Rigters 19-21 – Drie uitmergelende verhale

Een ding van die Bybel is dat dit beide die hoogtepunte van die geloofsgemeenskap as die laagtepunte daarvan vertel. Niks word met ‘n suiker lagie om vertel nie. Alles word ontbloot in die openbaring van God se pad met hierdie wêreld. Ook sy pad met die geloofsgemeenskap.

Hier in Rigters kry ons die uitnemende verhale van Otniël en Debora wat ‘n mens met verwondering en hoop vervul. Jy kry ook die uitdagende verhale van Gideon, Jefta en Simson wat soveel belofte toon, maar jou met gemengde gevoelens laat.

En dan is daar die uitmergelende verhale van Abimelek, Miga en die twee Leviete wat totale laagtepunte is, ‘n bespotting van alles wat heilig en goed is.

Waarom is dit so?

Omdat elke enkele verhaal in die Bybel vir ons as voorbeelde opgeteken is.

  1. Soms is dit om ons te leer om te hou binne die perke wat God vir ons gestel het (1 Kor 4:6).
  2. Soms is dit om ons te motiveer om geduld te beoefen as ons in lyding kom soos die profete en Job (Jak 5:10).
  3. Soms word die voorbeelde opgeteken: “dat ons ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie” (1 Kor 10:6).

Wees gewaarsku teen sondige begeertes

Die drie verhale wat ons nou gaan lees, val in hierdie laaste kategorie. Dit wil ons waarsku om versigtig te wees dat ons nie deur sondige begeertes gedryf word soos dié mense wat hier geteken word nie. ‘n Tema wat baie sterk verder gevoer word in die NT, veral in die briewe van Paulus.

Let op dat die vorige verhale van Miga – sy afgode en sy Leviet – en die mense van Dan wat beide die afgode en die Leviet steel vir hulleself ‘n noodsaaklike agtergrond verskaf vir die volgende verhale.

Die verhale illustreer vir ons dat dit is wanneer God nie as God gedien word nie, wanneer sy voorskrifte in terme van sy geopenbaarde wil – die Tôrâ op dié stadium – nie nagekom word nie, dat die lewe uiteindelik uitmekaar val.

Die afstand tussen God en mens raak doodgewoon te groot. Soos Jesaja alreeds met sy roeping besef het: “Wee my, ek is verlore! Want ek is ’n man onrein van lippe en woon onder ’n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!” (Jes 6:5).

Jesaja skryf later: “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.” (Jes 59:1-2).

Let verder op dat die boek Rigters afsluit met die opmerking: “elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë” (Rigt 21:25). Waar die Here nie gedien word soos Hy dit voorskryf nie, sal en kan jy nooit so ver kom om teenoor jou medemens op te tree soos Hy dit voorskryf nie.

Afgodery lei altyd tot onsedelikheid en anargie in onderlinge verhoudings

Paulus waarsku ons in Romeine 1 teen die sedelike verval wat kom van ‘n gebrek aan ‘n Godsbewussyn:

Omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange. Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer.” (Rom 1:21-24)

Die omgekeerde is natuurlik ook waar.

Onsedelikheid lei altyd tot afgodery en opstand in jou verhouding met God

Waar jy kies om God se voorskrifte vir die lewe nie na te kom nie word jou Godsbewussyn verduister en kan jy nie met die heilige God ‘n standvastige verhouding hê nie, soos Paulus in Galasiërs 5 waarsku:

Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.” (Gal 5:14-17).

Drie uitmergelende verhale

Ons lees nou die drie verhale. Ek plaas die eerste verhaal se bydrae reeds vandag, maar jy sou dit ook eers môre kon lees en die ander twee bydraes die twee dae daarna.

1. Die gruwelike verkragting – Rigters 19

Die eerste verhaal wat ons gaan lees, is dié van die Leviet wat sy byvrou op gruwelike wyse laat verkrag om sy eie bas van verkragting te red. Daar is letterlik niemand wat reg optree in dié verhaal nie. Die byvrou was ontrou; al die mans van Gibea wou die Leviet sodomiseer; die ou man bied sy dogter vir hulle aan; die Leviet laat sy byvrou in die steek; die manne van Gibea verkrag uiteindelik die vrou tot sy dood is. Net die ou man se gasvryheid het enige meriete, maar gegewe die uitkoms van die verhaal is dit ‘n skrale troos.

2. Die gruwelike burgeroorlog – Rigters 20

Die tweede verhaal wat ons gaan lees, is dié van die hele Israel (sonder Benjamin) wat bymekaar kom om die oortreders te straf, maar teëgestaan word deur die hele stam van Benjamin wat hulle met die oortreders assosieer. Hoe hulle dit oor hulle hart kon kry, gaan ‘n mens se verstand te bowe.

Die voortspruitende burgeroorlog verloop egter teen die verwagting in die Benjaminiete se guns, selfs al het die Israeliete in die teenwoordigheid van die Here bymekaar gekom en Hom geraadpleeg. Let op dat die Here nie vir die Israeliete oorwinning belowe het, vóór hulle nie in die regte verhouding met Hom gekom het nie. ‘n Mens sien Jesaja 59:1-2 eintlik geïllustreer in dié onverwagse struikelblok in hulle optrede teen die vergryp van hulle eie mense.

Dit is eers wanneer die held Pinehas – wat vroeër die toorn van die Here afgeweer het met die onsedelikheid en afgodediens in Sittim (Num 25) – op die toneel verskyn, hulle brandoffers en maaltydoffers bring, en die ark van die Here daar is wat die situasie verander en hulle die oorwinning behaal. Niemand kan oorwin met onversoende sonde in hulle lewe nie.

Terloops, die feit dat Pinehas genoem word, beteken ook dat dié verhale vroeg in die Rigterstyd plaasvind.

3. Die gruwelike ontvoering – Rigters 21

Die derde verhaal wat ons gaan lees, is dié van Israel wat ‘n ondeurdagte eed afgelê het dat hulle nooit van hulle dogters met Benjaminiete sal laat trou nie. Toe die stam Benjamin die gevaar loop om uit te sterf, moet hulle ‘n plan maak, sonder om hulle eed te verbreek, want hulle harte het tog nog gebloei vir die geloofsgemeenskap.

Die beste plan waarmee hulle egter vorendag kan kom, laat ‘n mens jou hande saam slaan, want jou deernis met mense moet jou nie verlei om dwase dinge aan te vang nie! Hulle plan is om vroue van Jabes in Gilead te gaan ontvoer – dié mense het nie saamgestaan teen Benjamin nie en word nou daarvoor gestraf. Hulle het nog nie geweet dat die doel nie die middele heilig nie.

En toe dít ook nog nie genoeg is nie, want daar was nog ‘n hele spul jongmans sonder vroue, laat hulle die Benjaminiete toe om by die jaarlikse fees in Silo vir hulle nog vroue te steel. Pa’s en broers word aangesê om hulle familie verpligting om die vrouens te beskerm te versaak, en hulle letterlik vir die wolwe te gooi. Jô! Watter belaglike en grusame oplossing.

Let op dat hulle in die teenwoordigheid van die Here sit en huil, maar Hom nie vra om ‘n oplossing nie. Hoe hartseer.

View all posts in this series

Rigters


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: