2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie
Ons sien hier ‘n kant van God wat ons nie maklik eien nie. Die God wat ons in Jesus ken as die vergewingsgesinde, die een wat belowe dat Hy ons sonde so ver van ons af sal verwyder as die ooste van die weste af is, dié God besluit om Juda uit sy teenwoordigheid te verwyder.
Hoekom? Uiteraard was dit weens die konings van dié tyd, Jojakim en na hom Jojagin, wat volhard het in die sondes van hulle voorvaders. Jojakim het byvoorbeeld die Woord van God geminag deur dit te verbrand (Jer 36) en die woord van Jeremia in die wind geslaan. Maar volgens die skrywers van Konings was dit veral weens die sonde van Manasse en die onskuldige bloed wat hy in Jerusalem vergiet het:
“en die Here wou dit nie vergewe nie.”
Maar dit is nie al nie. Uit die boek Jeremia kan ‘n mens agterkom dat dié sondes ook wyd deur die priesters, profete en die gewone Judeërs nagevolg is (bv. Jer 23). Die hele samelewing het verword en was aan die Here ongehoorsaam. Vergelyk bv. die oordeel van die Here oor hoe hulle met vrygelate slawe gesondig het (Jer 34) deur hulle weer in slawerny te dompel.
Terug by die verhaal. Die Here stuur ‘n hele paar volke teen Juda, maar dit is uiteindelik die koning van Babel, Nebukadnesar (die Babiloniërs het die Assiriese ryk verslaan en as wêreldmag oorgeneem), wat in 597 vC vir Jojagin onderwerp en die “hele” Jerusalem wegvoer na Babel, veral die intelligensia, die amptenare, soldate, vakmanne en smede. Die profeet Esegiël was ook onder diegene. Net die armstes van die landsbevolking het agter gebly.
Anders as met die Assiriërs volg die Babiloniërs ‘n ander beleid met die volke wat hulle in ballingskap wegvoer, soos ons uit die geskiedenis van daardie tyd leer. In plaas daarvan om die volke doelbewus met ander volke te integreer, wat onder andere die noord-ryk se nekslag was, word die onderskeie volke toegelaat om hulle eie godsdienste en kulture te handhaaf. Dit verseker dat die volk van Juda ‘n identifiseerbare eenheid kon bly en uiteindelik as volk ook kon terugkeer in die tyd van die Persiese koning Darius.
Weer terug by Konings. Die eerste wegvoering van Jerusalem word 11 jaar later opgevolg deur nog ‘n veldtog van Nebukadnesar, in die tyd van koning Sedekia (Mattanja), die 20ste en laaste koning van Juda wat uitloop op nog ‘n wegvoering na Babel in 586 vC. Sedekia word op dieselfde manier as sy voorgangers veroordeel as ‘n koning wat nie die Here gedien het nie. Jeremia wys ons egter in Jeremia 38 van die worsteling wat hy gehad het, hoewel hy net nie homself so ver kon kry om die Here te vertrou en Jeremia se raad te volg nie. Jerusalem word ingeneem, die tempel verwoes, en Sedekia gevange geneem, sy kinders doodgemaak en sy oë uitgesteek. Weereens bly net die armstes van die mense agter om ‘n ogie oor die wingerde en lande te hou.
“So is Juda dan uit sy land weggevoer” (25:21). Gedalja bly as goewerneur agter, maar word deur opstandelinge uit die koninklike familie vermoor, wat uiteindelik ly tot ‘n vlug na Egipte, waarheen hulle vir Jeremia (Jer 43) ook neem.
Die boek sluit af met ‘n klein sprankie hoop, die vrylating van Jojagin in Babel, so asof die skrywers wil sê, daar is hoop, dinge kan weer omdraai. Maar dit is ‘n verhaal wat eers in Nehemia en Esra vertel sal word.
View all posts in this series
- WEEK 1: Bybelskool oor 1 en 2 Konings - April 19, 2010
- Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk - April 20, 2010
- Indeling van 1 en 2 Konings – leesplan - April 21, 2010
- 1 Konings 1-2 – Salomo word koning te midde van groot intriges - April 22, 2010
- 1 Konings 3-4 – Salomo kry ‘n luisterryke hart van die Here - April 23, 2010
- 1 Konings 5-7 – Salomo bou die tempel in vervulling van die belofte aan Dawid - April 26, 2010
- 1 Konings 8-9 – Die tempel ‘n huis van gebed - April 27, 2010
- 1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue - April 28, 2010
- Salomo – ‘n oorsig van sy lewe - April 29, 2010
- WEEK 2: 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here
- 1 Konings 13 – ‘n Man van God se gehoorsaamheid word getoets … en God se geloofwaardigheid - April 30, 2010
- 1 Konings 14 – God is nie onverbiddelik nie - May 3, 2010
- 1 Konings 15:1-31 – Die Here help dié wat met hulle hele hart op Hom vertrou - May 4, 2010
- 1 Konings 15:33-16:20 – Onbetroubare eiesinnige leiers - May 5, 2010
- WEEK 3: 1 Konings 16:21 – 18:46 – Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking - May 6, 2010
- 1 Konings 19 – God ly nooit aan uitbranding nie! - May 7, 2010
- 1 Konings 20 – Die Here bewys Homself aan Agab, sonder effek - May 10, 2010
- 1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid - May 11, 2010
- 1 Konings 22 – 2 Konings 1 – Die Here bepaal die gang van sake - May 12, 2010
- WEEK 4: 2 Konings 2-3 – Die Here is in beheer - May 13, 2010
- 2 Konings 4-5 – God help gewone mense sowel as vernames - May 14, 2010
- 2 Konings 6-7 – God kan met alles vertrou word - May 17, 2010
- 2 Konings 8 – God bly getrou aan sy beloftes - May 18, 2010
- 2 Konings 9-10 – God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie - May 19, 2010
- WEEK 5: 2 Konings 11-12 – Platteland en stad verenig weer voor die Here in Juda - May 20, 2010
- 2 Konings 13 – Die Here se genade seëvier telkens oor sy oordeel - May 21, 2010
- 2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk - May 24, 2010
- 2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here - May 25, 2010
- 2 Konings 16-17 – Hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword - May 26, 2010
- WEEK 6: 2 Konings 18-20 – God luister waar sy eer in gedrang kom - May 27, 2010
- 2 Konings 21 – Genadetyd raak kort vir Jerusalem - May 28, 2010
- 2 Konings 22 – Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here - May 31, 2010
- 2 Konings 23 – Die Woord is ‘n gemeenskapsboek - June 1, 2010
- 2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie - June 2, 2010
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Vince Aslett
Chris, weereens baie dankie vir n great bybelstudie, dis ongelooflik lekker om so deur n boek te werk. Dankie ook vir al die commitment en moeite. Laat weet asb weer waneer die volgende een gaan begin.
Groete
Chris van Wyk
Ek waardeer jou opmerkings! Ons begin DV weer die einde van Julie. Ek oorweeg om van die briewe van Paulus in datumvolgorde te behandel in die konteks van wat ons van sy lewe weet (uit Handelinge). Dit beteken ek sal met Tessalonisense begin en ook nog Korintiërs in die loop van die kwartaal saam met ons groep lees. Soos altyd is almal welkom.
Elna
Wat `n tragiese verhaal is dit nie in Konings nie ! My hart is skoon seer saam met die Here sin! Is daar nie maar altyd parralelle in ons lewe nie?
Dankie vir die bybelskool Chris.
Voorspoed vir jou!
Elna
Chris van Wyk
Ja, dit is tragies en hartseer. Genadetyd het sy perke waar mense hulle teen God verset. Gelukkig was daar ook hier ‘n Daniël wat die Here op sy beloftes geneem het, die Here om vervulling gevra het, en het ‘n nuwe genadetyd aangebreek vir Juda. Só was dit reg deur die eeue. Met Jesus. Met die Gees. Met die kerk. En al gaan die streep vir hierdie wêreld wel eendag getrek word, en sal die ongelowiges die vuur van die tweede dood moet trotseer, sal die finale genadetyd wat deur die nuwe hemel en nuwe aarde aanbreek vir ewig hou! En in Jesus het ons deel daaraan. Watter vreugde!