Skip to main content

Lukas 12:1-13:35 – God sorg vir sy kinders in gevaar

VIR STILTETYD

Lukas 12:13-21 – Die gelykenis van die ryk dwaas

‘n Paar opmerkings:

  • Die gelykenis van die ryk dwaas word gekoppel aan die versoek dat Jesus die regter speel in erfsake. Hy lewer dus in die eerste plek kommentaar op die aandrang op ‘n regverdige bedeling in hierdie lewe, eerder as om te sorg dat ‘n mens ryk in God is met die oog op die lewe hierna, al ly jy ook onreg in hierdie lewe.
  • Jesus lewer in die tweede plek nog skerper kommentaar met die gelykenis op die geweldige versoeking wat gierigheid op ons almal het. Die lewe is onseker en die versameling van rykdom kan futiel blyk te wees as jou lewe skielik tot ‘n einde kom.  Gierigheid dwarsboom ons Godsvrug.  Vergelyk die verdere gelykenis oor die sorge van die lewe wat net hierna vertel word.  Ons kan God vertrou vir wat ons nodig het in die lewe.
  • Jesus lewer waarskynlik ook in die derde plek kommentaar op die Fariseërs wat nie in hulle verhouding met God groei nie, veral nie deur die boodskap van Jesus te aanvaar as die goeie nuus nie.

Lukas 12:32-40 – God sorg vir sy kinders; Hulle is waaksaam

  • Vers 32-24: Koningskinders hoef nie bang te wees dat God, die Koning, hulle in die steek sal laat in terme van aardse behoeftes nie. Hulle kan daarom vrygewig wees.  Want, dan sal hulle hart wees waar God is.
  • Vers 25-40: Wees waaksaam met die oog op Jesus se Wederkoms. Elkeen van ons is deur die Here geroep om Hom te dien.  Hy moet ons daarmee besig vind wanneer Hy weer kom.

Lukas 12:49-56 – Getrouheid bring normale familiebande in gedrang

  • Jesus bring nie net vrede nie, want Hy bring mense voor ‘n keuse. Dié wat Hom verwerp, word teenstanders van dié wat Hom aanvaar.  Dit sny deur die normale familiebande wat ons aan mekaar verbind.  Ons getrouheid aan Hom moet nie deur sulke teenstand, wat baie naby ons lyf kan kom, in die gedrang kom nie.
  • Die doop waarna Hy verwys, is sy kruisdood.
  • Die verwysing na die tekens van die tye dui op die helderheid van die keuse wat van mense gevra word. Hulle moet self besluit wat die regte ding is om te doen, anders sal dit hulle suur bekom.

Lukas 13:10-17 – Die genade van genesing bring skeiding

  • Jesus genees die vrou op die sabbat. Dit het twee reaksies tot gevolg.  Sy loof die Here vir haar verlossing ná 18 jaar se swaarkry.  Die leiers van die sinagoge is verontwaardig dat dit op die sabbat was, en dat Jesus daarmee die wet oortree het deur te werk.
  • Let op hoe die leier die skare beveel om liewer op die eerste ses dae van die week te kom vir genesing! Jesus berispe hom egter dat dit skynheilig is, want hulle doen self genadewerk op die sabbat deur vir hulle diere goed te wees.  Hoeveel te meer dan nie vir ‘n dogter van Abraham waardeur God die Satan se werk verbreek.
  • Let ook op hoe daar weer twee reaksies is op hierdie gesprek tussen die leier van die sinagoge en Jesus. Die teenstanders was beskaamd.  Die skare was verheug oor al die wonderlike dinge wat Jesus gedoen het.

VIR BYBELSKOOL

Met ‘n groeiende skare wat om Jesus saamdrom, waarsku Jesus nou die dissipels teen die aansteeklike skynheiligheid van die Fariseërs wat hulle ware self wegsteek agter uiterlike vertoon.

Let op hoe Hy sy dissipels sy vriende noem en aanmoedig om aan God getrou te bly, want Hy kan vir hulle sorg, nie noodwendig van gevaar nie, maar juis in gevaar. En Jesus koppel dit aan die werk van die Heilige Gees wat God nou ook aan gewone mense gee.

In twee gelykenisse skilder Jesus eerstens aan die skare die dwaasheid van ‘n gejaag na geld en nie na God toe nie (gelykenis van die ryk dwaas – 12:13-21).  In die tweede plek rig Hy Hom weer tot die dissipels en lê klem op God se sorg (gelykenis van die lelies van die veld – 12:22-34, geleen uit Matteus se weergawe van die Bergrede), waarskynlik omdat vrae hieroor by hulle sou opkom, veral omdat hulle alles verlaat het om Jesus te volg.

Hy vervolg met ’n oproep tot waaksaamheid in die gelykenis van die waaksame slaaf (12:35-48) sowel as ’n uitspel van die onvermydelike konflik wat sal kom weens hulle getrouheid aan Hom (12:49-53).

Lukas sluit die hoofstuk af met Jesus se oproep aan die skare om die tekens van die tye te beoordeel  (12:54-56) en self te besluit wat die regte ding is om te doen (12:57-59) wat waarskynlik terugverwys na die persoon wat in 12:13 gevra het dat Jesus regter speel in erfsake, maar ook breër kon gewees het na die verskil tussen Sy lering en dié van die Fariseërs.

Dié interpretasie word versterk deur die sterk appèl wat Jesus aan die skare rig om hulle te bekeer tot God (13:1-5) en vrugte te dra wat daarby pas, anders sal hulle soos ’n onvrugbare vyeboom uitgekap word (13:6-9).

Jesus vat weer die Joodse leiers aan oor hulle interpretasie van wat mag en wat mag nie op ’n sabbatdag, deur ’n vrou op die sabbatdag te genees, tot skaamte van sy teëstanders, en tot blydskap onder die skare (13:10-17).  Daarmee illustreer Jesus die krag van die koninkryk wat nie ingeperk kan word deur die stiksienigheid van die leiers nie, soos mosterdsaadjies en suurdeeg ook ’n impak het baie groter as hulle fisiese grootte (13:18-21 – gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg).

Dit beteken ook dat die krag van die koninkryk van God se werk afhang, en nie van die werk van mense wat probeer om uit eie krag dit te beërwe nie.  Daarvoor is die deur daarheen te smal (13:22-30)!  Dit is net dié wat deur God self aangeraak word, wat die pad sal vind daarheen.

Hoofstuk 13 sluit met ’n interessante tussenspel af, waar sommige van die Fariseërs Jesus wil waarsku oor Herodes se aggressie (in kontras met sy onsekerheid in 9:7-9), en Jesus sy heerskappy bevestig deur die tyd en plek van sy dood op sy eie terme te kies (13:31-35).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lukas


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…