Skip to main content

Rigters 3:7-31 – Otniël, Ehud en Samgar red en rig die volk

Otniël die held waarop die Gees gerus het

Ons het reeds van Otniël se heldedade kennis geneem waar hy met Aksa, die dogter van Kaleb trou, deur ‘n gebied vir Juda in te neem (Jos 15; Rigt 1). Otniël was waarskynlik ‘n jonger broer óf ‘n nefie van Kaleb. Hier word hy in die rol van ‘n rigter of redder aan ons bekend gestel. Meer nog, sy verhaal is ‘n patroon vir die verhale in die res van die boek. Dit lui die begin van die voortdurende siklus in van verval, straf, roep na God, en verlossing wat God bring deur ‘n rigter.

  1. VERVAL: Omdat die Israeliete doen wat reg is in hulle eie oë, doen hulle wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle hardkoppigheid maak dat hulle die Here hulle God vergeet en die Baäls (afgode verbind aan die god van die storm en die reën) en die Asjeras (“gewyde pale” verbind aan vrugbaarheid, vergelykbaar met maar nie identies aan die godin Astarte nie) gedien het.
  2. STRAF: Dit het die toorn van die Here laat ontvlam sodat Hy kwaad geword het vir die Israeliete. As straf het Hy hulle oorgegee in die mag van koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië. Die tweede deel van sy naam is waarskynlik ‘n bynaam, want Risatajim beteken in Hebreeus “dubbeld-goddeloos”. Die verdrukking het agt jaar geduur.
  3. ROEP NA GOD: Toe het die Israeliete tot die Here geroep en om uitkoms gevra.
  4. VERLOSSING: God het geantwoord en vir hulle ’n redder na vore laat kom, Otniël, wat hulle gered het en veertig jaar “gerig” het. Belangrik, die Gees van die Here was op hom wat nie net in sy roeping bevestig het nie, maar hom regdeur begelei het.

Interessant, Otniël word ‘n môšîaʹ genoem, ‘n “redder”, soos ook Ehud hierna. Sy werk word egter as dié van ‘n “rigter” beskryf in vers 10 waar die normale stam šôp̄ēṭ gebruik word. In Rigters 2:6 word die betekenisse weer omgeruil. Daar word die werkwoord wǎyyôšîʿûmʹ gebruik wat van dieselfde stam as die woord môšîaʹ kom. Redders en Rigters was dus een en dieselfde beskrywing van die mense wat die Here geroep het om sy werk te doen.

Ehud die hotklou boodskapper van God

Die volgende uitdaging kom van buite die land oos van die Jordaan af, waar koning Eglon van die Moabiete (een deel van Lot se nageslag) met die Ammoniete (ander deel van Lot se nageslag) en Amalekiete (deel van Esau se nageslag) saamspan teen Israel.

Ons kan dieselfde patroon as in Otniël se geval sien met die Israeliete wat weer verval het in dinge wat verkeerd was in die oë van die Here en Hy wat die drie nasies as straf teen hulle laat opruk en vir 18 jaar hulle onderdane maak.

Die Palmstad wat Eglon in besit neem, kan met Jerigo verbind word, ‘n stad wat met palms geassosieer is (Deut 34:2). Eglon het dus moontlik die stad in hergebruik geneem, indien die konneksie gehandhaaf word. Die vloek van Josua was waarskynlik egter téén Israel gemik, soos dit later in vervulling gaan (Jos 6:26; vgl 1 Kon 16:34).

Hulle het egter tot die Here geroep om hulp, en Hy het ’n redder-rigter – Ehud word ook ‘n môšîaʹ genoem – vir hulle na vore laat kom om hulle te verlos. Dat hy ’n Benjaminiet was van Gerar is betekenisvol, gegewe die afgryslike verhale wat nog vir ons wag in Rigters 19-21.

Dit is ook ironies dat die woord Benjamin as “seun van my regterhand” uitgelê kan word, en Ehud as linkshandige – ‘n hotklou soos ons in Afrikaans sê – vir koning Eglon vermoor. Trouens, dit was die geheim van sy sukses, want die wagte het die swaard van ‘n halwe meter lank aan sy regterkant gemis en Ehud kon die koning daarmee verras. Die Benjaminiete was na oorlewering dubbelhandig … (1 Kron 12:2).

Op sy pad terug van hulle belasting-betalery het hy sy manne gelos by Die Beelde (moontlik die twaalf klippe uit die Jordaan wat Josua daar as herinnering opgerig het – Jos 4:20) naby Gilgal, die plek vanwaar hulle die land aanvanklik ingeval het, en teruggekeer oor die Jordaan onder die voorwendsel dat hy ‘n geheime boodskap het vir die koning.

Die koning het daarvoor geval en die prys betaal vir sy nuuskierigheid. Let op hoe Ehud sy roeping verbind aan sy optrede: “Ek het ’n boodskap van God vir u.” Ehud kry dit reg om te ontsnap en laat blaas die ramshoring (sjofar) op die Efraimsberge om die Israeliete op te kommandeer om Moab te onderwerp. Dit het 80 jaar se vrede in die land gebring.

Samgar die man met die stok

Die laaste rigter wat in die hoofstuk genoem word, is Samgar. Hy het ses honderd Filistyne doodgeslaan met ’n stok en so vir Israel gered. Dit was ook nie sommer net só ‘n stok nie. Dit was waarskynlik ‘n stok van meer as drie meter lank waarmee osse hanteer is. Dit het ‘n ysterpunt gehad wat as jy dit skerp gemaak het, soos ‘n spies hanteer kon word.

Samgar het waarskynlik in Ehud se tyd opgetree, want in die volgende hoofstuk word nie na hom terugverwys nie, maar net na Ehud. Samgar word ook in Rigters 5:6 in Debora se lied genoem.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Rigters


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…