Skip to main content

Lukas 7:1-50 – Jesus het gelowiges en twyfelaars lief

Dit is ’n baie belangrike gedeelte hierdie.  Aan die een kant laat die groot geloof van die offisier Jesus verwonderd.  Aan die ander kant, vermoed ek, laat die twyfel van Johannes die Doper, die grootste aardse mens tot op daardie stadium (7:28), ons verwonderd.  Maar, natuurlik, nie vir Jesus nie.  Want Hy toon deernis met Johannes se twyfel, en kom op ’n ongelooflike kragtige manier vir hom op.  Soos Johannes vir Jesus ’n Voorloper was, so raak Jesus vir Johannes die Verlosser, die Een wat instaan en help en omgee.

Dít is wat my van Jesus so fassineer – Hy laat Hom net deur niks afsit nie, nie eers deur die twyfel van een van die “groot seuns” van Sy tyd nie.  En dit laat my net weer besef, dít is die Een wat ons aanbid; dít is die Een wat vir ons intree (Hebr 9:24); dít is die Een wat alles ten goede laat meewerk (Rom 8:28); dít is die Een wat die Begin en Voleinder is van ons geloof (Hebr 12:2).

Let ook op hoe die erns van die siektes van die mense wat Jesus gesond maak toeneem – die slaaf lê op sterwe. Met die weduwee van Nain wek Jesus dan ook die eerste keer iemand uit die dood uit op.   Wat vir ons sê: Jesus word nie van stryk gebring deur uitdagings nie – Hy is God.

’n Paar kort opmerkings oor die perikope:

7:1-10

Die geloof van die offisier tref my. Hy was waarskynlik een van die godvresende heidene wat hulle met die Joodse geloof geassosieer het.  Jesus se genesing van ‘n afstand af, wys dat Hy inderdaad God is, wat nie aan plek of tyd gebonde is om sy werk te doen nie, soos trouens die opwekking uit die dood ook wys.

7:11-17

Die opwekking van die weduwee se seun, behalwe dat hy dus as broodwinner vir haar sou kon sorg, sou die ingeligte Jode waarskynlik ook kon laat terugdink het aan Elisa wat daar naby – by Sunem (2 Kon 4:18) – ’n vrou se kind uit die dood opgewek het.

7:18-35

Die twyfel van Johannes tref my besonderlik. Dit is juis ná die opwekking van die jong seun dat hy sy kommer uitspreek of Jesus regtig die Een is wat moes kom.  Ek hoor daarin dat hy eintlik vra of sy eie bediening – as Voorloper van die Verlosser – aan die verwagtinge voldoen het.

7:36-50

Die verhaal van die sondige vrou wat in Simon, die Fariseër, se huis haar liefde vir Jesus demonstreer, wys nie net die kontrasterende reaksies op Jesus nie, maar ook Sy Goddelike vermoë om sondes te vergewe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lukas


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar