Openbaring 12 – God beskerm sy kerk teen alle aanslae van die draak
Die derde deel van Openbaring beslaan hoofstuk 12 tot 22 en fokus op die tydperk tussen die eerste koms van Jesus, sy geboorte en sy tweede koms, die Wederkoms. Johannes deel met ons die wyse waarop God se verlossende oordeel uitwerk in die geskiedenis.
Hoofstuk 12 skets:
- die Messiaanse geloofsgemeenskap (verwagtende vrou) waaruit die Christus gebore is en die stryd met die draak (vers 1-6),
- die stryd tussen Migael en die draak in die hemel (vers 7-12) en
- die draak se verdere oorlog teen die geloofsgemeenskap op aarde (vers 13-17).
Die Messiaanse geloofsgemeenskap waaruit die Christus gebore is en die stryd met die draak (vers 1-6)
Die swanger vrou word geteken as beklee met die son, die maan onder haar voete en ’n kroon van twaalf sterre op haar kop. Sy stel die Messiaanse geloofsgemeenskap voor waaruit die Christuskind gebore word.
Die draak word vêrder in die hoofstuk beskryf as “die slang van weleer” (Gen. 3), “wat duiwel en Satan genoem word”, die verleier van die hele bewoonde wêreld. Hy is moorddadig en gewelddadig met gewaande mag – sewe krone – wat oortref word deur die heerskappy van die Lam – baie krone – soos dit in Openb. 19:12 beskryf word. Hy kry dit reg om ’n derde van die hemelwesens (sterre) saam met hom te neem in sy opstand teen God en sy Seun.
Die draak wil die Christuskind verslind, maar kan Hom nie bykom nie, omdat Hy met sy opstanding en Hemelvaart na God se bestaan opgeneem is vanwaar Hy bestem is om die nasies te regeer, soos Psalm 2 voorspel het. Die draak verloor dus die aardse geveg teen Christus.
Die geloofsgemeenskap verkeer daarmee in die tussentyd (woestyn), tussen Christus se eerste koms en sy wederkoms, maar word deur God versorg.
Die stryd tussen Migael en die draak in die hemel (vers 7-12)
Daar is redelik verskil van mening oor die interpretasie van hierdie stryd tussen Migael en die draak. Sommige dink dat dit na ’n oergebeure verwys (Du Rand) en ander dat dit na die kruisgebeure verwys. Ek is geneig om eerder met laasgenoemde interpretasie te werk:
- Enersyds omdat dit meer sin maak van die progressiewe kronologie van die drie gedeeltes in hoofstuk 12:
- die stryd beskryf in terme van vervulling van die Messiaanse verwagting in die geboorte, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus (vers 1-6),
- die hemelse stryd spesifiek in die kruisgebeure wat die verlossing gebring het (vers 7-12) en
- die aardse stryd in die verkondiging van die evangelie deur die kerk in die tyd tussen eerste koms en wederkoms (vers 13-17).
- Andersyds omdat dit vir my meer sin maak van die visioen van die Satan in vers 9 dat Hy sy posisie in die hemel verloor het, saam met sy engele, anders as bv. in vers 4 waar hy nog in beheer is en toegang tot die hemel het. Dit korreleer ook beter met Jesus se uitspraak dat Hy die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val het as gevolg van die bediening van bevryding deur sy dissipels (Luk. 10:18) wat uiteraard in die kruisgebeure sy hoogtepunt bereik.
Die funksie van dié gedeelte is om die gelowiges te bemoedig dat die mag van Satan gebreek is, dat die oorwinning reeds oor hom behaal is en ook uiteindelik volledig sal wees. Die verlossing en heerskappy van God het deurgebreek en die aanklaer van die gelowiges het sy posisie in die hemelse hof verloor het. Dit word sigbaar in die standvastigheid van die gelowiges wat nou op grond van die bloed van die Lam (kruisgebeure) hulle getuienis, selfs in doodsgevaar, onbevreesd en vrymoedig kan volhou. Daaroor is die hemel bly, al beteken die val van die Satan dat die aarde nou vir ’n kort tydjie onder sy woede gaan deurloop.
Die draak se verdere oorlog teen die geloofsgemeenskap op aarde (vers 13-17)
Die Satan vervolg nou op aarde die geloofsgemeenskap, maar moet telkens rekening hou met die sorg wat God vir hulle dra, uitgedruk met die vlerke van die arend, die versorging in die woestyn en die aarde se insluk van die stroom water wat die draak gebruik om die geloofsgemeenskap te probeer vernietig.
Die stryd teen die geloofsgemeenskap deur die geslagte duur egter onverpoos voort, maar hulle bly standvastig deur God se gebooie na te kom en die getuienis van Jesus vas te hou. Hulle is gehoorsaam aan God se wil vir die lewe en bly getuig van sy goedheid en genade in Jesus Christus, dinge wat vir tyd en ewigheid belangrik sal bly.
