Skip to main content

Rigters 17-18 – Miga illustreer die waarheid dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek

Die volgende verhaal illustreer die waarheid van die gesegde dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek.

Miga doen wat reg is in sy eie oë en laat ‘n afgodsbeeld met gesteelde silwer giet en stel ‘n rondtrekkende Leviet aan as sy “vader” en “priester”. Daarvan lees ons in Rigters 17.

Dit lei egter nie net tot sy familie se afvalligheid van die suiwer aanbidding van die Here nie. Nee, die Daniete wat nog sukkel om hulle eie grondgebied in besit te neem, kom ook onder die invloed van hierdie Leviet en steel hom met gode en al om hulle grondgebied op die basis van ‘n verwarde afvallige grondslag in te neem.

Hierdie afvalligheid wreek hom op hulle, want binne ‘n paar dekades word hulle weggevoer in ballingskap waarskynlik deur die Filistynse verwoesting van Silo (1 Sam 4). Daarvan lees ons in Rigters 18.

Miga doen wat reg is in sy eie oë en laat ‘n afgodsbeeld giet en stel ‘n Leviet as priester aan – Rigters 17

Waar Simson gesukkel het met sy oortreding van die sewende gebod in sy seksuele eskapades, sukkel Miga in die Efraimsberge met sy oortreding van die agste gebod. Hy steel 13 kg silwer van sy ma. Toe hy egter hoor dat sy die silwer vervloek het, bieg hy by haar oor die stelery. Nie omdat hy die wet van die Here oortree het nie, maar omdat hy bang was vir die vloek.

In plaas daarvan dat sy hom teregwys, vergewe sy hom deur te sê dat die Here hom sal seën. En gaan direk voort om self die wet van die Here te oortree, die tweede gebod teen die maak en aanbidding van enige afbeelding van God (Eks 20; Deut 5 – vgl my bydrae daaroor).

Let op dat hulle doodgewoon doen wat reg is in hulle eie oë. Miga hou boonop die meeste van die silwer, maar neem 20% daarvan (2.5 kg) en laat ‘n afgodsbeeld maak. Dié sit hy toe in ‘n tempel waar daar ook ‘n efodbeeld (vgl Gideon se soortgelyke efodbeeld in Rigters 8) en afgodsbeeldjies gestaan het met een van sy eie seuns as priester.

Die skrywer maak dan die opmerking wat, soos ons weet, eintlik die hele boek Rigters kenmerk, maar in toenemende mate in hierdie laaste paar hoofstukke sal opval: “In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie. Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

Dan daag daar ‘n jong Leviet uit Betlehem in Juda op wat nie ‘n heenkome gehad het nie en word terstond gehuur as “vader” (soos ‘n adviseur) en “priester” in ruil vir lewensonderhoud en blyplek.

Selfs die Leviet doen wat reg is in sy eie oë, terwyl hy terdeë bewus moes gewees het van die helder riglyne van net een plek waar die Here aanbid mag word by die tabernakel, en dat net regte priesters die diens mag waarneem.

Almal is egter gelukkig met dié reëling … totdat hulle idee in botsing kom met die idees van ‘n ander groep en hulle wêreld omvergewerp word deurdat ‘n magtiger groep hulle gode steel. Die tragedie is egter nog dieper. Een huis se afvalligheid bring ‘n hele stam se voortbestaan in gedrang.

Die stam Dan verval in afgodediens selfs voor hulle hulle grondgebied in besit neem – Rigters 18

Volgende op die toneel verskyn vyf verkenners van die stam van Dan wat nog sukkel om hulle grondgebied net bo die Filistyne s’n aan die kus in besit te neem in die “skoonmaak”-veldtog. Trouens, die vroeëre “platvee”-veldtog onder leiding van Josua het vir hulle niks beteken nie.

Met hulle oorslaap by Miga het hulle die Leviet herken van vroeër – die teks lig ons nie in van waar nie – en gevra dat hy vir hulle die Here raadpleeg. Sy raad aan hulle dat die Here by hulle sal wees, het inderdaad vrugte afgewerp toe hulle agterkom dat die gebied by Lajis maklik sal wees om in te neem. Die mense daar was sonder agterdog en houtgerus.

‘n Mag van 600 man het dié gebied gaan inneem en sommer op pad die Leviet gekaap saam met al die afgodsbeelde in Miga se tempel. Hy moet nou vir ‘n hele stam ‘n “vader” en “priester” wees, eerder as net vir een familie.

Miga se ontsteltenis het maar net by ‘n geskreeu gebly, selfs toe hy van die omgewing se mense opkommandeer om saam met hom te protesteer. Let op hoe tragies sy verwarde godsdiens verwoord word in sy klaaglied: “Maar julle het my god wat ek gemaak het, gevat en ook my priester, en nou gaan julle weg. Wat het ek nou oor?

Miga moes onverrigter sake terugdraai toe die soldate van Dan hom dreig. Sonder ‘n god, en sonder die God.

Die mense van Dan het uiteindelik hulle grondgebied ingeneem, soos die Leviet voorspel het, maar nie in die naam van die Here van Israel nie. Van die begin af het hulle dus hulle eie afgode gedien. Lajis het die naam Dan gekry en een van Moses se nasate het die priesterskap oorgeneem. Dit het egter nie die verkeerde basis waarop hulle begin het, reggestel nie.

‘n Mens kry eintlik koue rillings as jy besef hoe ver van die merk af dié stam Dan was. Geen wonder dat die skrywer opmerk dat hulle dit nie lank gemaak het nie, want met die ballingskap is hulle weggevoer.

Daar word waarskynlik verwys na die gedeeltelike ballingskap wat gevolg het na Silo verwoes is deur die Filistyne in die tyd van die laaste rigter Samuel (1 Sam 4). Die mense van die stad is waarskynlik deur die terugkerende Filistyne oorrompel en as slawe weggevoer, omdat dit op hulle roete van Silo in die noorde van Kanaän af terug na die Gasa strook aan die kus gelê het.

‘n Bietjie suurdeeg trek die hele deeg deur

Die geestelike les van dié gedeelte is dat waar sonde nie raakgesien en uitgesorteer word nie, dit onbeteueld kan nesskop en ‘n hele geloofsgemeenskap kan afvallig maak. Geen wonder dat Paulus ons waarsku om die sonde (en die duiwel) nie ‘n vastrapplek te gee nie, want waar die sonde toegelaat word om in een lid van die geloofsgemeenskap die oorhand te kry, word die hele liggaam van Christus daardeur deursuur (Ef 4:26-27).

Hy maak hierdie metafoor van die suurdeeg van toepassing op etiese sake – die sonde van bloedskande (1 Kor 5:6-8) – sowel as op leerstellige sake – die valse verkondiging van die noodsaak van die besnydenis (Gal 5:2-12). Leer en lewe is ‘n eenheid en ons moet vir mekaar voorbeelde in ons liefdevolle luister na en leef in die waarheid wees (Ef 4:15-16). Dit is die enigste manier waarop ons eenheid in die liggaam van Christus kan beskerm en bewaar.

Trouens, enige sonde wat enigiemand doen, bring die liggaam in gedrang, soos Paulus uitvoerig in die res van Galasiërs 5 aanvoer. Vandaar sy opdrag in Galasiërs 6 dat ons mekaar se laste moet dra – en hy bedoel die laste van die sonde wat van tyd tot tyd gelowiges oorval – want in daardie tipe omgee lê die heil van die hele gemeenskap van gelowiges sowel as elke lid daarvan opgesluit.

Laat ons dus na mekaar omsien, mekaar se laste dra, ook die las van sonde, terwyl ons sorg dat onsself nie in die sonde val nie en volhard in gehoorsaamheid aan die Here (Hebr 12:1-3).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Rigters


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…