Psalm 97 – Verbly julle, liefhebbers van die Here

Die Psalm kan in twee dele verdeel word:

  • U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde” – vers 1–9
  • Verbly julle in die Here, regverdiges” – vers 10–12

“U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde” – vers 1–9

Die Here se koningskap word op twee maniere beskryf.  Dit word eerstens in metaforiese terme as ’n kosmiese gebeure geteken: die aarde juig, die afgeleë eilande is bly, wolke en duisternis omring Hom, vuur gaan voor Hom uit en verbrand sy teenstanders, Sy weerligstrale verlig die wêreld, die aarde “sien dit” en sidder, en die berge smelt soos was voor Hom.  Die inhoud van hierdie lofprysing van die heelal is die reg en geregtigheid waarmee God regeer.  ’n Mens hoor hierin die vroeëre verskynings van die Here in soortgelyke omstandighede by Sinaiberg in die tyd van Moses (Eksodus 19) en op effens gewysigde manier by Horebberg in die tyd van Elia (1 Konings 19 – die Here was juis nie in die sterk wind, aardbewing of vuur nie, maar in die “fluistering in die windstilte”).

Die Here se koningskap word tweedens steeds op metaforiese wyse as ’n kommunikasie gebeure geteken: die hemele verkondig sy geregtigheid sodat al die volke Sy Majesteit kan sien (vgl. Ps. 19: God bestaan en God praat met ons).

Hierdie getuienis oor God het twee uitkomste.  Aan die eenkant staan almal wat afgodsbeelde dien, beskaamd, want dié afgode moet in aanbidding voor Hom buig (vers 7b)!  Aan die ander kant hoor die Godstad, Jerusalem, met sy tempel op die Sionsberg, sowel as die “dogters van Juda” (=stede van Juda) dit en het ’n groot blydskap en juig oor God se posisie as die Allerhoogste oor die hele aarde wat ver verhewe is bo alle gode.

“Verbly julle in die Here, regverdiges” – vers 10–12

Omdat God se koningskap nie net kosmies gedemonstreer word nie, maar inderdaad ook aan mense gekommunikeer word, kan die gelowiges hulle in die Here verbly.  Hulle word nie net as regverdiges en troue dienaars (dissipels of “volgelinge” – 2014 vertaling) geteken nie, maar as “liefhebbers van die Here” (1933 vertaling – “Lovers of Jahwe” soos in verskeie Engelse vertalings).  Dit is mense wat hulle aktief beywer om met God geassosieer te word, om met Hom in verhouding te lewe, wat Hom liefhet bo alles.

Dié liefhebbers van die Here word bemoedig om nie net die Here lief te hê nie, maar ook die slegte en die kwade te haat in die wete dat God die lewe van sy troue volgelinge beskerm en hulle uit die hand van goddelose mense sal red.  Dit is ook die raad van die Wysheid in Spreuke 8 waaroor ek vroeër die volgende geskryf het:

  • “Aan die een kant begelei die Wysheid jou tot die haat van ‘n verkeerde lewe, hoogmoed, hovaardigheid, en slinkse woorde (8:13).
  • Aan die ander kant begelei die Wysheid jou om paraat te wees om sukses te kan behaal (8:14), en veral lief te wees om mag en gesag op die regte manier uit te oefen (8:15-16).”

Lees meer daaroor by hierdie skakel: Spreuke 8:1-36 – Die Wysheid laat jou regtig leef.  Jy kan ook die hele Spreuke in eboek formaat by hierdie skakel aanskaf: Spreuke – lees, luister, leef (ePub).

Met die pragtige metafoor van God wat as’t ware die lig vir regverdiges aansteek, word die vreugde van dié wat met opregtheid God lief het, geteken.  Hulle kan inderdaad hulle in die Here verbly en sy heilige, gevierde Naam loof.

Die boodskap van die Psalm

Liefhebbers van die Here”!  Dit is ‘n wonderlike beskrywing van die regverdiges, dié wat in opregtheid hulleself aan die Here verbind, dié wat Hom getrou navolg en sy dissipels is.  Maak nie saak waar ’n mens jouself dus bevind op hierdie wêreld nie, selfs al is dit op ’n ver afgeleë eiland, dáár kan jy ’n liefhebber van die Here wees en jou verlustig in sy heerskappy!

Dit is hierdie beskrywing van Psalm 97 wat ek ook graag op myself van toepassing wil maak: “Liefhebbers van die Here”. Dit is wie ek is, en só wil ek bekend staan. Om die waarheid te sê, dit is hoe ek graag wil hê die Here aan my moet dink.  En skielik staan ek op heilige grond …

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: