Skip to main content

2 Konings 9-10 – God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie

Wat verrassend is vir my in die gedeelte, is die gemak waarmee die ander generaals Jehu se salwing as koning aanvaar.  ’n Mens wonder hoekom? Moontlik is dit vanweë die samesprekings wat hulle daar gehou het en wat heel moontlik oor ontevredenheid oor die koningshuis gegaan het.  Die profeet se opdrag om onmiddellik te vlug is weer moontlik om te keer dat hy vasgevang word in die konflik, wat ook die rede kon wees dat Elisa nie self gegaan het nie.  Vergelyk die bevel van Jehu in 9:15 dat niemand uit Ramot mag wegkom nie.  Dit was waarskynlik om te keer dat die nuus oor sy koningskap te vinnig versprei.  Jehu was heel moontlik ook nog aan die herstel van die oorlog en wou die voordeel van verrassing gebruik in sy veldtog teen die twee swaers, Joram en Ahasia.

Jehu was nou werklik nie ’n kat wat jy sonder handskoene aanvat nie: “hy dryf soos ’n mal mens”! (9:20).  Beide konings van Juda en Israel, Ahasia en Joram, bly in die slag op dieselfde dag, weens die oordeel wat oor die huis van Agab uitgespreek is.  Let op dat die oordeel ook aan die verhaal van Nabot verbind word.  Trouens dit gebeur op die einste stukkie grond!  Dit is daarom ook gepas dat Isebel, die aanstigter van Nabot se moord, in die slag bly, grimering en al.  Let tog op met hoeveel bravade sy optree, en Jehu se koningskap met dié van die 7-dag-lange-regeerder Simri vergelyk.  Maar die honde het haar verslind … in vervulling van God se woord.

Hierop volg die grusame uitwissing van die hele mansgeslag van Agab, 70 prinse in totaal in Samaria.  Let op hoe slim Jehu te werk gaan om die amptenare aan sy kant te kry, wat ’n paleisrevolusie veroorsaak.  Assirië het immers 3 jaar geneem voor Samaria in die laat 8ste eeu geval het.  Jehu oorwin deur die amptenary aan sy kant te kry.

En die oordeel sprei uit na Ahasia se kinders ook, 42 in getal, moontlik weens hulle verbintenis met Agab se dogter, waarskynlik ook die ma van ’n hele paar van hulle.  Hoe Jehu egter hieruit enige voordeel kon trek, is onduidelik, en hiervoor is hy deur die nageslagte veroordeel (Hos 1:4).

Op ’n verdere slinkse manier word die Baäldiens deur Jehu uit Israel verdelg.  Van die tempel se oorskot bou hulle kleinhuisies!  Maar, in die beoordeling van sy regering, kom ’n mens agter dat selfs dié grusame uitwissing nie genoeg was nie.  Jehu het ongelukkig die goue kalwers in Bet-El en Dan laat voortbestaan, die nalatenskap van Jerobeam, en so nie genoeg gedoen om sy gehoorsaamheid aan die Here end uit te voltooi nie.  Hoewel die Here nog sy kinders tot in die 4de geslag seën, word die grondgebied van Israel al hoe kleiner, weens die rol wat Gasael van die Arameërs begin speel, presies dit waaroor Elisa lang trane gehuil het.

Jehu se verhaal spel dus onomwonde uit dat die Here volledige gehoorsaamheid soek en niks minder nie.

View all posts in this series

Konings


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar