Rigters 21 – Die gruwelike ontvoering
Die derde verhaal wat ons lees in hierdie sage, is dié van Israel wat terug by Bet-El tot die aand toe in die teenwoordigheid van God sit en huil. Hulle kon dit net nie klein kry dat só ‘n geweldige tragedie hulle tref dat een van die stamme van Israel nou uitgewis is nie.
Met hulle brandoffers en maaltydoffers die volgende môre doen hulle versoening vir hulle sondes en vier hulle gemeenskap in die teenwoordigheid van die Here. Let egter op dat hulle in die teenwoordigheid van die Here sit en huil, offers vir Hom bring, maar Hom nie vra om ‘n oplossing nie. Hoe hartseer.
En dan tref dit hulle dat hulle nou eintlik met ‘n probleem sit, want hulle het ‘n ondeurdagte eed afgelê in die hitte van die stryd by Mispa dat hulle nooit van hulle dogters met Benjaminiete sal laat trou nie. Wat nou van die 600 jongmanne by die Rimmonrots?
Hulle het egter ook by Mispa ‘n eed afgelê dat die lede van die volk wat nie vir die oorlog teen Benjamin sou opdaag nie, doodgemaak sou word. Dit sou vir hulle nou die misplaaste motivering gee om ‘n besluit te kan misbruik tot hulle voordeel.
Hulle bring dié twee besluite by mekaar en besluit, sonder om hulle eed oor hulle dogters te verbreek, sal hulle vir Benjamin voorsien deur die ander eed na te kom, die een gemik teen, in hulle oë, die verraaiers van Jabes in Gilead.
Dat dit die beste plan is waarmee hulle vorendag kan kom, laat ‘n mens jou hande saam slaan, want jou deernis met een groep mense moet jou nie verlei om dwase dinge met ‘n ander groep mense aan te vang nie!
Hulle plan is om nou van die vroue van Jabes in Gilead te gaan ontvoer. Só sou hulle dié mense van Jabes straf wat nie saamgestaan het teen Benjamin nie en tegelykertyd voorsien vir die stam Benjamin deur hulle vroue te steel en vir die Benjaminiete te gee.
Hulle het nog nie geweet dat die doel nie die middele heilig nie … en 400 meisies word vir die 600 vlugtelinge by die Rimmonrots gevange geneem.
En toe dít ook nog nie genoeg is nie, want daar was nog 200 jongmans sonder vroue, laat hulle die Benjaminiete toe om by die jaarlikse fees in Silo, noord van Bet-El en oos van Sigem, vir hulle die res van die vroue te steel: “Gaan kruip weg in die wingerde en kyk mooi: wanneer die meisies van Silo uitkom om te dans, moet julle uit die wingerde opspring en elkeen moet vir hom ’n vrou gryp onder die meisies van Silo.”
Pa’s en broers word aangesê om hulle familie verpligting,die om hulle kinders te beskerm, te versaak, en die jong meisies letterlik vir die wolwe van Benjamin te gooi. Dit sou nie teen hulle gehou word nie. Jô! Watter belaglike en grusame oplossing.
Geen wonder die boek sluit af met die opmerking waarin die frustrasie van die skrywer ook gevoel word: “In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.” Inderdaad.
Dit sou ‘n Rut en ‘n Samuel kos om die Messiaanse geslag van Juda te herstel ná hierdie drie ongelooflik grusame verhale.
- Rut, ‘n Moabitiese weduwee wat met haar verbintenis aan die Here haar plek in die Godsvolk verkry en met Boas, die oupagrootjie van Dawid trou.
- Samuel, ‘n bobaas rigter wat van geboorte tot begrafnis nie net die volk verenig het onder die heerskappy van die Here nie, maar “die man na God se hart” as koning gesalf het, Dawid, die een uit wie die Messias gebore is.
Dit is dan ook die volgende twee boeke in die reeks: Rut en 1 en 2 Samuel.
Sela.
View all posts in this series
- Inleiding op die boek Rigters - February 22, 2018
- Rigters 1:1-2:5 – Die geduld en genade van die Here met die verval en verydeling van hierdie tyd - February 23, 2018
- Rigters 2:6-3:6 – Die volk vergeet die groot dade van die Here en verval in ongehoorsaamheid - February 26, 2018
- Rigters 3:7-31 – Otniël, Ehud en Samgar red en rig die volk - February 27, 2018
- Rigters 4 – Debora, die formidabele moeder in Israel - February 28, 2018
- Rigters 5 – Die lied van Debora en Barak - March 1, 2018
- Rigters 6 – Die Here se geduld met Gideon maak hom gereed as rigter - March 2, 2018
- Rigters 7 – Gideon oorwin die Midianiete met 300 man - March 5, 2018
- Rigters 8 – Gideon verhinder die Here se invloed deur politiekery, gierigheid en afgodery - March 6, 2018
- Rigters 9 – Die Here straf Abimelek vir al die onreg wat hy pleeg - March 7, 2018
- Rigters 10 – Tola en Jaïr lei Israel vir 45 jaar maar die Here raak onwillig om te red - March 8, 2018
- Rigters 11-12 – Die Gees verander Jefta van dapper held en militêre leier in ‘n rigter - March 9, 2018
- Rigters 13 – Simson word as rigter gebore vir die vrou van Manoag - March 12, 2018
- Rigters 14-15 – Simson word verraai deur Timna asook Juda, maar verlos telkens sy mense - March 13, 2018
- Rigters 16 – Simson word verraai deur Delila, maar vernietig die tempel van Dagon - March 14, 2018
- Rigters 17-18 – Miga illustreer die waarheid dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek - March 15, 2018
- Rigters 19-21 – Drie uitmergelende verhale - March 16, 2018
- Rigters 19 – Die gruwelike verkragting
- Rigters 20 – Die gruwelike burgeroorlog - March 19, 2018
- Rigters 21 – Die gruwelike ontvoering - March 20, 2018
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Ettienne
Hi Chris. Baie dankie net wat ek nodig het.
Groete Ettienne