Sabbat
Ek het ‘n navraag gekry oor die Sabbat. Hier is ‘n paar opmerkings daaroor wat ek vroeër by Jesaja 56 geplaas het:
Die sabbat (in Hebreeus beteken die woord: rus) was aanvanklik ‘n rusdag waardeur ‘n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen. 1). Na die Uittog uit Egipte het dit ‘n ekstra betekenis gekry deurdat dit die volk moes laat terugdink aan die vryheid wat God hulle van hulle slawerny in Egipte gegee het (Deut. 5). Dit was dus die teken van die verbond (Eks. 31:16). Dit het ook ‘n kultiese betekenis gekry deurdat dit ‘n dag geword het waarop gewyde byeenkomste gehou is (Lev. 23).
Die sabbat is met nuwe inhoud gevul in die tyd van die ballingskap, waar dit eintlik ‘n nog meer prominente betekenis gekry het as van te vore, veral omdat Israeliete nie meer by die tempel kon kom nie. Die sabbat het dus ‘n gemeenskapskeppende funksie gekry, waardeur hulle as ‘n volk saamgebind is, sowel as ‘n godsdiensbevestigende funksie, deurdat die onderhouding daarvan gesorg het dat die ballinge nie van God afvallig raak nie. Vandaar die baie belangrike opdrag in onder andere Jesaja 56 hier rondom.
Die onderhouding van die sabbat het dus eintlik simbolies van die nakom van die hele wet geword. En oor die volgende paar eeue het die Fariseërs ‘n magdom wette van die korrekte nakoming van die sabbat geskep.
In die Nuwe Testament relativeer Jesus hierdie reëlbeheptheid deur te sê dat die sabbat ter wille van die mens gemaak is, nie die mens ter wille van die sabbat nie (Mark. 2:27; Joh. 5 [genesing van die man wat 38 jaar lank siek was by die bad van Betesda op ‘n sabbatdag]). Hy herstel dus die oorspronklike betekenis daarvan as ‘n dag waar op God en mense gefokus kan word.
Daarom is die sabbat ook nie voorskriftelik gemaak vir die gelowiges uit die heidene nie (Hand. 15), omdat dit van heidense gelowiges Jode sou maak, en die evangelie daardeur ingeperk en eksklusief gemaak sou word. Paulus het daarom gelowiges aangeraai om nie te luister na mense wat die sabbat voorskriftelik wil maak nie (Kol. 2:16-17), ‘n opdrag wat ons gerus vandag ook kan handhaaf wanneer mense hieroor verkeerde interpretasies versprei:
“16Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie a, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. 17Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.” (NAV) a Vgl. Rom. 14:1–14:12.
Ons vier daarom nie meer die sabbatdag as die dag van die Here nie, maar wel die Sondag as ‘n rus- en aanbiddingsdag, onder andere op voetspoor van die eerste gelowiges wat op die eerste dag van die week, Sondag, begin bymekaar kom het om die opstanding van Jesus Christus op Sondag (Mark. 16:2; Matt. 28:1; Luk. 24:1; Joh. 20:1) te vier.
Terloops, Johannes het die eerste dag van die week die eerste keer “die dag van die Here”(Openb. 1:10) genoem, wat deur latere vroeg-kerklike geskrifte verklaar is as die eerste dag van die week (bv. die Didage), en wat later Sondag genoem is op voetspoor van die Romeinse gebruik.
Die Christene het dus begin om die nagmaal op Sondae te vier (Hand. 20:7) en die dankoffer in te samel (1 Kor. 16:2). Dit het die voorkeur dag vir hulle byeenkomste geword, ‘n gebruik wat tot vandag toe die hoofstroom keuse is.
Ten slotte. Romeine 14 het baie goeie raad oor die vier van dae (en ander sake waaroor gelowiges verskillende opvattinge het):
5Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ’n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. 6Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.
7Niemand van ons leef tog
vir homself nie,
en niemand sterf vir homself nie.
8As ons lewe, leef ons tot eer
van die Here;
en as ons sterwe, sterf ons tot eer
van die Here.
Of ons dan lewe en of ons sterwe,
ons behoort aan die Here.
9Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes.
10Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, 11want daar staan geskrywe:
“So seker as Ek lewe, sê die Here,
voor My sal elke knie buig,
en elke tong sal bely dat Ek God is.” a12Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee (NAV)
a Vgl. Jes. 45:23
Alwyn
Chris In die teks noem jy Dit was ‘n teken van die verbond met verwysing Eks 20:22. Is die kruisverwysing korrek?
Chris van Wyk
Nee, die verwysing is nie korrek nie. Dit moet eintlik Eks. 31:16 wees. Dankie vir die uitwys! Hier is die teks in konteks:
12 Die Here het vir Moses gesê:
13 “Jy moet vir die Israeliete sê: Onderhou my sabbatte. Dit is van geslag tot geslag ’n teken tussen My en julle sodat julle kan besef dat Ek, die Here, julle vir My geheilig het. 14 Onderhou dus die sabbat. Dit moet vir julle ’n gewyde dag wees. Hy wat dit ontwy, moet doodgemaak word. Wie op dié dag werk, moet van sy volk afgesny word. 15 Ses dae kan daar gewerk word, maar die sewende dag is ’n rusdag, ’n sabbat wat gewy is aan My, die Here. Elkeen wat op die sabbatdag werk, moet doodgemaak word. 16 Die Israeliete moet die sabbat onderhou. Ook op hulle nageslag lê die verbond ’n blywende verpligting om die sabbat te onderhou. 17 Dit sal vir altyd ’n teken wees tussen My en die Israeliete. In ses dae het Ek, die Here, die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Ek nie gewerk nie, maar gerus.”
18 Nadat die Here op Sinaiberg met Moses gepraat het, het Hy die twee plat klippe met die getuienis daarop aan Moses gegee. Dit is die plat klippe waarop God met sy vinger geskryf het.