Skip to main content

Rigters 19 – Die gruwelike verkragting

Die verhaal van die Leviet en sy byvrou is op soveel vlakke ‘n gruwelike verhaal. Daar is niemand wat reg optree in dié verhaal nie.

  • Die byvrou was ontrou.
  • Al die mans van Gibea wou die Leviet sodomiseer.
  • Die ou man bied sy dogter vir hulle aan.
  • Die Leviet laat sy byvrou in die steek.
  • Die manne van Gibea verkrag uiteindelik die vrou tot sy dood is.

Net die ou man se gasvryheid het enige meriete, maar gegewe die uitkoms van die verhaal is dit ‘n skrale troos.

Die skrywer verklaar dit met sy stelling dat: “Toe die volgende gebeurtenis plaasgevind het, was daar nog nie ’n koning in Israel nie.” Hy sal die drie hoofstukke afsluit met dieselfde opmerking waaraan hy byvoeg: ““elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë” (Rigt 21:25).

Die Leviet gaan mooipraat met sy skoonpa en byvrou

Die verhaal begin by ’n Leviet. Dit is ‘n ander persoon as dié een wat deur Miga en die stam van Dan ingespan is. Hierdie Leviet is ‘n vreemdeling – dws hy het nie ‘n heenkome of werk nie – en woon in die uithoeke van die Efraimsberge.

Hy het vir hom ’n byvrou gevat uit Betlehem in Juda, die stad van die latere Dawid. Die byvrou het egter ontrou geword aan hom en teruggekeer na haar pa se huis in Betlehem in Juda.

Ná meer as ‘n jaar het die Leviet besluit met haar te gaan mooipraat om haar te laat terugkom na hom toe. Hoekom weet ons nie. Hy was miskien alleen, of lief vir haar, hoewel hy haar later gruwelik in die steek laat.

Die pa was bly om hom te sien en wil eintlik hê dat die Leviet daar by hom sal bly. Daarom verhinder hy hom vyf dae lank om die terugreis aan te pak. Miskien wou hy sy dogter beskerm deur die Leviet daar by hom te laat bly. Of hy het baie van die Leviet gehou en wou soos Miga ‘n Leviet naby hê. Wie weet. Het hy maar geslaag in sy pogings …

Die ou man ontvang die Leviet gasvry

Die Leviet kry dit egter reg om terug te keer na sy plek in die Efraimsberge en hou verby Jerusalem tot in Gibea, ‘n stad van die Benjaminiete, ’n dorp in die heuwels net noord van Jerusalem. Met sononder bevind hulle hul op die stadsplein in Gibea waar ‘n ou man, toevallig ook van die Efraimsberge, hom oor hulle ontferm en huisvesting gee.

Terloops, Saul was van die dorp afkomstig en hy het dit sy regeringsetel gemaak nadat hy die eerste koning van Israel geword het toe Samuel hom gesalf het in opdrag van die Here.

Die ou man van die Efraimsberge het ironies genoeg ook “as vreemdeling” gebly in Gibea. Die vreemdeling word dus die gasvry een. Miskien het die feit dat hulle van dieselfde gebied afkomstig is ‘n rol gespeel.

Hoewel die Leviet sê dat hulle niks kortkom nie, nooi die man hulle om by hom in sy huis te oornag. Die Leviet het ook genoem dat hulle wyn het, só dit is geen wonder dat hulle later vrolik begin raak nie. Moontlik ‘n verklaring hoekom hulle so grusaam optree toe die Gibeaniete soos Sodomiete wou word. Alkohol verdoof ‘n mens se sin vir verantwoordelikheid baie vinnig.

Die manne van die stad tree goddeloos op

Die manne van die stad het hulle egter omsingel, op die deur geslaan, en wou die Leviet sodomiseer. Hulle word in die teks “seuns van ḇeliyyǎʹǎl” genoem, dws “seuns van belial”. Die woord “belial” word soms gebruik in die letterlike betekenis van ‘n “dodelike siekte” (Ps 41:9), en in die figuurlike betekenis van ‘n “skurk” (Nabal, die man van Abigajil, in 2 Sam 25:17) of “niksnutte” (1 Sam 30:22).

Hier kan dit ook met “goddeloos” vertaal word. In die NT word die woord net een keer gebruik in die personifikasie van die duiwel as Belial, die antitese van die Here Jesus Christus (2 Kor 6:15).

Dit lyk asof dit al die mans was wat hier hand uit ruk, soos dit vroeër ook van Sodom en Gomorra gesê is, want die betrokkenheid van al die leiers van Gibea word in Rigters 20:5 geïmpliseer. Vergelyk die soortgelyke geval in Genesis: “die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam.” (Gen 19:4).

Die ou man probeer die boosheid keer

Die ou man het probeer keer met ‘n: “Nee, broers …” en op hulle gedeelde afkoms as Joodse volk probeer aanspraak maak, maar verniet. Hy probeer hulle ernstig keer deur twee verdere oproepe op hulle te maak. Dit sou immers op twee maniere God se wet oortree.

  1. Dit sou eerstens “boos” wees om die ou man se gasvryheid in ‘n gemene spel te verander en die man seksueel kwaad aan te doen. Sy huis sou daarmee ‘n “bose nes” word.
  2. Dit sou tweedens ook ‘n “lae ding” wees om die Leviet seksueel te sodomiseer. Dieselfde woord neḇālāh (wat met “gemene optrede” of “growwe sonde” of “ontheiliging” vertaal kan word) word ook vir die voorhuwelikse seks wat Sigem met Dina gehad het in Genesis 34:7 gebruik. Seks was bedoel vir die huwelik en enige seksuele gedrag buite die huwelik was ‘n gruwel in die oë van die Here.

Die ou man se oplossing is egter net so ‘n “lae ding” as ‘n mens die term op hom en die Leviet van toepassing kan maak. Hy bied sy dogter, nog ‘n maagd, en die Leviet se byvrou aan: “Ek sal hulle uitbring, verkrag hulle. Doen met hulle wat julle wil, maar moenie hierdie lae ding aan die man doen nie.

Die Leviet gooi sy vrou vir die wolwe

Tot die dogter se wins wou die mans nie na haar pa luister nie, maar die Leviet gryp in en stoot sy byvrou buitentoe na hulle toe: “Hulle het met haar geslagsgemeenskap gehad en haar die hele nag deur tot die môre toe verrinneweer. Toe die rooidag breek, het hulle haar gelos.

Sy vrou sterf met haar hande op die drumpel

Die deel wat ‘n mens egter tot stilstand ruk is dat die Leviet die môre met sonop sy vrou, sy byvrou, in die deur kry: “met haar hande op die drumpel”. Dit is moeilik om die emosies te beskryf wat dit by ‘n mens oproep: massiewe afsku, matelose hartseer, magtelose woede.

Die afgryslike daad ontketen ‘n woede reg deur die hele volk

Die Leviet hanteer haar dood aanvanklik amper gevoelloos, maar by die huis ontketen hierdie afgryslike daad ‘n ontembare woede waarin hy haar lyk in twaalf stukke opsny en deur die hele gebied van Israel stuur: “Elkeen wat dit gesien het, het gesê: ‘So iets het nog nooit gebeur vandat die Israeliete uit Egipte weggetrek het nie. Van toe af tot nou toe is so iets nog nie gesien nie. Ons moet dit ter harte neem. Ons moet ’n plan maak. Ons moet praat!’

Boodskap

1. Ander gode lei tot ander sedes – || – Ander sedes lei tot ander gode

Ek het reeds in die inleiding melding gemaak van die interaksie wat daar tussen “ander gode” en “ander sedes” bestaan.

  • Waar God nie gedien word soos Hy dit voorskryf nie, lei dit eintlik onafwendbaar tot onsedelikheid. Dan kan jy nie God se wil vir seksualiteit en die huwelik gehoorsaam nie.
  • Waar God se wil vir die huwelik en seksualiteit nie gehoorsaam word nie, lei dit tot ‘n godsdiens waarin God náás ander gode, gode na jou eie smaak, gedien word.

Alles wat in die lewe gebeur, is onherroeplik en onlosmaaklik verbind aan ons verhouding met God. Alles wat in ons verhouding met God gebeur, is onherroeplik en onlosmaaklik verbind aan ons verhouding met ons naaste. Of te wel, dié mense vir wie ons ‘n naaste word, soos die Here dit bedoel het, bv in die huwelik.

2. Eenders-anders geskape as metgeselle vir mekaar

Ek is passievol hieroor, want ek sien hierdie basiese waarheid regdeur die Skrif. Dit word begrond in Genesis 1-2 met Adam wat Eva as sy “eenders-anderse een” herken.

God maak die vrou in Genesis 2 as ‘n “helper” (ʿě·zěr), ‘n woord wat in die res van die OT baie keer met God self geassossieer word (Ps. 10:14; 42:6,12;  43:5; 72:12; vgl. ook Hebr. 13:6). Daarmee word sy ‘n “indispensible companion” (NET Bible), iemand wat kan doen wat die mens nie self op sy eie kan doen nie, iemand wat die mens komplementeer, sonder wie die mens as skepsel van God nie vrugbaar (in terme van voortplanting) kan wees  nie.

Dit sien ‘n mens ook in die feit dat die vrou as die mens se “gelyke” gemaak word, maar nie as ‘n presiese replika nie, eerder as ‘n “counterpart” (in Hebreeus ně·ḡěḏ) – in Afrikaans “eweknie” – soos die woord miskien beter vertaal kan word, die mens se komplementerende teenoorgestelde.

Die verval daarvan word in Genesis 3-4 gesien met die “battle of the sexes” wat met die sondeval gebeur. Adam en Eva verval in ‘n begeerte tot dominasie oor die “ander”: “Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” Die vrou is natuurlik nie ondergeskik gemaak aan die man soos soms uit Genesis 3 afgelei nie. Maar, wat duidelik is, is dat sy wil heers (hunker) en hy wil heers (domineer)!

Haar begeerte is om hom te beheer, soms seksueel geïnterpreteer. Sy begeerte is om haar te domineer. In Christus word dit opgelos in “onderdanigheid aan mekaar” wat in die liefde begrond word (Ef. 5).

Die verval word ook gesien in die “battle of the siblings” waar Kain vir Abel doodslaan, die toppunt van oorheersing. Dieselfde werkwoord vir begeerte en beheer word in Genesis 4:7 gebruik waar dit aan die een kant die sonde is wat vir Kain: “in sy mag wil kry,” en aan die ander kant hy die opdrag kry om die sonde te beheer.

Kain word ook uiteindelik die vader van poligamie, die uiterste dominasie van vroue, met sy nasaat Lameg wat twee vroue vir homself neem, Ada en Silla. Daarmee verkondig hy ook sy dominasie van enigiemand wat dit sou durf waag om hom teen te staan. Lees weer sy vreesaanjaende gedig in Gen 4:23-24:

“Ada en Silla, luister na my stem.
Vroue van Lamek, luister na my woord.
Verseker het ek ‘n man doodgemaak, wat my wond,
‘n Jongman, wat my seergemaak het.
As Kain sewe maal gewreek moet word,
Lameg sewe maal sewentig.”

En dit is waarom die wet so skerp is in sy oordeel oor allerhande pogings om hierdie “eenders-anderse” karakter van menswees te verander. Óf in ‘n poging om die “ander” te domineer soos in poligamie. Óf in ‘n poging om die “ander” te vermy soos in bloedskande en selfdegeslagverhoudings waar binne dieselfde familie of binne dieselfde gender verhoudings aangegaan word.

Die oplossing vir menswees lê egter nie in eendersheid nie, maar in ‘n balans soos God dit aanvanklik bedoel het, om “eenders-anderse” metgeselle vir mekaar te wees.

Dit is ook waarom Hooglied só ‘n eteries pragtige tekening is van die intimiteit tussen man en vrou, want beide kies om die liefde binne daardie “eenders-anderse” verbintenis te hou, téén die massiewe verskille wat daar tussen hulle van tyd tot tyd oorborrel (ja, dit is in Hooglied!), én teen die uitdaging van die derde persoon, waarskynlik Salomo, wat hulle liefdeseenheid bedreig. Gaan lees meer in my bydraes daaroor.

3. Die afskuwelike vergryp van verkragting bring ‘n hele nasie in beweging

Die een “saving grace” van hierdie verhaal is dat hierdie afskuwelike verhaal van die vergryp van verkragting ‘n hele nasie in beweging bring. Al sukkel hulle om die Here reg te hoor, soos ons in die volgende hoofstuk sal lees, besef hulle dat hierdie “dodelike daad” ‘n klad op almal se naam sal word, dat hulle identiteit as Godsvolk op die spel is. En hulle kom in beweging.

As ons maar só tot aksie en beweging kon kom om die huwelik weer in ere te herstel téén alle onsedelikheid en afvallige verhoudings in, en nie die maklike uitweg sou kies om elkeen te laat doen wat reg is in sy of haar eie oë nie …

View all posts in this series

Rigters


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar