1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid
Dit tref my hoe baie moeite die Here met Agab doen om hom te bereik. In die vorige hoofstuk het die Here hom 2 keer in die oorlog gehelp, met telkens ’n duidelike boodskap daaroor aan hom. Hier bewys die Here ’n stukkie genade aan hom, self in die oordeel wat Agab oor homself bring, deurdat die oordeel eers na sy dood voltrek sou word.
Nabot se verhaal speel in Jisreël af, tussen die Gilboa- en Karmelgebergtes. Agab het heel moontlik ook daar ’n paleis gehad. Agab se poging om Nabot se grond in die hande te kry, druis egter teen die eeue-oue erf-tradisie van Israel in (Lev 25), terwyl Nabot ook emosionele bande met die grond had weens sy ouers wat daar begrawe is.
Isebel tree uit haar Feniciese grondbeskouing op – alle grond behoort aan die koning – en laat Nabot vermoor. Die uitroep van ’n vasdag kan heel moontlik met die droogte van 1 Konings 17-18 verbind word, daarom dat Elia ook hier op die toneel verskyn. Sommige geleerdes verbind die volksvergadering se optrede dan ook met die soeke na ’n sondebok vir die droogte.
Let op hoe Isebel se optrede steeds tot Agab se skade is, hoewel hy nie direk daarmee iets te doene gehad het nie. As koning kon hy ’n ter dood veroordeelde se grond in besit neem, maar die Here stuur Elia om die oordeel oor Agab aan te kondig oor hierdie moord. Sy bloed sou by die wingerd van Nabot opgelek word (Agab sterf op pad na Samaria, maar Joram, sy seun, se lyk word wel hier neergegooi – 1 Kon 21; 2 Kon 9) en Isebel sal in Jisreël aan haar einde kom (deur die toedoen van Jehu – 2 Kon 9). Agab se huis word ook getref in terme van die kollektiewe verantwoordelik wat in Israel gegeld het in terme van families, ’n oordeel wat voltrek word met die dood van Joram (2 Kon 3) waarmee die Omri dinastie tot ’n einde kom.
Mag korrupteer, absolute mag korrupteer absoluut. Maar die Here slaap nie, en Hy laat geregtigheid geskied.
View all posts in this series
- WEEK 1: Bybelskool oor 1 en 2 Konings - April 19, 2010
- Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk - April 20, 2010
- Indeling van 1 en 2 Konings – leesplan - April 21, 2010
- 1 Konings 1-2 – Salomo word koning te midde van groot intriges - April 22, 2010
- 1 Konings 3-4 – Salomo kry ‘n luisterryke hart van die Here - April 23, 2010
- 1 Konings 5-7 – Salomo bou die tempel in vervulling van die belofte aan Dawid - April 26, 2010
- 1 Konings 8-9 – Die tempel ‘n huis van gebed - April 27, 2010
- 1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue - April 28, 2010
- Salomo – ‘n oorsig van sy lewe - April 29, 2010
- WEEK 2: 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here
- 1 Konings 13 – ‘n Man van God se gehoorsaamheid word getoets … en God se geloofwaardigheid - April 30, 2010
- 1 Konings 14 – God is nie onverbiddelik nie - May 3, 2010
- 1 Konings 15:1-31 – Die Here help dié wat met hulle hele hart op Hom vertrou - May 4, 2010
- 1 Konings 15:33-16:20 – Onbetroubare eiesinnige leiers - May 5, 2010
- WEEK 3: 1 Konings 16:21 – 18:46 – Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking - May 6, 2010
- 1 Konings 19 – God ly nooit aan uitbranding nie! - May 7, 2010
- 1 Konings 20 – Die Here bewys Homself aan Agab, sonder effek - May 10, 2010
- 1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid - May 11, 2010
- 1 Konings 22 – 2 Konings 1 – Die Here bepaal die gang van sake - May 12, 2010
- WEEK 4: 2 Konings 2-3 – Die Here is in beheer - May 13, 2010
- 2 Konings 4-5 – God help gewone mense sowel as vernames - May 14, 2010
- 2 Konings 6-7 – God kan met alles vertrou word - May 17, 2010
- 2 Konings 8 – God bly getrou aan sy beloftes - May 18, 2010
- 2 Konings 9-10 – God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie - May 19, 2010
- WEEK 5: 2 Konings 11-12 – Platteland en stad verenig weer voor die Here in Juda - May 20, 2010
- 2 Konings 13 – Die Here se genade seëvier telkens oor sy oordeel - May 21, 2010
- 2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk - May 24, 2010
- 2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here - May 25, 2010
- 2 Konings 16-17 – Hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword - May 26, 2010
- WEEK 6: 2 Konings 18-20 – God luister waar sy eer in gedrang kom - May 27, 2010
- 2 Konings 21 – Genadetyd raak kort vir Jerusalem - May 28, 2010
- 2 Konings 22 – Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here - May 31, 2010
- 2 Konings 23 – Die Woord is ‘n gemeenskapsboek - June 1, 2010
- 2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie - June 2, 2010
Hannes Windell
Ek stem saam oor die Here wat geregtigheid handhaaf. Dit is waar. Die Nuwe Testament praat ook van die Here se geregtigheid. Waar die Ou Testament amper “onmiddellike” geregtigheid verkondig, is die Nuwe Testament se geregtigheid meer op die langer termyn. Vgl. Romeine 12:19
juriejurgens
Die grootste “ontdekking” wat ek in hierdie reeks gemaak het, en waar ek my vorige indruk soos gevorm deur Sondagskool en stukkies lees hier en daar, is dat ek nog altyd gedink het dat die skeuring van Gods volk in twee ryke 'n sonde was, en teen God se wil, en dat die konings van die 10 stamme in gedurige rebellie teen die “regte” koning in Jerusalem was. Wel ek was baie verkeerd.
Kan jy dalk 'n teologiese perspektief plaas op hierdie geskeurdheid, broedertwis, en selfs burgeroorlog in die volk? Al waaraan ek kan dink is God se genade en geduld met sondige konings. (Nou wonder ek skielik of my swaar Christelik-Nasionale opvoeding my dalk verlei het om die volkseenheid so as vanselfsprekend te aanvaar?)
Vince Aslett
Ek dink dat die skeuring (aldan nie n sonde nie) was agv sonde en die mense se verkeerde keuses wat dit veroorsaak het, as dit dan dus n straf was, was dit ook nie die wil van die Here dat dit moes gebeur het nie?
Die haat, broedertwis en stryd is maar soos wat dit met ons en al ons vleeslike begeertes gaan omdat ons nie in regte verhouding met God lewe nie?
Chris van Wyk
Ek dink verskeurdheid en verdeeldheid is altyd teen God se wil. Soos Hy, by gebrek aan 'n beter voornaamwoord!, EEN is, só wil Hy hê moet ons een wees. Dit sluit nie diversiteit uit nie, maar in. Diversiteit moet die eenheid dien en verryk, sonder dat dit 'n eendersheid impliseer of kondoneer. Inklusiwiteit is die Christelike ideaal, nie eksklusiwiteit nie! As 'n mens dié gedagte as 'n lens gebruik om na die geskiedenis van die mensdom in die breë te kyk, sowel as die geskiedenis van die volk Israel, dan besef jy dat 'n mens dit kan beskryf as 'n stryd tussen die verenigers en die verdelers.
* Oral waar een of ander diverse kenmerk van menswees tot 'n wesenlike kenmerk verhef word, waarmee alle mense beoordeel word, word mense verdeel – dink aan ras, taal, kultuur, nasie, ens.
* Oral waar 'n gemeenskaplike kenmerk van menswees verhef word tot 'n wesenlike kenmerk, waarmee alle mense beoordeel word, word mense verenig – dink aan liefde, waardes, respek ens.
Dit is nie anders met die geskiedenis van die volk van Israel nie. Dit was al sigbaar toe hulle nog 'n familie was in die tyd van Jakob.
* Toe Josef 'n kleed kry wat hom onderskei van die ander, en dit 'n wesenlike ding tussen hulle geraak het, het dit onmin en verdeeldheid gesaai.
* Toe hulle almal saam 'n droogte ervaar, en hulle almal saam moes span om dit die hoof te bied, het dit eenheid gebring, omdat dit hulle by 'n gedeelde afhanklikheid van God gebring het. Die sleutel daar was natuurlik Josef se insig dat dit presies is wat God bedoel het.
Die patroon sien 'n mens in die geskiedenis van die onderskeie stamme wat aanvanklik baie bewus is van hulle andersheid en uniekheid in terme van stamgebiede (Josua en Rigters tyd) en kwaliteite (die dapper Benjaminiete en die vrome Leviete, bv.) en eers regtig onder Dawid en Salomo verenig is met'n gedeelde hoofstad en godsdiens (tempel), dws rondom God en die diens aan Hom, wat 'n gedeelde waarde en lewensraamwerk verskaf het ('n mens moet die rol van die ontwikkelende Skrif in dié tyd nie onderskat as 'n verenigende aspek nie).
En dit is juis wanneer in 'n sinkretistiese godsdiens verval word, met Baäl en Astarte en what have you, wat die volk telkens uit mekaar spat, omdat die kern nie hou nie.
So, met die lang antwoord, verdeeldheid is sonde, maar God gaan uit sy pad uit om selfs in die Noorde, wat in ons oë meer sondig is as die Suide, die ware Godsdiens te bevorder. En Hy doen dit op 'n verskeidenheid maniere, met wonderwerke, gebedsverhoring en ook destruktiewe oorloë en gebeure.
Uiteindelik kan Hy nie anders as om ballingskap te stuur nie, beide vir die Noorde en vir die Suide. Dat die Suide in die vorm van Juda (en Benjamin) terugkom, is nie as gevolg van hulle beter prestasie as die Noorde nie, maar vanweë die belofte aan Abraham, Moses en regdeur tot by Dawid dat daar Iemand sal kom wat namens ons almal gehoorsaam sal wees, en in Wie ons eenheid met mekaar sal kan beleef, selfs al is ons baie verskillend.
Dit is die ding wat my ook aandryf, om dit nou persoonlik uit te spel, om ten spyte van die moeilike prosesse in ons gemeente tussen verskillende “faksies” en in die breër Sinodale prosesse tussen verenigers en verdelers die Here se ideaal van eenheid vas te gryp, en net so hard daaraan te werk, soos Hy dit doen (by wyse van spreke natuurlik en met die lig wat ek het!).
Maar die geduld van God is natuurlik die hoofding wat ek ook raaklees in Konings, soos jy tereg uitwys. Dit is waarop ons hele lewe berus, dat HY ook met ons geduld sal hê!