Skip to main content

Openbaring 8 – God hoor die gebede van die heiliges en verskerp sy verlossende oordeel

Die sewende seël word oopgemaak en dit openbaar sewe trompette wat deur die sewe engele wat voor God se troon gereed staan, geblaas word.  Die sewe engele is waarskynlik die sewe aartsengele wie se name ons ken uit die eerste boek van Henog 20:2-8: Uriël, Rafael, Raguel, Migael, Sarakel, Gabriël en Remiël.  Uit die Bybel is ons bekend met Migael (bv. in die boek van Daniël) en Gabriël (bv. met die verskyning aan Sagaria en Maria in die evangelie van Lukas).  Die Bybelse skrywers was bekend met hierdie oud-Joodse apokriewe boek en Judas 1:14-15 haal daaruit aan.

Die eerste vier trompette word in hoofstuk agt beskryf en tref veral die natuur en die leefwêreld van die mense, die vyfde en sesde in hoofstuk nege waar daar ook ’n oproep tot inkeer is, tref veral die ongelowige mense self, met die boekrolletjie wat Johannes eet as tussenspel in hoofstuk tien om vêrder as spreekbuis vir die Here op te tree, waarna die twee getuies in hoofstuk elf aan die beurt kom en die laaste en sewende trompet geblaas word wat die einde aankondig.

Die trompette herinner ons ook aan die val van Jerigo (Jos. 6) waar sewe priesters ses dae lank trompette (ramshorings) geblaas het met die marsjering om die stad om God se oordeel aan te kondig, waarna die oordeel op die sewende dag voltrek is en Jerigo ingeneem is.  Interessant genoeg moes die manskappe by Jerigo ook stilbly, in hulle geval 6 dae lank, tot die bevel op die laaste dag gegee is om te skreeu en die ramshorings geblaas is en die stad se muur geval het.  Dit was waarskynlik om die afwagting op God se optrede te simboliseer, soos dit ook hier in Openbaring die geval is.

Let op hoe dié fase van God se oordeel gepaard gaan met die gebede van die heiliges wat voor God uit die engel se hand saam met die wierook opstyg en as katalisator dien vir die blaas van die trompette, want dit is eers nadat die vuur van die goue altaar  voor die troon in die wierookbak gegooi en op die aarde uitgegooi is, dat die trompette geblaas word.  Die gebede van die heiliges dat God reg sal laat geskied, word dus nie net gehoor nie.  Dit lei ook tot daadwerklike optrede, soos ’n mens kan sien in die feit dat die wierookbak groot ontwrigting tot gevolg het, donderslae, gedreun, weerligstrale en ’n aardbewing.

Let ook op hoe die oordele van die trompette met sommige van die tien plae (Eks. 7-12: water word bloed, paddas, muggies, steekvlieë, pes onder die vee, swere, hael, sprinkane, drie dae donker, dood van die eersgeborenes – vgl. ook Ps. 78:44-51 en 105:28-36) van Egipte verband hou, wat ’n mens laat besef dat die oordeel van die trompette deel van die verlossende aksies van God vir sy mense is, soos die plae in Egipte toentertyd die Eksodus, die bevryding en verlossing van God se volk te weeg gebring het en hulle die tog na die Beloofde land kon aanpak.  Die oordeel bring verlossing.

  • Die eerste trompet se oordeel van hael, vuur en bloed tref die aarde – ’n derde van die aarde word verskroei, ’n derde van die bome en al die groen gras.  Dit herinner aan die sewende plaag van hael in Egipte.
  • Die tweede trompet se oordeel van ’n enorme vlammende berg (soos ’n meteoriet) tref die see – ’n derde van die see word bloed, ’n derde van die seediere gaan dood en ’n derde van die skepe vergaan.  Dit herinner aan die eerste plaag van bloed in Egipte.
  • Die derde trompet se oordeel van ’n brandende ster, die Bitterals (alsemkruid, wormwood), tref die vars water – ’n derde van die riviere en fonteine raak bitter wat die dood van baie mense veroorsaak. Dit herinner ook aan die eerste plaag in Egipte in die sin dat die vars water aangetas word.
  • Die vierde trompet se oordeel van verduistering tref die heelal – ’n derde van die son, ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre word getref wat dit donkerder in die dag en die nag gemaak het.  Dit herinner aan die negende plaag van drie dae duisternis in Egipte.

Die omvang en ontwrigting van die eerste vier trompette word geaksentueer deur ’n arend wat hoog in die lug weeklaag oor die ellende wat met die volgende drie trompette vir die bewoners van die aarde (dié wat nie in Jesus Christus glo nie en daarom nie deur Hom beskerm word nie) wag.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!