Skip to main content

Openbaring 5 – Die Lam van God is waardig om God se agenda uit te voer

Die hemelse erediens wentel nie net om die aanbidding van God op sy troon nie, hoe heerlik dié werklikheid daarvan ook al geteken word.  Vanuit die erediens in die hemel neem God beheer van alles wat is en was en wat kom.  Hy bepaal die agenda en die verloop van die ontplooiing van die gebeure in die heelal.  Die hemelse erediens het dus ’n beslissende invloed op die aarde.

In God se hand is daar ’n boekrol wat binne en buite vol geskryf is en met sewe seëls goed verseël is, sodat niemand dit sonder meer kan oopmaak en dié agenda in werking kan stel nie.  Trouens, dit is net iemand wat die volle verlossingspad reeds geloop het, wat reeds die mensdom met God versoen het, wat die verdere verloop van die verlossingsplan vir die heelal kan bekendmaak en in werking stel.

Een van die ouderlinge wys dan vir Johannes op die Enigste een wat die boekrol uit God se hand kan neem en die seëls daarvan kan breek, dit is die Leeu van Juda, die nakomeling van Dawid, die Lam wat geslag is, Jesus. Hy is waardig om die boekrol te neem, want Hy is die Verlosser en daarom die Bemiddelaar van die verlossing.  En soos Hy die seëls hierna gaan breek, gaan die inhoud van die boekrol nie net bekend word nie, maar ook deur Hom in werking gestel word.

Terloops: die boekrol van Openbaring 5 is iets anders as die boekrolletjie waarvan Openbaring 10 gaan praat.  Nie net word verskillende Griekse woorde gebruik om die twee boekrolle te beskryf nie – biblion in Openbaring 5 en biblaridion in Openbaring 10.  Maar die boekrol van Openbaring 5 is ook die een wat Jesus gebruik in die ontplooiing van God se plan vir die heelal.  Die boekrolletjie van Openbaring 10 is weer die een wat Johannes kry waarmee God hom bemagtig om namens Hom te praat.

Jesus word hier met twee hoof metafore beskryf: as ’n Leeu en as ’n Lam.  Hy is die Leeu in terme van sy afstamming uit die Messiaanse linie, uit die stam van Juda, die nakomeling van Dawid.  Hy is die Lam in terme van sy kruisdood waarmee Hy met sy bloed mense vir God gekoop het uit elke geslag en taal en volk en nasie.  Maar, belangrik, Hy neem die boekrol in ontvangs, die agenda van God se plan vir die heelal, as die Lam wat geslag is.  Die weerloosheid van ’n lam, die offervaardigheid van sy bereidheid om geslag te word, bly dus steeds die uitstaande kenmerk van die styl waarin Hy die heerskappy wat God Hom toevertrou, uitvoer.

Die sewe horings van die Lam dui egter ook daarop dat Hy omvattende mag het en dat die sewe Geeste, die Heilige Gees, boonop in sy volheid in Jesus woon.  Hy kan dus sorg dat dié agenda van God ten uitvoer gebring word.

Soos die vier lewende wesens saam met die 24 ouderlinge voor die Skeppergod neergeval en Hom aanbid het, val hulle ook nou neer voor die Lam om Hom te aanbid.  Saam met hulle is daar egter nou ook nog miljoene engele, sowel as die hele skepping, wat Hom aanbid.

’n Uitstaande kenmerk van die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge se aanbidding is dat hulle nie net die lier (die Griekse woord is kithara!) in hulle aanbidding van God inspan nie, maar ook die gebede van die heiliges in die simboliese vorm van ’n goue wierookbak voor God bring.

Van hierdie gebede sal nog twee keer in Openbaring gewag gemaak word wat onderstreep dat gebede nie net God verheerlik nie, maar ’n bepaalde invloed het op die koers wat God met die wêreld inslaan.  Hier in hfst. 5:8-10 wentel die gebede waarskynlik om die loflied vir die Lam.  In hfst. 6:9-11 wentel die gebede van die martelare daarom dat reg sal geskied op aarde, en in hfst. 8:3-5 lui die gebede van die gelowiges onder andere die sewende seël se sewe trompette en hulle oordele in.  Dit laat ’n mens onmiddellik dink aan die lof- en klaagpsalms in die vyf Psalmboeke en veral die vloekpsalms wat deel van die klaagpsalms vorm.

Let op hoe die drie lofliedere nie net die voortreflikheid van die Lam besing nie – krag, rykdom, wysheid, sterkte, eer, heerlikheid, lof – maar ook die agenda van God vir sy mense uitspel, soos in Openbaring 1, dat hulle ’n koninkryk van priesters vir God gemaak is, wat as konings oor die aarde sal heers.  ‘n Wonderlike werklikheid en ’n hoopvolle belofte.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!