Openbaring 21 – God skep hemel op aarde vir sy volk, die Nuwe Jerusalem

Die oorwinning oor die Satan en die oordeel oor die mensdom word opgevolg in hoofstuk 21 met:

  • die koms van die nuwe hemel en nuwe aarde – vers 1,
  • die vestiging van die Nuwe Jerusalem uit die hemel op die aarde as die woonplek van God.  Só word alles nuut gemaak – vers 2-8 en
  • die beskrywing van die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem – die bruid, die vrou van die Lam – wat in wese eintlik ook die beskrywing van God se heerlikheid is – vers 9-27.

Hoofstuk 22 sal dié prentjie afrond met ’n beskrywing van die water van die lewe wat uit die troon van God en die Lam uit die stad vloei – vers 1-6.  Die boek word daarna afgesluit met ’n versekering van die spoedige en besliste wederkoms belofte van die Here Jesus as aanmoediging vir die gelowiges om vas te hou aan die woorde van God.

Die koms van die nuwe hemel en aarde – vers 1

Die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde word in ’n enkele vers beskrywe.  Dit vervang die ou hemel en aarde wat tot niet gaan.  Die enigste detail waarop uitgebrei word, is die feit dat daar nie ’n see sal wees nie. Dit dui op die feit dat daar geen boosheid meer sal wees nie, aangesien die see as die woonplek van die Bose beskou is.

Daarmee sluit Openbaring presies aan by die belofte wat Jesaja al lank tevore van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gebring het, waarin daar ook ’n nuwe bedeling vir Jerusalem, die Godsvolk, sal wees (Jes. 65:17-18).

Die vestiging van die Nuwe Jerusalem – vers 2-8

Die Nuwe Jerusalem (vgl. ook Openb. 3:12 waar insluiting in hierdie stad as beloning aan Filadelphia belowe word) daal neer uit die hemel (sommige manuskripte sê: “uit God se hemel”) as gereedgemaakte bruid vir die Lam van God, waarmee ’n idilliese prentjie van “hemel op aarde” geskets word.  Sy staan in skerp kontras met die bose Babilon wat deur God vernietig is.

In ’n sekere sin word hemel en aarde een in die Nuwe Jerusalem, die Gods volk (Du Rand).  Die plek ís ook die mense!  Die gelowiges ís ook die stad van die Here God.  Die droom van Jes. 2 dat Jerusalem die ontmoetingsplek met God vir die nasies sal wees, word só uiteindelik in sy volheid bewaarheid!  Dit verklaar ook hoekom die nasies steeds deel van die beskrywing van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, in die volgende hoofstuk sal wees.  Vgl. ook Jes. 65:17-18 en Sag. 8:20-23; 14:8 waar dié beloftes die eerste keer uitgespreek is in die OT en waarvan Openbaring die vervulling beskrywe.

Dit is nie net die vervulling van die OT ideaal van God wat ’n God vir sy volk is en hulle wat vir Hom ’n volk is nie – die ideaal van die Ou Verbond (Gen. 17:7; Eks. 29:45; Lev. 26:11-12) sowel as van die Nuwe Verbond (Jer. 31:33; Eseg. 37:27-28 [wat ook ‘n effek op die nasies sal hê).

Dit is ook nie net die volke – let op die meervoud! – wat nou sy woonplek (tent) word nie, maar hulle ervaar ’n omvattende herstel wat God aankondig: elke traan word afgedroog, die dood word vernietig, daar sal nie meer gerou of gehuil word nie, want daar sal geen pyn meer wees nie.  Die eerste dinge het verbygegaan, die nuwe het gekom (soos Paulus ook in 1 Kor. 5:17 skrywe!).

God maak alles nuut.  Om die waarheid te sê, in ’n sekere sin is dit eintlik in beginsel afgehandel, want die belofte kom van die Een wat die Alfa en die Omega is, die Begin en die Einde.  Elkeen wat hierna smag, sê God, sal versadig word.  Hulle sal drink uit die fontein van lewegewende water om vir ewig te lewe.  En dié lewensdrank sal verniet wees (vgl. Jes. 55:1).

Dít is die deel van elkeen wat aan God bly vashou.  Die res van die mensdom se deel is die tweede dood, die vuurpoel, waar die bose trio reeds is.  8 karaktereienskappe van dié mense wat dit nie sal maak nie word uitgespel waarin duidelike ooreenkomste nie net met ander soortgelyke lyste in die NT is nie, maar ook ooreenkomste met die Tien Gebooie: lafhartiges (dié wat bang geword het), ongelowiges (dié wat ontrou geword het), losbandiges, moordenaars, onsedelikes, towenaars (óf bedrieërs), afgodsdienaars en leuenaars.  Hulle lot is verweef met die vuurpoel, die plek waar God nie is nie, net die boosheid in al sy afgryslike glorie.

Die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem, die bruid en vrou van die Lam van God – vers 9-27

In ’n heerlike beskrywing word die skoonheid van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, beskrywe, wat in wese ook ’n beskrywing van God se heerlikheid is.   Haar glans is dié van kristalhelder jaspis (N.A.V. het opaal) wat eerder aan ’n diamant herinner, soos in Openb. 4.  Sy is veilig omdat daar ’n hoë muur om haar gebou is, met twaalf engele wat die volk by die twaalf poorte oppas.  Die stad is gegrondves op twaalf fondamente, die twaalf apostels “van die Lam” (vgl. Paulus se opmerkings hieroor in 1 Kor. 3:10).

Dié getal twaalf (maal twee) staan vir die volle getal van die Godsvolk – beide die twaalf stamme van die ou bedeling en die twaalf apostels van die nuwe bedeling.

Weereens word ’n meetstok uitgehaal om die stad te meet – soos in Openb. 11 waar Johannes die tempel van God moes meet – om te simboliseer dat hulle almal aan God behoort.  Die stad vorm ’n enorme kubus waarvan hoogte, breedte en lengte gelyk is.  Die 12 000 km (soos die N.A.V. dit vertaal) is eintlik in die grondteks 12 000 stadion.  Dit beteken dit is ’n 2 220 km kubus (stadion is 185 m lank), hoewel die presiese letterlike mate natuurlik nie so belangrik is as die feit dat dit groots is.  Netso is die muur eintlik 65 m hoog – die grondteks sê dat dit 144 el hoog is en ’n el is 45 cm lank.

Die verdere boumateriaal is ook besonders: goud, 12 tipe edelstene en pêrels (een van die kosbaarste juwele van die antieke tyd en in dié geval enorm groot!).  Dit alles dien egter net om die sentrale heerlikheid van God self te belig.  Die Here God woon in die stad, d.w.s. in en tussen sy mense en verlig nie net vir hulle nie, maar ook vir almal rondom.  Die son en maan is oorbodig, want God is daar.  Binne-in die stad kan egter net die gelowiges wie se name in die lewensboek van die Lam geskryf is, kom.

View all posts in this series

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: