Skip to main content

Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes genees

14 Januarie

Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes genees

1Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al jou siektes genees, 4wat jou lewe vrykoop van die graf, jou kroon met troue liefde en ontferming, 5wat jou begeerte met die goeie versadig. Soos ‘n arend word jou jeug dan weer nuut. (Ps 103:1-5)

Psalm 103 is ’n besondere lofpsalm wat in ’n besondere lofpsalm reeks, Psalm 103–106, die 4de Psalmboek afsluit. Die Psalm fokus op lofprysing as ’n persoonlike (vers 1-5), korporatiewe (vers 6-18) en universele (vers 19-22) gebeure waaraan almal in die hemel en op aarde moet deelneem. Dit is ook betekenisvol dat die eienskap van God wat die meeste besing word, sy troue liefde (ḥěsěḏ) is. Sy troue liefde wys in sy verlossing, vergifnis, genesing, beskerming van die dood (vers 4), sy geduld en genade deur nie vir altyd toornig te wees nie (vers 8), dat Hy ons nie vergeld volgens ons sondeskuld nie (vers 11) en dat Hy sy troue liefde vir altyd en in alle geslagte betoon (vers 17). Die Psalm beskryf God se wese en werk daarom op ‘n haas onvergelyklike manier.

In die persoonlike oproep tot lofprysing (vers 1-5) word ons opgeroep om God te loof met ons siel, dws jou wese, jou menswees, jou persoon of persoonlikheid, dit wat die wêreld van jou kan agterkom in terme van jou interaksie met hulle. Asook met “alles wat in my is”. Dit dui letterlik op jou binnegoed en metafories op jou binnekant in terme van gedagtes en emosies. Die bedoeling is dus dat die Here met jou hele menswees, wat jou gedagtes en emosies insluit, jou buitekant en jou binnekant, geloof en geprys moet word.

Die inhoud van die lofprysing fokus op God se persoonlike weldade waarvan Dawid wil hê dat ons geeneen daarvan sal vergeet nie. Dink vandag na oor jou ervarings van God tot dusver: 1) dat God al jou sondeskuld vergewe; 2) al jou siektes genees; 3) jou lewe vrykoop van die dood; 4) jou kroon met sy troue liefde en ontferming; 5) jou begeerte met die goeie versadig; 6) jou die jeugdige krag van die arend gee. Let nou op die teenwoordige tyd waarin Dawid dit skryf. En bid dat God dié beloftes ook nou vir jou sal waar maak.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-103-ek-wil-die-here-loof-met-alles-wat-in-my-is/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar