Rigters 14-15 – Simson word verraai deur Timna asook Juda, maar verlos telkens sy mense

Die skrywer van die boek Rigters fokus in hoofstuk 14-17 op vyf van die verhale oor Simson. Dit is duidelik dat daar meer sulke verhale was, soos die eerste woorde van die eerste verhaal reeds aandui: “Op ‘n keer”. Hierdie seleksie verhale gee egter ‘n goeie oorsig oor die wyse waarop die Here hom as rigter gebruik het:

  1. Simson en die Filistynse meisie van Timna – Rigters 14:1-15:8
  2. Simson uitgelewer aan die Filistyne deur die mense van Juda – Rigters 15:9-20
  3. Simson en die prostituut van Gasa – Rigters 16:1-3
  4. Simson en die Filistynse Delila van die Sorekvallei – Rigters 16:4-22
  5. Simson vernietig die tempel van die Filistynse god Dagon – Rigters 16:23-31

Ons lees die eerste twee verhale in hoofstuk 14-15 as ‘n eenheid en daarna die drie verhale in hoofstuk 16.

Simson en die Filistynse meisie van Timna – Rigters 14:1-15:8

Op ’n keer” kom Simson in Filistynse gebied in Timna, naby sy ouerhuis in Sora, en sien ‘n meisie met wie hy wil trou. Sy ouers wou hom nie met ‘n heiden laat trou nie, maar stem in as hy daarop aandring.

Die skrywer se kommentaar is dat sy ouers nie besef het dat: “dit alles van die Here kom nie”. Die Here sou Simson se verkeerde begeertes gebruik as ’n geleentheid om die Filistyne te straf vir hulle oorheersing van Israel. Daarmee keur die Here dit nie goed nie, maar span dit in sy soewereiniteit in om sy planne met Israel ten uitvoer te bring.

Die krag van die Gees word gedemonstreer deur die leeu wat Simson kaalhand uitmekaar skeur toe dié uit ‘n wingerd op hom afstorm.

Met die troue sien hy dat daar ‘n swerm bye nes gemaak het in die karkas en deel van die heuning met sy ouers. Hy bly egter stil oor die oorsprong daarvan.

Sy raaisel aan 30 Filistyne – “Uit ’n eter kom daar iets te ete, uit ’n sterke kom daar iets soets” – by die feesmaal van die troue skep die geleentheid vir hom om ‘n slagting onder die Filistyne aan te rig. Sy vrou se neulery laat hom die betekenis van die raaisel verklap, maar in die proses maak hy 30 ander Filistyne dood in die Filistynse stad Askelon, amper 32 km daarvandaan, om sy belofte van 3 stelle klere vir die 30 Filistynse gaste na te kom.

Hy skep in die proses ook ‘n verdere idioom wat deur die eeue gebruik is: “om met iemand anders se kalwers te ploeg”!

Die vrou se pa maak egter die fout om haar vir iemand anders te gee. Simson steek toe met ‘n klomp jakkalse (waarskynlik met strikke gevang) ‘n groot klomp miedens en graanlanderye, sowel as wingerde en olyfboorde, aan die brand.

Die Filistyne se moord op die pa en Simson se vrou gee hom rede om ‘n verdere groot slagting onder hulle aan te rig. Dit wil voorkom asof hy hulle bobene en heupe gebreek het met sy krag. Gewelddadig!

Hierdie deel van sy verhaal eindig in ‘n rotskloof by Etam in Juda se gebied.

God se soewereiniteit en ons wil

Let op in hierdie hoofstuk hoe God se wil – Hy wil die Filistyne straf – en Simson se wil – hy wil ‘n Filistynse meisie uit Timna as vrou neem – ooreenkom. Dit is hoe God se soewereiniteit werk. Hy werk sy wil uit in ons, selfs waar ons dink dat dit onafhanklik gedoen word. Dit is wel deeglik Simson wat optree, maar deur sy oog vir ‘n Filistynse meisie bewerk God sy wil.

Hoewel Simson se optrede dus heel uitsonderlik bly – hy is ‘n alleenloper, sonder ’n leërmag wat hom kan ondersteun, ’n onkeerbare onverbiddelike Terminator – word daar meer as met enige van die ander rigters gesê: die Gees van die Here het hom sterk gemaak (“kragtig op hom gekom” – sê die oorspronklike). God kies dus wie Hy wil, mense in wie Hy Sy heerlikheid en krag kan ten toon stel en gebruik hulle om wonderlike dinge te doen.

‘n Mens sien dit ook in die vreemde verhale van sy liefde en ontberinge met vroue, hier in Timna, later in Gasa en nog later in die Sorekvallei. Hoewel Simson sy lewe lank ’n nasireër was – dws hy het nie wyn en bier gedrink nie, hy het niks onreins geëet nie, en hy het nie sy hare ooit self geskeer nie – weet ons uit dié verhale dat sy luste onbeteueld was.

Hier in Timna kies hy nog vir die huwelik. Maar met die prostituut van Gasa en Delila van die Sorekvallei het hy nie eers daardie moeite gedoen nie. Maar, die Here het juis met hierdie swakheid van hom ‘n plan gehad.

Wat beteken ons moet versigtig oordeel. Telkens is dit weens die strik wat ‘n vrou vir hom stel, dat hy ‘n hele boel Filistyne kon vernietig. En dit is waarvoor God hom geroep het. Die Here het dus in en deur Simson se menswees die verlossing van Israel beplan. Dit is hoe God se soewereiniteit werk.

Simson uitgelewer aan die Filistyne deur die mense van Juda – Rigters 15:9-20

Sy eie mense draai egter teen Simson en lewer hom uit aan die Filistyne toe hulle verder by Legi in Judese gebied onder Filistynse strooptogte deurloop. 3 000 Jode moet Simson oorreed dat hulle hom vasgebind kan oorlewer.

Die nuwe toue was egter nie bestand teen die krag wat die Gees van die Here hom gee nie. Soos garingdraadjies het hy dit gebreek en met ‘n vars kakebeen van ‘n donkie ‘n 1 000 Filistyne afgemaai.

Daar is ‘n stukkie ironie in die vertaling verskuil, want die plek Legi se naam beteken in Hebreeus “kakebeen”. Geen wonder dat die plek die naam Kakebeenshoogte gekry het nie.

Simson lê hierdie slagting in die Jode se geheue vas met ‘n kort kwatryn (gedig met vier reëls): “Met die kakebeen van ’n donkie het ek ’n hopie van hulle gemaak, met die kakebeen van ’n donkie het ek duisend man doodgeslaan.” Sy vaardighede het dus taalvaardigheid ingesluit …

Vir die eerste keer hoor ons dat Simson die Here aanroep. Hy is dors. Hy is bang dat hy hier sal doodgaan, terwyl hy net besig was om sy werk te doen. Om ‘n 1 000 mense met ‘n donkie kakebeen dood te slaan, sal jou verseker ‘n groot dors gee. Maar, die Here sal mos nou nie só iets toelaat nie, dat hy nou van dors moet doodgaan, dan nie, is Simson se vraag?!

Die Here hoor hom en verhoor sy behoefte aan water. Hy gee vir hom water in ‘n holte by Legi. Dit word daarom ‘n fontein wat daarna Roepersfontein genoem is.

View all posts in this series

Rigters


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: