WEEK 2: 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here
Dit tref my hoe die geskiedenis hom herhaal. Dawid het moeite gehad om ’n goeie pa vir sy kinders te wees, met tragiese gevolge vir Absalom en Adonia. Salomo vaar nog slegter. Waar dit darem nog lyk asof Dawid ’n verhouding met Salomo het en aan hom sekere opdragte gee, wat Salomo uitvoer, lyk dit asof Salomo geen verhouding met Rehabeam het nie. Hy het wel ’n oneffektiewe poging om Jerobeam te opponeer (11:40), maar min impak op die verdere prosesse.
Rehabeam se koningskap word aanvanklik beide in die Noorde as die Suide aanvaar. In Sigem (vgl Josua 24) tree hy egter baie onwys op met die eerste uitdaging wat die Israeliete aan hom stel: hoe hy die dwangarbeid gaan hanteer. Sy radikalisering van sy pa se beleid teenoor die dwangarbeiders lei regstreeks tot die skeuring van die ryk.
Let op hoe Jerobeam die “spokesperson” word vir die arbeiders, veral dié van Israel se noordelike stamme. ’n Mens weet nie of sy aanbod om deel van die ryk te bly, as die arbeidslas ligter gemaak sou word, ernstig bedoel was nie, maar dit het in elk geval nie die gewenste uitwerking nie. Rehabeam steur hom nie aan die billike versoek nie, maar volg die raad van die jonger manne – manne wat interessant genoeg “saam met hom grootgeword het” (vers 10) en sy perspektief op die lewe deel – en vervreem so vir Jerobeam en die noordelike stamme.
Sy optrede word egter ook aan die beskikking van die Here toegeskryf, “sodat Hy sy belofte kon hou wat Hy deur Agija van Silo aan Jerobeam seun van Nebat gegee het.” (vers 15; vgl 11:29) Hier sien ’n mens weer ’n getuienis van die dubbele oorsaak van dieselfde gebeure, beide van menslike kant gesien as van Goddelike kant. Dit bly ’n paradoks wat moeilik met mekaar versoen kan word.
Rehabeam se pogings om die opstand teen hom te onderdruk word maklik deur die 10 noordelike stamme afgeweer en die breuk is nooit weer geheel nie. Hy het nie rekening gehou met die feit dat selfs Dawid se koningskap in die Noorde op grond van ’n ooreenkoms/verdrag was (2 Sam 5:3) en nie op grond van oorerwing, soos wel in die Suide die geval was nie. Boonop stuur hy ook nog die hoof van die dwangarbeid, Adoniram, om sy wil op hulle af te dwing, met tragiese gevolge vir Adoniram.
Let op hoe selfs die oorlogspogings van Rehabeam deur die Here in die wiele gery word, deur ’n profeet te stuur, Semaja, omdat die Here verantwoordelikheid neem vir die skeuring: “wat gebeur het, kom van My af.” (24). Daarmee het Rehabeam nie net baie grondgebied ingeboet nie, maar ook ’n groot klomp belasting en moes met ’n kleiner werks- en oorlogsmag tevrede wees. Sy magswellus boemerang lelik op hom.
Jerobeam se koningskap oor die 10 stamme word deur ’n volksvergadering bevestig. Maar sy poging om beheer ook van die godsdienstige lewe van sy volk te neem, lei tot ’n dwase keuse om twee goue kalwerbeelde te maak wat in die twee heiligdomme Betel (suide – vgl Gen 12:8: Abraham) en Dan (noorde) opgerig word as teenvoeter vir die tempel in Jerusalem, wat Israeliet 3 keer ’n jaar vir die feeste besoek het. Daarmee oortree hy egter die wet van die Here, soos Aäron lank tevore. Die Israeliete volg hom in die aanbidding op die hoogtes en by die twee heiligdomme. Selfs priesters uit ander stamme word aangestel teen die voorskrifte van die Here.
Jerobeam word daarmee ’n voorbeeld van afvalligheid van die Here, al was dit die Here wat hom die koningskap gegee het. Net soos Salomo, verkwis hy die gawe van die Here aan hom. Jerobeam vergestalt daarmee vir die Koningskrywers alles wat verkeerd is met die Israelitiete konings, omdat hulle aandadig was aan die spreekwoordelike: “sondes wat Jerobeam die seun van Nebat vir Israel laat doen het.” (15:26; 16:26, 30 ens.)
Wys ’n mens net weer hoe moeilik ’n bevryder ’n goeie koning word.
View all posts in this series
- WEEK 1: Bybelskool oor 1 en 2 Konings - April 19, 2010
- Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk - April 20, 2010
- Indeling van 1 en 2 Konings – leesplan - April 21, 2010
- 1 Konings 1-2 – Salomo word koning te midde van groot intriges - April 22, 2010
- 1 Konings 3-4 – Salomo kry ‘n luisterryke hart van die Here - April 23, 2010
- 1 Konings 5-7 – Salomo bou die tempel in vervulling van die belofte aan Dawid - April 26, 2010
- 1 Konings 8-9 – Die tempel ‘n huis van gebed - April 27, 2010
- 1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue - April 28, 2010
- Salomo – ‘n oorsig van sy lewe - April 29, 2010
- WEEK 2: 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here
- 1 Konings 13 – ‘n Man van God se gehoorsaamheid word getoets … en God se geloofwaardigheid - April 30, 2010
- 1 Konings 14 – God is nie onverbiddelik nie - May 3, 2010
- 1 Konings 15:1-31 – Die Here help dié wat met hulle hele hart op Hom vertrou - May 4, 2010
- 1 Konings 15:33-16:20 – Onbetroubare eiesinnige leiers - May 5, 2010
- WEEK 3: 1 Konings 16:21 – 18:46 – Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking - May 6, 2010
- 1 Konings 19 – God ly nooit aan uitbranding nie! - May 7, 2010
- 1 Konings 20 – Die Here bewys Homself aan Agab, sonder effek - May 10, 2010
- 1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid - May 11, 2010
- 1 Konings 22 – 2 Konings 1 – Die Here bepaal die gang van sake - May 12, 2010
- WEEK 4: 2 Konings 2-3 – Die Here is in beheer - May 13, 2010
- 2 Konings 4-5 – God help gewone mense sowel as vernames - May 14, 2010
- 2 Konings 6-7 – God kan met alles vertrou word - May 17, 2010
- 2 Konings 8 – God bly getrou aan sy beloftes - May 18, 2010
- 2 Konings 9-10 – God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie - May 19, 2010
- WEEK 5: 2 Konings 11-12 – Platteland en stad verenig weer voor die Here in Juda - May 20, 2010
- 2 Konings 13 – Die Here se genade seëvier telkens oor sy oordeel - May 21, 2010
- 2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk - May 24, 2010
- 2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here - May 25, 2010
- 2 Konings 16-17 – Hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword - May 26, 2010
- WEEK 6: 2 Konings 18-20 – God luister waar sy eer in gedrang kom - May 27, 2010
- 2 Konings 21 – Genadetyd raak kort vir Jerusalem - May 28, 2010
- 2 Konings 22 – Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here - May 31, 2010
- 2 Konings 23 – Die Woord is ‘n gemeenskapsboek - June 1, 2010
- 2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie - June 2, 2010