Skip to main content

Inleiding op die boek Rigters

Die boek Rigters

Die skrywer(s) van Rigters is nie vir ons bekend nie. Die verhale is as deel van die Vroeë ProfeteJosua, Rigters, 1&2 Samuel, 1&2 Konings –  versamel en waarskynlik voltooi deur ‘n redaksie proses óf net ná die tyd van die oorlog teen die Filistyne in ongeveer 1070 vC (1 Sam 4) óf net na die Assiriese ballingskap van die tien noordelike stamme in 722 vC (2 Kon 15:29).

Dit lei ons af uit Rigters 18:30-31 waarin die verwysing na Silo ons aan die Filistynse oorlog in die 11de eeu vC laat dink en die verwysing na die ballingskap aan die wegvoering na Assirië in die 8ste eeu vC.

Dit kan ook wees dat die ballingskap – die plek waarheen word nie in die teks gespesifiseer nie – eintlik na die verwoesting van Silo verwys, dws dat dit dieselfde gebeurtenis was soos dit moontlik uit ander verwysings in die Bybel daarheen afgelei kan word (Jer 7:12,14; 26:6; Ps 78:60). Die argeologiese getuienis dui ook in die rigting daarvan dat Silo in 1050 vC verwoes is wat beteken dat dit ‘n meer lokale wegvoering kon wees net ná die gebeure in 1 Samuel 4.

Hoe dit ook al sy, die boek is waarskynlik lank vóór die latere ballingskap na Babilon in die vroeg 6de eeu vC voltooi.

Continue reading

Rigters 1:1-2:5 – Die geduld en genade van die Here met die verval en verydeling van hierdie tyd

Die Here se geduld en genade skyn soos ‘n helder lig in die onderskeie verhale van die boek Rigters deur. Ten spyte van die verval en verydeling en dreigende anargie waarvan ‘n mens die hele tyd ook bewus bly, skryf die Here nie die volk in hulle gebrekkige gehoorsaamheid af nie.

Dit beteken aan die een kant dat die verhale tot ons troos dien, omdat ongeloof en ongehoorsaamheid nooit die laaste sê kan hê oor dié mense wat die Here uitgekies het om hulle God te wees nie.

Dit beteken aan die ander kant dat die verhale ons ook tot stilstand wil ruk, omdat ongeloof en ongehoorsaamheid gevolge het wat nie net persoonlike afvalligheid insluit nie, maar ook die dreigende anargie in ‘n samelewing. Waar God se mense nie vir Hom bo alles dien nie, raak dit alles rondom hulle.

Die hoop in die boek lê in God se Gees wat telkens vaardig raak oor ‘n rigter wat in die krag van die Here optree om die volk te verlos. Ons lees dit eksplisiet van Otniël (Rigt 3:10), Gideon (Rigt 6:34 – agv die Gees se werk kan hy direk met God praat en van hom leiding vra met die vlieswol), Jefta (Rigt 11:29), en talle kere van Simson (Rigt 13:25; 14:6,19; 15:14).

So ook in die Engel van die Here ten spyte van sy optrede teen hulle afvalligheid (2:1-5). Hy verskyn aan Gideon en bemoedig en stuur hom (Rigt 6:11). Hy verskyn aan Manoag se vrou om haar van haar komende swangerskap met Simson in te lig, en uiteindelik ook aan Manoag toe hy nie sy vrou se woord wou aanvaar nie (Rigt 13:3,9).

Maar, dit wys ook die gebreke van dié bedeling uit, want dit het nie die hele gemeenskap van gelowiges verander nie. Dit het nie eers die rigters se lewens totaal verander nie. Trouens, die hele volk ly duidelik aan ‘n gebrek van die belewing van die teenwoordigheid van die Here. Hoe anders was dit nie in die woestyn verhale en aanvanklik met Josua se verowering nie!

Continue reading

Rigters 2:6-3:6 – Die volk vergeet die groot dade van die Here en verval in ongehoorsaamheid

Die skrywer verwys terug na die oorspronklike uitdeling van die land onder Josua en herhaal in Rigters 2:6-10 min of meer dieselfde gegewens waarmee die boek Josua 24:28-31 afgesluit het. Dit bevestig die noue band tussen hierdie twee boeke, Josua en Rigters.

Die volk vergeet die groot dade van die Here – Rigters 2:6-10

Die sentrale boodskap waarmee Josua afsluit, is die sentrale boodskap waarmee Rigters dus begin. Dit is: “So lank as Josua geleef het, het die volk die Here gedien.” Trouens, die volk het dit ook nog reggekry terwyl die ander leiers (in Hebreeus: “oudstes”) geleef het en wat deel was van die proses van die Intog en Vestiging.

Terwyl die belewenisse van die groot dade van die Here dus nog vars in hulle eie geheue was, kon hulle dit lewend hou in die geloofsgemeenskap wat hulle gedien het. Maar: “die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.

Waar ‘n volk dus die groot dade van die Here vergeet, en daar nie planne en prosesse in plek is om te keer dat dit in die vergetelheid verdwyn nie, sal ‘n volk altyd die pad byster raak.

Continue reading

Rigters 3:7-31 – Otniël, Ehud en Samgar red en rig die volk

Otniël die held waarop die Gees gerus het

Ons het reeds van Otniël se heldedade kennis geneem waar hy met Aksa, die dogter van Kaleb trou, deur ‘n gebied vir Juda in te neem (Jos 15; Rigt 1). Otniël was waarskynlik ‘n jonger broer óf ‘n nefie van Kaleb. Hier word hy in die rol van ‘n rigter of redder aan ons bekend gestel. Meer nog, sy verhaal is ‘n patroon vir die verhale in die res van die boek. Dit lui die begin van die voortdurende siklus in van verval, straf, roep na God, en verlossing wat God bring deur ‘n rigter.

  1. VERVAL: Omdat die Israeliete doen wat reg is in hulle eie oë, doen hulle wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle hardkoppigheid maak dat hulle die Here hulle God vergeet en die Baäls (afgode verbind aan die god van die storm en die reën) en die Asjeras (“gewyde pale” verbind aan vrugbaarheid, vergelykbaar met maar nie identies aan die godin Astarte nie) gedien het.
  2. STRAF: Dit het die toorn van die Here laat ontvlam sodat Hy kwaad geword het vir die Israeliete. As straf het Hy hulle oorgegee in die mag van koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië. Die tweede deel van sy naam is waarskynlik ‘n bynaam, want Risatajim beteken in Hebreeus “dubbeld-goddeloos”. Die verdrukking het agt jaar geduur.
  3. ROEP NA GOD: Toe het die Israeliete tot die Here geroep en om uitkoms gevra.
  4. VERLOSSING: God het geantwoord en vir hulle ’n redder na vore laat kom, Otniël, wat hulle gered het en veertig jaar “gerig” het. Belangrik, die Gees van die Here was op hom wat nie net in sy roeping bevestig het nie, maar hom regdeur begelei het.

Interessant, Otniël word ‘n môšîaʹ genoem, ‘n “redder”, soos ook Ehud hierna. Sy werk word egter as dié van ‘n “rigter” beskryf in vers 10 waar die normale stam šôp̄ēṭ gebruik word. In Rigters 2:6 word die betekenisse weer omgeruil. Daar word die werkwoord wǎyyôšîʿûmʹ gebruik wat van dieselfde stam as die woord môšîaʹ kom. Redders en Rigters was dus een en dieselfde beskrywing van die mense wat die Here geroep het om sy werk te doen.

Continue reading

Rigters 4 – Debora, die formidabele moeder in Israel

Hoewel Debora nie buite die boek Rigters vermeld word nie (wel Barak) is dit duidelik dat sy die eintlike een was wat die voortou geneem het in dié geskiedenis van Israel. Sy was ‘n gesogte profeet, gedugte regter, bobaas rigter en gesagvolle leier wat die titel: “moeder in Israel” heeltemal waardig was. ‘n Onkreukbare mens, as daar ooit een was.

Dit is hoe sy haarself beskryf in die loflied oor die oorwinning wat hulle behaal het: “Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ’n moeder in Israel na vore gekom het.” (Rigt 5:7).

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda