Skip to main content

Rigters 3:7-31 – Otniël, Ehud en Samgar red en rig die volk

Otniël die held waarop die Gees gerus het

Ons het reeds van Otniël se heldedade kennis geneem waar hy met Aksa, die dogter van Kaleb trou, deur ‘n gebied vir Juda in te neem (Jos 15; Rigt 1). Otniël was waarskynlik ‘n jonger broer óf ‘n nefie van Kaleb. Hier word hy in die rol van ‘n rigter of redder aan ons bekend gestel. Meer nog, sy verhaal is ‘n patroon vir die verhale in die res van die boek. Dit lui die begin van die voortdurende siklus in van verval, straf, roep na God, en verlossing wat God bring deur ‘n rigter.

  1. VERVAL: Omdat die Israeliete doen wat reg is in hulle eie oë, doen hulle wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle hardkoppigheid maak dat hulle die Here hulle God vergeet en die Baäls (afgode verbind aan die god van die storm en die reën) en die Asjeras (“gewyde pale” verbind aan vrugbaarheid, vergelykbaar met maar nie identies aan die godin Astarte nie) gedien het.
  2. STRAF: Dit het die toorn van die Here laat ontvlam sodat Hy kwaad geword het vir die Israeliete. As straf het Hy hulle oorgegee in die mag van koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië. Die tweede deel van sy naam is waarskynlik ‘n bynaam, want Risatajim beteken in Hebreeus “dubbeld-goddeloos”. Die verdrukking het agt jaar geduur.
  3. ROEP NA GOD: Toe het die Israeliete tot die Here geroep en om uitkoms gevra.
  4. VERLOSSING: God het geantwoord en vir hulle ’n redder na vore laat kom, Otniël, wat hulle gered het en veertig jaar “gerig” het. Belangrik, die Gees van die Here was op hom wat nie net in sy roeping bevestig het nie, maar hom regdeur begelei het.

Interessant, Otniël word ‘n môšîaʹ genoem, ‘n “redder”, soos ook Ehud hierna. Sy werk word egter as dié van ‘n “rigter” beskryf in vers 10 waar die normale stam šôp̄ēṭ gebruik word. In Rigters 2:6 word die betekenisse weer omgeruil. Daar word die werkwoord wǎyyôšîʿûmʹ gebruik wat van dieselfde stam as die woord môšîaʹ kom. Redders en Rigters was dus een en dieselfde beskrywing van die mense wat die Here geroep het om sy werk te doen.

Ehud die hotklou boodskapper van God

Die volgende uitdaging kom van buite die land oos van die Jordaan af, waar koning Eglon van die Moabiete (een deel van Lot se nageslag) met die Ammoniete (ander deel van Lot se nageslag) en Amalekiete (deel van Esau se nageslag) saamspan teen Israel.

Ons kan dieselfde patroon as in Otniël se geval sien met die Israeliete wat weer verval het in dinge wat verkeerd was in die oë van die Here en Hy wat die drie nasies as straf teen hulle laat opruk en vir 18 jaar hulle onderdane maak.

Die Palmstad wat Eglon in besit neem, kan met Jerigo verbind word, ‘n stad wat met palms geassosieer is (Deut 34:2). Eglon het dus moontlik die stad in hergebruik geneem, indien die konneksie gehandhaaf word. Die vloek van Josua was waarskynlik egter téén Israel gemik, soos dit later in vervulling gaan (Jos 6:26; vgl 1 Kon 16:34).

Hulle het egter tot die Here geroep om hulp, en Hy het ’n redder-rigter – Ehud word ook ‘n môšîaʹ genoem – vir hulle na vore laat kom om hulle te verlos. Dat hy ’n Benjaminiet was van Gerar is betekenisvol, gegewe die afgryslike verhale wat nog vir ons wag in Rigters 19-21.

Dit is ook ironies dat die woord Benjamin as “seun van my regterhand” uitgelê kan word, en Ehud as linkshandige – ‘n hotklou soos ons in Afrikaans sê – vir koning Eglon vermoor. Trouens, dit was die geheim van sy sukses, want die wagte het die swaard van ‘n halwe meter lank aan sy regterkant gemis en Ehud kon die koning daarmee verras. Die Benjaminiete was na oorlewering dubbelhandig … (1 Kron 12:2).

Op sy pad terug van hulle belasting-betalery het hy sy manne gelos by Die Beelde (moontlik die twaalf klippe uit die Jordaan wat Josua daar as herinnering opgerig het – Jos 4:20) naby Gilgal, die plek vanwaar hulle die land aanvanklik ingeval het, en teruggekeer oor die Jordaan onder die voorwendsel dat hy ‘n geheime boodskap het vir die koning.

Die koning het daarvoor geval en die prys betaal vir sy nuuskierigheid. Let op hoe Ehud sy roeping verbind aan sy optrede: “Ek het ’n boodskap van God vir u.” Ehud kry dit reg om te ontsnap en laat blaas die ramshoring (sjofar) op die Efraimsberge om die Israeliete op te kommandeer om Moab te onderwerp. Dit het 80 jaar se vrede in die land gebring.

Samgar die man met die stok

Die laaste rigter wat in die hoofstuk genoem word, is Samgar. Hy het ses honderd Filistyne doodgeslaan met ’n stok en so vir Israel gered. Dit was ook nie sommer net só ‘n stok nie. Dit was waarskynlik ‘n stok van meer as drie meter lank waarmee osse hanteer is. Dit het ‘n ysterpunt gehad wat as jy dit skerp gemaak het, soos ‘n spies hanteer kon word.

Samgar het waarskynlik in Ehud se tyd opgetree, want in die volgende hoofstuk word nie na hom terugverwys nie, maar net na Ehud. Samgar word ook in Rigters 5:6 in Debora se lied genoem.

View all posts in this series

Rigters


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar