Rigters 11-12 – Die Gees verander Jefta van dapper held en militêre leier in ‘n rigter
Kinders met gebroke familiebande
‘n Mens kan nie anders as om tot stilstand geruk te word deur ‘n tweede verhaal van ‘n man met ‘n gebroke verhouding met sy familie nie. Hulle leierskap was dus van die begin af gedoem tot ‘n kortstondige “flash in the pan” termyn. Die fundamentele onderbou wat ‘n gesonde familie in ‘n gesonde geloofsgemeenskap in ‘n intieme verhouding met die Verbondsgod aan jou gee, was hulle nie beskore nie.
Die eerste verhaal was dié van Abimelek, die seun by ‘n Kanaänitiese vrou wat sonder sy pa Gideon in Sigem grootword, soos ons in Rigters 9 gelees het. Abimelek het leeglêers rondom hom vergader en ‘n ou wrok ter wille van sy eie magsvergrype laat herleef.
Met die herinnering aan Sigem se Kanaänitiese voorouer Gamor, wie se mense deur die stamvaders Simeon en Levi meer as vyf eeue gelede uitgemoor is, vermoor hy self 69 van sy broers aan Joodse kant, en bestyg vir 3 jaar die troon. Totdat daar ook teen hom gedraai word. Hoe anders kon dit nie gewees het as hy in Ofra by Gideon grootgeword het in ‘n geborge familie omgewing nie!
Die tweede verhaal word nou hier in Rigters 11-12 vertel. Jefta was ‘n seun van Gilead uit Manasse, maar by ‘n Kanaänitiese prostituut. Hy was dus ‘n buite-egtelike kind en sonder enige wetlike beskerming. Sy ma was nie eers ‘n byvrou van Gilead nie. Sy het dus ook geen regte gehad nie.
Jefta se halfbroers by Gilead se wettige vrou het hulle dus van hom gedistansieer en weggejaag sodat hy nie saam met hulle sou erf nie. Bloed is dus nie dikker as water nie, veral nie as geld en besit ter sprake is nie. Sy pa Gilead het egter niks daaraan gedoen nie al was Jefta alreeds as kind bekend as ‘n dapper held. Hoe hartseer en hoe dom.
Jefta het van hulle af weggetrek en soos Abimelek ‘n klomp leeglêers rondom hom vergader. Die Hebreeuse woord rêqîm wat met leeglêers vertaal word, beteken letterlik leeg (soos in ‘n put of ‘n maag). Wanneer dit vir mense gebruik word, dra dit die betekenis oor van beginselloosheid of roekeloosheid (2 Sam 6:20). Dit kan ook vir ydele woorde (Deut 32:47) of nuttelose dinge gebruik word (Spr 12:11). Dié niksnutte raak nou sy mentors en meelopers!
En soos die verhaal ontplooi, kom jy agter dat daar dinge is wat hy nie weet nie – bv dat hy sy dogter sou kon loskoop uit die dwase gelofte wat hy gemaak het (Levitikus 27). As hy maar ‘n pa gehad het wat hom geleer het wat in die wet van God staan … dan kon die totale tragedie van sy dogter se dwase dood verhoed gewees het.
Die Here kies die regte persoon vir die werk ongeag hulle agtergrond
Maar, die Here het besluit om die swaar van die Israeliete op te hef toe hulle van hulle gode begin ontslae raak (Rigt 10:16). Hy doen dit paradoksaal deur die Ammoniete teen Israel te laat optrek. Dit noop die oudstes (zeqēnîm) van Gilead om op te tree.
Hierdie oproep van die oudstes gee aan Jefta se verhaal die potensiaal om ‘n ander rigting in te slaan, en dit slaag ten dele, soos ‘n mens dit veral in die oorwinning wat die Here hom gee oor die Ammoniete sien.
Die oudstes soek egter eintlik ‘n regeerder (rōʾš – Rigt 10:18; 11:8,9,11) en ‘n militêre leier (qāṣîn – Rigt 11:6,11), nie soseer ‘n rigter nie. Hulle wil eerder op die krag van ‘n sterk en dapper held staatmaak as op die krag van die Here wat deur sy Gees sy heerskappy laat geld.
Jefta word daarom eers aan die einde van sy lewe ‘n rigter genoem, nadat die Gees van die Here oor hom vaardig geraak het en in die oorwinning begelei het (Rigt 12:7). Sy termyn was ook nie besonder lank nie, net ses jaar.
Jefta is egter glad nie so maklik oortuigbaar soos die leiers gedink het nie, en hy gee nie aan hulle versoek gehoor voor hy nie hulle vergrype in die verlede deeglik ingevryf het nie. “Julle het my gehaat. Julle het my weggejaag uit my pa se huis uit. Waarom kom julle noudat julle in die moeilikheid is na my toe?”
Jefta identifiseer met God en sy mense
Hy gaan uiteindelik saam met Israel na Mispa die Ammoniete tegemoet. Let egter op hoe Jefta onmiddellik begin praat van my land en dat die Ammoniete teen hom optree. Hy kry dit dus reg om met die Joodse deel van sy familie te identifiseer en met hulle God.
Die Ammoniete stam, soos julle nou reeds weet, van die bloedskandelike verhouding tussen Lot en sy een dogter af (Gen 19:38). Die Moabiete kom van Lot se nageslag by die ander dogter, ook ‘n bloedskandelike verhouding.
Die ironie is dat Jefta uit ‘n buite-egtelike verhouding kom, maar nie net teen hulle optree en hulle oorwin nie, maar daarmee volledig deel word van die verbondsgemeenskap. Wie hulle by die Here en sy mense skaar, word deel van die geloofsgemeenskap. So het dit altyd gewerk. So sal dit altyd werk.
Paulus haal Jesaja 28:16 aan in Romeine 10: “Die Skrif sê tog: ‘Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.’” En hy voeg daarby: “Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Rom 10:11-13).
Die Ammoniete maak wederregtelik staat op ‘n deel van die land wat nie aan hulle behoort nie
In Jefta se kommunikasie met die Ammoniete kom ‘n mens agter dat die eintlike dispuut oor die deel tussen die Jabbokrivier en die Arnonrivier waar hulle hoofstad Rabba geleë is, gaan. Die koning van die Ammoniete vra dat die land van die Arnon af tot by die Jabbok en die Jordaan in vrede teruggegee word.
Dit was egter nooit hulle land nie! Die Ammoniete het wederregtelik hulle grens by die Jabbokrivier oorskry en Joodse gebied vir hulle self ingeneem.
Gaan lees in Numeri hoe dié deel tussen die Jabbokrivier en die Arnonrivier van die Amoriete afgeneem is toe hulle Moses-hulle sonder provokasie aangeval het (Num 21:24). Dit het dus nie aan Ammon behoort nie. Moses het ook duidelik die Ammonitiese gebied tot by die Jabbokrivier erken, en gereël dat Israel nooit die gebied oos van die Jabbokrivier moes probeer inpalm het nie (Deut 2:20).
Dat die Ammoniete egter wederregtelik op die gebied tussen die Jabbokrivier en die Arnonrivier aanspraak gemaak het, blyk uit Josua se indeling van die land waar hy ook “die helfte van die Ammonitiese gebied” aan die mense van Gad uitgedeel het (Jos 13:24-25). Hy het daarmee bedoel, dié deel wat van die Amoriete afgeneem is, maar nou deur die Ammoniete beheer is.
Die Ammoniete het die stad Rabba anderkant hulle westelike grens, die Jabbokrivier, in besit geneem het en selfs as hoofstad gebruik (Jos 12:2). Dit is eers in Dawid se tyd wat die inname van daardie deel volledig afgehandel is, toe die stad Rabba (die moderne stad Amman) in besit geneem is om die oorspronklike grens tussen Israel en die Ammoniete te herstel (2 Sam 12:26).
Jefta gee die koning van die Ammoniete ‘n geskiedenisles
Jefta stuur toe boodskappers terug na die koning van die Ammoniete en gee vir hom ‘n geskiedenisles. Iets moes Gilead, sy pa, dus op ‘n manier reg gedoen het. Óf van die ander lede van die gemeenskap het moeite met hom gedoen sodat hy dié geskiedenis so paraat kon hê.
Hy troef die koning met die regte inligting deur ‘n kort oorsig te gee van die Israeliete se trek deur die woestyn rondom Kanaän en die wyse waarop hulle Edom, Moab en Ammon se grondgebied geëer het deur daar rondom te trek. Sihon en Balak se dwaasheid het wel die Amoriete en Moabiete teen hulle laat draai, met die gevolg dat daardie deel in Israel se besit gekom het. Dit alles deur die Here se werk.
Die gode van die Amoriete en die Moabiete kon hulle nie red van die God van Israel nie. Ook Kemos (wat eintlik die god van Moab was) sal nie daarin kan slaag nie. Hy spot miskien eintlik met Ammon deur hulle met Moab se god Kemos te assosieer, en nie met hulle god Molek nie. Of hy verwar die twee gode.
Só is dié gebied al 300 jaar aan Israel toegesê, sê Jefta, waarmee hy ons ook ‘n idee gee van die tydperk van die rigters. Sy boodskap aan die Ammoniete is dat dit nie help om nou die verlede te probeer gebruik om in die hede ‘n verandering teweeg te bring nie, veral as dit van alle waarheid ontbloot is. ‘n Mens sou dink dié gesprek het in ons land plaasgevind!
Die Gees van die Here kom op Jefta en hy word nie net ‘n militêre leier nie, maar ‘n rigter
Die Ammoniete het egter nie geluister nie, en vir die eerste keer kom ‘n mens agter dat die Here hier agter is. Die Gees van die Here het op Jefta gekom en hy het met ‘n groot klomp soldate teen die Ammoniete opgetrek en hulle verslaan. Die Ammoniete is voor die Israeliete verneder.
Sy dogter word ‘n skadubeeld van Christus
In die proses maak hy egter ‘n dwase belofte om iemand uit sy huis te offer as hy behoue by die huis sou terugkom. Met sy terugkoms het sy dogter hom met tamboeryne en koordanse verwelkom. “Sy was sy enigste kind.” Om dit te onderstreep, sê die skrywer: “Hy het nie nog ’n seun of ’n dogter gehad nie.” Hoe hartseer.
Maar dat hy daarna voortgaan, is nog meer hartverskeurend. Het hy maar geweet van Levitikus se riglyne, dan is hy baie leed gespaar. Om nie te praat van die lewe wat gered kon word daardeur nie. Die wet is nie net daar om dit swaar te maak vir mense nie. Dit is ‘n uitdrukking van God se genade!
Sy dogter gee haarself vir die gelofte met ‘n gelatenheid wat nogal aan die uitkoms van die oorlog verbind word. Sy word daarmee ‘n skadubeeld van Christus wat aan die kruis vir die sondes van die hele wêreld Homself aan die dood oorgee.
Soos met Gideon is daar tweespalt oor wie die eer vir die oorwinning moet kry
Soos met Gideon van te vore, is daar probleme met Efraim wat wil deel in die eer. Hulle verkwalik Jefta en wil die huis bokant sy kop afbrand. Kan jy nou meer!
Jefta paai hulle deur hulle op hulle afwesigheid te wys en op die Here se hulp in antwoord op sy moed om alleen op te trek teen die Ammoniete.
Dit kan egter nie ‘n lelike burgeroorlog afweer nie waarin Efraim verslaan word deur Jefta en sy manne. Die oorwinning wat vir almal vreugde moes gebring het, eindig dus in ‘n grootskaalse uitwissing van Efraim met die grusame storie dat hulle Efraimitiese dialek teen hulle gebruik is.
Die Efraimiete het van “Sibbolet” (sibbōlět) gepraat, nie “Sjibbolet” (šibbōlěṯ) nie. Die woorde beteken dieselfde: “stroompie”. Elkeen wat nie die Sj-klank (š) vir dieselfde woord kon uitspreek nie, is doodgemaak.
Jefta was egter net ses jaar lank ’n rigter van Israel. Sy termyn was kort en vol intriges.
Die voorspoedige Ibsan, die onbekende Elon en die vooraanstaande Abdon
Na Jefta was die voorspoedige Ibsan, ‘n Benjaminiet uit Betlehem, die rigter van die Israeliete. Hy het 30 seuns en 30 dogters gehad, maar hulle ongelukkig nie met mense van sy eie stam laat trou het nie. Voorspoed het sy uitdagings. Sy termyn was sewe jaar.
Na hom was die onbekende Elon uit Sebulon die rigter van die Israeliete. Sy termyn was tien jaar. Ons weet niks meer van hom af nie.
Na hom was die vooraanstaande Abdon die rigter van Israel. Hy het nie net 40 seuns gehad nie, maar ook 30 kleinseuns. Die formidabele groep het elkeen op sy eie donkie gery, ‘n gedugte en vooraanstaande familie. Sy termyn was ag jaar.
View all posts in this series
- Inleiding op die boek Rigters - February 22, 2018
- Rigters 1:1-2:5 – Die geduld en genade van die Here met die verval en verydeling van hierdie tyd - February 23, 2018
- Rigters 2:6-3:6 – Die volk vergeet die groot dade van die Here en verval in ongehoorsaamheid - February 26, 2018
- Rigters 3:7-31 – Otniël, Ehud en Samgar red en rig die volk - February 27, 2018
- Rigters 4 – Debora, die formidabele moeder in Israel - February 28, 2018
- Rigters 5 – Die lied van Debora en Barak - March 1, 2018
- Rigters 6 – Die Here se geduld met Gideon maak hom gereed as rigter - March 2, 2018
- Rigters 7 – Gideon oorwin die Midianiete met 300 man - March 5, 2018
- Rigters 8 – Gideon verhinder die Here se invloed deur politiekery, gierigheid en afgodery - March 6, 2018
- Rigters 9 – Die Here straf Abimelek vir al die onreg wat hy pleeg - March 7, 2018
- Rigters 10 – Tola en Jaïr lei Israel vir 45 jaar maar die Here raak onwillig om te red - March 8, 2018
- Rigters 11-12 – Die Gees verander Jefta van dapper held en militêre leier in ‘n rigter - March 9, 2018
- Rigters 13 – Simson word as rigter gebore vir die vrou van Manoag - March 12, 2018
- Rigters 14-15 – Simson word verraai deur Timna asook Juda, maar verlos telkens sy mense - March 13, 2018
- Rigters 16 – Simson word verraai deur Delila, maar vernietig die tempel van Dagon - March 14, 2018
- Rigters 17-18 – Miga illustreer die waarheid dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek - March 15, 2018
- Rigters 19-21 – Drie uitmergelende verhale - March 16, 2018
- Rigters 19 – Die gruwelike verkragting
- Rigters 20 – Die gruwelike burgeroorlog - March 19, 2018
- Rigters 21 – Die gruwelike ontvoering - March 20, 2018
Alwyn
Chris Kon Jefts sy dogter losgekoop het? Sy was die eersteling en enigste kind en het dud aan die Here behoort
Ek is nou verdwaal want in jou oorsig van Lev 27 sê jy eerstelinge kon nie losgekoop word nie.
Waar lees ek verkeerd?
Chris van Wyk
Hi Alwyn. Jefta se dogter was wel ‘n eersteling, maar die reël het eintlik net vir manlike eersgeborenes getel (Eks 13). Daarbenewens is die Leviete in die plek van Israel se eersgeborenes aan die Here gewy, wat die normale eersgeborenes alreeds “losgekoop” het (Num 3). Let wel, die Leviete is nie doodgemaak of geoffer nie, net vir diens aan die Here gewy. Die Leviete het dus die eersgeborenes van Israel “losgekoop” van dié tipe diens. Jefta kon op grond van Levitikus 27 se riglyne uit die dilemma waarin hy homself geplaas het, gekom het, deur haar met tussen 34 en 340 gram silwer los te koop. Hy het dit waarskynlik nie geweet nie. Let ook op dat hy van ‘n “brandoffer” praat, nie ‘n “banoffer” nie, want in laasgenoemde geval sou hy haar moes offer in terme van die res van die voorskrifte in Levitikus 27. Jefta kon dus die situasie van haar dood vermy het. Natuurlik is my interpretasies, ook in dié geval, altyd onderhewig aan korreksie, maar dit is hoe ek tans die teks lees, tot ek van beter oortuig word. Groete!
Alwyn
Dankie vir die insiggende antwoord
Jan Louw
Dis ‘n hartseer verhaal!