) daal neer uit die hemel (sommige manuskripte sê: “uit God se hemel”) as gereedgemaakte bruid vir die Lam van God, waarmee ’n idilliese prentjie van “hemel op aarde” geskets word.  Sy staan in skerp kontras met die bose Babilon wat deur God vernietig is.

In ’n sekere sin word hemel en aarde een in die Nuwe Jerusalem, die Gods volk (Du Rand).  Die plek ís ook die mense!  Die gelowiges ís ook die stad van die Here God.  Die droom van Jes. 2 dat Jerusalem die ontmoetingsplek met God vir die nasies sal wees, word só uiteindelik in sy volheid bewaarheid!  Dit verklaar ook hoekom die nasies steeds deel van die beskrywing van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, in die volgende hoofstuk sal wees.  Vgl. ook Jes. 65:17-18 en Sag. 8:20-23; 14:8 waar dié beloftes die eerste keer uitgespreek is in die OT en waarvan Openbaring die vervulling beskrywe.

Dit is nie net die vervulling van die OT ideaal van God wat ’n God vir sy volk is en hulle wat vir Hom ’n volk is nie – die ideaal van die Ou Verbond (Gen. 17:7; Eks. 29:45; Lev. 26:11-12) sowel as van die Nuwe Verbond (Jer. 31:33; Eseg. 37:27-28 [wat ook ‘n effek op die nasies sal hê).

Dit is ook nie net die volke – let op die meervoud! – wat nou sy woonplek (tent) word nie, maar hulle ervaar ’n omvattende herstel wat God aankondig: elke traan word afgedroog, die dood word vernietig, daar sal nie meer gerou of gehuil word nie, want daar sal geen pyn meer wees nie.  Die eerste dinge het verbygegaan, die nuwe het gekom (soos Paulus ook in 1 Kor. 5:17 skrywe!).

God maak alles nuut.  Om die waarheid te sê, in ’n sekere sin is dit eintlik in beginsel afgehandel, want die belofte kom van die Een wat die Alfa en die Omega is, die Begin en die Einde.  Elkeen wat hierna smag, sê God, sal versadig word.  Hulle sal drink uit die fontein van lewegewende water om vir ewig te lewe.  En dié lewensdrank sal verniet wees (vgl. Jes. 55:1).

Dít is die deel van elkeen wat aan God bly vashou.  Die res van die mensdom se deel is die tweede dood, die vuurpoel, waar die bose trio reeds is.  8 karaktereienskappe van dié mense wat dit nie sal maak nie word uitgespel waarin duidelike ooreenkomste nie net met ander soortgelyke lyste in die NT is nie, maar ook ooreenkomste met die Tien Gebooie: lafhartiges (dié wat bang geword het), ongelowiges (dié wat ontrou geword het), losbandiges, moordenaars, onsedelikes, towenaars (óf bedrieërs), afgodsdienaars en leuenaars.  Hulle lot is verweef met die vuurpoel, die plek waar God nie is nie, net die boosheid in al sy afgryslike glorie.

Die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem, die bruid en vrou van die Lam van God – vers 9-27

In ’n heerlike beskrywing word die skoonheid van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, beskrywe, wat in wese ook ’n beskrywing van God se heerlikheid is.   Haar glans is dié van kristalhelder jaspis (N.A.V. het opaal) wat eerder aan ’n diamant herinner, soos in Openb. 4.  Sy is veilig omdat daar ’n hoë muur om haar gebou is, met twaalf engele wat die volk by die twaalf poorte oppas.  Die stad is gegrondves op twaalf fondamente, die twaalf apostels “van die Lam” (vgl. Paulus se opmerkings hieroor in 1 Kor. 3:10).

Dié getal twaalf (maal twee) staan vir die volle getal van die Godsvolk – beide die twaalf stamme van die ou bedeling en die twaalf apostels van die nuwe bedeling.

Weereens word ’n meetstok uitgehaal om die stad te meet – soos in Openb. 11 waar Johannes die tempel van God moes meet – om te simboliseer dat hulle almal aan God behoort.  Die stad vorm ’n enorme kubus waarvan hoogte, breedte en lengte gelyk is.  Die 12 000 km (soos die N.A.V. dit vertaal) is eintlik in die grondteks 12 000 stadion.  Dit beteken dit is ’n 2 220 km kubus (stadion is 185 m lank), hoewel die presiese letterlike mate natuurlik nie so belangrik is as die feit dat dit groots is.  Netso is die muur eintlik 65 m hoog – die grondteks sê dat dit 144 el hoog is en ’n el is 45 cm lank.

Die verdere boumateriaal is ook besonders: goud, 12 tipe edelstene en pêrels (een van die kosbaarste juwele van die antieke tyd en in dié geval enorm groot!).  Dit alles dien egter net om die sentrale heerlikheid van God self te belig.  Die Here God woon in die stad, d.w.s. in en tussen sy mense en verlig nie net vir hulle nie, maar ook vir almal rondom.  Die son en maan is oorbodig, want God is daar.  Binne-in die stad kan egter net die gelowiges wie se name in die lewensboek van die Lam geskryf is, kom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda