Lukas 9:51-11:54 – Gefokus op God en die naaste
VIR STILTETYD
Lukas 11:1-13 – Gebed gebou op God se beloftes
‘n Paar opmerkings oor die teks:
- Jesus leer sy dissipels om te bid, soos Johannes dit ook gedoen het.
- Hierdie gebed het net 5 bedes, anders as die gebed in Matteus 6. Die gebed om God se wil in die hemel so ook op die aarde is uitgelaat, maar word vervang en uitgebrei met die gelykenis, opdrag en belofte wat daarop volg.
- Die gelykenis wat Jesus vertel, illustreer God se gewilligheid om ons gebede te beantwoord.
- Die opdrag om te vra, soek en klop is ‘n kosbare uitnodiging om nie net die Here vir alles te vertrou nie, maar Hom direk daarvoor te vra. Hy wil met ons in gemeenskap lewe.
- Die belofte wat God gee, sluit die fisiese en konkrete dinge in waarvoor ons vra. Die belangrikste is egter dat God ons sy Heilige Gees gee. Dit is die beste gawe.
VIR BYBELSKOOL
Die vasbeslotenheid van Jesus tref my. Hy weet wat Hy moet doen. En Hy weet wat die einde van daardie pad is. Tog fokus Hy met passie op hierdie roeping, al beteken dit dat Hy soos Johannes die Doper met sy lewe daarvoor sal moet boet.
Let op hoe Hy hindernisse op sy weg hanteer. Hy verteer nie met vuur dié wat Hom nie wil ondersteun op sy pad nie (9:52-56 -Samaritane), soos Hy die dissipels ook gekeer het om ander te verhinder wat ook goed doen, maar nie die pad saam met hulle loop nie (9:50). Hy laat dit Hom nie afsit nie, en bly op die pad wat Hy ingeslaan het.
Tog roep Hy ook steeds mense om Hom te volg, en spreek hulle aan as hulle die roepstem probeer ontduik. Hy doen dus wat Hy moet doen, nooi mense saam op dié pad, maar dwing hulle nie saam nie (9:57-62).
In die proses stuur Hy nou die 72 twee-twee uit om op die pad na Jerusalem – elke plek waarheen Hy van plan was om te gaan – die evangelie te verkondig. Daarmee gee Hy aan die kerk ’n model van bediening wat, hoewel nie noodwendig op presies dieselfde wyse nie, nagevolg kan word.
Hier kom ‘n mens nou ook agter waarom Hy nie sterker reageer op die weerstande of huiweringe nie. Afrekening kom aan die einde van die tyd, net soos die heerlikheid ook dan wag vir dié wat gehoorsaam is. Dit motiveer Hom, en vorm die rasionaal agter sy bedieningstyl.
En wat vir Jesus geld, geld ook vir sy dissipels: wie na hulle luister, luister na Jesus, en wie nie luister na hulle nie, luister nie na Hom nie.
Die blydskap van Jesus oor die sukses van sy uitstuur-opdrag roer my (10:21-22). Wat begin het met ’n alleen-pad wat Hy geloop het, opgevolg is deur die kern-groep van 12 dissipels uit te stuur, is nou ook suksesvol met 72. God se plan, soos dit begin ontvou, werk inderdaad.
Let op hoe Jesus dan drie groot lesse vir die dissipels leer:
- Die feit dat hulle grense moet oorsteek soos die barmhartige Samaritaan (in kontras met dorpie wat Hom verwerp het) en hulle liefde vir God moet demonstreer in hoe hulle vir ander ’n naaste is (10:25-37). Let op hoe dit ook ’n eksplisiete korreksie op die Farisese idee is, wat gedink het jy kan met God ’n verhouding via die wet hê, sonder om aandag te gee aan die wyse waarop hulle ander mense insluit.
- Die feit dat Jesus en sy woorde die fokus van hulle lewe moet wees, en nie net om reg te staan en bedrywig te wees nie – verhaal van Marta en Maria (10:38-42).
- Die feit dat alles in ’n gebedsafhanklikheid van God gedoen moet word (11:1-13) waarby God se oorvloedige gewilligheid om te antwoord met ’n pragtige gelykenis uitgedruk word.
Dan skuif Jesus se aandag na die skare mense, waaronder ’n klomp Fariseërs, en gee lering oor die impak van die koninkryk wat Hy verkondig, en spel dit uit in terme van:
- die effek op die koninkryk van die duiwel, waarmee Hy duidelik die kloof tussen die twee uitwys – jy kan nie in altwee kampe wees nie (11:14-23);
- die noodsaak van toewyding aan God as teenvoeter vir ’n terugval in die mag van die duiwel (11:24-26 en 27-28) – “hoor en onderhou”;
- die noodsaak om die tekens te kan onderskei – Jesus is hier, en mense weier om in sy lig te wandel (11:29-32 en 33-36);
- die dwaasheid van die godsdienstige Fariseërs en wetgeleerdes wat hulle oor uitwendige goed bekommer, maar nie oor wat binne in hulle harte aangaan nie, en nie na Jesus kyk om sy boodskap te begryp nie, maar hoe om Hom uit te vang in ’n strik van een of ander aard – vir hulle, sê Jesus, wag daar net ellende (11:37-53)
View all posts in this series
- WEEK 1: Lukas 1:1-4:13 - July 21, 2011
- Lukas 1:1-56 – Twee Godsmanne word vir twee Godsvroue belowe
- Lukas 1:57-80 – God se lig rig ons voetstappe op die pad van vrede - July 22, 2011
- Lukas 2:1-52 – Verlosser, Christus, Here - July 25, 2011
- Lukas 3:1-38 – Jesus is familie van alle mense - July 26, 2011
- Lukas 4:1-13 – Jesus deurstaan die toets - July 27, 2011
- WEEK 2: Lukas 4:14-9:50 - July 28, 2011
- Lukas 4:14-5:39 – Jesus het gekom vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes
- Lukas 6:1-49 – Luister en Leef - July 29, 2011
- Lukas 7:1-50 – Jesus het gelowiges en twyfelaars lief - August 1, 2011
- Lukas 8:1-56 – Toegewy aan God in voor- en teëspoed - August 2, 2011
- Lukas 9:1-50 – God is getrou om ons alles te gee wat ons in die bediening nodig het - August 3, 2011
- WEEK 3: Lukas 9:51-19:44 - August 4, 2011
- Lukas 9:51-11:54 – Gefokus op God en die naaste
- Lukas 12:1-13:35 – God sorg vir sy kinders in gevaar - August 5, 2011
- Lukas 14:1-15:32 – God het ’n hart vir verlorenes - August 8, 2011
- Lukas 16:1-17:37 – Dissipels leef met integriteit en genade - August 9, 2011
- Lukas 18:1-19:44 – God is meer as gewillig om gebede te beantwoord - August 10, 2011
- WEEK 4: Lukas 19:45-24:53 - August 11, 2011
- Lukas 19:45-20:47 – Jesus het nie net ’n groot intellek nie, maar veral diep wysheid
- Lukas 21:1-38 – Volhard in waaksaamheid en gebed - August 12, 2011
- Lukas 22:1-71 – Die Seun van God ly vir ons - August 15, 2011
- Lukas 23:1-56 – Die Onskuldige sterf vir ons die skuldiges - August 16, 2011
- Lukas 24:1-53 – Jesus het werklik opgestaan - August 17, 2011
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Die vrou wat Jesus se voete met geurige olie gesalf het - March 21, 2017
- Die koninkryk van God is soos suurdeeg - February 27, 2019
- Droom – Doel – Doen - April 3, 2019