Psalm 92 – Groots is alles wat U doen, Here

‘n Lied vir die sabbatdag

Die titel val op – ”n Lied vir die sabbatdag” – die enigste Psalm in die Hebreeuse grondteks wat só ‘n titel het.

In die Griekse vertaling van die Psalms is daar egter sewe Psalms wat só aangedui word, in volgorde vir die “sabbatsweek” of “Fees van die weke”. Ons lees daarvan in Eks. 34:22, Deut. 16:10,16, Num. 28:26, en Lev. 23:15.  Dit is gehou sewe weke ná die Paasfees, wat gelei het daartoe dat die naam van “Pinkster” (die woord beteken “vyftig”) mettertyd aan dié fees gekoppel is.  Dit is natuurlik ook die dag wat die Heilige Gees in die NT tyd uitgestort is.

By dié feesgeleentheid is die sewe Psalms voorgeskryf: Psalm 24; 48; 82; 94; 81; 93; 92.  Ek gee hier die skakels na dié Psalms:

Kies dus gerus vir jou hierdie jaar ‘n week in Julie om jou eie “sabbatsweek” te hou en lees agtereenvolgens die sewe Psalms van Sondag tot Saterdag (tradisioneel die sabbatsdag). elke dag ‘n volgende een.  Volgende jaar kan jy dit miskien doelbewus in die Pinksterweek doen!

Sommige gemeentes en Christelike organisasies het ‘n gebruik om elke sewende week ‘n sabbatsweek te neem.  Dit beteken dat hulle vir ‘n week lank alle aand aktiwiteite van die gemeente staak.  Dié tyd word dan gebruik vir familie- en gesinstyd weg van die georganiseerde aktiwiteite van die gemeente, iets wat die leiers in gemeentes natuurlik ook nodig het!

Jy kan gerus ook self gereeld ‘n spesiale sabbatsdag as geloofsgewoonte hou om jou te herinner aan die ritme van rus en werk wat die Here vir ons bedoel het.  Hier is ‘n paar eenvoudige riglyne vir só ‘n dag:

  • Onthou: die gebruik van die sabbat is nie afhanklik van jou gereedheid om tot stilstand te kom nie.  Ons kom nie tot stilstand omdat ons klaar is met iets nie.  Ons doen dit omdat dit tyd is om tot stilstand te kom.  Die gebruik van die sabbat is God se gawe aan jou vir ‘n herhalende gereelde tyd van rus, sodat jy Hom en jou mense kan geniet.  Dit is ‘n tyd van wees, nie ‘n tyd van doen nie.
  • Gebruik die tyd om op intieme wyse met God en jou mense te verkeer.  Gaan stap, hou ‘n piekniek, gaan kuier by vriende, skakel af van telefone en Internet gebaseerde kommunikasie, sit jou “to-do”-lysie weg tot die volgende dag.

Jy kan ook meer lees oor die sabbat in my bydrae oor Jesaja 56-57.

Indeling

Die Psalm kan in vier dele opgedeel word:

  • Vers 2-8 – ‘n Danklied: “Dit is goed om die Here te loof (dank – 2014 vertaling).”
  • Vers 9-10 – ‘n Belydenis: “Almal wat onreg doen, sal vernietig word.”
  • Vers 11-12 – ‘n Vertrouenslied:Maar vir my gee U krag soos dié van ‘n buffel.”
  • Vers 13-16 – ‘n Verwagtingslied:Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome.”

Weereens gee dié indeling ‘n mens ‘n handige struktuur vir jou eie gebede: dank, belydenis, vertroue, verwagting.

Dank: “Dit is goed om die Here te loof”  – vers 2-8

Daar is min dinge wat ‘n mens meer bewus maak van die teenwoordigheid van die Here as om in lofprysing en danksegging voor die Here te verkeer. Die woordjie loof in die 1983 vertaling is een manier om die Hebreeuse woord yā∙ḏā(h) te vertaal.  Die 2014 vertaling het dank  en dit kan ook bely beteken, hoewel dit dan gewoonlik met negatiewe sake geassosieer word.  In die konteks beteken die woord dus loof of dank.

Die fokus is op God se liefde en trou, sy groot dade en alles wat Hy gedoen het.  Trouens: “ Groots is alles wat U doen, Here, ondeurgrondelik u gedagtes.”  Wie dit nie besef nie, is onnosel. Wie dit nie insien nie, het geen insig nie.  Sulke mense sal daarom uitgewis word, al lyk dit asof hulle voorspoedig is (onthou Ps. 73!).

Let op hoe die Psalmis hierdie lof en dank met musiek voor die Here bring, met snaarinstrumente (‘n tiensnarige instrument word waarskynlik bedoel), harpe en liere.  Dit is dus bedoel vir die volle vergadering van die geloofsgemeenskap.

Belydenis: “Almal wat onreg doen, sal vernietig word” – vers 9-10

Die lof en dank lei onvermydelik tot ‘n belydenis dat God se koningskap vir ewig is en dat Hy dit sal bewys in die feit dat onreg en dié wat onreg pleeg, God se vyande, uitgewis sal word.

Vertroue: “Maar vir my gee U krag soos dié van ‘n buffel” – vers 11-12

Daarteenoor staan die gelowiges wat kan getuig dat hulle krag het soos dié van ‘n buffel, dat God hulle toelaat om deel te hê aan die oorwinning oor Sy vyande, wat ook die gelowiges se teëstanders is.  Vir hulle hoef gelowiges dus nie in vrees te lewe nie.  Hulle dreigemente sal tot niks kom nie.

Verwagting: “Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome.” – vers 13-16

Omdat die vertroue in God deur hulle ervaring bevestig word (vers 11-12), kan die Psalmis dus ook die verwagting en hoop uitspreek dat dit in die toekoms ook só sal wees.  Hy gebruik die twee metafore van die krag van die palmbome sowel as die hoë seders van Libanon om hulle oorlewing en lewenskrag te beskryf.  Omdat hulle die Here ken, sal hulle selfs in hulle ouderdom nog toeneem in krag, sodat ook dié getuienis sal laat blyk dat die Here regverdig is.  Hy bly vir ons die onbeweeglike rots.

Die boodskap van die Psalm

Die wonder van Psalm 92 lê aan die een kant in die struktuur wat dit vir ons gebede gee: dank, belydenis, vertroue, en verwagting.  Dit is ‘n gebedsmodel wat soveel sin maak vir ons gebedslewe.

Aan die ander kant is dit die hoof Psalm vir die sabbatsweek (die fees van die weke) wat saamval met ons Pinksterweek.  Dit herinner my dus daaraan om 1) tot rus te kom in die wete van God se liefde en trou, 2) om sy groot dade in herinnering te roep, 3) om my vertroue in Hom te bely en ook 4) my verwagting van sy regverdigheid uit te spreek.

Groots is alles wat U doen, Here!”  Inderdaad.

Psalms, Sabbat


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: