Lukas 1:1-56 – Twee Godsmanne word vir twee Godsvroue belowe
- die belofte van twee groot Godsmanne, Johannes die Doper, en Jesus die Verlosser (1:1-38),
- die reaksie daarop van twee groot Godsvroue, Maria en Elisabet (1:39-56) wat gekontrasteer word met die reaksie van Elisabet se man Sagaria (1:5-25) en
- die geboorte van Johannes die Doper waarop sy pa se tong loskom en hy uitbars in lof aan God en ’n profesie oor beide Johannes en Jesus (1:57-80).
1:1-4
Dit is belangrik om 2 goed in vers 1 te hoor :
- dat Lukas eintlik sê dat hy skryf oor die dinge wat onder ons vervul is (Afrikaanse vertaling gebeur) omdat dit die band met die verlede onderstreep;
- dat die doel van sy skrywe is om sekerheid te bring rondom die verhaal van Jesus. Daarom baseer hy sy verhaal op ooggetuies (veral Markus, maar ook Matteus, soos ons uit ’n vergelyking van hulle evangelies kan agterkom). Waar hy sê dat hy in volgorde skryf, is dit die volgorde van Markus se verhaal, nie soseer kronologies nie.
Die verwysing na Herodes beteken dat dié gebeure voor ons jaartelling moes plaasgevind het, want Herodes is dood in die jaar 4 vC.
1:5-25:
Let op dat die eerste aankondiging van die engel Gabriël in ’n gebedsomgewing gedoen word, waar die hele volksmenigte besig was om te bid, terwyl Sagaria die wierook op die altaar gebrand het (1:9-11). Hy het ook sy eie gebed daar gebid, vir ’n seun (vers 13). Laat my dink aan die toneel in die hemel waar Jesus die sewende seël oopmaak terwyl ’n engel wierook saam met die gebede van al die gelowiges aan God offer (Open 8:1-5). Betekenisvolle gebeure gaan meesal met gebede saam en het ’n hemelse impak!
Sagaria en Elisabet word as getrou aan die wet van God beskryf (eintlik regverdig voor God in die Grieks) wat God se gebooie en voorskrifte nagekom het. Hulle was uit ’n suiwer priesterlike familie, omdat albei uit priesterlike families afkomstig was.
Sagaria word deur die lot aangewys om die diens in die tempel te verrig (1 Kron 24), wat onpartydigheid illustreer deurdat niemand voorgetrek word nie, maar ook beteken dat dit ’n uitsonderlike voorreg was wat nie noodwendig baie in ’n priester se lewe kon gebeur het nie. Sagaria maak daarom ook eers klaar met sy dienswerk voor hy dit met Elisabet gaan deel.
Maar juis hierdie voorreg word die moment waar die buitengewone gebeur, met die engel wat ’n besondere boodskap vir hom bring. En die boodskap is nie net ’n verhoring van sy gebed vir ’n eie seun nie, maar die belofte van ’n Seun vir die volk wat hulle sou verlos.
Let op hoe Lukas van die begin af beklemtoon dat hierdie gebeure die werk van die Heilige Gees is.
Sagaria word verkwalik vir sy vraag, anders as wat die geval was met Abraham (Gen 15:8) en Gideon (Rigt 6:17). Ook anders as met Maria net hierna. Dit kan wees dat sy vraag eintlik sy twyfel geopenbaar het, of hy nog in staat sou wees tot vaderskap, terwyl Abraham en Maria eerder na die proses uitgevra het, en Gideon na sekerheid aangaande die engel se status. Hoe dit ook al sy, die engel tree beslis op met ’n teken van stomheid, wat eers met die geboorte van Johannes verbreek is.
1:26-38:
Die vraag oor die maagdelike geboorte, en die debat oor Jes 7:14 (lees meer daaroor hier: Jesaja 7 – Uitgenooi van vrees na vertroue) se betekenis is eintlik net van akademiese belang, want Maria was duidelik ‘n maagd uit haar eie (en Josef se) getuienis.
Die hoofboodskap hier is vir my dat niks vir God onmoontlik is nie, niks!
1:39-45:
Maria reageer onmiddellik op die inligting wat die engel haar oor Elisabet gee. Waarskynlik omdat sy só die boodskap aan haar verder sou kon bevestig, maar ook omdat sy so in die ander wonder sou kon deel.
En sy kry nog ‘n dieper bevestiging as net dat die engel se woorde vervul sou word. Elisabet kry woorde van die Heilige Gees, en noem Maria “moeder van my Here” sonder dat Maria nog enigsins begin vertel het van wat die engel gesê het. En sy noem Maria gelukkig (eulogêmenos – letterlik: [mense sal oor] goedpraat [oor jou]) omdat sy die boodskap aan haar geglo het.
Let op dat die Een wat die belofte gegee het, en die Een wat gebore sou word, met dieselfde naam, Here, genoem word. Dit bevestig nie net die belofte nie, maar ook die Godheid van Jesus.
1:46-56:
Dit tref my dat Maria se loflied aanhak by wat Elisabeth oor Maria gesê het, dat sy gelukkig is. Sy brei dit aan die een kant verder uit deur te sê elke nuwe geslag sal haar, soos Elisabeth, gelukkig noem.
Maar aan die ander kant gebruik sy ‘n ander woord vir gelukkig, makarios (salig), wat die betekenis van ‘n toesegging het, dws iets wat God oor haar uitspreek, soos Jesus dit inderdaad in die Bergrede sou gebruik (teenoor Elisabet se woord eulogêmenos – letterlik goedpraat). En sy lê klem daarop dat die geluk nie is omdat sy gehoorsaam was nie, maar omdat God groot dinge aan haar gedoen het. Wat my leer, selfs gehoorsaamheid kan ‘n aanleiding tot hoogmoed wees.
En sy brei uit op die groot dinge wat God in die verlede deur die geslagte gedoen het. Hy bewys ontferming aan geringes en hoogmoediges jaag Hy uitmekaar. God duld nie hoogmoed nie.
Wat my laat terugdink aan ‘n tyd in my lewe wat ek te belangrik in my eie oë geraak het. En die tyd van worsteling met teenstand wat ek ervaar het oor (wat ek gedink het) onverwante goed was, was eintlik die Here se hand op my lewe om my aan Sy voete te kry.
Daar is geen ander manier om voor God te wees nie, as om bewus te wees van jou afhanklikheid van Hom nie. Dit is behoeftiges (grondteks praat van peinoontas, hongeriges) wat Hy oorlaai (grondteks praat van volmaak met goeie dinge) nie rykes en hoogmoediges nie. Hy stuur hulle leeg weg!
Let op hoe dit die herinnering aan God se beloftes van ontferming is, wat Hom laat optree om uitkoms te gee vir Sy volk, sy dienaar Israel. Dié uitkoms het met die koms van Jesus, die Verlosser, te make.
Wat my leer, die impak van ‘n belofte aan ‘n gelowige hou nooit op nie, want God bly altyd getrou aan sy beloftes.
View all posts in this series
- WEEK 1: Lukas 1:1-4:13 - July 21, 2011
- Lukas 1:1-56 – Twee Godsmanne word vir twee Godsvroue belowe
- Lukas 1:57-80 – God se lig rig ons voetstappe op die pad van vrede - July 22, 2011
- Lukas 2:1-52 – Verlosser, Christus, Here - July 25, 2011
- Lukas 3:1-38 – Jesus is familie van alle mense - July 26, 2011
- Lukas 4:1-13 – Jesus deurstaan die toets - July 27, 2011
- WEEK 2: Lukas 4:14-9:50 - July 28, 2011
- Lukas 4:14-5:39 – Jesus het gekom vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes
- Lukas 6:1-49 – Luister en Leef - July 29, 2011
- Lukas 7:1-50 – Jesus het gelowiges en twyfelaars lief - August 1, 2011
- Lukas 8:1-56 – Toegewy aan God in voor- en teëspoed - August 2, 2011
- Lukas 9:1-50 – God is getrou om ons alles te gee wat ons in die bediening nodig het - August 3, 2011
- WEEK 3: Lukas 9:51-19:44 - August 4, 2011
- Lukas 9:51-11:54 – Gefokus op God en die naaste
- Lukas 12:1-13:35 – God sorg vir sy kinders in gevaar - August 5, 2011
- Lukas 14:1-15:32 – God het ’n hart vir verlorenes - August 8, 2011
- Lukas 16:1-17:37 – Dissipels leef met integriteit en genade - August 9, 2011
- Lukas 18:1-19:44 – God is meer as gewillig om gebede te beantwoord - August 10, 2011
- WEEK 4: Lukas 19:45-24:53 - August 11, 2011
- Lukas 19:45-20:47 – Jesus het nie net ’n groot intellek nie, maar veral diep wysheid
- Lukas 21:1-38 – Volhard in waaksaamheid en gebed - August 12, 2011
- Lukas 22:1-71 – Die Seun van God ly vir ons - August 15, 2011
- Lukas 23:1-56 – Die Onskuldige sterf vir ons die skuldiges - August 16, 2011
- Lukas 24:1-53 – Jesus het werklik opgestaan - August 17, 2011
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Die vrou wat Jesus se voete met geurige olie gesalf het - March 21, 2017
- Die koninkryk van God is soos suurdeeg - February 27, 2019
- Droom – Doel – Doen - April 3, 2019
Awie Coetsee
Hoekom het Jesus in Lukas 22 gesê die apostels moet swaarde koop?
Chris van Wyk
Hi Awie. Ek gaan dit later behandel. Hier is solank iets om aan te herkou:
Lukas 22:35-38 is deel van die materiaal wat uniek is aan sy evangelie. Jesus is hier besig om die dissipels voor te berei vir sy arrestasie. Hy wil hulle voorberei vir die krisis wat hulle gaan tref.
Tydens hulle vorige sending (Luk 9:1-6), het Hy hulle gestuur met die opdrag om niks saam te vat vir die reis nie. God sou vir hulle sorg deur die gasvryheid van die mense wat hulle sou ontvang.
Hulle was egter nie toe in lewensgevaar nie. Die komende krisis was egter ‘n totaal ander situasie. Hulle sou nie net gevaar loop om dieselfde lot as Jesus self te tref nie, maar hulle sou uitmekaar gejaag word waarin hulle voorrade sou nodig hê.
Die feit dat Hy hulle beveel om ‘n swaard saam te neem, is gemik daarop dat hulle hulle self kan verdedig. Dit het egter nie ingesluit dat hulle tot die aanval kon oorgaan nie, soos Hy Petrus dan ook aanspreek as hy Malgus se oor afkap net hierna (Luk 22:50-51).
Hy koppel sy komende lyding – deur tussen twee misdadigers aan die kruis te sterf – aan Jesaja 53:12 om die versoening te onderstreep wat daardeur bewerk sal word. Die tyd daarvoor het nou finaal aangebreek.
Awie Coetsee
Baie dankie vir u verklaring dit maak sin.maar dit is vreemd dat Jesu vroer gese het dat jy die ander wang moet draai
Chris van Wyk
Hi Awie. Ek sal later weer antwoord as ons daar kom. Weereens ‘n lusmaker:
Jesus praat waarskynlik in Lukas 6:29 van mense wat jou haat en beledig. Vir hulle moet jy ook jou ander wang aanbied (gee). Dit dui moontlik op mense wat jou publiek verwerp of verneder. Jesus bedoel dan waarskynlik dat ‘n mens nie moet ophou om uit te reik na sulke mense nie. Jy stel jou dus bloot aan verdere verwerping deur “die ander wang” aan te bied.
Jesus praat duidelik in Matteus 5:39 van kwaadwillige mense. Dit is mense wat jou met die agterkant van die regterhand op die regterwang slaan. Die toppunt van minagting en mishandeling. Teenoor sulke mense, sê Jesus, moet jy jou nie verset nie. As hulle jou op die regterwang slaan, moet jy ook die ander wang na hulle toe draai.
Hoekom? Want Jesus wil ten diepste hê dat vyande in vriende verander sal word. Dit beteken dat gelowiges die risiko sal moet neem om verder te ly onder kwaadwilligheid ter wille van die uitreik na sulke mense. Vergelding sal verwydering bring. Verdraagsaamheid kan van vyande vriende maak.
Dit maak nog meer sin in die konteks wat ‘n mens in Matteus raaksien, dié van geregtelike aksies. Jesus is hier duidelik meer begaan oor litigasie, mense wat gelowiges hof toe sleep (vgl vers 40), as oor die moontlikheid van fisieke geweld of publieke verwerping, soos dit wel die geval is in sy uitsprake in Lukas.
Gelowiges wat op Jesus vertrou, sal bereid wees om hulle persoonlike regte te laat vaar ter wille van die impak van die evangelie. Die doel is heling en versoening.
Soos Paulus ook later skryf in 1 Korintiërs 6. Ly liewer persoonlik onreg in die gemeenskap ter wille van die evangelie. Moenie die hof opsoek om verskille uit te sorteer nie.
Dit beteken egter vir seker nie dat ‘n mens daarmee ‘n lamsak of ‘n slaansak word nie. Paulus het telkens wanneer die owerhede of Joodse Raad betrokke geraak het, gestaan op die regte wat die regstelsel aan burgers verleen het (Hand 16:37; 22:25; 25:8-12). Dieselfde voorrreg geld ook vir ons vandag.