1 Konings 1-2 – Salomo word koning te midde van groot intriges
Adonia
Adonia speel aanvanklik ’n groot rol in dié twee hoofstukke voordat Salomo die troon bestyg.
Let op hoe Adonia se hoogmoed (1:3) hom lei om op eie stoom die troon te probeer bestyg, sonder sy pa Dawid se seën of inspraak. Hy maak aanspraak op die troon doodgewoon op grond van sy ouderdom. Daarteenoor word Salomo se troonbestyging moontlik gemaak deur mense wat namens hom optree, heel eerste die profeet Natan (wat ook ‘n boek oor Dawid en Salomo geskrywe het (1 Kronieke 29:29; 2 Kronieke 9:29), en daarna Batseba, Salomo se ma, en hoe hulle hulle optrede baie spesifiek afhanklik maak van Dawid se uitsprake.
Dit is ook interessant dat Adonia nooit deur sy pa berispe is nie (1:6), wat op tragiese wyse hier moontlik bydra tot sy arrogansie. Let ook op hoe min insig hy daarom toon as hy Batseba versoek om namens hom te vra vir Abisag as vrou. Dit kon eintlik net vertolk word as ‘n bedekte manier om ‘n aanspraak op die troon te maak (2:17 – ‘n mens sien hier ooreenkomste met Abner se dwase verbintenis met Rispa in ‘n poging om sy posisie in die Saul dinastie te verstewig [2 Sam 3:6 vv]). Salomo het sy eerste poging tot die koningskap verdra, maar nie dié vergryp nie en bring hom om die lewe (2:25).
Dit is ook betekenisvol dat Adonia telkens as die seun van Gaggit aangedui word, wat moontlik op ‘n broeiende konflik tussen Gaggit en Batseba dui. Batseba het egter duidelik die koning se steun, terwyl Gaggit dit nie het nie.
Dawid
Interessant dat Salomo een van die kinders was wat vir Dawid in Jerusalem gebore is (2 Samuel 5:14-15) terwyl Adonia as vierde kind van Dawid in Hebron gebore is (2 Samuel 3:2-5 – Amnon, die oudste, is deur Absalom om die lewe gebring, weens die verkragting van sy suster, Tamar; Kilab, seun van Abigajil, die tweede oudste, lees ons nêrens meer van nie – hy het heel moontlik ook die naam Daniël gehad volgens 1 Kronieke 3:1; Absalom, die derde oudste, is natuurlik vroeër in sy opstand teen Dawid, om die lewe gebring).
Dit is dus ‘n kind wat gebore is in die tyd van sy koningskap oor die hele Israel, wat voorkeur geniet, en nie die kinders wat gebore is in die tyd van sy heerskappy net oor Juda nie (vgl 2 Samuel 5:5). Let ook op dat Adonia spesifiek die manne van Juda na sy kroningsplegtigheid uitnooi!
‘n Mens lees ook nie in die Bybel van Dawid se keuse vir Salomo voordat Batseba na ‘n vorige uitspraak van die koning hieroor verwys nie (1:17) nogal in opdrag van die profeet Natan. Dit lyk dus op die oog af na ‘n doelbewuste poging tot beïnvloeding deur die profeet (1:11-14, 24). Maar Dawid reageer op Batseba se retoriese vraag met baie positiwiteit (1:30) wat beteken dat Natan heel moontlik net beter as die meeste, sy koning se wense geken het en daarvolgens opgetree het.
Dit tref my hoe Dawid uiteindelik aan God die lof gee vir die troonbestyging van Salomo, en dat hy dit met sy eie oë kon sien (1:48).
Salomo
Dit tref my ook hoe Salomo aanvanklik met baie grasie optree teenoor Adonia, deur te belowe dat hy hom nie sal doodmaak nie (1:52-53). Adonia se dwase versoek om Abisag as vrou verseël egter Adonia se lot.
Dit is tragies dat ook Simeï aanvanklik aan Salomo se kant is (1:8), maar uiteindelik deur Salomo doodgemaak word, op grond van Dawid se wrok teenoor hom (2:8 – vgl. 2 Samuel 16:5-14 en 19:15-23). Sy vroeëre keuse vir Absalom in plaas van Dawid, sowel as die feit dat hy ‘n familielid van Saul was, speel heel moontlik hierin ‘n groot rol.
Let ook op hoe die profesie van die Here oor die huis van Eli voltrek word met die uiteindelik dood van Abjatar (2:27 – vgl. 1 Samuel 2:27-36; 3:11-14; 22:6-23). Abjatar maak die sleutelfout hier om vir Adonia te ondersteun, waardeur die voorkeur van die Sadokiete as priesterlike huis bevestig word. Hulle skaar hulleself agter Salomo (1:8).
Salomo tree dus met groot wysheid op, selfs voor die gesprek tussen hom en die Here daaroor (hfst. 3). Deur Dawid se laaste bevele uit te voer, met die hulp van Benaja, bevestig hy sy koningskap deur van Adonia, Abjatar, Joab en Simeï ontslae te raak.
Ander mense en plekke van betekenis
- Sunem (rusplek) was in die gebied van Issaskar (Jos 19:18), waar Elisa later in die huis van die Sunamitiese vrou tuisgaan (2 Kon 4:8). Dit speel ook ‘n rol as die woonplek van die Sulammitiese vrou, die bruid in Hooglied (6:13).
- Abisag se naam beteken: “die vader is op reis” wat moontlik betekenisvol verwys na Dawid se naderende dood.
- Benaja was die leier van Dawid se Filistynse lyfwag en een van die helde (2 Sam 8:18; 23:20 – vgl. sy heldedade o. a. deur ‘n leeu in ‘n put dood te maak). Sy pa, Jojada, was op ‘n tyd hoëpriester (1 Kronieke 27:5) en ook betrokke by Dawid se aanvanklike troonbestyging in Hebron (1 Kronieke 12:23). Daar word hy as ‘n Aäronitiese vors met 3700 man onder hom beskrywe!
- Reï is vir ons onbekend.
View all posts in this series
- WEEK 1: Bybelskool oor 1 en 2 Konings - April 19, 2010
- Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk - April 20, 2010
- Indeling van 1 en 2 Konings – leesplan - April 21, 2010
- 1 Konings 1-2 – Salomo word koning te midde van groot intriges - April 22, 2010
- 1 Konings 3-4 – Salomo kry ‘n luisterryke hart van die Here - April 23, 2010
- 1 Konings 5-7 – Salomo bou die tempel in vervulling van die belofte aan Dawid - April 26, 2010
- 1 Konings 8-9 – Die tempel ‘n huis van gebed - April 27, 2010
- 1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue - April 28, 2010
- Salomo – ‘n oorsig van sy lewe - April 29, 2010
- WEEK 2: 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here
- 1 Konings 13 – ‘n Man van God se gehoorsaamheid word getoets … en God se geloofwaardigheid - April 30, 2010
- 1 Konings 14 – God is nie onverbiddelik nie - May 3, 2010
- 1 Konings 15:1-31 – Die Here help dié wat met hulle hele hart op Hom vertrou - May 4, 2010
- 1 Konings 15:33-16:20 – Onbetroubare eiesinnige leiers - May 5, 2010
- WEEK 3: 1 Konings 16:21 – 18:46 – Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking - May 6, 2010
- 1 Konings 19 – God ly nooit aan uitbranding nie! - May 7, 2010
- 1 Konings 20 – Die Here bewys Homself aan Agab, sonder effek - May 10, 2010
- 1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid - May 11, 2010
- 1 Konings 22 – 2 Konings 1 – Die Here bepaal die gang van sake - May 12, 2010
- WEEK 4: 2 Konings 2-3 – Die Here is in beheer - May 13, 2010
- 2 Konings 4-5 – God help gewone mense sowel as vernames - May 14, 2010
- 2 Konings 6-7 – God kan met alles vertrou word - May 17, 2010
- 2 Konings 8 – God bly getrou aan sy beloftes - May 18, 2010
- 2 Konings 9-10 – God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie - May 19, 2010
- WEEK 5: 2 Konings 11-12 – Platteland en stad verenig weer voor die Here in Juda - May 20, 2010
- 2 Konings 13 – Die Here se genade seëvier telkens oor sy oordeel - May 21, 2010
- 2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk - May 24, 2010
- 2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here - May 25, 2010
- 2 Konings 16-17 – Hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword - May 26, 2010
- WEEK 6: 2 Konings 18-20 – God luister waar sy eer in gedrang kom - May 27, 2010
- 2 Konings 21 – Genadetyd raak kort vir Jerusalem - May 28, 2010
- 2 Konings 22 – Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here - May 31, 2010
- 2 Konings 23 – Die Woord is ‘n gemeenskapsboek - June 1, 2010
- 2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie - June 2, 2010
Vince Aslett
Vir my is dit nogal opvallend dat Salomo nie die Gees ontvang met sy salwing as koning nie? Is dit te danke dat Dawid hom gekies het? Ook amazing hoe hy sommer so aan die begin van sy bewind, klaar van die wette (Na sy pa se speech) oortree en mense laat doodmaak, en dan gee hy nogal God die “eer”
Chris van Wyk
Dit is verder interessant dat nie een van die volgende konings van Israel en Juda met die Gees verbind word nie. Dit is eintlik net die Rigters, Samuel, Saul en Dawid wat met die Gees verbind word, en daarna net die profete, Elia en Elisa en natuurlik al die ander Skrifprofete. Dit wys ook hoe die klem van die konings na die profete skuif in die boek Konings. Salomo het natuurlik wel 'n baie egte ervaring met God gehad, wat 'n mens nie moet ligskat nie … al het hy dit uiteindelik wel gedoen.