Skip to main content

Rigters 6 – Die Here se geduld met Gideon maak hom gereed as rigter

Die verhaal van Gideon word uitvoerig vertel in drie hoofstukke met dié van sy seun Abimelek in ‘n vierde daarby gevoeg. Gideon is die seun van Joas, uit die stam van Manasse, wat Baäl openlik dien met ‘n altaar vir Baäl en ‘n gewyde paal, ‘n Asjera, daarnaas. Afgodsdiens was telkens ‘n achilleshiel wat tot die verval van Israel gelei het.

Geen wonder die Here het die Israeliete as straf oorgegee in die hande van die Midianiete nie, ondersteun deur die Amalekiete. Die Israeliete het immers volhard in hulle afgodediens en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.

Die impak van hierdie oorheersing – onthou die Midianiete is afstammelinge van Abraham en Ketura, dws hulle verlangse familie! – was omvattend. Die Israeliete – in dié geval veral die hele stam van Manasse wes en oos van die Jordaan – is teruggedryf in die berge waar hulle langs bergstroompies, in grotte en ander ontoeganklike plekke gaan bly het.

Hulle kon nie saai nie, want die opbrengs is deur die Midianiete vernietig. Hulle diere is uitgewis in die veld. Die Midianiete was soos ‘n ontelbare swerm sprinkane wat alles vernietig het in hulle pad. Die Israeliete het armlastig geword en het gekrepeer van die ellende. Hulle geestelike verval het tot ‘n sosiale en ekonomiese verval gely.

Soos ons nou al goed weet, laat dié straf van die Here die Israeliete roep na die ingrype van die Here en reageer Hy op twee maniere. Hy stuur aanvanklik ‘n naamlose profeet om hulle aan die Here se wonders in die verlede te herinner, maar hulle ook helder in te prent dat die benarde situasie waarin hulle hul bevind deur hulle eie afvalligheid te weeg gebring is.

Dan roep die Here ‘n rigter, Gideon, deur Homself as Here te openbaar aan hom. Die Here, Jahwe, verskyn as die Engel van die Here wat gaan sit onder die groot boom in Ofra waar Gideon in die geheim koring gedors het in ‘n versteekte parskuip. ‘n Mens kom met die verloop van die gesprek met Gideon agter dat die Engel van die Here, die Here self verteenwoordig.

Sewe interaksies tussen die Here en Gideon

1. Let op die eerste woorde van die Engel aan Gideon: “Die Here is by jou, dapper man!

Gideon se eerste reaksie dreig om sarkasties te raak met ‘n: “Ekskuus meneer … Waar is al sy magtige dade …  Nou het die Here ons in die steek gelaat”. Agter sy beleefdheid skuil ‘n ernstige wantroue.

2. Let op hoe dit nou die Here is wat na Gideon toe draai en sy wantroue van die tafel af vee met ‘n direkte opdrag in sy tweede reaksie: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete!” Let op die: “krag wat jy het”! En die kragtige bemagtiging daarmee saam: “Toe, Ek stuur jou!

Dit is hoe Goddelike bemagtiging werk. God begin met wat ons het, en vermeerder dit deur sy ingrype en betrokkenheid. Soos Jesus dit met die twee vissies en vyf broodjies gedoen het in die NT (Joh 6:9).

Gideon se tweede reaksie wys dat hy nie byt aan dié opdrag nie. Hy hoor net: “die krag wat jy het”, nie die: “Ek stuur jou” nie. Waarmee sou hy nou die Israeliete kon gaan red? Hulle is arm en hy het geen aansien nie.

3. Die Here se derde reaksie vat die koek: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.” Geen wonder die Here beveel hom later om met net 300 man die Midianiete aan te val, want hulle sou verward vlug asof hulle krag gereduseer is tot net een sterfling voor die mag van sy Skepper!

Gideon se derde reaksie wys dat hy steeds dink dat hier niks gaan gebeur nie, want hy vra vir ‘n wonder om seker te wees dat dit regtig die Here is wat met hom praat, al sit die Engel van die Here daar reg by hom. Hy berei ‘n offer vir die Here voor, sonder dat hy spesifiek uitspel wat die wonder moet wees.

4. Die onuitputbare geduld van die Here word in sy vierde reaksie getoon deurdat Hy bereid is om te wag op Gideon: “Ek sal wag tot jy terug is”. Kan jy nou meer. Miskien die helderste evangelie in hierdie hoofstuk. God wag dat Gideon klaar is, voor Hy met hom verder werk. Ontsagwekkend!

Gideon maak ‘n bokkie gaar, bak ‘n groot hoeveelheid brood – let op dat dit soos ‘n Paasmaaltyd gedoen word, sonder suurdeeg – gooi ‘n bietjie sous by en bedien die Engel onder die groot boom.

5. Die Engel vra in sy vyfde verbale reaksie dat dit as ‘n offer gebring word op die rots en laat die wonder gebeur dat ‘n vuur uit die rots opvlam om die offer te verteer. Met dié is die Engel weg van Gideon en daag die besef by hom op dat Hy regtig met die Here te doene het.

6. Let op dat die Here egter steeds by Gideon is en hom in sy sesde reaksie gerus stel, soveel só dat Gideon ‘n altaar daar vir die Here bou en dit noem: “Die Here gee rus (vrede)!

7. Die gesprek duur voort tot in die nag en in die sewende en laaste reaksie dié nag beveel die Here Gideon om sy pa se altaar vir Baäl en die gewyde paal vir Asjera af te breek en ‘n netjiese altaar vir die Here daar langsaan op te rig, en dan ‘n spesifieke sewe jaar oue bul van sy pa daarop as brandoffer – die offer wat vir die vergifnis van sonde gebruik is – te offer. Asjera moet op ‘n minagtende vernederende manier as die brandhout gebruik word.

Die Here se geduld met Gideon maak hom gereed vir die oorlog

Gideon het nie op hom laat wag nie en dit alles gedoen soos die Here beveel het, hoewel die teks ons meedeel dat hy dit in die nag gedoen, waarskynlik die daaropvolgende nag, omdat hy bang was vir sy pa se familie en die stad se mense.

Iemand moes egter vir Gideon gesien het, want die nuus breek gou dat dit hy was wat hierdie ongehoorde ding gedoen het. Tot sy pa se krediet verdedig hy sy seun toe die stad Gideon wou uitwis, en sê: “yāʹrěḇ (Baäl)”, dit is in Hebreeus, “laat Baäl sy eie saak behartig” as hy ‘n god is.

Geen wonder dat dit daarom Gideon se naam word, Jerubbaäl (yerǔbbǎʿǎl), want Gideon se optrede het Baäl se onmag duidelik gewys.

Uiteraard kon Baäl niks doen nie, maar in sy plek kom Midian en Amalek bymekaar en trek deur die Jordaanrivier tot in Jisreël téén die Israeliete.

Dit lei tot twee verdere reaksies van die Here wat nie net sy Gees van Gideon laat besit neem nie, maar ook regdeur met Gideon in gesprek bly, ook met die wonders wat hy ‘n paar aande lank laat gebeur met die stukkie vlieswol op die dorsvloer wat dan nat is met die grond rondom droog, en dan droog met die grond rondom nat.

Gideon wou enige natuurlike oorsaak uitskakel, en die Here is met hom geduldig. Hy wys regdeur dat Hy God is en in staat om nie net die natuur te beheer nie, maar ook oorwinning te gee in die oorlog.

Met die ramshoring (sjofar) roep Gideon die hele Manasse en drie ander stamme – Aser, Sebulon, en Naftali – op om hom te volg. En Sebulon en Naftali gee gehoor, net soos hulle dit gedoen het met Debora en Barak se oproep, hierdie keer darem met Aser in die weste wat ook die oproep gehoorsaam.

Die tafel is gedek vir ‘n groot konfrontasie in die volgende hoofstuk.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Rigters


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.