View all posts in this series
- Die Openbaring aan Johannes – Jesus Christus se testament en agenda - September 9, 2013
- Inleiding op Openbaring - October 16, 2013
- Openbaring 1 – Jesus Christus maak bekend wat hierna gaan gebeur - October 17, 2013
- Openbaring 2 – Bly getrou tot by die Wederkoms - October 18, 2013
- Openbaring 3 – Fokus op gemeenskap met Jesus - October 21, 2013
- Opsomming van Jesus se boodskap aan sy kerk
- Openbaring 4 – God word as Skepper in die hemelse troonsaal aanbid - October 22, 2013
- Openbaring 5 – Die Lam van God is waardig om God se agenda uit te voer - October 23, 2013
- Openbaring 6 – God se oordeel ontvou met ses seëls - October 24, 2013
- Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskap - October 25, 2013
- Openbaring 8 – God hoor die gebede van die heiliges en verskerp sy verlossende oordeel - October 28, 2013
- Openbaring 9 – God se oordeel bring nie die mense tot bekering nie - October 29, 2013
- Openbaring 10 – Die kerk het die taak om die verlossing en die oordeel van God te verkondig - October 30, 2013
- Openbaring 11 – God beskerm sy mense en vestig sy heerskappy deur hulle getuienis - October 31, 2013
- Openbaring 12 – God beskerm sy kerk teen alle aanslae van die draak - November 1, 2013
- Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloof - November 4, 2013
- Openbaring 14 – Die oes van gelowiges en ongelowiges word ingesamel - November 5, 2013
- Openbaring 15 – Die oordeel breek onafwendbaar aan - November 6, 2013
- Openbaring 16 – God se oordeel tref die hele kosmos en vernietig Rome - November 7, 2013
- Openbaring 17 – Die omvang van Rome se bose invloed op die nasies word ontbloot - November 8, 2013
- Openbaring 18 – Die oordeel oor Babilon-Rome bring bevryding vir die kerk van die eeue - November 11, 2013
- Openbaring 19 – Gelowiges jubel oor die bruilofsfees van die Lam en God se regverdige oordeel en uitwissing van die Bose - November 12, 2013
- Openbaring 20 – Die oordeel oor die Satan baan die weg vir die bekendmaking van die mense in die Boek van die Lewe - November 13, 2013
- Openbaring 21 – God skep hemel op aarde vir sy volk, die Nuwe Jerusalem - November 14, 2013
- Openbaring 22 – God bring lewe en genesing – Die Here Jesus is op pad terug - November 15, 2013
- Opsomming van die boodskap van Openbaring
- Gemeentes in die weegskaal - July 29, 2019
- Pinkster 2020 – “Ek kom gou!” - May 8, 2020
- “Ek kom gou” – ‘n boek oor Openbaring deur Chris van Wyk - May 14, 2020
- Die “see van glas” soos kristal in Openbaring 4 - April 30, 2022
Norval Ackerman
Ek lei af dat Satan tot op ‘n “laat” stadium nog toegang tot die hemel gehad het. Ek dink bv aan daaraan toe God vir Satan gevra het of hy Job se getrouheid raak gesien het, Vertolk ek dit ook reg dat Satan as ‘n aanklaer optree oor alle mense self kinders van die Here al weet hy ook dat kinders van die Here rein gewas is. Ek woon in Nieu Seeland en hier is min kommentare beskikbaar om mens te help
Chris van Wyk
Jy is reg. Satan is uit God se teenwoordigheid verdryf soos Jesus in Lukas 10:18 en Johannes in Openbaring 12:9; 20:2,7 beskrywe. Die Satan/duiwel het daarom sy rol as aanklaer, soos dit in die OT beskrywe word (Job 1:9–11; 2:4–5; Sag. 3:1) verloor. Lees veral Johannes se perspektief daarop in Openbaring 12:10. In Christus is daar immers geen veroordeling meer nie (Rom. 8:1) en kan ons ons gewete voor God tot rus bring (1 Joh. 3:20) en met vrymoedigheid die Here dien (1 Joh. 3:21).
Die Satan/duiwel is egter steeds aktief op aarde soos Paulus (1 Tes. 2:18; 2 Tes. 2:9; 1 Tim. 1:20; 5:15; 1 Kor. 7:5; 2 Kor. 2:11; 11:14; 12:7; Ef. 4:27; 6:11; 1 Tim. 3:6,7; 2 Tim. 2:26) en Johannes (Openb. 2:10,19,13,24; 3:9; 12:12) ons verskeie kere waarsku. Sy mag is aan die een kant gebreek deur Christus soos die Hebreërskrywer ons herinner (Hebr. 2:14). Ons het nou die mag om hom teë te staan, soos Jakobus en Johannes ons herinner (Jak. 4:7; 1 Joh. 4:14; 5:18). Maar, sê Petrus, hy loop steeds rond soos ‘n brullende leeu (1 Pet. 5:8). Staan hom dus teë in versoeking, dien die Here, en hy sal van jou af wegvlug.