Skip to main content

Rigters 2:6-3:6 – Die volk vergeet die groot dade van die Here en verval in ongehoorsaamheid

Die skrywer verwys terug na die oorspronklike uitdeling van die land onder Josua en herhaal in Rigters 2:6-10 min of meer dieselfde gegewens waarmee die boek Josua 24:28-31 afgesluit het. Dit bevestig die noue band tussen hierdie twee boeke, Josua en Rigters.

Die volk vergeet die groot dade van die Here – Rigters 2:6-10

Die sentrale boodskap waarmee Josua afsluit, is die sentrale boodskap waarmee Rigters dus begin. Dit is: “So lank as Josua geleef het, het die volk die Here gedien.” Trouens, die volk het dit ook nog reggekry terwyl die ander leiers (in Hebreeus: “oudstes”) geleef het en wat deel was van die proses van die Intog en Vestiging.

Terwyl die belewenisse van die groot dade van die Here dus nog vars in hulle eie geheue was, kon hulle dit lewend hou in die geloofsgemeenskap wat hulle gedien het. Maar: “die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.

Waar ‘n volk dus die groot dade van die Here vergeet, en daar nie planne en prosesse in plek is om te keer dat dit in die vergetelheid verdwyn nie, sal ‘n volk altyd die pad byster raak.

  • Dit is waarom die liturgie van die erediens so belangrik is, want dit laat die geloofsgemeenskap deelneem aan die ontmoeting met God deur woord en lied.
  • Dit is waarom die Bybel so belangrik is, want dit bevat die getuienis van God se groot dade deur die geskiedenis as ‘n uitnodiging om in dié God te glo, en op sy beloftes staat te maak.
  • Dit is waarom kategese so belangrik is, nie net oor die leer van die kerk nie, maar ook oor die lewe van die kerk. Dit is hoe geloof aan die volgende geslag oorgedra word. In die ouerhuis in die eerste plek, sowel as in die geloofsgemeenskap.
  • Dit is waarom ons getuienis van die werk van God in ons lewe so belangrik is, want dit vertel van dié God wat vandag nog dieselfde is, wat vandag nog dieselfde dinge doen as wat Hy van altyd af onder sy mense gedoen het.

Die volk het dus twee uitdagings gehad.

  1. In die eerste plek het die Engel van die Here sy begeleidende rol verander om hulle afhanklikheid te leer. Meer word in die volgende perikoop daaroor gesê.
  2. In die tweede plek was daar nie ‘n sisteem van “kategese” nie wat die groot dade aan die volgende geslag kon oordra nie. Dit is presies wat Moses voorgeskryf het vir elke familie sodat hulle van geslag tot geslag van die Here kon leer, en wat nou nie nagekom is nie, met katastrofale gevolge.

Die volk kon dus nie meer onthou om te onthou om te onthou nie. Hulle vergeetagtigheid het hulle verval verhaas.

Die Here probeer deur rigters die volk uit hulle afvalligheid verlos – Rigters 2:11-3:6

Waar die kennis van God vervaag, verloor mense hulle vertroue in Hom.  Dit is duidelik. En doen hulle wat reg is in hulle eie oë. Dan is dit onmoontlik om te doen wat reg is in die oë van die Here. ‘n Mens kan nie twee here dien nie. Of jy sal die een dien en die ander minag. Of die een minag en die ander dien.

Die volk het gevolglik van die gode van die nasies in die omgewing begin dien, omdat hulle nie meer die Here voluit gedien het nie. Veral Baäl (god van die storm en die reën) en Astarte (sy metgesel, die godin van oorlog en vrugbaarheid) met hulle onsedelike afgodspraktyke word genoem.

Hierdie ongehoorsaamheid en afgodediens laat die toorn van die Here ontvlam en Hy straf hulle deur roofbendes en die vyande in hulle omgewing. Hulle kon nie meer teen dié vyande staande bly nie, want agter die fisiese bedreiging was dit eintlik die Here wat hulle teëgestaan het. Net soos Hy voorheen vir hulle belowe het in die toesprake van Moses en Josua.

God se geduld en genade

Tog is dit presies hier waar God se geduld en genade aan die orde kom. As Israel regtig swaar begin kry het onder hulle vyande het die Here rigters na vore gebring wat hulle kon red uit die mag van die rowers en vyande. Nie dat die volk altyd na hulle wou luister nie, want hulle opstand teen die Here en hulle ontrou aan sy gebooie was regtig diep. Daarom het hulle baie keer selfs terwyl daar ‘n sterk rigter opgetree het, steeds hulle eie kop gevolg.

Maar, so lank as wat die rigter gelewe het, het die Here medelye gehad met die volk. Met sy of haar dood was hulle egter in ‘n slegter situasie vanweë hulle volhardende hardkoppigheid en ongehoorsaamheid.

Só is die siklus van verval en verlossing in stand gehou.  Aan die een kant weens die volk se dislojaliteit en hardkoppigheid. Aan die ander kant weens die Here se besluit om hulle op die proef te stel met hierdie swaarkry om te sien of hulle nie tot inkeer sal kom en gehoorsaam sal word aan sy wil nie.

Hy wou hulle ook leer om oorlog te maak sodat hulle sterker word in hulle eie gehoorsaamheid aan die Here … maar weens hulle ondertrouery met die ander nasies se seuns en dogters was die uitdaging van die afgode net te sterk …

Boodskap

Die geestelike les hieruit is dat die Here sommige sondes uit jou lewe op ‘n goddelike wyse wegneem. Hy vergewe en verlos jou. Hy maak jou skoon en reinig jou, amper asof daar nooit ‘n sonde in die eerste plek gepleeg is nie. Dit is direk en duidelik. Sonder enige bydrae van jou kant.

En dit is wonderlik om sulke ingrype van die Here te ervaar.

Met ander laste en sondes stap die Here egter ‘n langer pad. Neem dit langer vir die “skoonmaak”-werk in jou lewe. Bou Hy algaande deur sy Woord en Gees in jou die vermoë om nee te sê vir die sonde en ja te sê vir die pad wat Hy in sy Woord vir jou uitspel.

En daarin het jy ‘n pertinente duidelike rol. Soos Hebreërs daaroor skrywe: “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God. Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.” (Hebr 12:11-13).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Rigters


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda