Rigters 20 – Die gruwelike burgeroorlog
Die tweede verhaal wat ons in hierdie onverkwiklike sage lees, is dié van die hele Israel wat bymekaar kom om die oortreders te straf. Al die Israeliete van Dan (die stad in die noorde, nie die stam in die weste nie) tot by Berseba in die suide sowel as dié uit die Gileadstreek oorkant die Jordaan het in Mispa bymekaargekom, op die grens tussen Juda en Benjamin (dws ‘n ander Mispa as die plek waar Jefta opgetree het), ‘n plek wat Samuel later ook só sou gebruik (1 Sam. 7:2–12). ‘n Groot menigte.
Let op dat die aksie net teen die skuldiges gemik is. Die 11 stamme van Israel word tot ‘n mens se misnoeë egter teëgestaan deur die hele stam van Benjamin. Hulle wil die oortreders nie uitlewer nie. Die stam van Benjamin assosieer hulle met die oortreders, die: “seuns van Belial”. Hoe hulle dit oor hulle hart kon kry, gaan ‘n mens se verstand te bowe … maar as alles in jou eie oë reg is, dan maak dit seker sin.
Die voortspruitende burgeroorlog verloop egter teen die verwagting in in die Benjaminiete se guns, selfs al het Israel eers na Bet-El getrek, en daar in die teenwoordigheid van die Here bymekaar gekom en Hom geraadpleeg. Dit is dus vanaf hierdie heiligdom wat hulle optrek teen die Benjaminiete in Gibea.
Hoe moet ‘n mens dit verstaan?
1. Wel, in die eerste plek was die Benjaminiete uiters bedrewe vegters. ‘n Mens het dit al met Ehud gesien, en hier sê die skrywer dat van hulle knap soldate was. Die hotkloue: “kon keer op keer ’n haar raakgooi met ’n klip uit ’n slingervel”! Israel het die eerste twee keer ook geen afwisseling in hulle strategie gehad nie, maar doodgewoon gedink hulle sal met getalle die oorhand kan kry.
2. Maar, in die tweede plek dink ek dit lê eintlik in die feit dat ‘n mens met die eerste twee “bevele” van die Here nie sien dat die Here vir hulle oorwinning belowe nie. Hy sê net wie moet optrek. Vóór Hy nog meer detail kon gee, soos Hy soveel keer gedoen het, bv met Josua en Gideon, trek hulle op in die verwagting dat getalle genoeg is om oor Benjamin te loop.
3. Maar, daar is ook ‘n derde rede. Dit is eers wanneer hulle in die regte verhouding met Hom kom wat daar ‘n verandering kom, gefasiliteer deur Pinehas. ‘n Mens sien daarom Jesaja 59:1-2 se waarskuwing geïllustreer in dié onverwagse struikelblok in hulle weliswaar regverdige optrede. Sonde bring skeiding tussen ons en God. Versoening is nodig vir die verhouding om te herstel, selfs waar jy die regte ding doen.
Dit is daarom eers wanneer die held Pinehas – wat vroeër die toorn van die Here afgeweer het met die onsedelikheid en afgodediens in Sittim (Num 25) – op die toneel verskyn, hulle so ver kom om brandoffers en maaltydoffers te bring, waarskynlik by die tabernakel, want die ark van die Here is ook daar wat die situasie verander en die Here belowe dat hulle die oorwinning sal behaal: “Trek op! Môre gee Ek hulle in julle mag.”
Soos dit die keer met Ai die geval was, oorwin hulle met ‘n hinderlaag en slaag in hulle missie. Terloops, die feit dat Pinehas genoem word, beteken ook dat dié verhale vroeg in die Rigterstyd plaasvind.
Let op dat die uiteindelike slagting steeds by Gibea plaasvind. Benjamin word amper uitgemoor in die onnodige burgeroorlog en die stad verwoes. Almal behalwe 600 man wat na die Rimmonrots gevlug en daar geskuil het vir die volgende 4 maande. Die Israeliete het in hierdie tyd: “van stad tot stad gegaan en alles, mens en dier, om die lewe gebring. In al die stede het hulle alles wat hulle aangetref het, verbrand.” ‘n Volslae volksmoord. As dit nie vir die 600 was nie …
Geen oorwinning sonder versoening
Hierdie verhaal leer ‘n mens dus dat daar geen geestelike oorwinning in jou eie lewe kan of sal wees as jy nie jou sondes bely en versoening daarvoor kry nie. Johannes sê dit helder en duidelik:
“As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (1 Joh 1:6-10).
View all posts in this series
- Inleiding op die boek Rigters - February 22, 2018
- Rigters 1:1-2:5 – Die geduld en genade van die Here met die verval en verydeling van hierdie tyd - February 23, 2018
- Rigters 2:6-3:6 – Die volk vergeet die groot dade van die Here en verval in ongehoorsaamheid - February 26, 2018
- Rigters 3:7-31 – Otniël, Ehud en Samgar red en rig die volk - February 27, 2018
- Rigters 4 – Debora, die formidabele moeder in Israel - February 28, 2018
- Rigters 5 – Die lied van Debora en Barak - March 1, 2018
- Rigters 6 – Die Here se geduld met Gideon maak hom gereed as rigter - March 2, 2018
- Rigters 7 – Gideon oorwin die Midianiete met 300 man - March 5, 2018
- Rigters 8 – Gideon verhinder die Here se invloed deur politiekery, gierigheid en afgodery - March 6, 2018
- Rigters 9 – Die Here straf Abimelek vir al die onreg wat hy pleeg - March 7, 2018
- Rigters 10 – Tola en Jaïr lei Israel vir 45 jaar maar die Here raak onwillig om te red - March 8, 2018
- Rigters 11-12 – Die Gees verander Jefta van dapper held en militêre leier in ‘n rigter - March 9, 2018
- Rigters 13 – Simson word as rigter gebore vir die vrou van Manoag - March 12, 2018
- Rigters 14-15 – Simson word verraai deur Timna asook Juda, maar verlos telkens sy mense - March 13, 2018
- Rigters 16 – Simson word verraai deur Delila, maar vernietig die tempel van Dagon - March 14, 2018
- Rigters 17-18 – Miga illustreer die waarheid dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek - March 15, 2018
- Rigters 19-21 – Drie uitmergelende verhale - March 16, 2018
- Rigters 19 – Die gruwelike verkragting
- Rigters 20 – Die gruwelike burgeroorlog - March 19, 2018
- Rigters 21 – Die gruwelike ontvoering - March 20, 2018