1 Konings 8-9 – Die tempel ‘n huis van gebed
Met die ark se skuif binne die tempel in, vul die wolk van die Here, sy magtige teenwoordigheid, die huis van die Here, sodat die priesters nie hulle werk behoorlik kan doen nie (vgl 2 Kron 5:2-14 waar meer inligting oor die priesters gegee word). Salomo spreek dan die volk toe waarna hy ’n roerende gebed bid, die langste opgetekende gebed in die Bybel. In sy toespraak fokus hy op die belofte wat die Here teenoor Dawid nagekom het in terme van die bevestiging van Salomo se koningskap. In sy gebed fokus hy op die transformatiewe krag wat gebed sal hê, selfs van vreemdelinge af. Oral waar mense die Here dien en sy aangesig soek, sal Hy ontvanklik wees vir hulle gebede. Laat ‘n mens dink aan Jesus wat van die tempel as ‘n huis van gebed gepraat het (Mark 11:17 en Jes 65:7).
Hiermee het Salomo die godsdiensbeoefening van Israel verenig waarmee die Intog in Kanaän uiteindelik afgehandel is. Wat my egter tref van sy gebed is dat dit wel fokus op die tempel en God se teenwoordigheid daar, maar dat dit nie tot ’n verheerliking van die tempel as sodanig lei nie. Jy hoef nie eers by die tempel te wees om te bid nie, Jy kan op enige plek bid na die God wie sy teenwoordigheid deur die tempel bevestig word, en geantwoord word. Salomo is ook baie duidelik daaroor dat God nie beperk word deur die tempel nie: “selfs die hoogste hemel kan U nie bevat nie.” (1 Kon 8:27)
Nadat Salomo die volk geseën het, is daar 14 dae lank fees gevier met ’n geweldige hoeveelheid beeste en kleinvee.
Die tempelwyding word afgesluit met ’n waarskuwing van die Here dat Hy gehoorsaamheid wil hê, anders sal Hy sy beskermende hand terugtrek van die volk. Dit demp ’n bietjie die uitbundige atmosfeer wat in die vorige hoofstuk geskep is. Die hoogtepunt van Salomo se regering, die bou van die tempel, word immers in hoofstuk 11 gevolg deur sy laagtepunt, die dien van afgode.
Hoofstuk 9 sluit af met ’n paar mededelings oor Hiram van Tirus en die farao van Egipte wat Salomo se “standing” in die koninklike geledere bevestig. Let ook op na die formalisering van ’n (dwang)arbeidersklas uit die oorblyfsels van die Kanaänitiese volkere, waarskynlik die punt waaruit baie van die moderne konflik tussen die Palestyne en die Jode spruit.
View all posts in this series
- WEEK 1: Bybelskool oor 1 en 2 Konings - April 19, 2010
- Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk - April 20, 2010
- Indeling van 1 en 2 Konings – leesplan - April 21, 2010
- 1 Konings 1-2 – Salomo word koning te midde van groot intriges - April 22, 2010
- 1 Konings 3-4 – Salomo kry ‘n luisterryke hart van die Here - April 23, 2010
- 1 Konings 5-7 – Salomo bou die tempel in vervulling van die belofte aan Dawid - April 26, 2010
- 1 Konings 8-9 – Die tempel ‘n huis van gebed - April 27, 2010
- 1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue - April 28, 2010
- Salomo – ‘n oorsig van sy lewe - April 29, 2010
- WEEK 2: 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here
- 1 Konings 13 – ‘n Man van God se gehoorsaamheid word getoets … en God se geloofwaardigheid - April 30, 2010
- 1 Konings 14 – God is nie onverbiddelik nie - May 3, 2010
- 1 Konings 15:1-31 – Die Here help dié wat met hulle hele hart op Hom vertrou - May 4, 2010
- 1 Konings 15:33-16:20 – Onbetroubare eiesinnige leiers - May 5, 2010
- WEEK 3: 1 Konings 16:21 – 18:46 – Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking - May 6, 2010
- 1 Konings 19 – God ly nooit aan uitbranding nie! - May 7, 2010
