WEEK 1: Bybelskool oor 1 en 2 Konings

Die Bybelskool oor Markus was vir my ‘n louter vreugde.  Nie net oor die helderder prentjie wat ek self van Jesus daardeur gevorm het nie.  Maar ook weens die interaksie met deelnemers nie net in my eie gemeente nie, maar reg oor die wêreld.  Dit is wonderlik om deur julle brille te kyk na die Bybel en in julle perspektiewe self so baie te leer.

Ek sal graag wil hoor, noudat julle ‘n bietjie afstand gekry het op die leeswerk van die vorige kwartaal, watter verskil die Bybelskool oor Markus in julle lewe gemaak het!

Ons keer nou terug na die Ou Testament en gaan oor die volgende 6 weke die verhale van 1 en 2 Konings lees (leesplan word Woensdag gepubliseer).

INLEIDING

“Let the word of Christ – the Message – have the run of the house.  Give it plenty of room in your lives.  Instruct and direct one another using good common sense.  And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.

Hierdie woorde van Eugene Peterson verwoord op ‘n besondere manier hierdie Bybelskool se motto:

Om in die Woord te Woon.

Navorsing wys dat daar vier katalisators is vir geestelike groei:

  • Geestelike oortuigings en houdings – oor God, Christus, Heilige Gees, die Bybel, genade
  • Georganiseerde kerklike aktiwiteite – eredienste, kleingroepe, diensgeleenthede
  • Persoonlike geestelike praktyke – refleksie oor die Bybel, gebed
  • Geestelike aktiwiteite saam met ander – ongeorganiseerde dinge soos vriendskappe, dienslewering in informele netwerke

Gelowiges se behoeftes verskil soos hulle vorder op die pad van geestelike groei:

  • Geleenthede om met God en ander gelowiges te connect – veral eredienste
  • Kleingroepe en basiese persoonlike geestelike praktyke – veral rondom die Bybel
  • Diensgeleenthede en gevorderde persoonlike geestelike praktyke – veral rondom die Bybel
  • Mentor geleenthede en ‘n wye reeks van diensgeleenthede

Die belangrikste behoefte wat in alle fases van geestelike groei uitgespreek word, is:

“Help my om die Bybel in diepte te verstaan en oor die betekenis daarvan te reflekteer.”

En dit is my passie om mense hiermee te help: om die skatte van die Woord só oop te sluit vir mense dat hulle daarvan ‘n woonplek maak, ‘n ruimte waarbinne hulle God ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op hul reis deur die wêreld raak.

1 EN 2 KONINGS

Die afgelope jaar of wat het ons nou al deur die Pentateug gewerk, die eerste 5 boeke van die Bybel; ons het die evangelie van Lukas saam met die Handelinge van die Apostels deurgelees, weer ‘n draai gemaak in die Ou Testament en Josua, Rigters en 1 en 2 Samuel deurgelees.

Die eerste kwartaal van die jaar het ons die evangelie van Markus gelees in vergelyking met die ander evangelies, sodat aan die een kant die boodskap van Markus nog meer spesifiek kon uitstaan, maar aan die ander kant ‘n mens ook ‘n waardering begin kry vir die wyse waarop die ander evangeliste dieselfde gegewens geneem het en ander beklemtonings en nuanses daaraan gegee het.

Hierdie kwartaal wil ek die boek van 1 en 2 Konings saam met julle deurlees.  Die boek sal ons ’n perspektief gee op God se hantering van die wêreldgeskiedenis, beide in die groter tendense en bewegings, as in die kleiner plaaslike stories waarbinne ons lewens hulself afspeel.  En net soos die boek Konings alle konings beoordeel in die lig van hulle lojaliteit aan God, só sal die boek ook vir ons help om ons eie lewe in die lig van ons lojaliteit aan God te beskou.

Ek sal van tyd tot tyd opmerkings maak oor vergelykende dele in 1 en 2 Kronieke, maar gaan dit nie as sodanig hanteer nie.  Kronieke gebruik die verhale van Samuel en Konings as basis vir sy verhaal, maar voeg baie ander materiaal by: geslagsregisters, lyste, psalms en toesprake.  Kronieke skep daarmee ’n eenheidsverhaal van Israel van Adam af tot by die terugkeer uit ballingskap in die sesde eeu vC.  Kronieke fokus ook meer op die positiewe kante van die koningsverhale, terwyl Konings die verhale in hulle volle, soms aaklige, detail vertel.

OORSIG

1 en 2 Konings was oorspronklik een boek. Dit vorm deel van die Vroeë Profete: Josua, Rigters, Samuel en Konings. Die samehang tussen hulle bestaan in die verband tussen heilsgeskiedenis en die wêreldgeskiedenis, waarvan laasgenoemde veral in Konings beskryf word.

Die boeke is heel moontlik geskryf deur voor-ballingskap skrywers wat finaal in die ballingskap geredigeer is. Gedurende die ballingskap is die geskiedenis van die konings (in Israel en Juda) in die lig van die val van Jerusalem in 586 vC nuut geïnterpreteer.

Die eerste lesers was dus heel moontlik Jode in ballingskap.  Die brandende vraag in hulle harte: “Hoekom is ons hier in ballingskap?” word deur Konings beantwoord.  Dit het ook die implisiete appél ingesluit aan hulle om die slegte voorbeeld van die konings te vermy en lojaal aan God te bly, ook in die vreemde omstandighede waarin hulle hul bevind.

Jahwe, die God van Israel, word deur die boek Konings as die Almagtige beskrywe.  Hy verhoog en Hy verneder.  Hy gebruik soms op ‘n verstommende wyse nederige en selfs magtelose mense. Vergelyk byvoorbeeld die verhaal van die melaatse Naäman,  en die (naamlose!) konings van Aram en Israel in 2 Konings 5 waarin ‘n jong dogtertjie en die profeet Elisa die sleutelrolle speel.

Dit is verder ironies dat die koninklike vertelling eintlik telkens eerder die verhale van profete op die voorgrond bring. Brueggemann sê hieroor:

“It suggests that the texts are not overly impressed with the kings and in fact do not believe the kings are the real makers of Israel history. Rather the kings are incidental public points of reference which simply provide a context for the real history-makers, who are the prophets.”

Dié gedeeltes dien dus as verhale om die konings se legitimiteit te bevraagteken en die koninklike persepsie van die werklikheid te ontken. Die verhale wil dit duidelik stel dat die wêreld nie is soos die konings sê dit is nie. En dat die perspektief wat die profete op die tafel sit, God se werklikheid, die eintlike werklikheid is.

Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk

Die verhale van die konings van die verenigde Israel en later van die gedeelde ryk Israel en Juda word vertel vanuit hulle lojaliteit aan die God van die verbond.  Dit word veral gewys deur twee goed:

  1. hulle houding teenoor die sentrale heiligdom in Jerusalem en
  2. hulle hantering van sinkretisme, die aanbidding van Jahwe saam met ander gode.

Die verhaal van Salomo bepaal die agenda vir hierdie perspektief.  Sy mees betekenisvolle bydrae was die bou van die tempel.  Hy kon die versoeking van ander gode egter nie weerstaan nie, wat tot sy val gelei het.

Hierdie agenda word geaksentueer deur die wyse waarop die daaropvolgende konings se verhale vertel word:

  1. ’n Koning se regering word in verband met ’n ander koning s’n gebring.
  2. Die lengte van sy regering word vertel en in watter stad hy geregeer het.
  3. Die Judese konings se moeders word genoem.
  4. Sy godsdiensbeleid word beskryf – die noordelike konings word konsekwent beskryf as net so sondig as Jerobeam; die suidelike konings word beoordeel in terme van hulle navolging van Jahwe en hulle houding teenoor die hoogtes.
  5. Laasgenoemde is baie keer ’n bron vir verdere inligting oor die koning
  6. Dit word afgesluit met inligting oor sy dood en begrafnis en wie hom opgevolg het.

Die godsdiensbeleid van die koning is die enigste basis vir die beoordeling van ’n koning se regering.  Dit bepaal ook watter inligting in die skryf van hulle verhale gebruik word.  Dit is dus nie geskiedenisskrywing soos ’n mens sou verwag nie.   Daarom word ook soveel spasie aan die profete, Elia en Elisa afgestaan, omdat hulle as God se agente optree in sy verhouding met die konings.

Anders as met die boek van Samuel, word die verhaal van Konings ook in die konteks van die groter wêreldmagte, Assirië, Babilon en Egipte vertel.  Hulle is, in ’n sekere sin net soos die profete, God se instrumente in sy hantering van die koning en die volk.

Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk.

1 en 2 Konings dek die tydperk van Dawid se dood in 970 vC tot die sesde eeuse ballingskap van Juda in 586 vC.  Dit sluit die sogenaamde Vroeë Profete af wat ook Josua en die boek 1 en 2 Samuel insluit.

  1. Die koninkryk van Salomo – 1 Konings 1 – 11 – Dit dek Salomo se troonbestyging, sy wysheid, sy bouwerk aan die tempel en sy paleis sowel as sy val weens afgodery.
  2. Die skeuring van die Ryk – 1 Konings 12 – 16:20 – Dit vertel die verhaal van die skeuring van die ryk tydens die regering van Jerobeam 1, waarin ’n mens trekke van die verhaal van Aäron se goue kalf hoor.
  3. Die verhaal van die verdeelde ryk: Noordelike ryk – 1 Konings 16:21 – 2 Konings 10
    1. Die bediening van Elia – 1 Konings 17 – 2 Konings 1
    2. Die bediening van Elisa – 2 Konings 2 – 10
  4. Die verhaal van die verdeelde ryk: Die verhaal van die Suidelike ryk en ballingskap vir die Noordelike ryk – 2 Konings 11 – 17 – die profetiese aktiwiteit in die Noorde kan die ballingskap van Israel nie voorkom nie.
  5. Juda se laaste jare tot by hulle ballingskap – 2 Konings 18 – 25 – die verhaal van twee goeie konings, Hiskia en Josia kan die ballingskap van Juda nie voorkom nie.

Indeling van 1 en 2 Konings – leesplan

WEEK 1: 1 KONINGS 1-11

  1. Salomo word koning ná Dawid se dood – hfst. 1-2
  2. Salomo se gebed om wysheid – hfst. 3-4
  3. Salomo bou die tempel van God en sy paleis – hfst. 5-7
  4. Salomo wy die tempel aan God en vernuwe die verbond – hfst. 8-9
  5. Salomo spog met sy rykdom; hy bewerk sy eie ondergang met vroue uit vreemde volke – hfst. 10-11

WEEK 2: 1 KONINGS 12-16:20

  1. Rehabeam se optrede laat die ryk skeur – hfst. 12
  2. Jerobeam se afgodediens word veroordeel – hfst. 13
  3. Jerobeam se huis word veroordeel – hfst. 14
  4. Abia, Asa en Nadab – hfst. 15:1-32
  5. Baesa, Ela en Simri – hfst. 15:33-16:20

WEEK 3: 1 KONINGS 16:21-2 KONINGS 1

  1. Omri, Agab, Elia en die droogte – hfst. 16:21- 18
  2. Elia op die berg Horeb – hfst. 19
  3. Agab en die Arameërs – hfst. 20
  4. Nabot se wingerd – hfst. 21
  5. Agab se einde, Josafat en Ahasia – hfst. 22 – 2 Konings 1

WEEK 4: 2 KONINGS 2-10

  1. Elia se mantel val op Elisa – hfst. 2-3
  2. Elisa dien gewone en vername mense – hfst. 4-5
  3. Elisa en die Arameërs (Sirië) – hfst. 6-7
  4. Elisa en Damaskus – hfst. 8
  5. Elisa en Jehu – hfst. 9-10

WEEK 5: 2 KONINGS 11-17

  1. Joas word koning oor Juda – hfst. 11-12
  2. Joahas word koning oor Israel en die dood van Elisa – hfst. 13
  3. Amasia word koning oor Juda en Jerobeam II oor Israel – hfst. 14
  4. Verskeie konings van die 8ste eeu vC – hfst. 15
  5. Agas word koning van Juda en Hosea koning oor Israel tot met die Noordelike ryk se ballingskap – hfst. 16-17

WEEK 6: 2 KONINGS 18-25

  1. Die verhaal van koning Hiskia – hfst. 18-20
  2. Die sonde van Manasse – hfst. 21
  3. Josia word koning oor Juda – hfst. 22
  4. Josia se hervormings – hfst. 23
  5. Nebukadnesar neem Jerusalem in en voer die volk in ballingskap weg – hfst. 24-25

Metodiek

Ek het al baie verskillende Bybelstudie metodes in die loop van die Bybelskool voorgestel, sommige meer informatief van aard en ander meer formatief (luister-metodiek of Lectio Divina bv.) van aard.

Die idee is om beide die breë lyne van bv. die verhaal van Salomo, Elia of Elisa as die fyner detail daarvan raak te lees en die betekenis en die impak daarvan vir ons lewe te oorweeg. Dit is juis in die refleksie en nadenke oor die betekenis van die Bybel dat geestelike groei plaasvind.

Jy kan enige sisteem gebruik om vir jou aantekeninge te maak, selfs kort aantekeninge in die kantlyn van die Bybel:

Een manier is om met drie simbole te werk waaroor jy dan kan reflekteer en in die groep kan bespreek:

! – IETS WAT JOU GETREF HET

? – IETS WAAROOR JY ‘N VRAAG HET

– IETS VAN GROOT BETEKENIS

Jy kan self kies hoe jy wil lees met enige van die vorige metodes.

Ek gee hier ook weer vir jou die vier metodes van Adele Calhoun.  Sy stel 4 metodes vir Bybelstudie voor (Spiritual Disciplines Handbook, 164), sommige meer formatief en ander meer informatief:

  • Lees soos ‘n Kunstenaar
    • Wat tref my?
    • Watter nuwe gedagtes kry ek?
    • Wat moet ek daarmee doen?
  • Lees soos ‘n Speurder
    • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
    • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
    • Wat nou (aksie, met wie)?
  • Lees soos ‘n Skatkisjagter
    • Watter skat lê hier opgesluit (voorbeeld, belofte, opdrag, toepassing, gebed, belydenis, vraag)?
    • Wat moet ek hiermee doen?
  • Lees soos ‘n Vakleerling
    • Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
    • Wat moet ek hiermee doen?

Kies een van hierdie metodes (of kies elke week ‘n ander een!) en gebruik dit om diep in die teks te delf na die rykdom wat God vir jou daarin opgesluit het.  En deel hier wat jou tref of vraag iets wat jou pla, dat ek saam met jou daaroor kan dink, en ons ons verstaan van die teks kan verdiep vir die reis wat ons saam met God in die lewe onderneem.

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: