Openbaring 22 – God bring lewe en genesing – Die Here Jesus is op pad terug
Die boek Openbaring sluit in hoofstuk 22 af met:
- ’n prentjie van die utopiese karakter van die Nuwe Jerusalem wat herinner aan die oorsponklike paradystuin van Eden in Genesis 2 sowel as die saligspreking van Psalm 1 wat ook met ’n boom metafoor werk – vers 1-5 en
- ’n versekering van die Here Jesus Christus se wederkoms in ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek – vers 6-21.
Water van lewe en genesing vloei uit die Nuwe Jerusalem – vers 1-5
Soos die vorige hoofstuk die impak van God uit die Nuwe stad Jerusalem – die metafoor vir die geloofsgemeenskap – op die omliggende nasies beskryf met die metafoor van LIG wat lewe gee, só beskryf Johannes op soortgelyke wyse die impak van God in hierdie hoofstuk met die metafoor van WATER wat lewe gee.
Hierdie water loop soos ’n rivier uit die troon van God en die Lam en gee lewe asook genesing via die boom van die lewe wat by die rivier geplant is en via sy vrugte en blare genesing bring. Dit sluit baie nou aan by Eseg. 47 wat beide oor die stroom van water uit die heiligdom en die blare van die bome daar langsaan wat genesing bring, skrywe. Dit laat my ook dink aan Psalm 1 se prentjie van die oorvloed wat iemand beleef wat na God luister en met ’n boom wat by watervore geplant is, vergelyk word.
In dié utopia sal daar geen vervloeking meer wees nie. In die grondteks staan daar net: “Daar sal geen vloek meer wees nie”, maar in die konteks beteken dit dat God nie meer sal oordeel nie. Dit sal nie meer nodig wees nie, want almal sal met onbedekte gesig die lig van God se teenwoordigheid indrink en daarin en daaruit leef.
Die Here Jesus Christus kom verseker weer – vers 6-21
Johannes sluit die boek af met ’n versekering van die Here Jesus Christus se spoedige wederkoms in ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek Openbaring. Dat die Here Jesus self drie keer dit herhaal, gee aan dié slotgedeelte ’n besondere krag: vers 7,12,20.
Dat die woorde van dié boek as betroubaar en waar geag word, soos die engel aan Johannes te kenne gee, gee besondere krag aan die oproep om gehoorsaam te wees. Trouens, Jesus se eerste belofte van sy wederkoms word as saligspreking daaraan verbind: “Geseënd is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.”
Soos in Openbaring 19 is die oomblik só groot vir Johannes dat hy weer die boodskapper probeer aanbid, maar word weereens gehelp om sy fokus op God te plaas, terwyl hy ook aangemoedig word om die woorde van die profesie wyd te versprei weens die spoedige aard daarvan in belang van die lewens van mense. Die woorde in vers 11 kan op twee maniere verstaan word, as ’n beskrywing van wat in werklikheid gebeur – sondaars hou aan met sondig, dié wat gehoorsaam is, groei in gehoorsaamheid – óf as ’n waarskuwing aan goddeloses dat hulle op ’n pad is wat na die verderf lei en omgekeerd ’n aanmoediging aan gelowiges dat hulle moet volhou op die pad wat na die volle gemeenskap met God lei.
Die beloning van die Here Jesus dui nie op ’n verdienstelike karakter van die wederkoms nie, maar op die sekerheid van die redding van diegene wat in ’n verhouding met Hom lewe. Dit word gekontrasteer met dié wat nie deel van die stad sal hê nie, ’n soortgelyke lys as wat in hoofstuk 21 gegee is.
Die Gees en die bruid eggo die belofte van die Here Jesus se koms met die byvoeging dat daar nog genadetyd beskikbaar is vir dié wat dors het en luister.
Johannes bevestig self oor die inhoud van sy boek dat dit gesagvol is, een van die redes waarom die boek uiteindelik in die kanon ingesluit is, komende van ’n apostel wat die Here Jesus op aarde geken het
Die boek sluit met die derde belofte van die Here Jesus Christus dat Hy op pad is om terug te keer, waarop die kerk asof in ’n liturgie antwoord: “Amen! Kom, Here Jesus!”, asook ’n seënbede waarin net die naam van die Here Jesus en sy genade genoem word.
View all posts in this series
- Die Openbaring aan Johannes – Jesus Christus se testament en agenda - Sep 9, 2013
- Inleiding op Openbaring - Oct 16, 2013
- Openbaring 1 – Jesus Christus maak bekend wat hierna gaan gebeur - Oct 17, 2013
- Openbaring 2 – Bly getrou tot by die Wederkoms - Oct 18, 2013
- Openbaring 3 – Fokus op gemeenskap met Jesus - Oct 21, 2013
- Opsomming van Jesus se boodskap aan sy kerk
- Openbaring 4 – God word as Skepper in die hemelse troonsaal aanbid - Oct 22, 2013
- Openbaring 5 – Die Lam van God is waardig om God se agenda uit te voer - Oct 23, 2013
- Openbaring 6 – God se oordeel ontvou met ses seëls - Oct 24, 2013
- Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskap - Oct 25, 2013
- Openbaring 8 – God hoor die gebede van die heiliges en verskerp sy verlossende oordeel - Oct 28, 2013
- Openbaring 9 – God se oordeel bring nie die mense tot bekering nie - Oct 29, 2013
- Openbaring 10 – Die kerk het die taak om die verlossing en die oordeel van God te verkondig - Oct 30, 2013
- Openbaring 11 – God beskerm sy mense en vestig sy heerskappy deur hulle getuienis - Oct 31, 2013
- Openbaring 12 – God beskerm sy kerk teen alle aanslae van die draak - Nov 1, 2013
- Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloof - Nov 4, 2013
- Openbaring 14 – Die oes van gelowiges en ongelowiges word ingesamel - Nov 5, 2013
- Openbaring 15 – Die oordeel breek onafwendbaar aan - Nov 6, 2013
- Openbaring 16 – God se oordeel tref die hele kosmos en vernietig Rome - Nov 7, 2013
- Openbaring 17 – Die omvang van Rome se bose invloed op die nasies word ontbloot - Nov 8, 2013
- Openbaring 18 – Die oordeel oor Babilon-Rome bring bevryding vir die kerk van die eeue - Nov 11, 2013
- Openbaring 19 – Gelowiges jubel oor die bruilofsfees van die Lam en God se regverdige oordeel en uitwissing van die Bose - Nov 12, 2013
- Openbaring 20 – Die oordeel oor die Satan baan die weg vir die bekendmaking van die mense in die Boek van die Lewe - Nov 13, 2013
- Openbaring 21 – God skep hemel op aarde vir sy volk, die Nuwe Jerusalem - Nov 14, 2013
- Openbaring 22 – God bring lewe en genesing – Die Here Jesus is op pad terug - Nov 15, 2013
- Opsomming van die boodskap van Openbaring
- Gemeentes in die weegskaal - Jul 29, 2019
- Pinkster 2020 – “Ek kom gou!” - May 8, 2020
- “Ek kom gou” – ‘n boek oor Openbaring deur Chris van Wyk - May 14, 2020
- Die “see van glas” soos kristal in Openbaring 4 - Apr 30, 2022