Skip to main content

Rigters 13 – Simson word as rigter gebore vir die vrou van Manoag

Ná die fokus op Jefta in sy stryd met die Ammoniete verskuif die fokus van die boek na Simson in sy stryd met die Filistyne, iets wat alreeds in Rigters 10:7 aangeraak is. Die tydperke kon natuurlik ook oorvleuel het, omdat Simson meer in Juda in die suide van die land optree en Jefta in Gilead in die noordooste.

Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Here gee hierdie keer Israel vir ’n baie langer tyd as vantevore in die hand van hulle vyande oor – 40 jaar lank. Die patroon van verval en straf herhaal hom dus weer.

Die vyand kom nie hierdie keer uit die ooste, soos by Jefta nie, maar uit die weste. Die Filistyne het wes van Kanaän, in die kusstrook by die Middellandse See tot by die grens met Egipte in die suide, gewoon, dit wat ons vandag as die Gasa strook ken.

Die Here roep hierdie keer iemand vóór die Israeliete so ver kom

Let op dat die normale patroon van die Israeliete wat “roep” nie hier gevolg word nie, maar dat die Here uit eie beweging na 40 jaar besluit om iets aan die situasie te doen. Hy roep die nuwe situasie in aanskyn.

Dit begin by die vrou van Manoag en haar man wat gebly het in Sora en uit die stam van Dan was. Hoewel Manoag se naam genoem word en nie dié van sy vrou nie, blyk dit van meet af aan dat sy die eintlike kontakpunt met die Here is.

Dié vrou is kinderloos. Die Engel van die Here verskyn aan haar, nie aan haar man nie, en belowe vir haar ‘n kind. Sy, die kinderlose, sal swanger word en haar skande sal weggeneem word. Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan die Engel se verskyning aan Maria in die NT, ook waar haar man Josef nie by haar is nie.

Interessant is dat hierdie vrou in fyn detail opdrag kry hoe sy moet lewe en hoe die kind moet lewe – totaal toegewy aan die Here. Die opdrag aan haar om nie wyn of bier te drink en niks onreins te eet nie, is in ooreenstemming met die gelofte van die Nasireërs (Numeri 6). Dieselfde sou geld vir Simson met die ekstra voorskrif om nie sy hare te skeer nie. Sy hare sou uiteindelik ‘n bepalende rol speel in die effek wat sy lewe as rigter op die konflik tussen Israel en die Filistyne wou hê.

Die gelofte kon tydelik of permanent wees. In Simson se geval was dit lewenslank, soos dit later ook met Samuel die geval was (1 Sam 1). Samuel se hare is dus ook nooit geskeer nie.

Sy vertel dié gebeure in detail vir haar man, wat onmiddellik bid dat die man van God weer sal verskyn aan hulle sodat hulle kan weet wat hulle moet doen met die kind. Sy vrou het hom vertel, maar hy wil dit self hoor.

Sy versoek word verhoor, maar die Engel verskyn nie direk aan hom nie, maar eers weer net aan die vrou. En as die vrou hom gaan haal, en Manoag die Engel vra hoe die kind moet lewe, dan verwys hy Manoag net na alles wat hy reeds vir die vrou gesê, en beklemtoon haar rol, eerder as dié van die kind.

Die Engel van die Here blyk God self te wees

Manoag wil gasvry wees en bied aan om ‘n bokkie gaar te maak, maar die Engel weier om daarvan te eet, en beveel aan dat dit as ‘n brandoffer – wat met sondevergifnis verbind word – vir die Here geoffer word.

Manoag is egter nuuskierig wie die engel regtig is, en vra die man se naam, want hy het nog nie regtig besef wat besig is om hier te gebeur nie.

Die Engel van die Here beskryf egter sy Naam as te “wonderlik” om uit te spreek. Die Hebreeuse woord “pěliʾyˆ” wat hier met “wonderlik” vertaal word, verbind hierdie Engel op ‘n subtiele wyse beide aan Jahwe self (Eks 15:11 – “Bewerker van wonderdade”) as aan die Messias (Jes 9:5 “Wonderbare Raadsman”).

Ook Jahwe se verordeninge is “wonderlik” (Ps 119:129) wat ‘n mens met nuwe oë na die Skrif, die Woord van God, behoort te laat kyk.

Manoag offer daarom ‘n bokkie, net soos Gideon vroeër. En net soos by Gideon eet die Engel nie van die vleis nie, maar laat ‘n vlam uit die altaar die bokkie verteer en styg op ‘n wonderbaarlike manier in die altaarvlam hemelwaarts.

Die praktiese wysheid en teenwoordigheid van gees van Manoag se vrou bly ‘n mens by

Die besef daag uiteindelik by Manoag op dat hy inderdaad met die Here self te doene gehad het. Dit is wonderlik om te sien met hoeveel teenwoordigheid van gees en doodgewone praktiese wysheid die vrou optree as hulle agterkom dat dit regtig die Here self was wat aan hulle verskyn het.

Op haar man se angstige voorspelling dat hulle nou sal doodgaan, omdat hulle die Here gesien het, sê sy net: die Here sou dan nie ons offer aanvaar het nie, die engel laat sien het, en boonop die wonderlike nuus van ‘n seun gegee het nie.

Die vrou noem haar seun Simson, “klein son”, ‘n voorafskaduwing van die lig wat hy vir Israel in hulle stryd met die Filistyne gebring het. Hoewel dit net ‘n tydelike verlossing sou wees, het dit getuig van die “groot son” wat later die Messias vir die wêreld sou word.

Soos Maleagi dit beskryf het: “Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.” (Mal 4:2).

Drie van die dissipels het ‘n voorsmakie hiervan in die Here Jesus se heerlikheid op die Berg van Verheerliking gesien: “Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.” (Matt 17: 2; vgl Openb 21:23; 22:5).

Trouens, Jesus self sê dat dit van ons waar sal word: “Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son. ‘Wie ore het, moet luister.’” (Matt 13:43).

En uit hierdie relatiewe eenvoudige gesin, ‘n man wat versigtig glo, en ‘n vrou wat, hoewel ons nie haar naam verneem nie, ‘n ongelooflike vertroue openbaar (sy vra geen vrae nie, aanvaar net wat die Here sê, presies soos Maria veel later) en op die koop toe uiters prakties kan dink, kom die seun Simson wat vir 20 jaar leier van sy volk sou wees.

Simson het groot geword en die Here het hom geseën en die Gees van die Here het hom begin lei, letterlik hom ge-”stir”! Die Filistyne sou die rimpeleffek hiervan vir 20 jaar aan hulle lyf moes trotseer.

 

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Rigters


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.