Skip to main content

Rigters 9 – Die Here straf Abimelek vir al die onreg wat hy pleeg

Abimelek rakel wraakgedagtes op in Sigem téén Gideon se nageslag tot sy eie voordeel

Gideon se verbreking van die verbod op huwelike met die Kanaäniete wreek hom op Israel met die onverkwiklike verhaal van Abimelek, die seun uit Gideon se ongeoorloofde verbintenis met ‘n Kanaäniet van Sigem. Dit wil ook voorkom asof sy in Sigem gebly het (Rigt 8:31) en dat Abimelek dus grootgeword het met min interaksie met sy pa wie se tuisdorp Ofra was.

Sigem was sowat 60 km noord van die huidige Jerusalem, tussen die Ebalberg en die Gerisimberg geleë. Dit was die plek waar Josua al die stamme van Israel bymekaar gekry het in ’n verbondshernuwing seremonie (Jos 24:1-28). Sigem was ook een van die asielstede van Israel (Jos 21:21). Maar daar was duidelik nog Kanaäniete ook, soos die verhaal in Rigters 9 aandui.

Die eintlike konteks wat ‘n mens egter met Sigem in ag moet neem, vind ons in die verhaal van Dina, dogter van Jakob, wat haarself ‘n paar eeue gelede blootgestel het aan die gevaar van die Kanaänitiese omgewing. Sy is juis in hierdie omgewing deur Gamor se seun, Sigem – na wie die plek waarskynlik vernoem is – gekaap en as vrou aangehou. Die verwysing in hierdie hoofstuk na Gamor dui daarop dat hy steeds as stamvader vereer is (Rigt 9:28)

Dat Sigem uiteindelik lief geraak het vir Dina was geen verskoning vir sy afskuwelike vergryp nie. Ongeoorloofde seks buite die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou was doodgewoon taboe, soos Levitikus 18-20 en Deuteronomium 22 later onomwonde sou uitspel. Maar dat Simeon en Levi die ander seuns van Jakob in ‘n fyn beplande moord op die mense van Sigem gelei het, was net so verkeerd.

Die manne is eers met voorbedagte rade besny, kwansuis om hulle aanvaarbaar te maak vir die Joodse volk, en toe met die swaard gedood toe hulle op die derde dag in pyn verkeer. Grusaam. Genadeloos. Verwerplik. Lees meer daaroor in my bydrae oor Genesis 34. Vergelyk ook Jakob se verwytende seën aan dié twee aan die einde van sy lewe (Gen 49). Almal het geweet dat dit ‘n verkeerde ding was wat die voorsate van die Joodse volk begaan het.

Jakob het daardie tyd van Sigem-hulle se wraak af kon wegvlug, maar sommige se wraakgedagtes het natuurlik deur die jare gebly. Nou het die kans gekom vir sommige van Sigem se nageslag om met die geboorte van Abimelek vir Gideon, by een van hulle eie mense, ‘n Kanaäniet, wraak te neem, al het hulle oënskynlik in relatiewe vrede saamgeleef in hierdie tyd.

Dit lei ons af uit die gemaklikheid waarmee die mense van Sigem meegevoer word om Abimelek se bose planne – om sy ander 70 broers uit te wis – te aanvaar en hom op grond daarvan koning te maak.

Abimelek draai dus teen die Joodse deel van sy familie, met wie hy in Sigem in elk geval min kontak sou gehad het, en laat al sy halfbroers een vir een doodmaak, in ‘n spieëlbeeld van die afgryslike moord op sy voorsate, behalwe vir sy een halfbroer Jotam wat weggekruip het vir die massamoord.

Let op hoe die tempel van Baäl-Berit wat ná Gideon se dood oprig is in Sigem tot die ondergang dien van Gideon se eie seuns. Geld uit dié tempel word gebruik om leeglêers te huur om Abimelek se halfbroers by hulle eie ouerhuis in Ofra om die lewe te bring.

Abimelek slaag in sy doel en word as koning gesalf in Sigem.

Jotam probeer die onreg regstel met die boodskap van ‘n fabel

Jotam was egter nie links nie, en spreek al die leiers van Sigem van die Gerisimberg af aan met ‘n beroemde fabel. Dat dit nie ‘n doodgewone fabel is nie, maar profeties van aard, blyk uit die presiese vervulling daarvan.

Die motivering is egter nie wraak in die eerste plek nie, maar ‘n oproep tot bekering. Jotam wil hulle oortuig om na hom te luister, want dan sal God weer na hulle luister – dws as hulle die onreg wat begaan is, sal omkeer. Dit was egter tevergeefs. Soos Jesus se gelykenisse in die NT ook nie die gewenste uitwerking gehad het by die Fariseërs nie.

Die fabel van Jotam vertel die verhaal van die bome wat een na die ander nee sê om koning oor die bome te wees. Die olyfboom, die vyeboom en die wingerdstok sê almal nee. Hulle wil eerder dít waarvoor hulle geskape is, lewer: olywe, vye en druiwe. Die doringbos sê egter ja vir die koningskap, en dreig hulle almal om onder sy heerskappy te kom lewe, anders sal dit selfs die seders van die Libanon verteer.

Jotam spel vir hulle die gevolge van hulle wandade uit. Gideon se heldedade het immers ook vir Sigem bevryding van die Midianiete ingehou. Hulle liederlike opstand en wederregtelike verheerliking van Abimelek is stank vir dank, en sal hom wreek op hulle sowel as op Abimelek.

Ander fabels en verwysings na fabels in die Bybel

Daar is nog een ander fabel in die Bybel, dié wat Joas van Israel gebruik in sy kommunikasie aan Amasia van Juda om hom te waarsku teen ‘n dwase broederoorlog.

Dit is duidelik uit die ooreenkomste in die fabels dat Joas die fabel van Jotam inspan om met sy eie weergawe daarvan ‘n boodskap aan Amasia te bring om ‘n dwase oorlog te voorkom. Jotam keer die fabel egter om en vertel die fabel uit die hoek van die seder van Libanon – dit is Joas – wat die doringbos van die vlakte – dit is Amasia – sal plattrap. En dit is dan presies wat ook gebeur as Amasia die waarskuwing nie ter harte neem nie (2 Kon 14:8-10 en 2 Kron 25:17-24).

Die enigste ander verwysings in die Bybel na fabels is om valse leerstellings as fabels te beskryf en duidelik te kommunikeer dat die verhaal van die evangelie nie fabelagtig of legendaries is nie.

Dit sien ons by Paulus wat valse leerstellings as fabels afskiet op ‘n paar plekke, omdat hy weet dat dit mense kan verlei tot onheiligheid in hulle toewyding aan God en hulle liefde vir die waarheid kan inkort (1 Tim 1:3-4; 4:7; 2 Tim 4:4; Tit 1:14).

Petrus is weer baie duidelik daaroor dat die verhaal van die Here Jesus Christus nie fabelagtig en legendaries is nie, maar ‘n werklike gebeurtenis, begrond op sy eie ervarings daarvan (2 Pet 1:16).

Abimelek se regering was van korte duur

Kierang braai egter uit. Abimelek kon nie lank op sy eie mense se steun staatmaak nie, want die Here self het vyandskap tussen hom en die mense van Sigem gebring. Die oorspronklike teks sê dat God ‘n “bose gees” tussen hulle vaardig gemaak het. Die mense het vir hom hinderlae begin stel en mense beroof en waarskynlik die skuld daarvoor op Abimelek gepak.

Sigem se mense het toe hulle vertroue op ‘n nuwe “flavour of the month”, Gaäl en sy broers, geplaas, en na ‘n oormaat wyn – nooit ‘n goeie strategie nie! – begin om Abimelek openlik te verkleineer. Die konflik eskaleer baie vinnig sodat Sebul die stadsgoewerneur van Sigem Abimelek opkommandeer om die opstand in die stad self te kom uitsorteer.

Gaäl is, soos almal eintlik verwag het, ‘n groot-mond lafaard en slaan op die vlug toe Abimelek met ‘n goed beplande veldtog teen die opstandelinge optrek. Baie mense het gesneuwel in die proses, ook ‘n hele aantal ander mense van die stad.

Abimelek was dus soos ‘n vuur wat die stad verteer. Hy het selfs die burgers in die grafkelder van die tempel van El-Berit laat verbrand. Let op dat Baäl en El hier as uitruilbare name gebruik word. El was in die Kanaänitiese veelgodedom die vader van Baäl.

Maar dit was nog lank nie al nie. Toe hy dieselfde met Tebes probeer doen, het ‘n onbekende vrou eenvoudig sy kopbeen met ‘n maalklip verbrysel toe hy by die deur van die toring kom om dit aan die brand te steek. ‘n Vuur tref dus ook vir Abimelek, soos die fabel voorspel het. En met dié vernederende dood, was dit binne drie jaar klaar met Abimelek en sy gesteelde koningskap.

In dit alles kom ‘n mens agter was die Here besig om in en deur alles wat almal gedoen het, sy wil uit te werk: “So het God die onreg gestraf wat Abimelek sy pa aangedoen het toe Abimelek sy sewentig broers vermoor het. God het ook al die verkeerde dade van die mense van Sigem op hulle koppe laat afkom: die vloek wat Jotam seun van Jerubbaäl oor hulle uitgespreek het, het hulle getref.

View all posts in this series

Rigters


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar