Psalm 96 – Sing en getuig tot eer van die Regeerder en Regter van die aarde

Psalm 96–100 fokus baie spesifiek op die koningskap van die Here, iets wat nie net geld vir sy volk in terme van die verbond nie, maar vir almal op die aarde, omdat Sy heerskappy ook ’n universele betekenis het.

Die Psalm het twee duidelike dele:

  • Sing en getuig tot eer van die God van die gode – vers 1–6
  • Prys die Regeerder en Regter van die aarde – vers 7–13

Sing en getuig tot eer van die God van die gode – vers 1–6

Let op hoe God se reddingsdade in die geskiedenis sowel as sy skeppingsmag in terme van die heelal as motivering vir die lof aan Hom beskryf word.  Dit is die diepste motivering vir die getuienis aan alle mense op die aarde.  Dit is ook waarom almal opgeroep kan word om Hom te loof en prys en van Hom te getuig.

Vier keer word almal op die aarde in vers 1–2 opgeroep om ’n nuwe lied tot eer van God te sing/prys, en dan word dit aangevul met ’n oproep om God se reddingsdade te verkondig, en Sy Majesteit onder die nasies bekend te maak (2014 vertaling – 1983 het “vertel die nasies van sy mag”).  Dit is direkte opdragte wat God gee aan dié wat Sy naam oor hulle lippe neem, dié wat bely dat hulle aan Hom behoort.  Lofprysing en getuienis gaan saam.  Dit is twee kante van dieselfde munt.

In vergelyking met God is die gode van die volke niks nie, want God troon bó hulle uit in terme van sy skeppingsmag en Sy Majesteit, luister, krag en die glans van sy teenwoordigheid wat die heiligdom in Jerusalem vervul.

Prys die Regeerder en Regter van die aarde – vers 7–13

Daarom word almal wat op die aarde woon, letterlik “families van volke” (vers 7) opgeroep om die Here te erken, aan Hom dankoffers te bring (vers 8) en in aanbidding voor Hom te buig (vers 9) en oral te getuig van sy teenwoordigheid en heerskappy (vers 10).  Die “families van volke” dui op die subverdelings in nasies, die “tribes” of subgroepe wat daar in elke samelewing voorkom.  Hulle word daarom as sodanig erken, maar ook opgeroep om saam die Here te dien.

Let op hoe drie belangrike konsepte in vers 10 gebruik word om God se karakter en betekenis te teken: sy soewereiniteit (regeer), stabiliteit (“die wêreld staan vas”) en billikheid (“regverdig oordeel”).

Hierdie beskrywing van God het nie net betekenis vir die mense op aarde nie, maar ook vir die hele heelal.  Daarom word die hemele en die aarde, die see en alles daarin, die veld en alles daarop, selfs die bome in die bos opgeroep om hulle in God te verheug, want Hy is op pad om sy heerskappy te vestig sodat daar inderdaad stabiliteit, regverdigheid en billikheid op aarde sal wees.

Psalm 96 in 1 Kronieke 16

Ons tref Psalm 96 in sy geheel ook aan in 1 Kron. 16 waar dit as ’n keurspel van lofliedere – saam met dele uit Psalm 105 en 106 – gebruik word in die feesviering met die tuiskoms van die ark in Jerusalem in die tyd van Dawid.  Die Kronis gebruik ‘n deel van die verhaal in 2 Samuel 6 daarvoor en voeg daarby ‘n keurspel uit die drie Psalms (in hierdie volgorde: Ps. 105:1–15; 96:1–13; 106:47–48) met die titel “Loof die Here”, wat Dawid vir Asaf en sy ampsgenote die eerste keer laat uitvoer het by die geleentheid.

Lees hier meer wat ek vroeër daaroor geskryf het: 1 Kronieke 16-17 – Dawid vier die tuiskoms van die ark en ontvang omvattende seën van God.

Boodskap van die Psalm

Psalm 96 roep die volk van die Here, trouens alle mense, op om die Here te prys.  Hoekom?  Want Hy kom om oor die hele aarde te heers. Die motivering daarvoor word in sy skeppingswerk sowel as sy reddingsdade in die geskiedenis gevind.  Dít, sê die Psalmis, moet aan al die nasies verkondig word  sodat hulle hulle eie gode, wat in elk geval nie gode is nie, kan verlaat en ook van God se onwankelbare koningskap kan sing.  Dié God is aan die kom om oor die aarde te heers met regverdigheid en billikheid, en Israel se getuienis moet die pad vir God onder die nasies gereed maak.

Ek juig ook vandag oor God se regverdigheid en billikheid, en ek bid dat Hy sal kom om oor die aarde te heers, soos Hy hier in vers 13 belowe.  En dit is iets wat ek saam met die kerk aan alle mense wil verkondig.  Saam met die Gees en die bruid, roep ek in die woorde van Openbaring 22:17 aan almal uit:  “’Kom!’  En laat elkeen wat luister, sê: ‘Kom!’  En laat elkeen wat dors het, kom.  En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kry, verniet!

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d