Skip to main content

Psalm 92 – Groots is alles wat U doen, Here

‘n Lied vir die sabbatdag

Die titel val op – ”n Lied vir die sabbatdag” – die enigste Psalm in die Hebreeuse grondteks wat só ‘n titel het.

In die Griekse vertaling van die Psalms is daar egter sewe Psalms wat só aangedui word, in volgorde vir die “sabbatsweek” of “Fees van die weke”. Ons lees daarvan in Eks. 34:22, Deut. 16:10,16, Num. 28:26, en Lev. 23:15.  Dit is gehou sewe weke ná die Paasfees, wat gelei het daartoe dat die naam van “Pinkster” (die woord beteken “vyftig”) mettertyd aan dié fees gekoppel is.  Dit is natuurlik ook die dag wat die Heilige Gees in die NT tyd uitgestort is.

By dié feesgeleentheid is die sewe Psalms voorgeskryf: Psalm 24; 48; 82; 94; 81; 93; 92.  Ek gee hier die skakels na dié Psalms:

Kies dus gerus vir jou hierdie jaar ‘n week in Julie om jou eie “sabbatsweek” te hou en lees agtereenvolgens die sewe Psalms van Sondag tot Saterdag (tradisioneel die sabbatsdag). elke dag ‘n volgende een.  Volgende jaar kan jy dit miskien doelbewus in die Pinksterweek doen!

Sommige gemeentes en Christelike organisasies het ‘n gebruik om elke sewende week ‘n sabbatsweek te neem.  Dit beteken dat hulle vir ‘n week lank alle aand aktiwiteite van die gemeente staak.  Dié tyd word dan gebruik vir familie- en gesinstyd weg van die georganiseerde aktiwiteite van die gemeente, iets wat die leiers in gemeentes natuurlik ook nodig het!

Jy kan gerus ook self gereeld ‘n spesiale sabbatsdag as geloofsgewoonte hou om jou te herinner aan die ritme van rus en werk wat die Here vir ons bedoel het.  Hier is ‘n paar eenvoudige riglyne vir só ‘n dag:

  • Onthou: die gebruik van die sabbat is nie afhanklik van jou gereedheid om tot stilstand te kom nie.  Ons kom nie tot stilstand omdat ons klaar is met iets nie.  Ons doen dit omdat dit tyd is om tot stilstand te kom.  Die gebruik van die sabbat is God se gawe aan jou vir ‘n herhalende gereelde tyd van rus, sodat jy Hom en jou mense kan geniet.  Dit is ‘n tyd van wees, nie ‘n tyd van doen nie.
  • Gebruik die tyd om op intieme wyse met God en jou mense te verkeer.  Gaan stap, hou ‘n piekniek, gaan kuier by vriende, skakel af van telefone en Internet gebaseerde kommunikasie, sit jou “to-do”-lysie weg tot die volgende dag.

Jy kan ook meer lees oor die sabbat in my bydrae oor Jesaja 56-57.

Indeling

Die Psalm kan in vier dele opgedeel word:

  • Vers 2-8 – ‘n Danklied: “Dit is goed om die Here te loof (dank – 2014 vertaling).”
  • Vers 9-10 – ‘n Belydenis: “Almal wat onreg doen, sal vernietig word.”
  • Vers 11-12 – ‘n Vertrouenslied:Maar vir my gee U krag soos dié van ‘n buffel.”
  • Vers 13-16 – ‘n Verwagtingslied:Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome.”

Weereens gee dié indeling ‘n mens ‘n handige struktuur vir jou eie gebede: dank, belydenis, vertroue, verwagting.

Dank: “Dit is goed om die Here te loof”  – vers 2-8

Daar is min dinge wat ‘n mens meer bewus maak van die teenwoordigheid van die Here as om in lofprysing en danksegging voor die Here te verkeer. Die woordjie loof in die 1983 vertaling is een manier om die Hebreeuse woord yā∙ḏā(h) te vertaal.  Die 2014 vertaling het dank  en dit kan ook bely beteken, hoewel dit dan gewoonlik met negatiewe sake geassosieer word.  In die konteks beteken die woord dus loof of dank.

Die fokus is op God se liefde en trou, sy groot dade en alles wat Hy gedoen het.  Trouens: “ Groots is alles wat U doen, Here, ondeurgrondelik u gedagtes.”  Wie dit nie besef nie, is onnosel. Wie dit nie insien nie, het geen insig nie.  Sulke mense sal daarom uitgewis word, al lyk dit asof hulle voorspoedig is (onthou Ps. 73!).

Let op hoe die Psalmis hierdie lof en dank met musiek voor die Here bring, met snaarinstrumente (‘n tiensnarige instrument word waarskynlik bedoel), harpe en liere.  Dit is dus bedoel vir die volle vergadering van die geloofsgemeenskap.

Belydenis: “Almal wat onreg doen, sal vernietig word” – vers 9-10

Die lof en dank lei onvermydelik tot ‘n belydenis dat God se koningskap vir ewig is en dat Hy dit sal bewys in die feit dat onreg en dié wat onreg pleeg, God se vyande, uitgewis sal word.

Vertroue: “Maar vir my gee U krag soos dié van ‘n buffel” – vers 11-12

Daarteenoor staan die gelowiges wat kan getuig dat hulle krag het soos dié van ‘n buffel, dat God hulle toelaat om deel te hê aan die oorwinning oor Sy vyande, wat ook die gelowiges se teëstanders is.  Vir hulle hoef gelowiges dus nie in vrees te lewe nie.  Hulle dreigemente sal tot niks kom nie.

Verwagting: “Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome.” – vers 13-16

Omdat die vertroue in God deur hulle ervaring bevestig word (vers 11-12), kan die Psalmis dus ook die verwagting en hoop uitspreek dat dit in die toekoms ook só sal wees.  Hy gebruik die twee metafore van die krag van die palmbome sowel as die hoë seders van Libanon om hulle oorlewing en lewenskrag te beskryf.  Omdat hulle die Here ken, sal hulle selfs in hulle ouderdom nog toeneem in krag, sodat ook dié getuienis sal laat blyk dat die Here regverdig is.  Hy bly vir ons die onbeweeglike rots.

Die boodskap van die Psalm

Die wonder van Psalm 92 lê aan die een kant in die struktuur wat dit vir ons gebede gee: dank, belydenis, vertroue, en verwagting.  Dit is ‘n gebedsmodel wat soveel sin maak vir ons gebedslewe.

Aan die ander kant is dit die hoof Psalm vir die sabbatsweek (die fees van die weke) wat saamval met ons Pinksterweek.  Dit herinner my dus daaraan om 1) tot rus te kom in die wete van God se liefde en trou, 2) om sy groot dade in herinnering te roep, 3) om my vertroue in Hom te bely en ook 4) my verwagting van sy regverdigheid uit te spreek.

Groots is alles wat U doen, Here!”  Inderdaad.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms, Sabbat


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders