Skip to main content

Rigters 1:1-2:5 – Die geduld en genade van die Here met die verval en verydeling van hierdie tyd

Die Here se geduld en genade skyn soos ‘n helder lig in die onderskeie verhale van die boek Rigters deur. Ten spyte van die verval en verydeling en dreigende anargie waarvan ‘n mens die hele tyd ook bewus bly, skryf die Here nie die volk in hulle gebrekkige gehoorsaamheid af nie.

Dit beteken aan die een kant dat die verhale tot ons troos dien, omdat ongeloof en ongehoorsaamheid nooit die laaste sê kan hê oor dié mense wat die Here uitgekies het om hulle God te wees nie.

Dit beteken aan die ander kant dat die verhale ons ook tot stilstand wil ruk, omdat ongeloof en ongehoorsaamheid gevolge het wat nie net persoonlike afvalligheid insluit nie, maar ook die dreigende anargie in ‘n samelewing. Waar God se mense nie vir Hom bo alles dien nie, raak dit alles rondom hulle.

Die hoop in die boek lê in God se Gees wat telkens vaardig raak oor ‘n rigter wat in die krag van die Here optree om die volk te verlos. Ons lees dit eksplisiet van Otniël (Rigt 3:10), Gideon (Rigt 6:34 – agv die Gees se werk kan hy direk met God praat en van hom leiding vra met die vlieswol), Jefta (Rigt 11:29), en talle kere van Simson (Rigt 13:25; 14:6,19; 15:14).

So ook in die Engel van die Here ten spyte van sy optrede teen hulle afvalligheid (2:1-5). Hy verskyn aan Gideon en bemoedig en stuur hom (Rigt 6:11). Hy verskyn aan Manoag se vrou om haar van haar komende swangerskap met Simson in te lig, en uiteindelik ook aan Manoag toe hy nie sy vrou se woord wou aanvaar nie (Rigt 13:3,9).

Maar, dit wys ook die gebreke van dié bedeling uit, want dit het nie die hele gemeenskap van gelowiges verander nie. Dit het nie eers die rigters se lewens totaal verander nie. Trouens, die hele volk ly duidelik aan ‘n gebrek van die belewing van die teenwoordigheid van die Here. Hoe anders was dit nie in die woestyn verhale en aanvanklik met Josua se verowering nie!

Terwyl die volk saam was, in die laer sowel as in die oorlog, was daar ‘n gedeelde ervaring van God se teenwoordigheid en begeleiding. Nou by hulle huise waar elkeen sy eie pot aan die kook moes hou, en hulle hulle eie verbintenis aan die Here in stand moes hou, het hulle gesukkel om getrou en gehoorsaam te bly.

Israel het daarom in hierdie tyd gedreig om in chaos te verval, om net soos die omringende volke te word in hulle afgodery en onsedelikheid, omdat die noodsaaklike fokus op die teenwoordigheid van die Here in alles wat hulle doen, nagelaat is. Soveel so dat die Here amper so ver gaan om hulle heeltemal op te gee, gesimboliseer met die skuif van Gilgal na Bokim …

Die “skoonmaak”-veldtog van Juda begin – Rigters 1:1-21

Die “skoonmaak”-veldtog in die suide begin belowend na Josua se afsterwe met die Israeliete wat die Here getrou raadpleeg oor hoe hulle verder te werk moet gaan. Die Here beveel Juda om daarmee te begin. Simeon, wie se gebied deur Juda se grondgebied omring word, snoer hulle kragte met Juda s’n saam, sowel as die Keniete.

Die Here het hulle laat slaag in hulle veldtog. Tot die gevreesde Adoni-Besek – wat erken dat dit die Here is wat hom straf vir sy gruweldade – word verslaan. Dit wil voorkom asof Juda met dié veldtog Jerusalem ingeneem en verwoes het (dit was eintlik in die gebied van Benjamin), maar dit het nie vir altyd gehou nie.

Daarom vertel die skrywer vir ons dat die Jebusiete nog ‘n geruime tyd land daar saam met die Benjaminiete gebly het. Eers in die tyd van Juda is Jerusalem finaal ingeneem en het dit in Israelitiese besit gekom.

Daar was groot welslae oor hulle hele gebied – die Bergland, die Suidland, die Laeveld sowel as in Hebron teen die reuse Sesai, Agiman en Talmai. Die kosbare verhaal van die dogter van Kaleb, Aksa, en die held Otniël (waarskynlik ‘n familielid van Kaleb, óf ‘n jonger broer, óf ‘n nefie) – wat genoeg water beding vir hulle grond – word weer vertel, soos ons dit al in Josua 15 aangetref het.

Die verhaal van Otniël sal in Rigters 3 verder geneem word, want hy tree ook as die eerste rigter op in hierdie tyd (vgl sy geslagsregister in 1 Kron 4:13).

Die boek is duidelik daaroor dat die Here by die stam Juda was, hoewel hulle ook hulle uitdagings gehad het. Die mense van die Vlakte kon nie verower word nie. Die stede Gasa, Askelon en Ekron het dus in Filistynse hande gebly, ‘n bron van groot irritasie totdat Dawid hulle beslissend verslaan het.

Die “skoonmaak”-veldtog van die Josefstam – Rigters 1:22-29

Die “skoonmaak”-veldtog in die noorde begin ook belowend met die hele Josefstam wat na Bet-El toe opruk steeds onder die bevel van die Here wat by hulle was. Hulle verkry toegang tot Bet-El deur iemand wat hulle oorreed – amper soos met Ragab vroeër by Jerigo – om vir hulle toegang te verleen tot die stad. Gevolglik verower hulle die stad, maar spaar die man en sy mense. Hy het egter nie by Israel aangesluit soos Ragab hulle nie, maar deel van die Hetiete geword.

Die Manasse gedeelte van die stam het egter swaar getrek met hulle veldtog en kon net daarin slaag om die Kanaäniete dwangarbeid te laat doen. Hulle kon nie die stede in neem nie. Dieselfde het die Efraim gedeelte van die stam gegeld met die Kanaäniete wat in Geser gewoon het.

Die energie en effektiwiteit van hulle veldtog het dus algaande afgeneem. Hulle het al hoe minder sukses behaal, waarskynlik omdat dit so uitgerek en moeisaam was. ‘n Gees van mismoedigheid oor die volhoubaarheid van hulle veldtog en ‘n gelatenheid oor wat reeds bereik is, het waarskynlik oor hulle vaardig geraak. Dit het die hele volk se volharding beïnvloed.

Die “skoonmaak”-veldtog van die ander stamme – Rigters 1:30-36

Die veldtog in die middel van die land het gevolglik ernstig in gebreke gebly. Sebulon het gefaal. Aser het gefaal. So ook Naftali.

Dan is in die berge ingedryf, soveel só dat ons hulle in Rigters 18 aantref as steeds op soek na ‘n vastrapplek in die land. Selfs Simson se heldedade as deel van die stam Dan bring nie daarin ‘n verandering nie. Dit wil voorkom asof die Josefstam hulle uiteindelik daarmee gehelp het, deur die Amoriete te verslaan wat hulle ‘n gaping later gee vir hulle eie vestiging.

Oor die ander stamme – Benjamin (miskien het hulle saam met Juda geveg, maar dit staan nie in die teks nie, en was in terme van Jerusalem duidelik oneffektief) en Issaskar – word daar nie eers geskryf nie …

‘n Klein ligpunt vir dié droewige verhaal kom uit die getuienis van Aser in die latere geskiedenis van Israel. Waar die mense van Aser hier nie hulle taak om die Kanaäniete te verdryf, uitgevoer het nie, is dit darem ook juis mense van hierdie stam wat ná die ballingskap by Juda aansluit vir die Paasfees (2 Kron 30:10-11). Daar was ‘n oorblyfsel in die stam van Aser, soos dit telkens in die geskiedenis van Israel was, ‘n klein groepie wat getrou gebly het.

En in die NT is dit Anna van die stam van Aser wat in die tempel haar verheug oor die Jesuskind. Sy verteenwoordig daarom in Lukas se navorsing oor Jesus ‘n lid van die noordelike stamme wat getrou gebly het en die voorreg kry om die vervulling van die Messiaanse droom te ervaar (Luk 2:36). ‘n Skrale troos, maar ‘n belangrike een.

Die Engel van die Here staak sy hulp weens hulle ongehoorsaamheid – Rigters 2:1-5

Die gedeelte sluit met die ontstellende onttrekking van die ondersteuning van die Engel van die Here aan die volk. Die Here, want dit is wie die Engel verteenwoordig, het besluit dat hulle ongehoorsaamheid sy loop moet neem. Die nasies en hulle gode sal vir hulle ‘n valstrik word, ‘n uitdaging wat hulle net die hoof sal kan bied waar hulle tot inkeer kom en die Here bó alles sal begin dien.

Simbolies demonstreer die Engel van die Here dit deur van Gilgal – waar die hele Intog en Vestiging begin het, en waar die besnydenis en eerste Paasfees in die land gehou is (vgl Josua 5) – na Bokim (óf by Bet-El óf by Silo) te gaan. Die hoop het in ‘n diep hartseer verander:

  • Gilgal beteken “weggerol” met die betekenis dat die smaad van Egipte van hulle af weggeneem is. Hulle het ‘n nuwe bestaan by die Here gekry, soos die besnydenis en die Paasfees bevestig het. Gilgal was die baken van hoop dat die belofte in vervulling sou gaan.
  • Bokim daarenteen beteken “huil” met die betekenis dat hierdie bestaan in die teenwoordigheid van die Here nou ‘n hartseer uiteinde gehad het weens die ongehoorsaamheid van die volk om die belofte van die Here in besit te neem. Dit is dus nie net die Here wat hartseer is oor hierdie uitkoms nie. Hulle ongehoorsaamheid het ‘n hartseer bestaan vir die volk ingelei. Bokim was die baken van wanhoop dat die belofte in gedrang gekom het.

Gelukkig is dit nie al wat hierdie Engel doen nie …

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Rigters


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar