Skip to main content

Psalm 97 – Verbly julle, liefhebbers van die Here

Die Psalm kan in twee dele verdeel word:

  • U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde” – vers 1–9
  • Verbly julle in die Here, regverdiges” – vers 10–12

“U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde” – vers 1–9

Die Here se koningskap word op twee maniere beskryf.  Dit word eerstens in metaforiese terme as ’n kosmiese gebeure geteken: die aarde juig, die afgeleë eilande is bly, wolke en duisternis omring Hom, vuur gaan voor Hom uit en verbrand sy teenstanders, Sy weerligstrale verlig die wêreld, die aarde “sien dit” en sidder, en die berge smelt soos was voor Hom.  Die inhoud van hierdie lofprysing van die heelal is die reg en geregtigheid waarmee God regeer.  ’n Mens hoor hierin die vroeëre verskynings van die Here in soortgelyke omstandighede by Sinaiberg in die tyd van Moses (Eksodus 19) en op effens gewysigde manier by Horebberg in die tyd van Elia (1 Konings 19 – die Here was juis nie in die sterk wind, aardbewing of vuur nie, maar in die “fluistering in die windstilte”).

Die Here se koningskap word tweedens steeds op metaforiese wyse as ’n kommunikasie gebeure geteken: die hemele verkondig sy geregtigheid sodat al die volke Sy Majesteit kan sien (vgl. Ps. 19: God bestaan en God praat met ons).

Hierdie getuienis oor God het twee uitkomste.  Aan die eenkant staan almal wat afgodsbeelde dien, beskaamd, want dié afgode moet in aanbidding voor Hom buig (vers 7b)!  Aan die ander kant hoor die Godstad, Jerusalem, met sy tempel op die Sionsberg, sowel as die “dogters van Juda” (=stede van Juda) dit en het ’n groot blydskap en juig oor God se posisie as die Allerhoogste oor die hele aarde wat ver verhewe is bo alle gode.

“Verbly julle in die Here, regverdiges” – vers 10–12

Omdat God se koningskap nie net kosmies gedemonstreer word nie, maar inderdaad ook aan mense gekommunikeer word, kan die gelowiges hulle in die Here verbly.  Hulle word nie net as regverdiges en troue dienaars (dissipels of “volgelinge” – 2014 vertaling) geteken nie, maar as “liefhebbers van die Here” (1933 vertaling – “Lovers of Jahwe” soos in verskeie Engelse vertalings).  Dit is mense wat hulle aktief beywer om met God geassosieer te word, om met Hom in verhouding te lewe, wat Hom liefhet bo alles.

Dié liefhebbers van die Here word bemoedig om nie net die Here lief te hê nie, maar ook die slegte en die kwade te haat in die wete dat God die lewe van sy troue volgelinge beskerm en hulle uit die hand van goddelose mense sal red.  Dit is ook die raad van die Wysheid in Spreuke 8 waaroor ek vroeër die volgende geskryf het:

  • “Aan die een kant begelei die Wysheid jou tot die haat van ‘n verkeerde lewe, hoogmoed, hovaardigheid, en slinkse woorde (8:13).
  • Aan die ander kant begelei die Wysheid jou om paraat te wees om sukses te kan behaal (8:14), en veral lief te wees om mag en gesag op die regte manier uit te oefen (8:15-16).”

Lees meer daaroor by hierdie skakel: Spreuke 8:1-36 – Die Wysheid laat jou regtig leef.  Jy kan ook die hele Spreuke in eboek formaat by hierdie skakel aanskaf: Spreuke – lees, luister, leef (ePub).

Met die pragtige metafoor van God wat as’t ware die lig vir regverdiges aansteek, word die vreugde van dié wat met opregtheid God lief het, geteken.  Hulle kan inderdaad hulle in die Here verbly en sy heilige, gevierde Naam loof.

Die boodskap van die Psalm

Liefhebbers van die Here”!  Dit is ‘n wonderlike beskrywing van die regverdiges, dié wat in opregtheid hulleself aan die Here verbind, dié wat Hom getrou navolg en sy dissipels is.  Maak nie saak waar ’n mens jouself dus bevind op hierdie wêreld nie, selfs al is dit op ’n ver afgeleë eiland, dáár kan jy ’n liefhebber van die Here wees en jou verlustig in sy heerskappy!

Dit is hierdie beskrywing van Psalm 97 wat ek ook graag op myself van toepassing wil maak: “Liefhebbers van die Here”. Dit is wie ek is, en só wil ek bekend staan. Om die waarheid te sê, dit is hoe ek graag wil hê die Here aan my moet dink.  En skielik staan ek op heilige grond …


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…