1 Konings 13 – ‘n Man van God se gehoorsaamheid word getoets … en God se geloofwaardigheid
Die gedeelte is vir my soos ’n skop in die maag. Dit ontbloot aan die een kant die eiegeregtigheid van Jerobeam wat nie net self offers bring op die altaar wat hy opgerig het nie, maar ook die godsdienskalender verander en enigeen aanstel wat priesters wou word. Dit is so tragies dat iemand wat gekies word om dinge reg te stel, die reg in eie hande begin neem en so ontrou raak aan die roeping wat aan hom gegee is.
Wat egter vir my nog erger is, aan die ander kant, is die man van God wat ’n groot risiko neem om met groot oortuiging, op bevel van die Here (6 keer word dit genoem: verse 1,2,5,9,15) uit Juda teen Jerobeam in Bel-El te kom getuig, wonderwerke in die proses aankondig, vir Jerobeam bid om genade, en dan val vir die misleiding van die óú profeet en die Here se bevel verontagsaam.
Die Here soek gehoorsaamheid bo alles, maak nie saak watter struikelblokke daar in jou pad gerol word nie, selfs nie eers as die struikelblok in die vorm van ’n óú profeet kom, wat aanspraak maak op ’n engelboodskap nie. Let ook op hoe dit klein persoonlike goed is, om te eet en te drink, waaraan die man van God se gehoorsaamheid getoets word.
Interessant dat die man van God die altaar aanspreek, en dat dit juis die altaar is wat uitmekaar geruk word dat die as op die grond val. Dié as van die offers het daarmee natuurlik onrein geword (Lev 6:11) waarmee God duidelik sê, die offers is nie vir Hom aanvaarbaar nie.
Sy profesie dat die latere koning Josia in Bet-El “operasie skoonmaak” hier sou uitvoer en mensbene op die altaar sou verbrand, het ’n paar eeue later waar geword (2 Kon. 23:15–18).
’n Mens sou vandag dink dat Jerobeam se versoek dat die man van God bid tot SY God, nes Saul ’n paar geslagte gelede (1 Sam 15:15, 21) getuig van ’n afstand tussen hom en God. Dit was egter net ’n manier van praat, soos ons bv. by Jakob (Gen 27:20) en Moses ook kry (Deut 11:1).
Ons moet ook raaksien dat die groot verskil tussen iemand soos Jerobeam en bv. Dawid, ’n man na God se hart nie lê in die feit dat die een meer sonde as die ander gedoen het nie. Die verskil lê in wat hulle doen as hulle besef hulle het iets verkeerds gedoen. Elke keer wat Dawid aangespreek is oor sy verkeerde dade, het hy die Here opgesoek en sake in die reine probeer bring. Jerobeam kry dit nie oor sy hart nie.
Die toets waarvoor die óú profeet die man van God stel, is natuurlik nie net gemik op die gehoorsaamheid van die man van God nie. Dit bevestig ook die geloofwaardigheid van die boodskap van God, deurdat die Here optree toe hy nie end-uit gehoorsaam is nie. Daarom kan die óú profeet verklaar dat die woord van die man van God sal uitkom, al het hy in die proses gesneuwel.
Die leeu tree ietwat vreemd op deur nie aan die liggaam van die man van God te eet nie, of die donkie en ander omstanders aan te val nie. Die skrywer beklemtoon daarmee God se ingrype in die situasie.
Die lot van die man van God was natuurlik ook ’n verdere waarskuwing aan Jerobeam en sy volk dat die Here van hulle gehoorsaamheid verlang, anders sou die lot van die man van God ook vir hulle tref.
View all posts in this series
- WEEK 1: Bybelskool oor 1 en 2 Konings - April 19, 2010
- Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk - April 20, 2010
- Indeling van 1 en 2 Konings – leesplan - April 21, 2010
- 1 Konings 1-2 – Salomo word koning te midde van groot intriges - April 22, 2010
- 1 Konings 3-4 – Salomo kry ‘n luisterryke hart van die Here - April 23, 2010
- 1 Konings 5-7 – Salomo bou die tempel in vervulling van die belofte aan Dawid - April 26, 2010
- 1 Konings 8-9 – Die tempel ‘n huis van gebed - April 27, 2010
- 1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue - April 28, 2010
- Salomo – ‘n oorsig van sy lewe - April 29, 2010
- WEEK 2: 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here
- 1 Konings 13 – ‘n Man van God se gehoorsaamheid word getoets … en God se geloofwaardigheid - April 30, 2010
- 1 Konings 14 – God is nie onverbiddelik nie - May 3, 2010
- 1 Konings 15:1-31 – Die Here help dié wat met hulle hele hart op Hom vertrou - May 4, 2010
- 1 Konings 15:33-16:20 – Onbetroubare eiesinnige leiers - May 5, 2010
- WEEK 3: 1 Konings 16:21 – 18:46 – Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking - May 6, 2010
- 1 Konings 19 – God ly nooit aan uitbranding nie! - May 7, 2010
- 1 Konings 20 – Die Here bewys Homself aan Agab, sonder effek - May 10, 2010
- 1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid - May 11, 2010
- 1 Konings 22 – 2 Konings 1 – Die Here bepaal die gang van sake - May 12, 2010
- WEEK 4: 2 Konings 2-3 – Die Here is in beheer - May 13, 2010
- 2 Konings 4-5 – God help gewone mense sowel as vernames - May 14, 2010
- 2 Konings 6-7 – God kan met alles vertrou word - May 17, 2010
- 2 Konings 8 – God bly getrou aan sy beloftes - May 18, 2010
- 2 Konings 9-10 – God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie - May 19, 2010
- WEEK 5: 2 Konings 11-12 – Platteland en stad verenig weer voor die Here in Juda - May 20, 2010
- 2 Konings 13 – Die Here se genade seëvier telkens oor sy oordeel - May 21, 2010
- 2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk - May 24, 2010
- 2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here - May 25, 2010
- 2 Konings 16-17 – Hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword - May 26, 2010
- WEEK 6: 2 Konings 18-20 – God luister waar sy eer in gedrang kom - May 27, 2010
- 2 Konings 21 – Genadetyd raak kort vir Jerusalem - May 28, 2010
- 2 Konings 22 – Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here - May 31, 2010
- 2 Konings 23 – Die Woord is ‘n gemeenskapsboek - June 1, 2010
- 2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie - June 2, 2010
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Vince Aslett
My eerste reaksie van die dood van die jong profeet was ene van, sjoe, dis bietjie erg, hoekom is daar nie iets aan die ou profeet gedoen nie,hy was tog die verleier, maar ek lees dat die toets dalk van die ou profeet gekom het, juis as n toets om te kyk of die jong profeet n man van God was. Profete was juis daarin getoets dat hulle volkome gehoorsaam aan God was. Die ou profeet het eers na die leeu storie, n statement gemaak dat die boodskap werklik van God af gekom het.
Laat n mens bekommerd raak as ek dit deurtrek na myself toe
Chris van Wyk
Dit sny ook diep in my eie lewe in. Daar is nie kortpaaie in die bediening nie. Dit is tree vir tree in gehoorsaamheid aan die Here. Dit is waarom gebed so belangrik is, soos ons later in Elia se lewe sal sien. Gebed hou ons oor naby die stem van God en gee ons die innerlike krag om gehoorsaam te bly.
James
Die storie van Konings 13
Ek word gepeper deur die kinders: Wat het van die (vals) profeet geword, hoekom is hy nie ook gestraf nie? Asseblief?
Chris van Wyk
Die ou profeet se motiewe om agter die jonger profeet aan te gaan, is duister. Moontlik was hy geïnteresseerd in wat gebeur het, omdat hy al oud was en nie meer geweet het wat in die politiek aangaan nie. Moontlik was hy effe jaloers omdat hy nie self dié opdrag van die jonger profeet kon uitvoer nie. Of miskien was hy sommer net gasvry en wou die jong profeet bystaan.
Toe die jonger profeet egter uitbrei oor sy profesie en die detail daarvan, het dit waarskynlik die planne van die ouer profeet in die wiele gery. Hy vertel daarom ‘n leuen om die jonger profeet oor te haal om tyd by hom te spandeer.
As ‘n mens na sy optrede op ‘n menslike vlak kyk, is dit ‘n liegstorie. Uit God se hoek is dit egter ‘n toets vir die jonger profeet of hy regtig sal luister wat God hom opgedra het, en of hy sy eie openbaring as van hoër belang gaan ag as dié van ‘n ander en veral ouer profeet. God soek immers onwrikbare gehoorsaamheid aan wat Hy self vir ‘n dienskneg van Hom openbaar.
Die jonger profeet gee egter in, ag die ouer profeet se woorde belangriker as die Here s’n aan hom, en raak so ongehoorsaam aan die Here se opdrag, tot groot skade vir homself, hoewel die profesie wat hy gegee het, steeds vervul word.
Die profesie wat die ouer profeet dié keer gee, kom regtig van die Here af. Die Here tree waarskynlik nie teen hom op nie, omdat die Here deur sy liegstorie die jonger profeet wou toets. Die ou profeet tree verder met deernis in die verhaal op.
Die punt van die verhaal is dat ons op geen manier mag afwyk van die pad wat God ons beveel. Ons mag selfs nie na “ouer profete” luister as dit verskil van wat die Here vir onsself sê. Dit beteken ons moet baie seker maak van wat ons in die eerste plek hoor by die Here. En dan moet ons dit gehoorsaam sonder om daarvan af te wyk.
Tina
Ja nee, ek het óok NIE verstaan waarom die ou PROFEET dit gedoen het nie. Eerste gehoorsaamheid aan die Here. En dat niemand soos niemand ons moet mislei nie. Want die Here leer ons in Sy Woord dat ons moet op Hom vertrou, en luister wat Hy vir ons sê. Want ek het óok aan myself gedink dat ek NIE moet net luister wat n profeet my sê NIE ek moet na die Here toe gaan en vir Hom vra of dit so is. En ja Jeroboam het sy eie kalender gevolg wat verkeert is in die one van die Here. Die toets en die gehoorsaamheid. God het die ou profeet gebruik….. geloofwaardigheid, gehoorsaamheid
.
Chris van Wyk
Presies – daar is net een wat ons uiteindelik sal beoordeel, en dit is God self.