Skip to main content

Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskap

Tussen die sesde en sewende seël van die boekrol verskuif die fokus na twee groepe mense, 1) 144 000 van die diensknegte van God op aarde wat met ’n merk op hulle voorkoppe geseël word – vers 1-8 – en 2) ’n ontelbare groot skare uit elke nasie, stam, volk en taal uit die groot verdrukking wat God aanbid in die hemel en deur die Lam versorg word – vers 9-17.

Die doel van dié toneel tussen die oordele van die twee seëls is om gelowiges te bemoedig dat die oordeelsvoltrekking nie op hulle gemik is nie, dat hulle op aarde as God se eiendom gemerk is en dat hulle uiteindelike verlossing vas en seker is. Die eerste groep word beskerm tydens die oordeel op aarde.  Die tweede groep word versorg in die hemel ná die groot verdrukking.

144 000 diensknegte van God op aarde

Die vier engele op die vier hoeke van die aarde word eers teruggehou om die oordeelsvoltrekking op aarde verder uit te voer, sodat die diensknegte van God eers geïdentifiseer en met ’n seël beskerm kan word.

Die 144 000 diensknegte van God kan op verskillende maniere geïnterpreteer word.

  • Dit kan letterlik dui op die Joodse volk wat van die aartsvaders afstam.  Maar, die situasie is dat die twaalf stamme in die eerste eeu n.C. lankal nie meer letterlik bestaan het.  Die eerste ballingskap in die 8ste eeu v.C. het die 10 noordelike stamme vir alle praktiese doeleindes uitgewis.  Die kerk word ook deur Paulus geteken as saam met die gelowige Jode deel van die een nuwe mensheid wat Christus geskep het (Ef. 2:15).  Die feit dat iemand dus fisies afstam van Israel en deel van die Joodse nasie is, word daarom nie meer in die NT as teken beskou dat jy tot die ware Israel behoort, net omdat jy jou afstamming kan bewys nie, soos Paulus uitvoerig aanvoer in Romeine 9-11.  Dié wat in Jesus Christus glo, is die nageslag van Abraham (Gal 3:29), is die ware volk van God, die die ware Israel (Gal. 6:16).  Natuurlik is dít ook waar van almal wat deel is van die Joodse nasie wat in Christus glo, maar dit verhef nie nasieskap tot ’n Christelike onderskeidingsteken nie.  Daarom kan Johannes die lede van die Joodse volk wat Christus verwerp as die sinagoge van Satan beskryf, soos vroeër in Openbaring.  Gelowiges is dus die ware Israel.
  • Dit kan dui op die Joodse deel van die volk van God (Joodse of Messiaanse Christene) wat simbolies as 12 000 uit elke stam van Israel aangedui word.  Dit is ’n beter interpretasie as die eerste, veral omdat ’n mens dit dan kan kontrasteer met dié volgende groep Christene wat uit alle nasie, stam, volk en taal kom.  Maar dit bevredig tog nog nie regtig nie, omdat dit dan sou beteken dat hierdie Joodse deel van die volk van God op aarde beskerm word, terwyl die nie-Joodse deel van die volk van God in die hemel versorg sal word.  Dit kan tog nie en strook nie met die werklikheid nie.
  • Dit is dus waarskynlik beter om aan die 144 000 te dink as ’n simboliese getal van die hele kerk, die ware Israel, wat steeds op aarde as God se volk, sy koninkryk van priesters optree.  So lê ’n hele paar geleerdes dit uit (Aune, Baukham, asook Du Rand).  Die getal 144 000 kan moontlik saamgestel wees uit 12 (OT kerk) x 12 (NT kerk) x 103 (die voltal 10 tot die mag 3, wat Goddelikheid uitdruk), volgens Du Rand.  Interessant genoeg: Juda word waarskynlik eerste genoem, al was Ruben die oudste, omdat Christus uit Juda gebore is.  Manasse, die kleinseun van Jakob, seun van Josef is ook ingesluit, terwyl Dan, een van die oorspronklike twaalf, nie ingesluit is nie.  Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die geslagsregisters in 1 Kronieke 1-9 uitlaat (Dan as seun van Jakob word wel in 1 Kronieke 2:1 genoem), waarskynlik weens hulle assosiasie met afgodery (1 Kon. 12:28-30 – Jerobeam het onder andere afgodsbeelde in Dan opgerig wat Israel verlei het).

Dié deel van God se volk is die gelowiges wat op aarde in standgehou word as sy getuies en deur die simboliese seël op hulle kop beskerm word.

Daar is nog ’n beskrywing van ’n groep van 144 000 in Openb. 14:3-4 wat waarskynlik dieselfde groep as in Openb. 7 verteenwoordig, veral omdat die groep in Openb. 14 as ’n militêre mag geteken word.  Hulle is almal mans wat nie met vroue omgang het nie, in voorbereiding vir oorlog.  Die feit dat hulle manlik is, dui dus nie op hulle geslag nie, maar op hulle paraatheid en is daarom soos in hfst. 7 ’n prentjie van die hele kerk.  Hulle vergader op die Sionsberg by die Lam met sy Naam sowel as die Vader s’n op hulle voorkoppe aangebring, as eerstelinge wat uit die mensdom losgekoop is.

’n Ontelbare groot skare uit die groot verdrukking in die hemel

Die groot ontelbare skare uit elke nasie, stam, volk en taal dra wit oorwinningsklere en kom uit die groot verdrukking, soos dit duidelik blyk uit die interaksie van Johannes en een van die ouderlinge.  Ironies genoeg vra die ouderling of Johannes weet wie hulle is, waarin Johannes se verbasing duidelik blyk: “Meneer, u is die een wat weet.”

Dié oorwinning word gevier deur God te aanbid, iets waaraan die engele, die vier lewende wesens, die ouderlinge en dié groot skare gelowiges met oorgawe deelneem.  Hulle loof God vir sy verlossing en vir die feit dat alle lof, heerlikheid, wysheid, dank, eer, krag en sterkte Hom toekom.

’n Heerlike intieme geloofsgemeenskap word geteken met die gelowiges wat dag en nag vir God in sy hemelse tempel dien en God wat “sy tent by hulle opslaan” (N.A.V. het “sal by hulle bly”).  Daar word hulle nie net volledig beskerm nie, selfs van die son se hitte, maar ook van enige fisiese (honger of dors) of emosionele gebrek (trane).  God vee elke traan uit hulle oë!  Die Lam versorg hulle soos ’n herder (Ps. 23 en Joh. 10 op steroïede!)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…