Skip to main content

Openbaring 6 – God se oordeel ontvou met ses seëls

Hoofstuk ses handel oor die Lam van God wat ses van die seëls van die boekrol oopbreek.  Die ses seëls laat telkens ’n ander aspek van God se oordeel ontvou. Dit is ’n proses wat tussen Christus se verlossende opstanding, Hemelvaart en Troonbestyging aan die eenkant en die Wederkoms wat later in die boek aan die orde kom, plaasvind.  Die oordeel is dus iets wat nou reeds gebeur, soos dit ook waar is van God se verlossing.

Die temas wat in dié oordele aangeraak word, ook dié van die trompette en die bakke wat hierna beskryf word, toon groot ooreenkomste met die onderskeie profetiese redevoeringe in die evangelies – Matteus 24; Markus 13; Lukas 21.  Dit handel in die breë oor oorloë, tweedrag en twis, hongersnood, aardbewings, vervolging en kosmiese ontwrigting.

Die eerste vier seëls word opvolgend elke keer deur ’n ander een van die vier lewende wesens aangekondig.  Dit beteken dus dat die seëls regdeur die skepping ’n impak gaan hê – om die waarheid te sê, ’n selfvernietigende effek soos ’n mens uit die beskrywings agter kan kom.

  • Die eerste seël is dié van ’n wit perd met ’n boogdraende ruiter wat ’n oorwinningskroon dra en uittrek as oorwinnaar en om te oorwin.  Omdat dié ruiter baie soos die Messias op die wit perd in Openb. 19 lyk, maar hier as deel van die seëls van oordeel beskryf word, kan ’n mens die wit perd en sy ruiter in Openb. 6 as ’n vals messias of selfs as die antichris sien.  Die wit perd staan dus waarskynlik vir ’n vals messias wat die skyn van oorwinning dra, maar eintlik ander wil onderdruk.
  • Die tweede seël is dié van ’n vuurrooi perd waarvan die ruiter ’n groot swaard dra en die vrede van die aarde wegneem sodat mense mekaar kan doodmaak.  Die vuurrooi perd staan dus vir oorlog.
  • Die derde seël is dié van ’n swart perd waarvan die ruiter met ’n weegskaal koring en gars in rantsoene afmeet en ’n stem (Christus) die buitensporige pryse van dié stapelvoedsel, koring en gars, aankondig en beveel dat die duurder en luukser items, olie en die wyn, nie beskadig word nie omdat dit so waardevol geword het.  Die swart perd staan dus vir hongersnood en die gepaardgaande swaar ekonomiese tye.
  • Die vierde seël is dié van ’n vaal perd (of vaalgroen, die kleur van ’n lyk) wie se ruiter die Dood is en ’n kwart van die aarde doodmaak.  Die vaal perd staan dus uiteraard vir die dood.

Dié perspektief wat dié vier seëls en vier perde vir ons gee op wat op die aarde aangaan, waar soveel selfvernietigende oorloë heers, waar só baie mense krepeer van ellende en die dood in terme van soveel pandemies heers (voëlgriep, M.I.V./Vigs, TB), is regtig tragies.  Veral as ’n mens die verydeling en selfvernietiging nie maar net sien as die natuurlike verloop van sake nie, maar as iets wat deel is van God se oordeel oor ’n mensdom wat Hom nie wil dien nie.

Die vyfde seël word dan oopgemaak en dit open Johannes se visie op die siele van dié wat doodgemaak is vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het.  Hulle het hulle lewens as’t ware op die altaar geplaas en dít is waar hulle nou ná hulle dood is, onder die hemelse altaar.  Op hulle harde pleitende vraag hoe lank die Here nog gaan wag met die voltrekking van sy oordeel om hulle bloed op die aardbewoners te wreek, antwoord iemand dat hulle nog ’n kort rukkie moet rus totdat hulle getal voltallig is, terwyl hulle met wit oorwinningsklere beklee word.  Hulle passie is egter nie wraak as sodanig nie, maar regstelling en regverdigheid.  En hulle vra en verwag dit van God.

Die sesde seël bring ’n groot aardbewing wat kosmiese ontwrigting veroorsaak – son, maan, sterre – wat al die aardbewoners van angs vir die toorn van God en die Lam laat wegkruip.  Dit is die teken dat die einde naby is, dat alles dreig om te vergaan.

Die doel van dié oordeelsvoltrekking is ten dele ’n antwoord op die gebede van die heiliges, iets wat veral in hfst. 8 die geval is waar die sewe trompette ’n direkte gevolg is van die gebede en ten dele ’n voorbereiding vir die koms van die nuwe hemel en aarde.  Dit is asof die verganklike skepping stukkie vir stukkie afgetakel word om plek te maak vir die nuwe (Du Rand, hfst. 10).

Dit wil tog ook lyk asof die Here met die oordele ’n laaste poging aanwend om mense hiermee tot bekering te “skok”, hoewel dié hoop beskaam, soos Openb. 9:20 dit verwoord.

View all posts in this series

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar