Skip to main content

Rigters 14-15 – Simson word verraai deur Timna asook Juda, maar verlos telkens sy mense

Die skrywer van die boek Rigters fokus in hoofstuk 14-17 op vyf van die verhale oor Simson. Dit is duidelik dat daar meer sulke verhale was, soos die eerste woorde van die eerste verhaal reeds aandui: “Op ‘n keer”. Hierdie seleksie verhale gee egter ‘n goeie oorsig oor die wyse waarop die Here hom as rigter gebruik het:

  1. Simson en die Filistynse meisie van Timna – Rigters 14:1-15:8
  2. Simson uitgelewer aan die Filistyne deur die mense van Juda – Rigters 15:9-20
  3. Simson en die prostituut van Gasa – Rigters 16:1-3
  4. Simson en die Filistynse Delila van die Sorekvallei – Rigters 16:4-22
  5. Simson vernietig die tempel van die Filistynse god Dagon – Rigters 16:23-31

Ons lees die eerste twee verhale in hoofstuk 14-15 as ‘n eenheid en daarna die drie verhale in hoofstuk 16.

Simson en die Filistynse meisie van Timna – Rigters 14:1-15:8

Op ’n keer” kom Simson in Filistynse gebied in Timna, naby sy ouerhuis in Sora, en sien ‘n meisie met wie hy wil trou. Sy ouers wou hom nie met ‘n heiden laat trou nie, maar stem in as hy daarop aandring.

Die skrywer se kommentaar is dat sy ouers nie besef het dat: “dit alles van die Here kom nie”. Die Here sou Simson se verkeerde begeertes gebruik as ’n geleentheid om die Filistyne te straf vir hulle oorheersing van Israel. Daarmee keur die Here dit nie goed nie, maar span dit in sy soewereiniteit in om sy planne met Israel ten uitvoer te bring.

Die krag van die Gees word gedemonstreer deur die leeu wat Simson kaalhand uitmekaar skeur toe dié uit ‘n wingerd op hom afstorm.

Met die troue sien hy dat daar ‘n swerm bye nes gemaak het in die karkas en deel van die heuning met sy ouers. Hy bly egter stil oor die oorsprong daarvan.

Sy raaisel aan 30 Filistyne – “Uit ’n eter kom daar iets te ete, uit ’n sterke kom daar iets soets” – by die feesmaal van die troue skep die geleentheid vir hom om ‘n slagting onder die Filistyne aan te rig. Sy vrou se neulery laat hom die betekenis van die raaisel verklap, maar in die proses maak hy 30 ander Filistyne dood in die Filistynse stad Askelon, amper 32 km daarvandaan, om sy belofte van 3 stelle klere vir die 30 Filistynse gaste na te kom.

Hy skep in die proses ook ‘n verdere idioom wat deur die eeue gebruik is: “om met iemand anders se kalwers te ploeg”!

Die vrou se pa maak egter die fout om haar vir iemand anders te gee. Simson steek toe met ‘n klomp jakkalse (waarskynlik met strikke gevang) ‘n groot klomp miedens en graanlanderye, sowel as wingerde en olyfboorde, aan die brand.

Die Filistyne se moord op die pa en Simson se vrou gee hom rede om ‘n verdere groot slagting onder hulle aan te rig. Dit wil voorkom asof hy hulle bobene en heupe gebreek het met sy krag. Gewelddadig!

Hierdie deel van sy verhaal eindig in ‘n rotskloof by Etam in Juda se gebied.

God se soewereiniteit en ons wil

Let op in hierdie hoofstuk hoe God se wil – Hy wil die Filistyne straf – en Simson se wil – hy wil ‘n Filistynse meisie uit Timna as vrou neem – ooreenkom. Dit is hoe God se soewereiniteit werk. Hy werk sy wil uit in ons, selfs waar ons dink dat dit onafhanklik gedoen word. Dit is wel deeglik Simson wat optree, maar deur sy oog vir ‘n Filistynse meisie bewerk God sy wil.

Hoewel Simson se optrede dus heel uitsonderlik bly – hy is ‘n alleenloper, sonder ’n leërmag wat hom kan ondersteun, ’n onkeerbare onverbiddelike Terminator – word daar meer as met enige van die ander rigters gesê: die Gees van die Here het hom sterk gemaak (“kragtig op hom gekom” – sê die oorspronklike). God kies dus wie Hy wil, mense in wie Hy Sy heerlikheid en krag kan ten toon stel en gebruik hulle om wonderlike dinge te doen.

‘n Mens sien dit ook in die vreemde verhale van sy liefde en ontberinge met vroue, hier in Timna, later in Gasa en nog later in die Sorekvallei. Hoewel Simson sy lewe lank ’n nasireër was – dws hy het nie wyn en bier gedrink nie, hy het niks onreins geëet nie, en hy het nie sy hare ooit self geskeer nie – weet ons uit dié verhale dat sy luste onbeteueld was.

Hier in Timna kies hy nog vir die huwelik. Maar met die prostituut van Gasa en Delila van die Sorekvallei het hy nie eers daardie moeite gedoen nie. Maar, die Here het juis met hierdie swakheid van hom ‘n plan gehad.

Wat beteken ons moet versigtig oordeel. Telkens is dit weens die strik wat ‘n vrou vir hom stel, dat hy ‘n hele boel Filistyne kon vernietig. En dit is waarvoor God hom geroep het. Die Here het dus in en deur Simson se menswees die verlossing van Israel beplan. Dit is hoe God se soewereiniteit werk.

Simson uitgelewer aan die Filistyne deur die mense van Juda – Rigters 15:9-20

Sy eie mense draai egter teen Simson en lewer hom uit aan die Filistyne toe hulle verder by Legi in Judese gebied onder Filistynse strooptogte deurloop. 3 000 Jode moet Simson oorreed dat hulle hom vasgebind kan oorlewer.

Die nuwe toue was egter nie bestand teen die krag wat die Gees van die Here hom gee nie. Soos garingdraadjies het hy dit gebreek en met ‘n vars kakebeen van ‘n donkie ‘n 1 000 Filistyne afgemaai.

Daar is ‘n stukkie ironie in die vertaling verskuil, want die plek Legi se naam beteken in Hebreeus “kakebeen”. Geen wonder dat die plek die naam Kakebeenshoogte gekry het nie.

Simson lê hierdie slagting in die Jode se geheue vas met ‘n kort kwatryn (gedig met vier reëls): “Met die kakebeen van ’n donkie het ek ’n hopie van hulle gemaak, met die kakebeen van ’n donkie het ek duisend man doodgeslaan.” Sy vaardighede het dus taalvaardigheid ingesluit …

Vir die eerste keer hoor ons dat Simson die Here aanroep. Hy is dors. Hy is bang dat hy hier sal doodgaan, terwyl hy net besig was om sy werk te doen. Om ‘n 1 000 mense met ‘n donkie kakebeen dood te slaan, sal jou verseker ‘n groot dors gee. Maar, die Here sal mos nou nie só iets toelaat nie, dat hy nou van dors moet doodgaan, dan nie, is Simson se vraag?!

Die Here hoor hom en verhoor sy behoefte aan water. Hy gee vir hom water in ‘n holte by Legi. Dit word daarom ‘n fontein wat daarna Roepersfontein genoem is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Rigters


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda