Skip to main content

WEEK 1: Bybelskool oor 1 en 2 Konings

Die Bybelskool oor Markus was vir my ‘n louter vreugde.  Nie net oor die helderder prentjie wat ek self van Jesus daardeur gevorm het nie.  Maar ook weens die interaksie met deelnemers nie net in my eie gemeente nie, maar reg oor die wêreld.  Dit is wonderlik om deur julle brille te kyk na die Bybel en in julle perspektiewe self so baie te leer.

Ek sal graag wil hoor, noudat julle ‘n bietjie afstand gekry het op die leeswerk van die vorige kwartaal, watter verskil die Bybelskool oor Markus in julle lewe gemaak het!

Ons keer nou terug na die Ou Testament en gaan oor die volgende 6 weke die verhale van 1 en 2 Konings lees (leesplan word Woensdag gepubliseer).

INLEIDING

“Let the word of Christ – the Message – have the run of the house.  Give it plenty of room in your lives.  Instruct and direct one another using good common sense.  And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.

Hierdie woorde van Eugene Peterson verwoord op ‘n besondere manier hierdie Bybelskool se motto:

Om in die Woord te Woon.

Navorsing wys dat daar vier katalisators is vir geestelike groei:

  • Geestelike oortuigings en houdings – oor God, Christus, Heilige Gees, die Bybel, genade
  • Georganiseerde kerklike aktiwiteite – eredienste, kleingroepe, diensgeleenthede
  • Persoonlike geestelike praktyke – refleksie oor die Bybel, gebed
  • Geestelike aktiwiteite saam met ander – ongeorganiseerde dinge soos vriendskappe, dienslewering in informele netwerke

Gelowiges se behoeftes verskil soos hulle vorder op die pad van geestelike groei:

  • Geleenthede om met God en ander gelowiges te connect – veral eredienste
  • Kleingroepe en basiese persoonlike geestelike praktyke – veral rondom die Bybel
  • Diensgeleenthede en gevorderde persoonlike geestelike praktyke – veral rondom die Bybel
  • Mentor geleenthede en ‘n wye reeks van diensgeleenthede

Die belangrikste behoefte wat in alle fases van geestelike groei uitgespreek word, is:

“Help my om die Bybel in diepte te verstaan en oor die betekenis daarvan te reflekteer.”

En dit is my passie om mense hiermee te help: om die skatte van die Woord só oop te sluit vir mense dat hulle daarvan ‘n woonplek maak, ‘n ruimte waarbinne hulle God ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op hul reis deur die wêreld raak.

1 EN 2 KONINGS

Die afgelope jaar of wat het ons nou al deur die Pentateug gewerk, die eerste 5 boeke van die Bybel; ons het die evangelie van Lukas saam met die Handelinge van die Apostels deurgelees, weer ‘n draai gemaak in die Ou Testament en Josua, Rigters en 1 en 2 Samuel deurgelees.

Die eerste kwartaal van die jaar het ons die evangelie van Markus gelees in vergelyking met die ander evangelies, sodat aan die een kant die boodskap van Markus nog meer spesifiek kon uitstaan, maar aan die ander kant ‘n mens ook ‘n waardering begin kry vir die wyse waarop die ander evangeliste dieselfde gegewens geneem het en ander beklemtonings en nuanses daaraan gegee het.

Hierdie kwartaal wil ek die boek van 1 en 2 Konings saam met julle deurlees.  Die boek sal ons ’n perspektief gee op God se hantering van die wêreldgeskiedenis, beide in die groter tendense en bewegings, as in die kleiner plaaslike stories waarbinne ons lewens hulself afspeel.  En net soos die boek Konings alle konings beoordeel in die lig van hulle lojaliteit aan God, só sal die boek ook vir ons help om ons eie lewe in die lig van ons lojaliteit aan God te beskou.

Ek sal van tyd tot tyd opmerkings maak oor vergelykende dele in 1 en 2 Kronieke, maar gaan dit nie as sodanig hanteer nie.  Kronieke gebruik die verhale van Samuel en Konings as basis vir sy verhaal, maar voeg baie ander materiaal by: geslagsregisters, lyste, psalms en toesprake.  Kronieke skep daarmee ’n eenheidsverhaal van Israel van Adam af tot by die terugkeer uit ballingskap in die sesde eeu vC.  Kronieke fokus ook meer op die positiewe kante van die koningsverhale, terwyl Konings die verhale in hulle volle, soms aaklige, detail vertel.

OORSIG

1 en 2 Konings was oorspronklik een boek. Dit vorm deel van die Vroeë Profete: Josua, Rigters, Samuel en Konings. Die samehang tussen hulle bestaan in die verband tussen heilsgeskiedenis en die wêreldgeskiedenis, waarvan laasgenoemde veral in Konings beskryf word.

Die boeke is heel moontlik geskryf deur voor-ballingskap skrywers wat finaal in die ballingskap geredigeer is. Gedurende die ballingskap is die geskiedenis van die konings (in Israel en Juda) in die lig van die val van Jerusalem in 586 vC nuut geïnterpreteer.

Die eerste lesers was dus heel moontlik Jode in ballingskap.  Die brandende vraag in hulle harte: “Hoekom is ons hier in ballingskap?” word deur Konings beantwoord.  Dit het ook die implisiete appél ingesluit aan hulle om die slegte voorbeeld van die konings te vermy en lojaal aan God te bly, ook in die vreemde omstandighede waarin hulle hul bevind.

Jahwe, die God van Israel, word deur die boek Konings as die Almagtige beskrywe.  Hy verhoog en Hy verneder.  Hy gebruik soms op ‘n verstommende wyse nederige en selfs magtelose mense. Vergelyk byvoorbeeld die verhaal van die melaatse Naäman,  en die (naamlose!) konings van Aram en Israel in 2 Konings 5 waarin ‘n jong dogtertjie en die profeet Elisa die sleutelrolle speel.

Dit is verder ironies dat die koninklike vertelling eintlik telkens eerder die verhale van profete op die voorgrond bring. Brueggemann sê hieroor:

“It suggests that the texts are not overly impressed with the kings and in fact do not believe the kings are the real makers of Israel history. Rather the kings are incidental public points of reference which simply provide a context for the real history-makers, who are the prophets.”

Dié gedeeltes dien dus as verhale om die konings se legitimiteit te bevraagteken en die koninklike persepsie van die werklikheid te ontken. Die verhale wil dit duidelik stel dat die wêreld nie is soos die konings sê dit is nie. En dat die perspektief wat die profete op die tafel sit, God se werklikheid, die eintlike werklikheid is.

Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk

Die verhale van die konings van die verenigde Israel en later van die gedeelde ryk Israel en Juda word vertel vanuit hulle lojaliteit aan die God van die verbond.  Dit word veral gewys deur twee goed:

  1. hulle houding teenoor die sentrale heiligdom in Jerusalem en
  2. hulle hantering van sinkretisme, die aanbidding van Jahwe saam met ander gode.

Die verhaal van Salomo bepaal die agenda vir hierdie perspektief.  Sy mees betekenisvolle bydrae was die bou van die tempel.  Hy kon die versoeking van ander gode egter nie weerstaan nie, wat tot sy val gelei het.

Hierdie agenda word geaksentueer deur die wyse waarop die daaropvolgende konings se verhale vertel word:

  1. ’n Koning se regering word in verband met ’n ander koning s’n gebring.
  2. Die lengte van sy regering word vertel en in watter stad hy geregeer het.
  3. Die Judese konings se moeders word genoem.
  4. Sy godsdiensbeleid word beskryf – die noordelike konings word konsekwent beskryf as net so sondig as Jerobeam; die suidelike konings word beoordeel in terme van hulle navolging van Jahwe en hulle houding teenoor die hoogtes.
  5. Laasgenoemde is baie keer ’n bron vir verdere inligting oor die koning
  6. Dit word afgesluit met inligting oor sy dood en begrafnis en wie hom opgevolg het.

Die godsdiensbeleid van die koning is die enigste basis vir die beoordeling van ’n koning se regering.  Dit bepaal ook watter inligting in die skryf van hulle verhale gebruik word.  Dit is dus nie geskiedenisskrywing soos ’n mens sou verwag nie.   Daarom word ook soveel spasie aan die profete, Elia en Elisa afgestaan, omdat hulle as God se agente optree in sy verhouding met die konings.

Anders as met die boek van Samuel, word die verhaal van Konings ook in die konteks van die groter wêreldmagte, Assirië, Babilon en Egipte vertel.  Hulle is, in ’n sekere sin net soos die profete, God se instrumente in sy hantering van die koning en die volk.

Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk.

1 en 2 Konings dek die tydperk van Dawid se dood in 970 vC tot die sesde eeuse ballingskap van Juda in 586 vC.  Dit sluit die sogenaamde Vroeë Profete af wat ook Josua en die boek 1 en 2 Samuel insluit.

  1. Die koninkryk van Salomo – 1 Konings 1 – 11 – Dit dek Salomo se troonbestyging, sy wysheid, sy bouwerk aan die tempel en sy paleis sowel as sy val weens afgodery.
  2. Die skeuring van die Ryk – 1 Konings 12 – 16:20 – Dit vertel die verhaal van die skeuring van die ryk tydens die regering van Jerobeam 1, waarin ’n mens trekke van die verhaal van Aäron se goue kalf hoor.
  3. Die verhaal van die verdeelde ryk: Noordelike ryk – 1 Konings 16:21 – 2 Konings 10
    1. Die bediening van Elia – 1 Konings 17 – 2 Konings 1
    2. Die bediening van Elisa – 2 Konings 2 – 10
  4. Die verhaal van die verdeelde ryk: Die verhaal van die Suidelike ryk en ballingskap vir die Noordelike ryk – 2 Konings 11 – 17 – die profetiese aktiwiteit in die Noorde kan die ballingskap van Israel nie voorkom nie.
  5. Juda se laaste jare tot by hulle ballingskap – 2 Konings 18 – 25 – die verhaal van twee goeie konings, Hiskia en Josia kan die ballingskap van Juda nie voorkom nie.

Indeling van 1 en 2 Konings – leesplan

WEEK 1: 1 KONINGS 1-11

  1. Salomo word koning ná Dawid se dood – hfst. 1-2
  2. Salomo se gebed om wysheid – hfst. 3-4
  3. Salomo bou die tempel van God en sy paleis – hfst. 5-7
  4. Salomo wy die tempel aan God en vernuwe die verbond – hfst. 8-9
  5. Salomo spog met sy rykdom; hy bewerk sy eie ondergang met vroue uit vreemde volke – hfst. 10-11

WEEK 2: 1 KONINGS 12-16:20

  1. Rehabeam se optrede laat die ryk skeur – hfst. 12
  2. Jerobeam se afgodediens word veroordeel – hfst. 13
  3. Jerobeam se huis word veroordeel – hfst. 14
  4. Abia, Asa en Nadab – hfst. 15:1-32
  5. Baesa, Ela en Simri – hfst. 15:33-16:20

WEEK 3: 1 KONINGS 16:21-2 KONINGS 1

  1. Omri, Agab, Elia en die droogte – hfst. 16:21- 18
  2. Elia op die berg Horeb – hfst. 19
  3. Agab en die Arameërs – hfst. 20
  4. Nabot se wingerd – hfst. 21
  5. Agab se einde, Josafat en Ahasia – hfst. 22 – 2 Konings 1

WEEK 4: 2 KONINGS 2-10

  1. Elia se mantel val op Elisa – hfst. 2-3
  2. Elisa dien gewone en vername mense – hfst. 4-5
  3. Elisa en die Arameërs (Sirië) – hfst. 6-7
  4. Elisa en Damaskus – hfst. 8
  5. Elisa en Jehu – hfst. 9-10

WEEK 5: 2 KONINGS 11-17

  1. Joas word koning oor Juda – hfst. 11-12
  2. Joahas word koning oor Israel en die dood van Elisa – hfst. 13
  3. Amasia word koning oor Juda en Jerobeam II oor Israel – hfst. 14
  4. Verskeie konings van die 8ste eeu vC – hfst. 15
  5. Agas word koning van Juda en Hosea koning oor Israel tot met die Noordelike ryk se ballingskap – hfst. 16-17

WEEK 6: 2 KONINGS 18-25

  1. Die verhaal van koning Hiskia – hfst. 18-20
  2. Die sonde van Manasse – hfst. 21
  3. Josia word koning oor Juda – hfst. 22
  4. Josia se hervormings – hfst. 23
  5. Nebukadnesar neem Jerusalem in en voer die volk in ballingskap weg – hfst. 24-25

Metodiek

Ek het al baie verskillende Bybelstudie metodes in die loop van die Bybelskool voorgestel, sommige meer informatief van aard en ander meer formatief (luister-metodiek of Lectio Divina bv.) van aard.

Die idee is om beide die breë lyne van bv. die verhaal van Salomo, Elia of Elisa as die fyner detail daarvan raak te lees en die betekenis en die impak daarvan vir ons lewe te oorweeg. Dit is juis in die refleksie en nadenke oor die betekenis van die Bybel dat geestelike groei plaasvind.

Jy kan enige sisteem gebruik om vir jou aantekeninge te maak, selfs kort aantekeninge in die kantlyn van die Bybel:

Een manier is om met drie simbole te werk waaroor jy dan kan reflekteer en in die groep kan bespreek:

! – IETS WAT JOU GETREF HET

? – IETS WAAROOR JY ‘N VRAAG HET

– IETS VAN GROOT BETEKENIS

Jy kan self kies hoe jy wil lees met enige van die vorige metodes.

Ek gee hier ook weer vir jou die vier metodes van Adele Calhoun.  Sy stel 4 metodes vir Bybelstudie voor (Spiritual Disciplines Handbook, 164), sommige meer formatief en ander meer informatief:

  • Lees soos ‘n Kunstenaar
    • Wat tref my?
    • Watter nuwe gedagtes kry ek?
    • Wat moet ek daarmee doen?
  • Lees soos ‘n Speurder
    • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
    • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
    • Wat nou (aksie, met wie)?
  • Lees soos ‘n Skatkisjagter
    • Watter skat lê hier opgesluit (voorbeeld, belofte, opdrag, toepassing, gebed, belydenis, vraag)?
    • Wat moet ek hiermee doen?
  • Lees soos ‘n Vakleerling
    • Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
    • Wat moet ek hiermee doen?

Kies een van hierdie metodes (of kies elke week ‘n ander een!) en gebruik dit om diep in die teks te delf na die rykdom wat God vir jou daarin opgesluit het.  En deel hier wat jou tref of vraag iets wat jou pla, dat ek saam met jou daaroor kan dink, en ons ons verstaan van die teks kan verdiep vir die reis wat ons saam met God in die lewe onderneem.

1 Konings 1-2 – Salomo word koning te midde van groot intriges

Adonia

Adonia speel aanvanklik ’n groot rol in dié twee hoofstukke voordat Salomo die troon bestyg.

Let op hoe Adonia se hoogmoed (1:3) hom lei om op eie stoom die troon te probeer bestyg, sonder sy pa Dawid se seën of inspraak.  Hy maak aanspraak op die troon doodgewoon op grond van sy ouderdom.  Daarteenoor word Salomo se troonbestyging moontlik gemaak deur mense wat namens hom optree, heel eerste die profeet Natan (wat ook ‘n boek oor Dawid en Salomo geskrywe het (1 Kronieke 29:29; 2 Kronieke 9:29), en daarna Batseba, Salomo se ma, en hoe hulle hulle optrede baie spesifiek afhanklik maak van Dawid se uitsprake.

Dit is ook interessant dat Adonia nooit deur sy pa berispe is nie (1:6), wat op tragiese wyse hier moontlik bydra tot sy arrogansie.  Let ook op hoe min insig hy daarom toon as hy Batseba versoek om namens hom te vra vir Abisag as vrou.  Dit kon eintlik net vertolk word as ‘n bedekte manier om ‘n aanspraak op die troon te maak (2:17 – ‘n mens sien hier ooreenkomste met Abner se dwase verbintenis met Rispa in ‘n poging om sy posisie in die Saul dinastie te verstewig [2 Sam 3:6 vv]).  Salomo het sy eerste poging tot die koningskap verdra, maar nie dié vergryp nie en bring hom om die lewe (2:25).

Dit is ook betekenisvol dat Adonia telkens as die seun van Gaggit aangedui word, wat moontlik op ‘n broeiende konflik tussen Gaggit en Batseba dui.  Batseba het egter duidelik die koning se steun, terwyl Gaggit dit nie het nie.

Dawid

Interessant dat Salomo een van die kinders was wat vir Dawid in Jerusalem gebore is (2 Samuel 5:14-15) terwyl Adonia as vierde kind van Dawid in Hebron gebore is (2 Samuel 3:2-5 – Amnon, die oudste, is deur Absalom om die lewe gebring, weens die verkragting van sy suster, Tamar; Kilab, seun van Abigajil, die tweede oudste, lees ons nêrens meer van nie – hy het heel moontlik ook die naam Daniël gehad volgens 1 Kronieke 3:1; Absalom, die derde oudste, is natuurlik vroeër in sy opstand teen Dawid, om die lewe gebring).

Dit is dus ‘n kind wat gebore is in die tyd van sy koningskap oor die hele Israel, wat voorkeur geniet, en nie die kinders wat gebore is in die tyd van sy heerskappy net oor Juda nie (vgl 2 Samuel 5:5).  Let ook op dat Adonia spesifiek die manne van Juda na sy kroningsplegtigheid uitnooi!

‘n Mens lees ook nie in die Bybel van Dawid se keuse vir Salomo voordat Batseba na ‘n vorige uitspraak van die koning hieroor verwys nie (1:17) nogal in opdrag van die profeet Natan. Dit lyk dus op die oog af na ‘n doelbewuste poging tot beïnvloeding deur die profeet (1:11-14, 24).  Maar Dawid reageer op Batseba se retoriese vraag met baie positiwiteit (1:30) wat beteken dat Natan heel moontlik net beter as die meeste, sy koning se wense geken het en daarvolgens opgetree het.

Dit tref my hoe Dawid uiteindelik aan God die lof gee vir die troonbestyging van Salomo, en dat hy dit met sy eie oë kon sien (1:48).

Salomo

Dit tref my ook hoe Salomo aanvanklik met baie grasie optree teenoor Adonia, deur te belowe dat hy hom nie sal doodmaak nie (1:52-53).   Adonia se dwase versoek om Abisag as vrou verseël egter Adonia se lot.

Dit is tragies dat ook Simeï aanvanklik aan Salomo se kant is (1:8), maar uiteindelik deur Salomo doodgemaak word, op grond van Dawid se wrok teenoor hom (2:8 – vgl. 2 Samuel 16:5-14 en 19:15-23).  Sy vroeëre keuse vir Absalom in plaas van Dawid, sowel as die feit dat hy ‘n familielid van Saul was, speel heel moontlik hierin ‘n groot rol.

Let ook op hoe die profesie van die Here oor die huis van Eli voltrek word met die uiteindelik dood van Abjatar (2:27 – vgl. 1 Samuel 2:27-36; 3:11-14; 22:6-23).  Abjatar maak die sleutelfout hier om vir Adonia te ondersteun, waardeur die voorkeur van die Sadokiete as priesterlike huis bevestig word.  Hulle skaar hulleself agter Salomo (1:8).

Salomo tree dus met groot wysheid op, selfs voor die gesprek tussen hom en die Here daaroor (hfst. 3).  Deur Dawid se laaste bevele uit te voer, met die hulp van Benaja, bevestig hy sy koningskap deur van Adonia, Abjatar, Joab en Simeï ontslae te raak.

Ander mense en plekke van betekenis

  • Sunem (rusplek) was in die gebied van Issaskar (Jos 19:18), waar Elisa later in die huis van die Sunamitiese vrou tuisgaan (2 Kon 4:8). Dit speel ook ‘n rol as die woonplek van die Sulammitiese vrou, die bruid in Hooglied (6:13).
  • Abisag se naam beteken: “die vader is op reis” wat moontlik betekenisvol verwys na Dawid se naderende dood.
  • Benaja was die leier van Dawid se Filistynse lyfwag en een van die helde (2 Sam 8:18; 23:20 – vgl. sy heldedade o. a. deur ‘n leeu in ‘n put dood te maak).  Sy pa, Jojada, was op ‘n tyd hoëpriester (1 Kronieke 27:5) en ook betrokke by Dawid se aanvanklike troonbestyging in Hebron (1 Kronieke 12:23).  Daar word hy as ‘n Aäronitiese vors met 3700 man onder hom beskrywe!
  • Reï is vir ons onbekend.

1 Konings 3-4 – Salomo kry ‘n luisterryke hart van die Here

Die verhaal van Salomo word voortgesit met klem op sy wysheid en voorspoed.  ’n Tema wat uiteindelik tot sy afvalligheid aanleiding sou gee, word egter ook aangeraak in hfst. 3, sy huwelik met Farao se dogter.  Salomo was lief vir uitlandse vroue en hulle afgode sou hom verlei om hulle te aanbid.

Let op dat Salomo steeds op die hoogtes offer, hier by die vernaamste een in Gibeon.  Dit was ook die plek waar die tent van ontmoeting (2 Kronieke 1:2-13) was.  Dit is betekenisvol dat dit juis hier is waar die Here in die droom aan Salomo verskyn.

Salomo wys sy liefde vir die Here deur gehoorsaam te wees aan die opdragte van sy pa.  Let op hoe hy Dawid ook in sy droomgesprek met die Here erken en respekteer.

Hy vra vir gehoorsaamheid aan God dat hy reg sal regeer en in alles insig sal hê.  Gehoorsaamheid in die oorspronklike beteken eintlik ’n “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal “discerning heart”.

God gee daarmee vir hom die ander goed ook, dié dinge wat hy nie gevra het nie.

Daarna keer hy terug na Jerusalem toe en bring sy offers daar.

En die wysheid wat God gee is onmiddellik sigbaar met die uitspraak wat hy gee in die geval van die seuntjie wat doodgelê is.  Dit verleen hom hoë agting in die oë van die volk as ’n man wat Goddelike wysheid het.  Hy raak bekend vir sy spreuke, liedere en gedigte in die hele Midde-Ooste (4:29-34).  Let op hoe die onderwerpe waaroor hy skrywe ook die aarde en die skoonheid van plant en dier insluit.

Twee van die streekbestuurders was getroud met Salomo se dogters wat sy greep op die administrasie verklaar.

Die beloftes aan Abraham word waar: hfst. 4:20: “Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see.”  Interessant dat van hulle gesê word dat hulle gelukkig was.

Salomo het ’n groot huishouding gehad: 15 ton meel per dag, 30 beeste en 100 skape behalwe die wild en hoenders!

Salomo heers oor die grootste gebied van al die Israeliese konings.  Hy verwesenlik die Abrahamitiese droom om die land te besit van Dan tot Berseba.  Die ideaal van “elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit” (4:25) word bereik en bly ook die ideaal waaraan die profete die toekoms meet.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda