Skip to main content

Tag: suurdeeg

Die koninkryk van God is soos suurdeeg

Die Jode was soos ‘n onvrugbare vyeboom

Jesus is op pad na Jerusalem vir sy kruisdood. Hy spandeer tyd aan sy dissipels om hulle voor te berei vir wat op hulle wag. Jesus is baie bewus van die teenstand wat nie net Hy gaan ervaar nie. Ook hulle.

Want die Jode is soos ‘n onvrugbare vyeboom, sê Jesus in ‘n gelykenis (Luk 13:6-9). Die boer, dit is God, verwag om vye daaraan te kry, maar verniet. Die boer besluit toe om dit nog ‘n jaar te gee, dan moet die boom uit as dit nie vrug dra nie. Onheilspellende woorde.

Die Jode was egter net nie ontvanklik vir die boodskap van Jesus nie. Soos die onvrugbare vyeboom.

Jesus en die kromgetrekte vrou

Een sabbatdag was Jesus weer in die sinagoge in een van die dorpies op pad na Jerusalem toe. En Hy sien ‘n kromgetrekte vrou en genees haar. Getrou aan hulle onvrugbare aard het die Jode egter ernstige probleme daarmee (Luk 13:10-17). Die leier van die sinagoge en sy vriende het Jesus aangevat en sleggesê.

En al het hulle skaam gekry toe Jesus hulle skerp oor hulle skynheiligheid aanspreek, het dit hulle nie van standpunt verander nie.

‘n Mens wil-wil moedeloos raak oor die onvrugbaarheid, die halstarrigheid, die openlike vyandigheid, die gebrek aan deernis met ‘n kromgetrekte vrou.

En dan vertel Jesus hierdie gelykenis:

Jesus vra toe weer: “Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat ‘n vrou geneem en in drie sata koringmeel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur is.” (Lukas 13:20-21 – BDV)

‘n Saton (mv sata) was ‘n inhoudsmaat vir droë bestanddele, 13,5 liter. Drie sata was dus ongeveer veertig liter.

Was jy al moedeloos oor die kerk?

Was jy al op só ‘n moedelose plek? Waar jy wonder oor die vrug op jou arbeid? Waar jy wonder oor die vrug op die arbeid van die kerk?

Waar jy kan sien dat die evangelie net nie aankom in mense se lewens nie. Waar goeie dinge wat gebeur met mense bevraagteken word. Waar kromgetrekte vroue se genesing met argwaan bejeën word. Waar skynheiligheid seëvier.

Continue reading

Markus 8:11-21 – Hoe blind is dié wat nie wil sien nie

Markus

Hiervandaan is Jesus na Dalmanuta toe waar ‘n aantal Fariseërs met Hom begin redeneer oor ‘n wonderteken.  Jesus sug (‘n ander tipe sug as met die dowe man!) oor hulle poging om Hom op die proef te stel.  Hy het immers net tevore brood vermeerder, wat tog ‘n duidelike wonderteken is,  en verklaar stellig dat hulle beslis nie ‘n teken sal kry nie.  Hulle kies om nie te sien nie!   “Hy het hulle daar laat staan” en weer na die oorkant na Betsaida vertrek.

Op pad oor die see draai die gesprek weer oor die tema van brood, met Jesus wat in beeldspraak verwys na die wyse waarop die suurdeeg van die Fariseërs mense kan verblind.  Suurdeeg is deur die Jode as ‘n aanduiding van verderf.  Hou ook in gedagte hoe suurdeeg by die Paasfees verwyder moes word uit die huise, om gereinig te word om die Paasfees te kan geniet.  Interessant: Paulus sluit by dié gedagte aan in 1 Kor 5:6-8 waar hy verkondig dat Christene soos nuwe ongesuurde deeg moet wees, vol van reinheid en waarheid.

Die dissipels verstaan Hom egter verkeerd waarop Hy hulle skerp aanspreek oor die gevaar wat hulle bedreig; dat hulle wat in die binnekring is en van beter behoort te weet, eintlik net soos die buitestaanders en spesifiek die Fariseërs die wonder van God se teenwoordigheid kan mis, al sien hulle wat min ander ooit kon sien.  Jesus wys dan na die twee wondertekens rondom die brood (anders as met die Fariseërs ) om hulle tot begrip te probeer lei.

Dit tref my hoe blind mense is wat nie wil sien nie, die Fariseërs, en teenoor hulle, hoe blind ander mense is wat sien, maar dit nie reg kan onderskei nie, die dissipels.  Die enigste een wat dieper insig toon, is die heidense vrou van gister, wat eintlik dié voorbeeld raak van iemand wat Jesus se ware aard verstaan.

Matteus

Lukas vertel nie dié verhale nie.

Matteus gee ‘n heeltemal ander inhoud aan Jesus se gesprek met die Fariseërs – nie verrassend nie, omdat die gesprek nie verbatim weergegee word nie – en wys hulle versoek vir ‘n teken af met die voorbeeld van die tekens van die weer teenoor die tekens van die tye.  Met die eerste is die Fariseërs goed, met die tweede glad nie.  Daarom sal net een teken vir hulle gegee word, die teken van Jona, wat heel moontlik na die episode in die vis verwys, as beeld van die dood en opstanding van Jesus.

Matteus onthou anders as Markus dat daar glad nie brood in die skuit was nie (nie eers een nie!).  Hy beskryf ook die dissipels as kleingelowiges en sluit af met ‘n verwysing na ‘n dieperwordende begrip, verder as die letterlike, by die dissipels dat hulle versigtig moet wees vir die leringe van die Fariseërs.

Onlangse kommentaar