Skip to main content

Salomo – ‘n oorsig van sy lewe

Salomo is die derde koning van Israel.  Sy naam beteken vrede. Die Here het hom liefgehad en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”. (2 Sam 12:25).

Tog figureer hy eers baie laat in Dawid se termyn as koning, al is hy vroeg reeds in Jerusalem gebore.  Sy pad na die troon word bemoeilik deur Adonia wat met die afgesette leerowerste Joab en die invloedryke priester Abjatar saamsweer om die troon te bestyg.  Hy het egter ook gedugte metgeselle, Benaja, wat sy oog het op die aanvoerdersrol, en Sadok, wat uiteindelik hoëpriester word.  Hulle mondstuk is die profeet Natan, ‘n gedugte man van God, maar ook ‘n vertroueling van Dawid en Batseba.

Op vernuftige wyse hanteer Salomo die uitdagings deur ontslae te raak van al drie, Joab, Adonia en Abjatar.  Die koningmoeder speel ‘n belangrike rol, soos ‘n mens in die res van die koningsverhaal met ander konings se moeders sal sien.

Salomo is die eerste dinastieke koning.  Saul en Dawid was charismatiese leiers wat deur God aangewys is.  Salomo sit op die troon omdat hy ‘n afstammeling van Dawid is, dws deel van sy dinastie.

Hy word bekend vir sy wysheid, wat voortspruit uit sy gebed om ‘n “luisterende hart”.  Sy tyd is ‘n tyd van vrede en ‘n hoogbloei beide in die stabilisering van die ryk, maar ook in bouwerk en literêre arbeid.  Groot dele van Spreuke word aan hom toegeskryf, sowel as Prediker en Hooglied.  Ook twee Psalms word aan hom toegeskryf: 72 (die regverdige koning) en 127 (pelgrimslied – “as die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs”).

Talle ander volksliteratuur uit dié tyd eer hom as ‘n wyse.  Daar is Joodse, Arabiese en Ethiopiese verhale van Salomo waar sy intellek en ander vermoëns verheerlik word.

Hy staan bekend as ‘n ysterman, ‘n regeerder wat baie sterk leiding geneem en ‘n uitstekende staatsmasjien geskep het.  Hy het gewerk met 12 administratiewe distrikte wat aan hom belasting betaal het.  En hy het dwangarbeid ingestel, wat aanvanklik uit vreemdelinge bestaan het, maar later ook Israeliete ingesluit het.  Dit was alles ter wille van sy groot bouprojekte.

In die proses het hy van sy mense vervreem, bv. deur 20 dorpe in Galilea vir Hiram van Tirus te gee (1 Kon 9:11).  Nie dat Hiram baie tevrede daarmee was nie.  Dit wil ook voorkom asof hy dit later teruggegee het (2 Kron 8:1-2).

Salomo was ‘n ondernemende handelaar wat die strategiese posisie van Israel ten opsigte van die karavaanroetes baie goed benut het.  Sy verbintenis met Hiram het vir hom die hawens verseker.  Hy dryf in alles handel, onder andere in perde met die Hetiete en die Arameërs (1 Kon 10:28-29).

Farao se dogter was ‘n hoogtepunt in sy internasionale betrekkinge, ‘n ongehoorde ding tot op daardie stadium.  In die Arabiese en Ethiopiese tradisies word ook vertel dat hy ‘n kind by die koningin van Skeba gehad het, Menelik I, die stigter van die Ethiopiese dinastie.  En so het hy sy betrekkinge verstewig met huwelik na huwelik.

Maar wat polities gewerk het, het geestelik nie gewerk nie.  In sy latere jare word hy teengestaan deur Hadad, die Edomiet en Reson van die Arameërs.  En sy huwelike stel hom bloot aan afgodediens wat hy mettertyd begin navolg.  En dit lui die doodsklokke vir sy regering wat die ryk laat skeur.

View all posts in this series

Konings


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar