Skip to main content

Die koninkryk van God is soos suurdeeg

Die Jode was soos ‘n onvrugbare vyeboom

Jesus is op pad na Jerusalem vir sy kruisdood. Hy spandeer tyd aan sy dissipels om hulle voor te berei vir wat op hulle wag. Jesus is baie bewus van die teenstand wat nie net Hy gaan ervaar nie. Ook hulle.

Want die Jode is soos ‘n onvrugbare vyeboom, sê Jesus in ‘n gelykenis (Luk 13:6-9). Die boer, dit is God, verwag om vye daaraan te kry, maar verniet. Die boer besluit toe om dit nog ‘n jaar te gee, dan moet die boom uit as dit nie vrug dra nie. Onheilspellende woorde.

Die Jode was egter net nie ontvanklik vir die boodskap van Jesus nie. Soos die onvrugbare vyeboom.

Jesus en die kromgetrekte vrou

Een sabbatdag was Jesus weer in die sinagoge in een van die dorpies op pad na Jerusalem toe. En Hy sien ‘n kromgetrekte vrou en genees haar. Getrou aan hulle onvrugbare aard het die Jode egter ernstige probleme daarmee (Luk 13:10-17). Die leier van die sinagoge en sy vriende het Jesus aangevat en sleggesê.

En al het hulle skaam gekry toe Jesus hulle skerp oor hulle skynheiligheid aanspreek, het dit hulle nie van standpunt verander nie.

‘n Mens wil-wil moedeloos raak oor die onvrugbaarheid, die halstarrigheid, die openlike vyandigheid, die gebrek aan deernis met ‘n kromgetrekte vrou.

En dan vertel Jesus hierdie gelykenis:

Jesus vra toe weer: “Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat ‘n vrou geneem en in drie sata koringmeel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur is.” (Lukas 13:20-21 – BDV)

‘n Saton (mv sata) was ‘n inhoudsmaat vir droë bestanddele, 13,5 liter. Drie sata was dus ongeveer veertig liter.

Was jy al moedeloos oor die kerk?

Was jy al op só ‘n moedelose plek? Waar jy wonder oor die vrug op jou arbeid? Waar jy wonder oor die vrug op die arbeid van die kerk?

Waar jy kan sien dat die evangelie net nie aankom in mense se lewens nie. Waar goeie dinge wat gebeur met mense bevraagteken word. Waar kromgetrekte vroue se genesing met argwaan bejeën word. Waar skynheiligheid seëvier.

En dit vir jou lyk asof die kerk net agteruit gaan. Dat daar net nie meer getrouheid aan die boodskap van die Skrif en die evangelie van die Here Jesus Christus is nie. Waar die boodskap van radikale bekering in een van ongekwalifiseerde bevestiging verander. Waar jy maar krom moet bly, eerder as dat die Here jou genees en nuut maak.

Die dissipels van die Here was op só ‘n plek. Hulle kon die wonder sien van die dinge wat Jesus doen. Sy deernis met ‘n kromgetrekte vrou. Sy genesing. Ook sy helder boodskap van bekering aan leiers wat hulle eie reëls maak. En wat daarom die boodskap teenstaan. Wat heeltemal tevrede was met hulle onvrugbaarheid. Hulle gebrek aan die vrugte van bekering.

Die hoop wat suurdeeg bring

Dit is dan wanneer Jesus hierdie gelykenis van die suurdeeg vertel. Waar Hy vir die dissipels hoop gee. Waar Hy vir hulle moed inpraat. Waar Hy hulle oproep om die kniewerk te doen aan die deeg, sodat die suurdeeg wat God verskaf sy werk kan doen.

Want, sien, dit is hoe die evangelie werk. Van buite en van binne. Die suurdeeg van die evangelie kom van God af. Dit lê in die boodskap van Jesus Christus opgesluit. Dit kom van buite, van God af.

Maar, die suurdeeg moet ingewerk word in die meel sodat die krag van die suurdeeg die meel kan omvorm en verander sodat dit bruikbaar kan word as deeg wat gebak en geëet kan word. Sodat dit vrug kan dra.

Die krag van die evangelie is sterker as die teenstand daarteen

Die dissipels kon baie maklik moed verloor het as hulle bly kyk het na die leiers onder die Joodse geestelikes en hulle teenstand teen die boodskap van Jesus in ag sou neem. Hoe kan ‘n mens ooit teen hulle opstaan? Hoe kan ‘n mens verwag dat die boodskap van Jesus ooit ‘n vatplek sou kon kry as sulke kragtige mense daarteen is?

Dit is waarom Jesus vir hulle sê, die teenstand van hierdie leier van die sinagoge en sy vriende is werklik. En julle moet rekening hou daarmee. Dit selfs aanspreek soos Ek dit gedoen het.

Maar, wat julle baie meer in ag moet neem, is dat die krag van die evangelie baie sterker is as die teenstand van die leiers.

Die koninkryk van God is nie afhanklik van die leiers en hulle vriende nie. Dit is van buite af soos suurdeeg wat die werk sal doen waarvoor God dit gestuur het.

Ons is in ’n heel ander konteks as die dissipels, met ander uitdagings as hulle, maar ek hoor hierin dat God se koninkryk nie deur teenstand ingeperk word nie. Soos Leon Morris sê:

“The opposition of the ruler of the synagogue and his friends did not mean that the kingdom would fail of its consummation.” (Luke).

Ons moet die kniewerk doen aan die deeg

Maar, belangrik, daar is ‘n ander waarheid in die gelykenis van die suurdeeg opgesluit. Dit is, die suurdeeg kan geen invloed uitoefen van buitekant af nie. Die rol van die dissipels is om die kniewerk aan die deeg te doen, sodat die suurdeeg van God se krag sy werk kan doen.

Die rol van enige dissipel is van binne af. Dit is om besig te wees om die werk van dissipelskap te doen. Om mense aan die Here Jesus te verbind. Om die werk van die Skrif en die Gees in mense se lewens te beklemtoon. Om bekering en gehoorsaamheid te verkondig.

Soos Leon Morris sê: “Leaven works from inside: it cannot change the dough while it is outside.”

En dan voeg hy daaraan by:

“But it is also important that the power to change comes from outside: the dough does not change itself.”

Ek wil dit illustreer met ‘n verhaal van die NG Kerk in Nigerië. Om jou hoop te gee, maar ook om jou aan te moedig om jou eie kniewerk in die koninkryk voort te sit met entoesiasme en volharding.

Die verhaal van die NG Kerk in Nigerië

Die NG Kerk verbintenis met Nigerië kom van die sendingbeweging vanaf 1907. Dr Karl Kümm van SUM (Sudan United Mission) het Suid-Afrika op versoek van dr Andrew Murray besoek. Dit het gelei tot die finale jaar teologie student George Botha en ’n verpleegster CM Cilliers wat die roeping na Nigerië aanvaar het.

George het eers ses maande mediese opleiding in London ontvang en saam met nog ’n sendeling Vincent Hosking het hulle in 1908 na Nigerië vertrek. CM Cilliers het in 1909 by hulle aangesluit.

Hulle het aanvanklik in Mbula gewerk en later na Salatu (Saaiutu) getrek om die evangelie aan die mense van Tivland te verkondig. Talle sendelinge het die volgende vyftig jaar daar gewerk en veral Bybelskole en Sondagskole ontwikkel. Die ortografie van die Tiv taal as geskrewe taal is ook ontwikkel deur die sendelinge en die huidige amptelike Bybelvertaling in Tiv is in 1964 voltooi.

Elspeth Liebenberg (een van Somerstrand se sendelinge) se oupa Johannes Gerhardus Strydom (Valie) het by die sendingwerk daar in 1913 aangesluit en onder andere uiteindelik die Evangelies vertaal in die Tiv taal. Dit was ’n uitdaging, want daar is bv nie woorde vir Bybelterme soos “liefde”, “aanbidding”, en “heilig” in die Tiv taal nie. Hulle het uiteindelik besluit om “liefde” te vertaal met ’n omskrywing: “goed vir jou hart”, doishima in Tiv. Dit het daarna die woord vir liefde geword wat in Bybelvertalings gebruik is. “Heilig” is weer vertaal met “spierwit”!

Valie het egter talle kere malaria opgedoen en uiteindelik swartwaterkoors en kon ná sy tuisverlof in 1920 nie weer teruggaan nie. Tot sy groot teleurstelling. Hy was later jare sendingsekretaris van die Vrystaatse NG Kerk, trouens veertig jaar lank.

Hoewel die sendingwerk moeilik was en stadig gevorder het – net 25 bekeerlinge in die eerste 25 jaar van sendingwerk – het uit hierdie sendingwerk onder andere die NKST  (Nongu u Kristu u i Ser u sha Tar) ontwikkel wat ongeveer 1,3 miljoen lidmate vandag het.

Die NKST staan vandag bekend as die Universele Gereformeerde Christelike Kerk. Hulle hoofkantoor is in Mkar-Gboko in die staat Benue met gemeentes wat regoor Nigerië en ook buite hulle grense strek.

Hulle het 360 gevestigde gemeentes en 4 134 kerke. Hulle bedryf 9 hospitale en 352 gesondheidsentrums, sowel as 500 laerskole en 53 hoërskole. Hulle bedryf ook sewe tersiëre inrigtings wat op teologie en gesondheid fokus. In 2005 het hulle ook die universiteit Mkar begin.

Hulle is steeds volledig op dieselfde belydenis as die NG Kerk gebaseer, die drie ekumeniese belydenisse en die drie formuliere van eenheid.

Die koninkryk van God is soos suurdeeg

Kom ons luister weer na Jesus se gelykenis. En verbind ons weer aan ons eie kniewerk.

Jesus vra toe weer: “Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat ‘n vrou geneem en in drie sata koringmeel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur is.” (Lukas 13:20-21 – BDV)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

koninkryk, Lukas, suurdeeg


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda