Skip to main content

Openbaring 20 – Die oordeel oor die Satan baan die weg vir die bekendmaking van die mense in die Boek van die Lewe

Hierdie hoofstuk beslaan ook drie dele, soos die vorige een:

  • Die vasketting van Satan en die duisendjarige vrederyk – vers 1-6.
  • Die finale oorwinning oor die Satan – vers 7-10.
  • Die finale “wit-troon” oordeel en die boek van die lewe – vers 11-15.

Die vasketting van Satan en die duisendjarige vrederyk – vers 1-6

Die oorlog van die Lam met die leërs van die hemel teen die antichris en die valse profeet en hulle aanhangers mond uit in die eerste oorwinning oor die Satan en die eerste opstanding van dié wat vasgehou het aan die getuienis van Jesus en die woord van God – vers 1-6.  Dit lui ’n tyd van 1 000 jaar lange binding van die Satan in sowel as ’n 1 000 jaar lange heerskappy van Christus en sy gestorwe maar weer opgestane martelare.

Die vraag wat geleerdes deur die eeue baie besig gehou het, is of dié 1 000 jaar tydperk vóór die Here Jesus se wederkoms aanbreek en of dit ná sy wederkoms aanbreek.  Daar is basies drie sienings wat almal met die term millennialisme (Latyn) of chiliasme (Grieks) weergegee word.  Albei terme word met die 1 000 jarige tydperk verbind – mille (duisend) en annus (jaar) in die Latynse weergawe en chilioi (duisend) in die Griekse weergawe.

  • Die postmillennialisme dink dat Christus tans besig is om die 1 000 jaar van vrede te vestig en dat die wederkoms ná hierdie tydperk sal aanbreek, terwyl die Satan se beweegruimte tans beperk is deur die kruisgebeure op Golgota.  Christus is dus tans besig om sy koninkryk te vestig, onder andere deur die kerk, totdat die hele wêreld vol is van die evangelie.  Aan die einde van die tyd, word die (tans vasgebinde) Satan losgelaat vir die finale oorwinning en oordeel wat met Christus se wederkoms plaasvind.   Ons leef dus tans in die 1 000 jaar van vrede.  Dit is die siening van die Lutherane (Aune).
  • Die amillennialisme dink ook dat ons reeds in die 1 000 jaar van vrede  leef, maar sien dit as ’n simboliese tydperk van die kerk wat dus eintlik tegelykertyd met die oorlog teen die bose plaasvind.  Dit is ingelui met die Here Jesus se kruisdood en opstanding wat die Satan gebind het, maar waarin hy tans nog beperkte beweegruimte het.  Met Christus se wederkoms vind die finale oorwinning oor die Satan plaas sowel as die oordeel.  Daar is eintlik min verskil tussen die vorige standpunt en dié een.  Dit is die siening van Clement, Origines, en Augustinus sowel as die hoofstroom Katolieke en Gereformeerde teoloë (Aune).
  • Die premillennialisme (en chiliasme) dink dat die 1 000 jaar van vrede ná die wederkoms van Christus sal aanbreek waarna die gelowiges met Christus op aarde sal regeer. Dit word op twee hoof maniere verder geïnterpreteer.  Een groep werk met die idee van bedelings (dispensasies) waarin die wegraping van gelowiges (óf in óf tydens die groot verdrukking) ’n rol speel, sowel as die Joodse volk ná die wederkoms en die vestiging van die 1 000 jaar van vrede daarna.  Die ander groep werk ook met die idee van bedelings, maar beskou die wegraping as iets wat ná die groot verdrukking gebeur, waarna die 1 000 jaar van vrede aanbreek, maar waarin Israel nie noodwendig ’n spesiale rol het nie.  ’n Hele paar ou kerkvaders het variasies van dié siening ondersteun.  Du Rand (A-Z) noem onder andere Serintus, Papias, Justinus die Martelaar, Irenaeus en Tertullianus.  Ons leef dus tans voor die 1 000 jaar van vrede.

Al drie hierdie rigtings van interpretasie het groot aanhangers deur die eeue gehad.  Drie belangrike feite in die teks moet in enige standpunt hieroor verreken word:

  • Die dier uit die see (antichris) en die dier uit die aarde (vals profeet) is op dié stadium al uit die weggeruim en in die vuurpoel gegooi deur die Regter-Krygsman, die Here Jesus Christus, op die wit perd saam met die leërs van die hemel (Openb. 19).  Die beskrywing wat hierna gegee word in hoofstuk 20 van die lot van die derde lid van die bose driemanskap, die draak (Satan), vorm hiermee ’n eenheid.
  • Die gelowiges wat in die 1 000 jarige vrederyk saam met Christus regeer, word as  “onthoofdes” beskryf, d.w.s. dit is martelare wat reeds doodgemaak is vir hulle getrouheid aan die Here.  Sommige interpreteer die onthoofding geestelik, maar die onthoofding dui vir my eerder op ’n beskrywing van omvattende martelaarskap in die navolging van die Here Jesus Christus wat die dood insluit.  Dit beteken vir my dat hierdie vrederyk nie eintlik iets kan wees waaraan die gelowiges wat nog op aarde is, deel kan hê nie.  Vergelyk daarvoor ook die beskrywing van die gelowiges op aarde (144 000 in Openb. 7:1-8) en dié in die hemel wat uit die groot verdrukking kom (groot menigte in Openb. 7:9-17).  Die 1 000 jaar van vrede is iets waaraan die tweede groep deel het, soos dit in Openb. 20 beskryf word, nie die eerste groep nie.
  • Die martelaar-gelowiges beleef ’n “opstanding”, neem deel aan ’n oordeelsproses oor dié wat die dier uit die see en sy beeld aanbid het, en regeer ’n duisend jaar lank met Christus, terwyl die ander dooies nie lewend word voordat die duisend jaar verstryk het nie.  Dit is baie moeilik om die simboliek hiervan te verstaan as dit nie op iets dui wat ná die wederkoms van die Here Jesus Christus gebeur nie, behalwe as dit veronderstel dat ná die dood gelowiges direk saam met Christus begin regeer.

Ek vind my nie in die idee van bedelings nie, maar is op die oomblik tog meer geneig om met ’n vorm van die premillennialistiese siening te werk, omdat die ander twee sieninge dit vir my moeilik maak om sin te maak van die opeenvolging van die verskillende beskrywings.  Ek hou ook nie van die té letterlike interpretasie wat baie keer hiermee saamgaan.  Ek kan ook nie regtig die sin insien van ’n 1 000 jaar van vrede wat ná die wederkoms aanbreek nie.

Ek moet dus eerlik sê dat die postmillennialisme en amillennialisme vir my aantreklik is in terme van die meer hoopvolle perspektief op die impak van die evangelie in die geskiedenis, maar dat dit egter vir my minder sin maak van die opeenvolging van die beskrywings hier in Openbaring 19-20 as die premillennialisme.  Miskien sal my siening verander as ek meer sin kan maak van ’n soort gelyktydigheid van die beskrywings van die gebeure in Openbaring 19-20.

Dit bly dus vir my nog maar ’n tameletjie waarin ek myself nog verder wil verdiep tot klaarheid opdaag.  (Met nabetragting sien ek meer lig in die idee dat gelowiges direk na hulle dood saam met Christus begin regeer, maar hieroor het ek nóg baie meer lig nodig! )

Die finale oorwinning oor die Satan – vers 7-10

Die 1 000 jarige vrederyk word opgevolg deur ’n finale oorlog van God teen die Satan – en die nasies wat hom volg – verteenwoordig deur die Gog en die Magog, oud-Israelitiese simbole van die vyande van die Godsvolk (vgl. Eseg. 38-39 vir ’n beskrywing).  Die aanslag teen die gelowiges, ná die Satan vir ’n kort tydjie losgelaat is, word beslis met vuur uit die hemel.  Die Satan eindig in dieselfde vuurpoel waar die antichris en die valse profeet reeds is, en waar hulle vir ewig en ewig gefolter word.

Die finale “wit-troon” oordeel en die boek van die lewe – vers 11-15

Die finale “wit-troon” oordeel oor alle mense breek aan waarin hulle geoordeel word op grond van wat oor hulle in die boekrolle met hulle dade opgeteken is, asook nog meer belangrik, op grond van die feit of hulle name in die boekrol van die lewe opgeteken is al dan nie.  Die genade troef dus die verdienste, alhoewel die regverdige dade steeds deel van die proses is.  Die oordeel van die Lam van God met sy boek is beslissend!

Vir dié wie se name in die boekrol van die lewe verskyn, die regverdiges, wag die nuwe hemel en aarde, soos in die volgende hoofstuk uitgespel gaan word.  Vir die ander, die goddeloses, wag die tweede dood, die vuurpoel, dáár waar die Bose driemanskap reeds is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar