Skip to main content

Psalm 96 – Sing en getuig tot eer van die Regeerder en Regter van die aarde

Psalm 96–100 fokus baie spesifiek op die koningskap van die Here, iets wat nie net geld vir sy volk in terme van die verbond nie, maar vir almal op die aarde, omdat Sy heerskappy ook ’n universele betekenis het.

Die Psalm het twee duidelike dele:

  • Sing en getuig tot eer van die God van die gode – vers 1–6
  • Prys die Regeerder en Regter van die aarde – vers 7–13

Sing en getuig tot eer van die God van die gode – vers 1–6

Let op hoe God se reddingsdade in die geskiedenis sowel as sy skeppingsmag in terme van die heelal as motivering vir die lof aan Hom beskryf word.  Dit is die diepste motivering vir die getuienis aan alle mense op die aarde.  Dit is ook waarom almal opgeroep kan word om Hom te loof en prys en van Hom te getuig.

Vier keer word almal op die aarde in vers 1–2 opgeroep om ’n nuwe lied tot eer van God te sing/prys, en dan word dit aangevul met ’n oproep om God se reddingsdade te verkondig, en Sy Majesteit onder die nasies bekend te maak (2014 vertaling – 1983 het “vertel die nasies van sy mag”).  Dit is direkte opdragte wat God gee aan dié wat Sy naam oor hulle lippe neem, dié wat bely dat hulle aan Hom behoort.  Lofprysing en getuienis gaan saam.  Dit is twee kante van dieselfde munt.

In vergelyking met God is die gode van die volke niks nie, want God troon bó hulle uit in terme van sy skeppingsmag en Sy Majesteit, luister, krag en die glans van sy teenwoordigheid wat die heiligdom in Jerusalem vervul.

Prys die Regeerder en Regter van die aarde – vers 7–13

Daarom word almal wat op die aarde woon, letterlik “families van volke” (vers 7) opgeroep om die Here te erken, aan Hom dankoffers te bring (vers 8) en in aanbidding voor Hom te buig (vers 9) en oral te getuig van sy teenwoordigheid en heerskappy (vers 10).  Die “families van volke” dui op die subverdelings in nasies, die “tribes” of subgroepe wat daar in elke samelewing voorkom.  Hulle word daarom as sodanig erken, maar ook opgeroep om saam die Here te dien.

Let op hoe drie belangrike konsepte in vers 10 gebruik word om God se karakter en betekenis te teken: sy soewereiniteit (regeer), stabiliteit (“die wêreld staan vas”) en billikheid (“regverdig oordeel”).

Hierdie beskrywing van God het nie net betekenis vir die mense op aarde nie, maar ook vir die hele heelal.  Daarom word die hemele en die aarde, die see en alles daarin, die veld en alles daarop, selfs die bome in die bos opgeroep om hulle in God te verheug, want Hy is op pad om sy heerskappy te vestig sodat daar inderdaad stabiliteit, regverdigheid en billikheid op aarde sal wees.

Psalm 96 in 1 Kronieke 16

Ons tref Psalm 96 in sy geheel ook aan in 1 Kron. 16 waar dit as ’n keurspel van lofliedere – saam met dele uit Psalm 105 en 106 – gebruik word in die feesviering met die tuiskoms van die ark in Jerusalem in die tyd van Dawid.  Die Kronis gebruik ‘n deel van die verhaal in 2 Samuel 6 daarvoor en voeg daarby ‘n keurspel uit die drie Psalms (in hierdie volgorde: Ps. 105:1–15; 96:1–13; 106:47–48) met die titel “Loof die Here”, wat Dawid vir Asaf en sy ampsgenote die eerste keer laat uitvoer het by die geleentheid.

Lees hier meer wat ek vroeër daaroor geskryf het: 1 Kronieke 16-17 – Dawid vier die tuiskoms van die ark en ontvang omvattende seën van God.

Boodskap van die Psalm

Psalm 96 roep die volk van die Here, trouens alle mense, op om die Here te prys.  Hoekom?  Want Hy kom om oor die hele aarde te heers. Die motivering daarvoor word in sy skeppingswerk sowel as sy reddingsdade in die geskiedenis gevind.  Dít, sê die Psalmis, moet aan al die nasies verkondig word  sodat hulle hulle eie gode, wat in elk geval nie gode is nie, kan verlaat en ook van God se onwankelbare koningskap kan sing.  Dié God is aan die kom om oor die aarde te heers met regverdigheid en billikheid, en Israel se getuienis moet die pad vir God onder die nasies gereed maak.

Ek juig ook vandag oor God se regverdigheid en billikheid, en ek bid dat Hy sal kom om oor die aarde te heers, soos Hy hier in vers 13 belowe.  En dit is iets wat ek saam met die kerk aan alle mense wil verkondig.  Saam met die Gees en die bruid, roep ek in die woorde van Openbaring 22:17 aan almal uit:  “’Kom!’  En laat elkeen wat luister, sê: ‘Kom!’  En laat elkeen wat dors het, kom.  En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kry, verniet!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda