Skip to main content

Psalm 101 – Ek wil my daaraan wy om met integriteit te lewe

Psalm 101 besing God se troue liefde en sy geregtigheid (vers 1) wat as standaard dien vir die koning se persoonlike lewe (vers 2–5a), sowel as vir dié wat diens doen in die amptenary (vers 5b–8).  Daardeur sal die ganse lewe integriteit uitstraal.

Ek wil my daaraan wy om opreg te lewe – vers 2–5a

Vers 2 se tweede sin kan op verskillende maniere vertaal word, wat ’n groot impak op ’n mens se verstaan van die boodskap van die Psalm het.  In die 1983 vertaling word dit vertaal as: “Wanneer kom U na my toe?” Dit beteken dat die Psalm eintlik ’n soort klaaglied word waarin die Psalmis sy vashou aan die Here uitspel as oproep om God se optrede.

Hoewel dit ’n geldige manier van vertaling en verklaring is, kan die voornaamwoord “U” ook as “dit” vertaal word, wat die sin soos volg laat lui: “Wanneer sal dit na my kom? ” of soos die 2014 vertaling dit doen: “Wanneer sal ek dit bereik?” (In Engels: “When shall I attain it?” – New Revised Version).  Dan word die Psalm ’n toewydingslied waarin die Psalmis hom toewy aan spesifieke persoonlike en publieke houdings, gedrag en optredes om die pad van integriteit te vind.

In laasgenoemde geval beteken dit dat die Psalmis met alles in hom mik vir ’n lewe van integriteit en smag daarna om dit te bereik.  Hoekom?  Want God se troue liefde en geregtigheid het die koning (Dawid) só geïnspireer, dat hy hom volledig wil toespits op ’n onberispelike lewenswyse.  Hy wil die pad van integriteit bewandel.  Hy wil daarom met ’n opregte hart leef in sy paleis.  Dit sluit in dat hy slegte dinge nie voor sy oë verdra nie, dat hy ’n weersin het in die pleeg van wandade, sodat dit nie ’n houvas op hom kry nie: “dit mag nie aan my kleef nie.” (vers 3 – 2014 vertaling).

Hy weet ook dat dié uiterlike lewenswyse van ’n hart kom wat innerlik niks met valsheid te doene wil hê nie, en wat niks van boosheid te make wil hê nie (vers 4).  Sy onberispelikheid (integriteit) sal ook ’n verdere sosiale dimensie moet insluit deurdat hy selfs dié wat ’n vriend (naaste) in die geheim belaster, wil uitwis (vers 5a).

Wanneer sal ek dit bereik?”  Hy gee sy eie antwoord: wanneer ek my met opregtheid wy daaraan om met integriteit te lewe.

Ek kies as my amptenare dié in die land wat op God vertrou – vers 5b–8

Maar, die persoonlike lewe kan ook net só ver bykom.  Daar is ook publieke keuses wat gemaak moet word om die lewe van integriteit moontlik te maak.  Daarom neem die Psalmis hom voor om vermetelheid (trotse oë – 2014 vertaling)  en hoogmoed (hoogmoedige hart – 2014 vertaling) nie te verdra nie, en op die uitkyk te bly vir amptenare wat betroubaar is, sodat dié die koning in sy innerlike verknogtheid aan integriteit kan ondersteun.  Allen praat van “circles of integrity” (Word kommentaar reeks).

Net dié wat self ’n onberispelike lewenswyse handhaaf, kan regtig die koning ook dien.  Bedrog en leuens sal dus nooit deug in die paleis nie, en die koning onderneem om goddelose mense op ’n daaglikse basis uit te sorteer in die stad van die Here.  Hoe waar en noodsaaklik is dit nie ook in ons land in die publieke sfeer nie!

Boodskap van die Psalm

Psalm 101 fokus op die noodsaak van integriteit in alle sfere van die lewe.  Die koning wy hom op persoonlike vlak toe aan ’n onberispelike lewe, verbind hom daartoe om dit op alle sosiale vlakke na te streef, en hom te omring in die publieke lewe met mense van integriteit.  God se troue liefde en geregtigheid is die voorbeeld wat die standaard bied waaraan almal hulleself moet meet en waarheen hulle moet streef.

Wanneer sal ek dit bereik?”  Die Psalmis sê, wanneer ek myself resloos daarvoor gee in elke verband waarin ek leef: persoonlik, sosiaal en publiek.

In die NT word dié ideaal verwesenlik in die verbintenis aan dié Een wat dit namens ons reggekry het, en wie se geregtigheid ons nou toegereken word: “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is.  Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak (geregtigheid), die heiliging en die verlossing.” (Paulus in 1 Kor. 1:30).

Maar, soos in die Psalm: God se gawe kom nie tot sy reg, sonder dat ek my nie ook daaraan oorgee of toewy nie, soos Paulus aan die Filippense skryf: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (2:12–13).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.