- 1 Konings 20 – Die Here bewys Homself aan Agab, sonder effek - May 10, 2010
- 1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid - May 11, 2010
- 1 Konings 22 – 2 Konings 1 – Die Here bepaal die gang van sake - May 12, 2010
- WEEK 4: 2 Konings 2-3 – Die Here is in beheer - May 13, 2010
- 2 Konings 4-5 – God help gewone mense sowel as vernames - May 14, 2010
- 2 Konings 6-7 – God kan met alles vertrou word - May 17, 2010
- 2 Konings 8 – God bly getrou aan sy beloftes - May 18, 2010
- 2 Konings 9-10 – God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie - May 19, 2010
- WEEK 5: 2 Konings 11-12 – Platteland en stad verenig weer voor die Here in Juda - May 20, 2010
- 2 Konings 13 – Die Here se genade seëvier telkens oor sy oordeel - May 21, 2010
- 2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk - May 24, 2010
- 2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here - May 25, 2010
- 2 Konings 16-17 – Hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword - May 26, 2010
- WEEK 6: 2 Konings 18-20 – God luister waar sy eer in gedrang kom - May 27, 2010
- 2 Konings 21 – Genadetyd raak kort vir Jerusalem - May 28, 2010
- 2 Konings 22 – Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here - May 31, 2010
- 2 Konings 23 – Die Woord is ‘n gemeenskapsboek - June 1, 2010
- 2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie - June 2, 2010
viniefurstenberg
Daar word reeds in Samuel na Juda en Israel verwys toe Dawid aanvanklik in Hebron tot koning van Juda gesalf is en daarna deur die hele Israel in Sion gesalf is. Maar dan lees ons in 1Kon 4:20 weer van Juda en Israel in Salomo se tyd terwyl die skeuring tog eers na Salomo voorkom. Is hierdie `n geografiese verwysing of is dit moontlik dat die skrywers van Konings die onderskeid maar maak soos wat hulle dit dalk self geken het? En tog word daar by die tempelwyding weer net na Israel verwys! Oor die paleis: Dit lyk vir my asof die paleiskompleks baie imponerend moes gewees het. Die afmeting van die Libanonsbosgebou is selfs groter as die tempel. Het God ooit opdrag gegee dat daar vir die koning so `n paleis opgerig moes word? God gee wel aan hom rykdom. Maar was dit nie dalk ydelheid en die begin van Salomo se afvalligheid nie? Of was dit simbool van politieke mag wat noodwendig sou lei tot godsdienstige verval?
Chris van Wyk
Die verdeling kom 'n lang pad. By Debora (Rigters 4 en 5) al kan 'n mens die verdeling sien tussen dié wat saamveg en dié wat by die huis bly, 'n noordelike en 'n suidelike deel van die volk Israel. Soos jy tereg sê, raak Dawid eers in Juda koning (2 Sam 2) voor hy deur die hele Israel (2 Sam 5) erken word, ook 'n suidelike en noordelike verdeling. Selfs Absalom (2 Sam 15) en Adonia (1 Kon 1) probeer eers die Judeërs aan hulle kant kry, voor hulle die moeilike pad na erkenning deur die hele Israel aanpak. In beide se geval slaag dit natuurlik nie, maar dit is duidelik dat dit hulle intensie was en dat hulle rekening hou met dié verdeling. Onthou ook dat Dawid vlug na 'n bastion in die noordelike gebied (2 Sam 17) om vandaar af die oorlog teen sy seun Absalom te voer en weer die hele Israel, Juda ingesluit, onder hom te verenig. Die verdeling tussen Israel en Juda, die noorde en die suide, is dus iets wat van vroeg af teenwoordig was, waarvan 'n mens maar net die redes kan raai, maar tog eers in Rehabeam se tyd 'n voldonge staatkundige feit geword. Israel kan dus vir die noordelike deel staan, en ook vir die hele volk, want hulle almal stam natuurlik van Jakob af, wat eerste die naam Israel gekry het.
Ons lees nie dat God die opdrag vir die bou van die paleis gegee nie, maar dan lees ons natuurlik nie alles wat gebeur het nie. Salomo se probleem lê natuurlik nie in die eerste plek in die paleis nie, maar in wat binne die paleis gebeur het: sy baie vroue, en in sy stalle, sy baie perde. Sy luisterryke hart het met tyd nie meer net na die Here geluister nie, maar na dit wat begeerlik was rondom hom. Ydelheid het sekerlik 'n rol gespeel, politieke mag en die verleiding daarvan, maar die begin van alles was dat hy die Here nie meer volledig en getrou gedien het nie. Soos Spreuke sê: Wysheid begin met die dien van die Here, en dit verdwyn wanneer Hy nie meer alles is in jou lewe nie.
juriejurgens
Is dit reg dat hierdie die laaste is wat die Bybel vertel van die geskiedenis van die ark? En dat dit onbekend (selfs 'n geheim?) is wat later daarvan geword het. Ek het al vergesogte stories gehoor maar dit klink vir my na blote bespiegelinge. Kan jy rigting gee?
N.S. Jammer ek het gisteraand gemis – moes 'n krises by die werk help oplos.
Chris van Wyk
Dawid het die ark in die tabernakel geplaas (2 Sam 6), Salomo in die tempel (1 Kon 8). Josia het dit weer in die tempel geplaas (2 Kron 35:3), en sy tydgenoot Jeremia praat ook daarvan, hoewel hy voorspel dat dit vernietig sal word (Jer 3:16. Dit het heel moontlik verlore geraak met die wegvoering in ballingskap in 586 vC, hoewel dit nie een van die items is wat deur die Babiloniërs gelys word nie. Met die bou van die tweede tempel was die ark steeds soek, soos Josephus skrywe. Daar is meer inligting by <Jewish Virtual Library>
The Ark remained in the Temple until its destruction at the hand of the Babylonian empire, led by Nebuchadnezzar. What happened to it afterward is unknown, and has been debated and pondered for centuries. It is unlikely that the Babylonians took it, as they did the other vessels of the Temple, because the detailed lists of what they took make no mention of the Ark. According to some sources, Josiah, one of the final kings to reign in the First Temple period, learned of the impending invasion of the Babylonians and hid the Ark. Where he hid it is also questionable – according to one midrash, he dug a hole under the wood storehouse on the Temple Mount and buried it there (Yoma 53b). Another account says that Solomon foresaw the eventual destruction of the Temple, and set aside a cave near the Dead Sea, in which Josiah eventually hid the Ark (Maimonides, Laws of the Temple, 4:1).
Aerial view of the courtyard of the St. Mary Church in Axum, Ethiopia.
One of the most fascinating possibilities is advanced by Ethiopian Christians who claim that they have the Ark today. In Axum, Ethiopia, it is widely believed that the Ark is currently being held in the Church of Saint Mary of Zion, guarded by a monk known as the “Keeper of the Ark,” who claims to have it in his possesion. According to the Axum Christian community, they acquired the Ark during the reign of Solomon, when his son Menelik, whose mother was the Queen of Sheba, stole the Ark after a visit to Jerusalem. While in the not-so-distant past the “Ark” has been brought out for Christian holidays, its keeper has not done so for several years due to the tumultuous political situation in the country. The claim has thus been impossible to verify, for no one but the monk is allowed into the tent.
A more plausible claim is that of archaeologist Leen Ritmeyer, who has conducted research on the Temple Mount and inside the Dome of the Rock. He claims to have found the spot on the Mount where the Holy of Holies was located during the First Temple period. In the precise center of that spot is a section of bedrock cut out in dimensions that may match those of the Ark as reported in Exodus. This section of the mount, incidentally, is the one from which the creation of the world began, according to midrash (T. Kedoshim, 10). Based on his findings, Ritmeyer has postulated that the Ark may be buried deep inside the Temple Mount. However, it is unlikely that any excavation will ever be allowed on the Mount by the Muslim or Israeli authorities.
Chris van Wyk
'n Laaste interessante feit oor die ark. In Openbaring 11:19 vind ons die ark van die verbond in die hemelse tempel!