Lukas 12:1-13:35 – God sorg vir sy kinders in gevaar
VIR STILTETYD
Lukas 12:13-21 – Die gelykenis van die ryk dwaas
‘n Paar opmerkings:
- Die gelykenis van die ryk dwaas word gekoppel aan die versoek dat Jesus die regter speel in erfsake. Hy lewer dus in die eerste plek kommentaar op die aandrang op ‘n regverdige bedeling in hierdie lewe, eerder as om te sorg dat ‘n mens ryk in God is met die oog op die lewe hierna, al ly jy ook onreg in hierdie lewe.
- Jesus lewer in die tweede plek nog skerper kommentaar met die gelykenis op die geweldige versoeking wat gierigheid op ons almal het. Die lewe is onseker en die versameling van rykdom kan futiel blyk te wees as jou lewe skielik tot ‘n einde kom. Gierigheid dwarsboom ons Godsvrug. Vergelyk die verdere gelykenis oor die sorge van die lewe wat net hierna vertel word. Ons kan God vertrou vir wat ons nodig het in die lewe.
- Jesus lewer waarskynlik ook in die derde plek kommentaar op die Fariseërs wat nie in hulle verhouding met God groei nie, veral nie deur die boodskap van Jesus te aanvaar as die goeie nuus nie.
Lukas 12:32-40 – God sorg vir sy kinders; Hulle is waaksaam
- Vers 32-24: Koningskinders hoef nie bang te wees dat God, die Koning, hulle in die steek sal laat in terme van aardse behoeftes nie. Hulle kan daarom vrygewig wees. Want, dan sal hulle hart wees waar God is.
- Vers 25-40: Wees waaksaam met die oog op Jesus se Wederkoms. Elkeen van ons is deur die Here geroep om Hom te dien. Hy moet ons daarmee besig vind wanneer Hy weer kom.
Lukas 12:49-56 – Getrouheid bring normale familiebande in gedrang
- Jesus bring nie net vrede nie, want Hy bring mense voor ‘n keuse. Dié wat Hom verwerp, word teenstanders van dié wat Hom aanvaar. Dit sny deur die normale familiebande wat ons aan mekaar verbind. Ons getrouheid aan Hom moet nie deur sulke teenstand, wat baie naby ons lyf kan kom, in die gedrang kom nie.
- Die doop waarna Hy verwys, is sy kruisdood.
- Die verwysing na die tekens van die tye dui op die helderheid van die keuse wat van mense gevra word. Hulle moet self besluit wat die regte ding is om te doen, anders sal dit hulle suur bekom.
Lukas 13:10-17 – Die genade van genesing bring skeiding
- Jesus genees die vrou op die sabbat. Dit het twee reaksies tot gevolg. Sy loof die Here vir haar verlossing ná 18 jaar se swaarkry. Die leiers van die sinagoge is verontwaardig dat dit op die sabbat was, en dat Jesus daarmee die wet oortree het deur te werk.
- Let op hoe die leier die skare beveel om liewer op die eerste ses dae van die week te kom vir genesing! Jesus berispe hom egter dat dit skynheilig is, want hulle doen self genadewerk op die sabbat deur vir hulle diere goed te wees. Hoeveel te meer dan nie vir ‘n dogter van Abraham waardeur God die Satan se werk verbreek.
- Let ook op hoe daar weer twee reaksies is op hierdie gesprek tussen die leier van die sinagoge en Jesus. Die teenstanders was beskaamd. Die skare was verheug oor al die wonderlike dinge wat Jesus gedoen het.
VIR BYBELSKOOL
Met ‘n groeiende skare wat om Jesus saamdrom, waarsku Jesus nou die dissipels teen die aansteeklike skynheiligheid van die Fariseërs wat hulle ware self wegsteek agter uiterlike vertoon.
Let op hoe Hy sy dissipels sy vriende noem en aanmoedig om aan God getrou te bly, want Hy kan vir hulle sorg, nie noodwendig van gevaar nie, maar juis in gevaar. En Jesus koppel dit aan die werk van die Heilige Gees wat God nou ook aan gewone mense gee.
In twee gelykenisse skilder Jesus eerstens aan die skare die dwaasheid van ‘n gejaag na geld en nie na God toe nie (gelykenis van die ryk dwaas – 12:13-21). In die tweede plek rig Hy Hom weer tot die dissipels en lê klem op God se sorg (gelykenis van die lelies van die veld – 12:22-34, geleen uit Matteus se weergawe van die Bergrede), waarskynlik omdat vrae hieroor by hulle sou opkom, veral omdat hulle alles verlaat het om Jesus te volg.
Hy vervolg met ’n oproep tot waaksaamheid in die gelykenis van die waaksame slaaf (12:35-48) sowel as ’n uitspel van die onvermydelike konflik wat sal kom weens hulle getrouheid aan Hom (12:49-53).
Lukas sluit die hoofstuk af met Jesus se oproep aan die skare om die tekens van die tye te beoordeel (12:54-56) en self te besluit wat die regte ding is om te doen (12:57-59) wat waarskynlik terugverwys na die persoon wat in 12:13 gevra het dat Jesus regter speel in erfsake, maar ook breër kon gewees het na die verskil tussen Sy lering en dié van die Fariseërs.
Dié interpretasie word versterk deur die sterk appèl wat Jesus aan die skare rig om hulle te bekeer tot God (13:1-5) en vrugte te dra wat daarby pas, anders sal hulle soos ’n onvrugbare vyeboom uitgekap word (13:6-9).
Jesus vat weer die Joodse leiers aan oor hulle interpretasie van wat mag en wat mag nie op ’n sabbatdag, deur ’n vrou op die sabbatdag te genees, tot skaamte van sy teëstanders, en tot blydskap onder die skare (13:10-17). Daarmee illustreer Jesus die krag van die koninkryk wat nie ingeperk kan word deur die stiksienigheid van die leiers nie, soos mosterdsaadjies en suurdeeg ook ’n impak het baie groter as hulle fisiese grootte (13:18-21 – gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg).
Dit beteken ook dat die krag van die koninkryk van God se werk afhang, en nie van die werk van mense wat probeer om uit eie krag dit te beërwe nie. Daarvoor is die deur daarheen te smal (13:22-30)! Dit is net dié wat deur God self aangeraak word, wat die pad sal vind daarheen.
Hoofstuk 13 sluit met ’n interessante tussenspel af, waar sommige van die Fariseërs Jesus wil waarsku oor Herodes se aggressie (in kontras met sy onsekerheid in 9:7-9), en Jesus sy heerskappy bevestig deur die tyd en plek van sy dood op sy eie terme te kies (13:31-35).
View all posts in this series
- WEEK 1: Lukas 1:1-4:13 - July 21, 2011
- Lukas 1:1-56 – Twee Godsmanne word vir twee Godsvroue belowe
- Lukas 1:57-80 – God se lig rig ons voetstappe op die pad van vrede - July 22, 2011
- Lukas 2:1-52 – Verlosser, Christus, Here - July 25, 2011
- Lukas 3:1-38 – Jesus is familie van alle mense - July 26, 2011
- Lukas 4:1-13 – Jesus deurstaan die toets - July 27, 2011
- WEEK 2: Lukas 4:14-9:50 - July 28, 2011
- Lukas 4:14-5:39 – Jesus het gekom vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes
- Lukas 6:1-49 – Luister en Leef - July 29, 2011
- Lukas 7:1-50 – Jesus het gelowiges en twyfelaars lief - August 1, 2011
- Lukas 8:1-56 – Toegewy aan God in voor- en teëspoed - August 2, 2011
- Lukas 9:1-50 – God is getrou om ons alles te gee wat ons in die bediening nodig het - August 3, 2011
- WEEK 3: Lukas 9:51-19:44 - August 4, 2011
- Lukas 9:51-11:54 – Gefokus op God en die naaste
- Lukas 12:1-13:35 – God sorg vir sy kinders in gevaar - August 5, 2011
- Lukas 14:1-15:32 – God het ’n hart vir verlorenes - August 8, 2011
- Lukas 16:1-17:37 – Dissipels leef met integriteit en genade - August 9, 2011
- Lukas 18:1-19:44 – God is meer as gewillig om gebede te beantwoord - August 10, 2011
- WEEK 4: Lukas 19:45-24:53 - August 11, 2011
- Lukas 19:45-20:47 – Jesus het nie net ’n groot intellek nie, maar veral diep wysheid
- Lukas 21:1-38 – Volhard in waaksaamheid en gebed - August 12, 2011
- Lukas 22:1-71 – Die Seun van God ly vir ons - August 15, 2011
- Lukas 23:1-56 – Die Onskuldige sterf vir ons die skuldiges - August 16, 2011
- Lukas 24:1-53 – Jesus het werklik opgestaan - August 17, 2011
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Die vrou wat Jesus se voete met geurige olie gesalf het - March 21, 2017
- Die koninkryk van God is soos suurdeeg - February 27, 2019
- Droom – Doel – Doen - April 3, 2019
Adri
Chris, hoe staan ek in vir ‘n ander (ook my land/volk) se sondes? Hoe betaal ek nms ander ‘n skuld?
Lukas 12:37~53, waarsku Jesus teen sondes gepleeg deur (ons) voorouers? “..hulle bloed sal vd huidige geslag geëis word.” Ek besef dat ons die Woord soms net in konteks en vir wat dit sê moet neem, maar ek glo met my hele hart daaraan dat die Woord waar en eg is en beslis vir vandag geskryf is. Ek glo ook dat my Rabbi deur die Woord ons bekommernisse aan raak. Daarom wonder ek oor my vraag? Hoe staan ek in, maar meer nog hoe betaal ek ‘n skuld nms…
Vertrou eks duidelim genoeg, byvoorbaat dankie, A
Chris van Wyk
Hi Adri. Onthou dat Lukas 11:37-53 ‘n gedeelte is wat gerig is aan die Farisëers en wetgeleerdes oor hulle skynheiligheid. Hulle bou monumente vir die profete, asof hulle hulle eer, maar met hulle optrede teenoor Jesus, die Groot Profeet, wys hulle dat hulle die slegte dade van hulle voorouers goedkeur. Die enigste goeie profeet vir hulle is ‘n dooie profeet. Hulle staan dus skuldig vir hulle eie sonde – hulle verwerp die profeet Jesus – maar wys daarmee dat hulle net so skuldig is as hulle voorgeslagte – en verwerp dus ook hulle boodskap, ‘n boodskap wat op Jesus gedui het.
Die breër konteks van jou vraag is hoe ‘n mens betaal vir (of skuldig is aan) iemand anders se sonde. Almal van ons ly aan die gevolge van vorige geslagte se sondes -dié wat die Here nie erken het nie, of onreg gepleeg het – maar ons dra nie noodwendig die skuld van hulle sonde nie. ‘n Illustrasie hiervan is die seuns van Korag wat nie saam met hulle pa gesondig het teen die Here nie (Numeri 16), en deur die Here begenadig is om ‘n besondere plek onder die priesters en Leviete te beklee as die Koragiete – mense wat ‘n paar Psalms geskryf het en as sangers opgetree het in die tabernakel en tempel. Samuel was ‘n afstammeling van hulle!
Willem Wiid
Haai Chris, kan jy dalk ‘n bietjie agtergrond gee oor Luk 13:1-5 – veral oor die verwysings van Jesus in verse 1 en 4?
Chris van Wyk
Hi Willem – graag:
Lukas 13:1 – Lukas vertel vir ons hier Jesus se reaksie op die ontstellende verhaal van die politieke geweld van Pilatus wat Galilese pelgrims doodgemaak het terwyl hulle die offerdiere vir die Pase geslag het. Sommige van die mense in die skare het Jesus daarvan vertel om sy reaksie te hoor.
Lukas 13:2-3 – Jesus erken wel die gewelddadigheid daarvan, maar koppel dan ‘n ewige waarheid aan die geweld van hierdie eeu. Hy sê dat enersyds die feit daarvan nie op enige skuld aan die gestorwenes se kant dui nie, maar andersyds ’n boodskap is dat só iets ook met jou kan gebeur. Dat só iets moontlik is in hierdie gewelddadige wêreld, moet jou oortuig om tot bekering te kom voor só iets ook met jou gebeur.
Lukas 13:4-5 – Hy brei sy antwoord uit met ’n geval van ’n onvoorsiene ramp van die toring in Siloam wat onverwags in mekaar gestort het en agtien mense gedood het – in die omgangstaal bekend as “an act of God”. Dieselfde geld sulke mense. Hulle is nie meer skuldig as die ander mense van Jerusalem nie. Só iets kan met enigiemand gebeur, ook met hulle. So, bekeer jou voor só iets met jou gebeur.
Boodskap en betekenis
Let op hoe Jesus hier die onvoorspelbaarheid van die dood gebruik om mense tot bekering te roep. Heel anders as die valse profete van vandag wat net werk met die liefde van God sonder om ooit enigiemand tot bekering te roep nie. Die dood bring nie net ‘n einde aan jou lewe nie, maar ook aan die tyd wat jou gegun word om jou saak met God reg te maak.