Skip to main content

Rigters 2:6-3:6 – Die volk vergeet die groot dade van die Here en verval in ongehoorsaamheid

Die skrywer verwys terug na die oorspronklike uitdeling van die land onder Josua en herhaal in Rigters 2:6-10 min of meer dieselfde gegewens waarmee die boek Josua 24:28-31 afgesluit het. Dit bevestig die noue band tussen hierdie twee boeke, Josua en Rigters.

Die volk vergeet die groot dade van die Here – Rigters 2:6-10

Die sentrale boodskap waarmee Josua afsluit, is die sentrale boodskap waarmee Rigters dus begin. Dit is: “So lank as Josua geleef het, het die volk die Here gedien.” Trouens, die volk het dit ook nog reggekry terwyl die ander leiers (in Hebreeus: “oudstes”) geleef het en wat deel was van die proses van die Intog en Vestiging.

Terwyl die belewenisse van die groot dade van die Here dus nog vars in hulle eie geheue was, kon hulle dit lewend hou in die geloofsgemeenskap wat hulle gedien het. Maar: “die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.

Waar ‘n volk dus die groot dade van die Here vergeet, en daar nie planne en prosesse in plek is om te keer dat dit in die vergetelheid verdwyn nie, sal ‘n volk altyd die pad byster raak.

  • Dit is waarom die liturgie van die erediens so belangrik is, want dit laat die geloofsgemeenskap deelneem aan die ontmoeting met God deur woord en lied.
  • Dit is waarom die Bybel so belangrik is, want dit bevat die getuienis van God se groot dade deur die geskiedenis as ‘n uitnodiging om in dié God te glo, en op sy beloftes staat te maak.
  • Dit is waarom kategese so belangrik is, nie net oor die leer van die kerk nie, maar ook oor die lewe van die kerk. Dit is hoe geloof aan die volgende geslag oorgedra word. In die ouerhuis in die eerste plek, sowel as in die geloofsgemeenskap.
  • Dit is waarom ons getuienis van die werk van God in ons lewe so belangrik is, want dit vertel van dié God wat vandag nog dieselfde is, wat vandag nog dieselfde dinge doen as wat Hy van altyd af onder sy mense gedoen het.

Die volk het dus twee uitdagings gehad.

  1. In die eerste plek het die Engel van die Here sy begeleidende rol verander om hulle afhanklikheid te leer. Meer word in die volgende perikoop daaroor gesê.
  2. In die tweede plek was daar nie ‘n sisteem van “kategese” nie wat die groot dade aan die volgende geslag kon oordra nie. Dit is presies wat Moses voorgeskryf het vir elke familie sodat hulle van geslag tot geslag van die Here kon leer, en wat nou nie nagekom is nie, met katastrofale gevolge.

Die volk kon dus nie meer onthou om te onthou om te onthou nie. Hulle vergeetagtigheid het hulle verval verhaas.

Die Here probeer deur rigters die volk uit hulle afvalligheid verlos – Rigters 2:11-3:6

Waar die kennis van God vervaag, verloor mense hulle vertroue in Hom.  Dit is duidelik. En doen hulle wat reg is in hulle eie oë. Dan is dit onmoontlik om te doen wat reg is in die oë van die Here. ‘n Mens kan nie twee here dien nie. Of jy sal die een dien en die ander minag. Of die een minag en die ander dien.

Die volk het gevolglik van die gode van die nasies in die omgewing begin dien, omdat hulle nie meer die Here voluit gedien het nie. Veral Baäl (god van die storm en die reën) en Astarte (sy metgesel, die godin van oorlog en vrugbaarheid) met hulle onsedelike afgodspraktyke word genoem.

Hierdie ongehoorsaamheid en afgodediens laat die toorn van die Here ontvlam en Hy straf hulle deur roofbendes en die vyande in hulle omgewing. Hulle kon nie meer teen dié vyande staande bly nie, want agter die fisiese bedreiging was dit eintlik die Here wat hulle teëgestaan het. Net soos Hy voorheen vir hulle belowe het in die toesprake van Moses en Josua.

God se geduld en genade

Tog is dit presies hier waar God se geduld en genade aan die orde kom. As Israel regtig swaar begin kry het onder hulle vyande het die Here rigters na vore gebring wat hulle kon red uit die mag van die rowers en vyande. Nie dat die volk altyd na hulle wou luister nie, want hulle opstand teen die Here en hulle ontrou aan sy gebooie was regtig diep. Daarom het hulle baie keer selfs terwyl daar ‘n sterk rigter opgetree het, steeds hulle eie kop gevolg.

Maar, so lank as wat die rigter gelewe het, het die Here medelye gehad met die volk. Met sy of haar dood was hulle egter in ‘n slegter situasie vanweë hulle volhardende hardkoppigheid en ongehoorsaamheid.

Só is die siklus van verval en verlossing in stand gehou.  Aan die een kant weens die volk se dislojaliteit en hardkoppigheid. Aan die ander kant weens die Here se besluit om hulle op die proef te stel met hierdie swaarkry om te sien of hulle nie tot inkeer sal kom en gehoorsaam sal word aan sy wil nie.

Hy wou hulle ook leer om oorlog te maak sodat hulle sterker word in hulle eie gehoorsaamheid aan die Here … maar weens hulle ondertrouery met die ander nasies se seuns en dogters was die uitdaging van die afgode net te sterk …

Boodskap

Die geestelike les hieruit is dat die Here sommige sondes uit jou lewe op ‘n goddelike wyse wegneem. Hy vergewe en verlos jou. Hy maak jou skoon en reinig jou, amper asof daar nooit ‘n sonde in die eerste plek gepleeg is nie. Dit is direk en duidelik. Sonder enige bydrae van jou kant.

En dit is wonderlik om sulke ingrype van die Here te ervaar.

Met ander laste en sondes stap die Here egter ‘n langer pad. Neem dit langer vir die “skoonmaak”-werk in jou lewe. Bou Hy algaande deur sy Woord en Gees in jou die vermoë om nee te sê vir die sonde en ja te sê vir die pad wat Hy in sy Woord vir jou uitspel.

En daarin het jy ‘n pertinente duidelike rol. Soos Hebreërs daaroor skrywe: “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God. Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.” (Hebr 12:11-13).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Rigters


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.