Skip to main content

Watter rol speel geloof in genesings?

Iemand het my gevra na die rol van geloof in genesing, soos ons dit in die verhaal van die verlamde man in Markus kry.  Ek het kortliks begin om op die boodskap van Markus hieroor in te gaan, maar gou besef dat dit eintlik in ‘n groter konteks geplaas moet word.  Ek het daarom besluit om in hierdie bydrae uit te brei oor die vraag hoe dié geloof en vertroue werk, of God in alle gevalle mense genees, trouens of hy inderdaad nog vandag mense genees. Dit was vir my verrassend wat ek oor Calvyn en Luther hieroor raakgelees het!  Ek sluit ook die uitmuntende navorsing van die Nuwe Testamentikus Craig Keener oor wonderwerke vandag aan die einde in.

Geloof speel ‘n duidelike rol in Jesus se genesings in Markus

Robert Guelich sê in sy Word kommentaar op die evangelie van Markus dat geloof ‘n duidelike rol speel in vier van Jesus se genesings wat in Markus vertel word.  Die vier vriende met die verlamde man (2:1–12), die vrou wat aan bloedvloeiing gely het (5:25–34), Jaïrus met sy dogtertjie (5:21–24, 35–43) en die blinde Bartimeus (10:46–52).

  • Dit is: “Toe Jesus hulle geloof sien”, dat Hy vir die verlamde sê: “Vriend, jou sondes word vergewe!” en hom genees (2:5). Die geloof van die vriende open die weg vir die verlamde man se vergifnis en genesing.
  • Dieselfde geld die vrou wat aan bloedvloeiing gely het. Hierdie keer is daar haar persoonlike geloof wat betrokke is: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!” (5:34).  Weereens is daar redding en genesing betrokke.
  • Ditto die blinde Bartimeus wat met die redding en genesing ook ‘n dissipel word: “‘Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.’ Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.” (10:52).

Louw en Nida sê van hierdie gebruik van geloof (in Grieks pistis) dat dit op op geloof en vertroue dui: “to believe to the extent of complete trust and reliance.”  ‘n Mens kan die woord geloof dus ook tegelyk vertaal met “vertroue” in die sin van “to believe (in), to have confidence / trust in, to have faith in, to trust (in), faith, trust”.  Die vertrou sluit dus altyd ook geloof in, soos hulle dit verwoord: “it would be wrong to select a term which would mean merely ‘reliance’ or ‘dependency’ or even ‘confidence’ for there should also be a significant measure of ‘belief’, since real trust, confidence, and reliance an only be placed in someone who is believed to have the qualities attributed to such a person.”

Trouens, Jesus illustreer hierdie tipe aktiewe geloof in sy eie lewe deurdat Hy ‘n vyeboom vervloek wat nie vye dra nie – al was dit nie vyetyd nie! – en dit verdroog (11:12-14).  Natuurlik is die verhaal in die eerste plek ‘n metafoor vir die feit dat Jesus verwag het dat die tempeldiens vrug sou dra, maar tevergeefs, en het dit nie in die tweede plek met genesing te make nie, maar juis met die teendeel daarvan, vernietiging.

Maar die appèl op navolgers van Jesus om hierdie tipe aktiewe geloof te beoefen, is tog ook helder en duidelik in Jesus se refleksie daaroor verder aan: “Julle moet geloof in God hê!” (11:22).  By implikasie, ‘n geloof soos wat Jesus so pas vir hulle geïllustreer het wat beide in God glo as in God vertrou.

Daarom verseker Jesus hulle: “Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo (en vertrou) dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.  En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” (11:23-25 – let ook op die laaste gebed wat vergifnis nie afhanklik maak van ander se skuldbelydenis nie – revolusionêr!).

Hierteenoor staan die skerp kontras met die mense in die Markus evangelie wat nie sover kon kom om te glo en vertrou nie.  Markus vertel ons bv. van die ongeloof van die mense van Nasaret waar Jesus gevolglik geen enkele wonderwerk kon doen nie, net maar ‘n paar mense gesond maak op eie inisiatief (6:5–6a).

Jesus berispe ook sy dissipels in die storm op die see vir hulle vrees en gebrek aan geloof.  Hulle het die gevaar geloop om deur ongeloof die voorsiening in die teenwoordigheid van die Here te mis (4:40).

Hoe werk dié geloof en vertroue?

In elkeen van dié vier genesings is daar hindernisse of grense wat oorgesteek moes word wat die geloof en vertroue van die betrokkenes illustreer.

  • Die vier vriende en Bartimeus moes die samedromming van die skares te bowe kom.
  • Die vrou moes die sosiale taboe om aan ‘n man in die openbaar te raak, al was dit net die soom van sy klere, oorkom.
  • Jaïrus moes bly glo en vertrou al het dit oënskynlik futiel gelyk, omdat sy dogtertjie reeds dood was.

Hulle geloof en vertroue het dus in hulle volhardende aksies om by Jesus uit te kom en aan Hom te bly vashou, geblyk ten spyte van dié hindernisse.

Dit is wat “healing faith” in die tyd van Jesus behels het, sê Guelich.  Dit was om alles in die stryd te werp om in Jesus se genesende teenwoordigheid te kom, soos ons dit ook by ander in die evangelie van Markus agterkom: “Hy het baie mense gesond gemaak, sodat almal wat die een of ander siekte gehad het, Hom oorval het om aan Hom te raak.” (3:10).  “Almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.” (6:56).

Dit gaan oor geloof en vertroue op God alleen

Maar, belangrik, dit gaan nie oor die intensiteit en wilskrag van die persone as sodanig wat glo en vertrou nie, asof dit God sou kon beweeg tot ‘n besluit of optrede in hulle guns nie.  Dan sou geloof en vertroue ‘n formule word, ‘n geloof en vertroue in of op geloof eerder as ‘n geloof en vertroue in God alleen.  Geloof word in Markus dus gekenmerk deur die absolute vertroue op God en op Hom alleen.

En dit is belangrik om dit te beklemtoon.  Mense raak immers ongelooflik weerloos as hulle begin glo in geloof en teen alle getuienis in vasklou aan en vertrou op hulle eie geloof in plaas van vas te klou aan en te vertrou op God.

Dit gaan oor die geloof dát God kan genees, dat dit Gód is wat die werk sal doen en sy wil volledig te aanvaar.  Dit gaan nie oor hoe sterk jou geloof en jou vashou is nie.  Genesing is nie ‘n beloning vir jou geloof nie.  Genesing is ‘n gawe van God in antwoord op jou of ander se gelowige vasgryp aan God.

Dit is ook duidelik uit die evangelie van Markus dat genesings deel is van die groter prentjie van God se werk in en met mense.  Genesings is nie ‘n doel op sigself nie.  Heel mense is sy doel.  Daarom vergewe of red Jesus in drie van dié gevalle in Markus die mense vóórdat Hy hulle genees.

Genees God in alle gevalle mense?

Ons moet erken dat daar ‘n misterie is in God se wil en optrede, want Hy genees nie altyd nie, soos Paulus op ‘n keer moes agterkom met die doring in sy vlees (2 Kor. 12:7) en Timoteus met sy herhaalde ongesteldhede (1 Tim. 5:23), al is daar steeds in die NT ná Jesus se hemelvaart talle genesings (‘n verlamde veertigjarige man – Hand. 3:1-10; baie verlamdes en kreupeles – Hand. 8:7; Publius se pa van maagkoors met die skipbreuk op Malta – Hand. 28:8; die doodsiek Epafraditos – Fil. 2:27).

Trouens, die apostels het met baie dieselfde gesag as Jesus self opgetree: “Daar het ook baie mense van die dorp in die omgewing van Jerusalem af gekom en siekes gebring en mense wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak.” (Hand. 5:16).  Paulus kyk bv. op ‘n keer  in Listra na ‘n man wat van sy geboorte af gebreklike voete gehad het en “gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word”, en gaan voort om hom te beveel om regop te staan (Hand. 14:8-10).

Genesing was ook een van die gawes wat die Heilige Gees uitgedeel het aan die gemeenskap van gelowiges (1 Kor. 12:28).  Jakobus verbind genesing ook aan die gelowige gebed van vertroue van die ouderlinge: “En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.” (Jak. 5:15).

Ons moet egter ons eie feilbaarheid hierin erken en in nederigheid aanvaar dat God nie altyd genees nie, terwyl ons met alles wat ons is tog nog kan vra en wag tot God na watter kant toe ook al antwoord.  Terwyl geloof en vertroue, soos in die NT, ook vandag ‘n noodsaaklike element in ons gebed om genesing moet wees, beteken dit nie dat God daarmee noodwendig positief moet antwoord nie, asof Hy onder verpligting is om dit te doen nie.  Hy is soewerein en antwoord soos Hy wil.

Maar dan bly dit ook nog so dat ons mag vra, op grond van die getuienis van die NT, en dat God positief kan antwoord net omdat ons vra.

Word mense vandag nog genees?

Die getuienis is dat daar genesings reg deur die eeue in die Christelike gemeenskap gebeur.

  • Augustinus praat daarvan, hoewel hy dit nie aan die gawe van genesing verbind nie, maar aan God se voorsienigheid (hoofstuk 8 in City of God).
  • Calvyn praat ook só daaroor en veroordeel openbare vertoon daarrondom sterk: “Die Here staan die wat aan Hom behoort, beslis te alle tye by, en Hy genees hulle siektes so dikwels dit nodig is nie minder as eertyds nie. Nogtans toon Hy nie sulke openbare kragte nie en Hy lewer ook nie wonderwerke deur die hande van apostels nie omdat dit ’n tydelike gawe was wat ook in ’n sekere opsig deur die ondankbaarheid van die mens verval het.” (Boek 4, hfst. 19 in sy Institusie van die Christelike godsdiens). “Hy genees hulle siektes so dikwels dit nodig is nie minder as eertyds nie.” Inderdaad!
  • Ons sien dit ook by Luther. Hy het in 1540 vir Melanchton gebid toe dié ‘n dodelike koors gehad het en hy is genees na dié gebed.

Craig Keener oor wonderwerke vandag

Die Nuwe Testamentikus Craig Keener het uitmuntende navorsing oor die verhale van genesing en ander wonderwerke ook in ons eie tyd gedoen en kan van honderde gevalle getuig waar mense genees is, vandag nog.  So bevind hy in sy boek: Miracles – The Credibility of the New Testament Accounts.  Volumes 1 & 2 (Craig S. Keener.  2011.  Baker Academic: Grand Rapids).

Craig Keener, ‘n professor in Nuwe Testament by Asbury Theological Seminary , is veral bekend vir sy gewilde IVP Bible Background Commentary: New Testament van 1994.  Sy akademiese spesialisgebied is die NT binne die antieke konteks.

Hy fokus op die onderwerp van die NT verhale van wonderwerke vanuit die hoek van die wydverspreide resente ooggetuie verhale van wonderwerke reg oor die wêreld.  Sy tese is dat daar soveel resente verhale van wonderwerke deur ooggetuies is, in baie gevalle gerugsteun deur mediese getuienisse en selfs ‘n paar video opnames, dat dit ons benadering tot die lees van die NT verhale van wonderwerke móét beïnvloed.

In direkte teenstelling met die a priori voorveronderstelling van baie akademici dat wonderwerke per definisie onmoontlik is, gebaseer op hulle eie ervaring, wys Keener met letterlik honderde verhale uit dat dié voorveronderstelling eintlik net hulle eie ateïstiese of deïstiese interpretatiewe raamwerk verraai.  Dit is nie gebaseer op bewese feite nie.

Sy omvattende navorsing wys dat dit eerder sulke akademici se ervaring is wat gebrekkig is, gebaseer op hulle eie reduksionistiese wêreldbeeld, as dat wonderwerke per definisie onmoontlik is.  Met dié resente verhale wil hy dus skeptici oor die NT wonderwerke oortuig dat die NT verhale ook van ooggetuies kán kom en ten minste potensieel gebeure wat werklik gebeur het, kan oordra.

Dit beteken nie dat hy daarmee elke verhaal van ‘n wonderwerk op sigwaarde as feitelik waar aanvaar nie, óf dat hy in alle gevalle ‘n bo-natuurlike oorsaak daarvoor voorstel nie.

  • Sy primêre tesis is doodgewoon dat ooggetuies steeds vandag van wonderwerke vertel en dat ‘n mens dit nie kan ignoreer in jou hantering van die NT verhale van wonderwerke nie, veral nie in die lig van die feit dat ooggetuies vandag nog van dieselfde tipe wonderwerke getuig as waarvan die NT vertel nie.
  • Sy sekondêre tesis is dat bo-natuurlike verklarings vir wonderwerke, hoewel nie toepaslik in alle gevalle nie, op dieselfde vlak as ander verklarings in akademici se hantering van wonderwerke hanteer kan en moet word.

Hy stel dit so: “While eyewitness claims do not constitute indisputable proof, they do constitute evidence that may be considered rather that a priori dismissed.”

Inhoud van sy boek

In Volume 1 van sy boek hanteer Keener in drie dele die volgende aspekte:

  1. Die Antieke Getuienis van die NT sowel as van die Grieks-Romeinse en Joodse wêreld,
  2. Die Vraag of wonderwerke moontlik is, en
  3. Die Verhale van wonderwerke sedert die antieke tye,

In Volume 2 hanteer Keener in ‘n laaste en vierde deel sy Voorgestelde Verklarings waarna hy in vyf bylaes opmerkings maak oor verwante sake: Duiwels en eksorsisme in Antieke tye, Besetenheid en eksorsisme vandag, Vergelykings met latere wonderwerk verhale van heiliges, Antieke benaderings tot natuurwette, en Visioene en Drome.

1. Die Antieke Getuienis van die NT sowel as van die Grieks-Romeinse en Joodse wêreld

Keener wys uitvoerig aan hoe ‘n integrale deel wonderwerke, genesings en eksorsismes, uitgemaak het van Jesus en sy volgelinge se bediening: “The mighty deeds and the proclamation must go together; neither can be understood without the other.” (Craig Evans).

Getuienisse van wonderwerke was ook wydverspreid in die res van die antieke wêreld, ook onder die Jode en in die OT (Moses, Elia, Elisa).

Sy gevolgtrekking is: “By purely historical means, we cannot a priori exclude the possiblitity of some eyewitnesses claims of sudden, unexpected recoveries that the beneficiaries believed were caused by deities.”

Hy voeg by: “We might reject the usual ancient interpretation of such an event, but that rejection involves a theological rather than a historical judgment.”

2. Die Vraag of wonderwerke moontlik is

Keener fokus in dié deel op die reduksionistiese sirkel argument van die filosoof David Hume dat wonderwerke per definisie teen die natuurwette is en daarom onmoontlik.  Hy wys uit dat Hume op grond van sy eie ervaring argumenteer dat wonderwerke nie plaasvind nie, en dan geloofwaardige ooggetuie getuienis vir wonderwerke verwerp op grond van sy aanname dat wonderwerke nie kan gebeur nie.  Dit is ‘n klassieke sirkel argument soos sommige van sy tydgenote al uitgewys het.

Die onkritiese aanvaarding van sy argument het egter gelei tot baie moderne akademici se a priori verwerping van: “claims of direct supernatural activity in the natural world.”

Soos Walter Wink daarteenoor opmerk: “People with an attenuated sense of what is possible will bring that conviction to the Bible and diminish it by the poverty of their own experience.”  Akademici wat wonderwerke ontken, doen dit immers nie op feitelike of historiese gronde nie, maar op grond van hulle eie materialistiese wêreldbeeld waarin wonderwerke geen plek het nie.

Keener kom tot die gevolgtrekking: “the assumption that suprahuman activity is impossible is an interpretive grid, not a demonstrated fact.”  Die aanname veronderstel daarom eerder ateïsme of deïsme as wat dit onbevange die beskikbare data evalueer.

Hy sê daarby, veral gemik teen die beswaar dat wonderwerke die natuurlike wette ophef: “God working through nature does not itself logically exclude the possibility of extraordinary and atypical acts of God as signs …  Those who … affirm a Creator would hardly be impressed with any demand that this God be subject to patterns of nature that this God initiated.”

‘n Onkritiese verwerping van wonderwerke sonder om die empiriese data daarvan te ondersoek, is doodgewoon ‘n naïewe vooropgestelde vooroordeel.

3. Die Verhale van wonderwerke sedert die antieke tye

In die volgende deel, wat ook die grootste deel van sy twee Volumes beslaan, fokus Keener op letterlik honderde verhale regdeur die eeue en uit alle wêrelddele. Uiteraard dateer die meeste van dié verhale uit die afgelope eeu weens die beter beskikbaarheid van die bronne. Dit is egter ‘n groot voordeel, want: “it is today’s accounts that we can most easily verify and falsify by consulting witnesses.”

Multi-kulturele en kruis-kulturele benadering voorkom etno-sentriese besware

Van die verhale kom uit sosiale wetenskaplikes se navorsing wat aantoon dat: “people from all cultures relate stories of spontaneous, miraculous cures.” (McClenon, Wondrous Events: Foundations of Religious Beliefs, 1994).  Kruis-kulturele studies wil daarom suggereer dat die skeptisisme van sommige akademici eerder met hulle sosialisasie te make het as met hulle blootstelling aan wetenskaplike navorsing.

Keener stel in navolging daarvan ‘n multi-kulturele en kruis-kulturele benadering voor om die etno-sentriese besware teen wonderwerke, veral uit ‘n Westerse paradigma, die hoof te bied.  David Hume het immers nie net sy eie Westerse kultuur verheerlik in sy perspektiewe nie, maar eksplisiet ander kulture as minderwaardig beskou: “I am apt to suspect the Negroes and in general all of the other species of men … to be naturally inferior to the whites.”

Dieselfde negatiewe sentimente kom by ander filosowe en wetenskaplikes uit die Verligting voor, bv. by die filosoof Immanuel Kant wat verklaar het: “that blacks had inferior mental capacities”.  Baie akademici volg steeds vandag nog hulle vooroordele teenoor ander kulture na, en ‘n groter blootstelling aan perspektiewe uit ander kulture kan sulke naiëwe voorveronderstellings voorkom.

Verskeie Westerse antropoloë se bestaande vooroordele is deur ervarings in ander kulture verander.  Jacob Loewen, bv., was met Bybelvertaling besig vir die Choco mense van Panama.  Die vrou van sy gasheer, Aureliano, was in dié tyd egter sterwend aan longontsteking , want daar was geen medisyne beskikbaar vir haar in die onmiddelike omgewing nie.  Loewen was terselfdertyd besig om Jakobus 5:14-15 se belofte oor genesingin Choco te vertaal, maar het ook geweet dat hy nie die geloof gehad het om dié gebed vir haar te bid nie.

Nieteenstaande het hy saam met ‘n paar gelowiges vir haar gebid, en sy het ‘n bietjie beter geword.  Die volgende môre was sy egter weer sterwend.  Plaaslike gelowiges het haar toe gesalf met olie, sonder om Loewen uit te nooi, vir haar gebid, en sy het volkome gesond opgestaan en haar normale huiswerk voorgesit.

Toe Aureliano baie opgewonde verklaar dat God se Gees die mindere geeste weggejaag het, het Loewen opgemerk dat hulle hom nie uitgenooi het om te bid nie.  Aureliano het verskoning gevra, maar op sy beurt opgemerk: “It doesn’t work when you and David are in the circle.  You and David don’t really believe.”

Loewen was ‘n toegewyde Christen, merk Wilson op, maar het gevind dat hy nie in staat was: “to transcend the secular assumptions and understandings of his particular birth society.” (Wilson, “Seeing” in Being Changed: The Anthropology of Extraordinary Experience, 1994).

4. Voorgestelde Verklarings

Keener fokus in die laaste deel van sy boek op die verklarings wat hy voorstel in die evaluasie van die wonderwerke waarvan hy kennis geneem het, beide van ooggetuies sowel as in sommige gevalle, met huiwering, uit sy eie persoonlike ervaring.

Hy sluit ook vyf bylaes aan die einde van sy boek in waarin hy opmerkings maak oor verwante sake: Duiwels en eksorsisme in Antieke tye, Besetenheid en eksorsisme vandag, Vergelykings met latere wonderwerk verhale van heiliges, Antieke benaderings tot natuurwette, en Visioene en Drome.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Geloof, Genesing


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar