Skip to main content

Openbaring 15 – Die oordeel breek onafwendbaar aan

Hoofstuk 15 is ’n kort inleiding op die finale oordeel waarin die sewe goue bakke gloeiende kole van God se toorn op die aarde uitgegooi word.  Dié sewe bakke met oordele word as sewe plae geteken wat God se oordeel voltooi wat ook Babilon (Rome) se vernietiging insluit.

Hierdie einde verskaf groot vreugde vir die gelowiges wat die oorwinning behaal het.  Hulle sing die lied van Moses (vgl. Eks. 15), waarmee die oordele direk met die wyse waarop die plae in Egipte verlossing vir die Israeliete gebring het, verbind word (vgl. ook Deut. 32 wat Moses se lied met die Intog in Kanaän weergee).  Dit is ook die lied van die Lam waarin God vir sy Almag, reg en betroubaarheid geloof word en as Koning van die nasies aanbid word.

Dit dui dus op die feit dat verlossing en oordeel kante van dieselfde munt is.  Sonder die oordeel sal God se mense nie verlos word nie.  Sonder die verlossing sal die oordeel net so boos wees as dié wat geoordeel word.

Die sewe engele het uit die tent van die getuienis (N.A.V. vertaal “woonplek van God”) gekom.  Die woord getuienis in die oorspronklike Grieks verwys na die kliptafels van die wet wat in die ark in die tabernakel geplaas is en van God se wil vir die lewe getuig het (Vgl. Lev. 16:13).  Die engele kom dus uit God se teenwoordigheid en volledig in lyn met sy geopenbaarde wil om die oordeel uit te deel.

Hulle ontvang van die vier lewende wesens, verteenwoordigend van die skepping en God se teenwoordigheid daarbinne, die sewe bakke met gloeiende kole van God se toorn.  Dit kom ooreen met die vorige twee soortgelyke prosesse in Openb. 5:8 en 8:3-5 waar dit met die gebede van die gelowiges verbind word asook met vuur.

Dit lei tot groot ontsag vir God, uitgedruk met die beeld van die rook wat die tempel gevul het met die heerlikheid en mag van God.  Die feit dat niemand in die tempel kon ingaan tot die oordeel voltrek is nie, dui waarskynlik op die onafwendbaarheid van die oordeel waarop God besluit het.

Hoofstuk 16 vervolg dan met die verhaal van die uitgooi van die sewe bakke van God se toorn.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar