1 Konings 22 – 2 Konings 1 – Die Here bepaal die gang van sake

Daar was ’n goeie verhouding tussen Josafat van Juda en Agab van Israel, onder andere omdat hulle kinders, Joram en Atalia, met mekaar getroud is.  Dié dat Josafat ja sê om Agab te help teen die bedreiging van die Arameërs. Die profete wat gevra word om die Here te raadpleeg was almal in diens van koning Agab en daarom aan hom lojaal.  Josafat wil dus ’n ander stem ook hoor, waarop Miga geraadpleeg word.

Die onderonsie tussen hom en Sedekia illustreer iets van die moeite wat mens telkens gehad het om tussen valse en ware profesie te onderskei.  Miga se profesie word deur die uitkoms as die ware stem van die Here bevestig, maar nie sonder dat hy nie verguis en aanvanklik opgesluit word deur Agab nie.  ’n Mens wonder ook of hy nie selfs doodgemaak is op die bevel van die koning nie.

Die prentjie wat Miga gee van wat regtig gebeur in die hemelse raadsaal boei my.  Dit sê in geen onseker taal nie, dat dit die Here is wat die gang van sake bepaal en nie mense nie.  Dat die 400 profete se voorspellings egter van ’n gees (onbepaalde lidwoord) af kom wat doelbewus ’n leuen in hulle monde lê, gaan teen ons grein in, wat die waarheid met God en die leuen met die duiwel assosieer.

Ons moet egter onthou dat dié siening spruit uit die gangbare perspektief van daardie tyd dat alles van God af kom, die goeie en die kwade.  Die duiwel, en daarom die leuen, het ’n baie kleiner rol gespeel as wat in die tussen-testamentêre en Nuwe Testamentiese tyd die geval was.  Soos Job 9:24 sê: ”Hy gee die wêreld oor in die mag van die goddelose, en Hy maak die regters partydig. As dit nie Hy is wat dit doen nie, wie dan?”

Agab misbruik dan vir Josafat, deur homself te vermom, maar Josafat sy koninklike gewaad te laat aanhou, wat amper tot Josafat se dood lei.  Die Here voer egter sy besluit uit deur ’n onbekende soldaat wat ’n pyl afskiet wat Agab se dood veroorsaak.

2 Konings 1 begin vreemd genoeg met ’n verwysing na Moab, maar die saak word nie verder aangeroer nie, sonder dat ’n mens enige idee het hoekom.  Die verhaal van Ahasia, wat reeds in die laaste hoofstuk van 1 Konings begin is, word voortgesit met die klem op sy dwaasheid om die Here te ignoreer en eerder vir Baäl-Sebub te raadpleeg.

Die Here laat hom nie onbetuig in die proses nie en deur die profeet Elia se “vurige” teenwoordigheid handhaaf God sy eer teenoor die goddelose koning.  Let op dat die Engel van die Here die hele tyd by Elia is.

View all posts in this series

Konings


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Vandag se stukkie praat nogal met my persoonlik, Agab het homself vermom en het in die proses dalk die Arameërs gekul, maar die Here sien deur die vermomming en weet nog steeds wie hy is, hoeveel keer in vandag se lewe doen ek nie dieselfde nie, ek vermom my op meer as een manier, waneer ek soms met ongelowiges saam is, praat ek nie waneer ek moet praat nie. Ander kere sit ek my :Christen ” masker op en hou my heilig – die Here kyk ook deur my vermomming, Hy sien die ware ek.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: