Skip to main content

Psalm 105 – Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het

Bybelskool.com bydrae grafika
Bybelskool.com bydrae

Psalm 105 is ’n besondere beskrywing van God se dade in die verlede wat in dankbare herinnering geroep word om, belangrik, as getuienis aan die nasies te dien.  Só begin die Psalm in vers 1: “Loof die Here!  Roep Hom aan!  Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.”  Dit is kortweg die diepsinnigste beskrywing van lofprysing.

Lofprysing is om die Here in Sy teenwoordigheid vir sy dade te prys.  Dit is om tegelykertyd sy dade aan die nasies bekend te maak.

Dieselfde dade van God is immers ook bedoel vir mense wat Hom aanroep uit hulle eie kontekste van verdrukking.  Soos die Psalm dit illustreer in die lewe van Israel, Hy gaan in verhouding met mense (verbond), Hy verlos hulle en vestig hulle in ’n leefbare ruimte waar hulle tot hulle reg kan kom.  Dit is immers wat Psalm 104 reeds gesê het van wat ’n mens van God se werk in die skepping en geskiedenis van die hele wêreld kan agterkom.

God se magtige dade het daarom beslissende betekenis vir die hele aarde, want dié God is bekend daarvoor dat Hy die onmoontlike doen vir dié wat by Hom hulp en beskerming soek, soos bevestig deur die hou van sy beloftes aan die voorvaders, Abraham, Isak en Jakob, dít waaroor Psalm 105 dit het.  In Psalm 106 word juis dít die basis van die gebed om verlossing uit die ballingskap.

Psalm 105:1–5 in 1 Kronieke 16

Ons tref die eerste 15 verse van Psalm 105 ook aan in 1 Kron. 16 waar dit as ’n keurspel van lofliedere – saam met die hele Psalm 96 en twee verse uit Psalm 106 – gebruik word in die feesviering met die tuiskoms van die ark in Jerusalem in die tyd van Dawid.  Die Kronis gebruik ‘n deel van die verhaal in 2 Samuel 6 daarvoor en voeg daarby ‘n keurspel uit die drie Psalms (in hierdie volgorde: Ps. 105:1–15; 96:1–13; 106:47–48) met die titel “Loof die Here”, wat Dawid vir Asaf en sy ampsgenote die eerste keer laat uitvoer het by die geleentheid.

God se dade in die geskiedenis word dus gebruik as motivering van die volk om die Here bo alles te dien en prys, as bede dat Hy altyd só met hulle die pad sal stap.  Lees hier meer wat ek vroeër daaroor geskryf het: 1 Kronieke 16-17 – Dawid vier die tuiskoms van die ark en ontvang omvattende seën van God.

Indeling

Die Psalm kan in vier breë dele opgedeel word wat eintlik die hele geskiedenis van Israel beskryf.  Dit vorm die kernsake waarvoor die Psalmis die geloofsgemeenskap oproep om die Here te loof en Hom aan te roep as ’n getuienis aan die nasies:

  1. VERBOND: God se belofte van land en nageslag aan die aartsvaders – vers 1–11
  2. VERDRUKKING: Die trek na en verdrukking van die volk in Egipte – vers 12–23
  3. VERLOSSING: Die verlossing van die volk deur die plae in Egipte – vers 24–36
  4. VESTIGING: Die vestiging van die volk deur die Uittog, woestyntyd en Intog terug in die beloofde land – vers 37–45

1.  VERBOND: God se belofte van land en nageslag aan die aartsvaders – vers 1–11

Let op die entoesiasme waarmee die lofprysing beskryf word: “Sing vir Hom, speel vir Hom; praat met oorgawe van al sy wonderwerke. Beroem julle in sy heilige Naam; laat die harte van hulle wat die Here opsoek, bly wees.” (vers 2-3 – 2014 vertaling).  Dit is hoe lofprysing altyd moet wees.

Die Here se krag (1983: “hulp en beskerming”) en teenwoordigheid moet ook voortdurend opgesoek word (vers 4) onder andere deur sy wonders en tekens in herinnering te roep (vers 5).  Die soeke na God se krag herinner my aan Jesus se belofte in Hand. 1:8 dat ons krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom en dat dit ons in staat sal stel om Sy getuies te wees regoor die wêreld.  Daarby moet die uitverkore volk onthou, sê die Psalmis, dat dié Here hulle God is.  Trouens, wat Hy doen, geld vir die hele aarde (vers 7).

Dié God hou Sy verbond altyd in stand in terme van die vervulling van Sy beloftes, in Israel se geval aan die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob.  Sy belofte van ’n ruimte in die land Kanaän as “afgemete erfdeel” (1983: “grondgebied en eiendom”) bly dus van krag.  Dit is ’n vaste reël en ewige verbond (vers 10).

2.  VERDRUKKING: Die trek na en verdrukking van die volk in Egipte – vers 12–23

Die Psalmis fokus nou op die tyd van die aartsvaders tot en met hulle verblyf en uiteindelike verdrukking in Egipte.

Let op die beskrywing in vers 15 van die voorvaders as profete (Abraham word direk só genoem in Gen. 20:7) en as gesalfdes.  Gesalfdes is mense wat bewus is van God se roeping.  Profete is mense wat bewus is van God se wil.  Die Psalmis verwys hier waarskynlik na die twee verhale van Abraham en Isak, in Genesis 20 en 26 onderskeidelik, waar God se hulp en beskerming in hulle interaksies met Abimelek, die Filistynse koning van Gerar, vertel word.

Die verhale het die aartsvaders se status as gesalfdes en profete vir die Psalmis bevestig, sowel as dat hulle mense was wat deur God beskerm is.  Lees gerus hoe God deur ’n droom (Gen. 20) en ’n “Godsvalligheid” (Gen. 26) dié twee aartsvaders beskerm het spesifiek in terme van hulle vroue, Sara en Rebekka, wat natuurlik ook beteken het dat hulle nageslag beskerm is.

’n Interessante idioom word in vers 16 gebruik om die hongersnood te beskryf.  Die 1983 vertaling het: “en al hulle kos laat opraak het,” waar eintlik letterlik staan: “elke stok vir brood het Hy gebreek,”  wat verwys na die stokke waarop hulle ringvormige broodjies opgehang is, wat nutteloos geraak het weens die hongersnood (2014 vertaling).  Daar was niks meer om daaraan op te hang nie!

Die Psalmis fokus vervolgens op die verhaal van Josef se gevangenskap in Egipte wat deur God begenadig is om ’n verlossing vir sy mense in Egipte te bewerk.  God se werk word in vers 19–22 beklemtoon in die waarmaak van Josef se woorde.  Dit verwys na Josef se uitleg van sy drome in Kanaän (Gen. 37) en in die tronk (Gen. 40), sowel as dié van farao (Gen. 41), soos die Here dit vir hom gegee het.

Hierdie proses het egter ingesluit dat Josef deur ’n tyd van toetsing moes gaan totdat die woord van die Here uitgekom het.  Dit het sy verwerping deur sy broers, sy verknegting in die huis van Potifar, sy versoeking deur Potifar se vrou, sy verdrukking in die tronk, en uiteindelik ook sy lyding onder die wispelturigheid van mense ingesluit: “Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.” (Gen. 40:23).  God het egter Josef se woorde telkens bewaarheid, met die gevolg dat die koning hom losgelaat en oor Egipte en daarmee eintlik oor die hele wêreld van sy tyd aangestel het (vers 20–22).  Daarom vertaal die 2014 vertaling vers 19b met: “Die woord van die Here het hom gelouter”.

3.  VERLOSSING: Die verlossing van die volk deur die plae in Egipte – vers 24–36

Die Psalmis herinner die geloofsgemeenskap aan God se seën van vrugbaarheid in Egipte wat uiteindelik egter uitgeloop het daarop dat hulle deur die Egiptenare gehaat en onderdruk is.  Let op dat die Here ook daarin betrokke gesien word: “Hy het die gesindheid van die Egiptenaars verander.” (vers 25).

Die Here se uiteindelike plan daarmee was egter verlossing, en Moses en Aäron word gestuur om die Israeliete te verlos deur wondertekens, die plae in Egipte.  Agt van die tien plae word genoem: duisternis (9de – miskien hier eerste geplaas as ’n soort simboliese opsomming van die effek van al die plae): water in bloed (1ste), paddas (2de), steekvlieë (4de – 1983 vertaal “insekte”), muggies (3de), hael (7de), sprinkane (8ste), en die dood van die eersgeborenes (10de).  Interessant, ook in Psalm 78 word nie ál die plae genoem nie, in daardie geval nege van die tien, maar ook nie in volgorde soos in Eks. 7–12 nie.  Die plaag van die duisternis word nie in Psalm 78 genoem nie, en die plaag van die pessiektes (5de) en swere (6de) weer nie in Psalm 105 nie.

Wat belangrik is van dié plae is dat hulle as woorde aan die Egiptenare beskryf word. In vers 27 staan daar letterlik oor die wonders dat dit: “woorde van/oor sy tekens” was.  Die Here wou hê dat die Egiptenare deur die plae sy wil sal agterkom, dat Hy die Israeliete gaan verlos, en dat hulle daarmee moet saamwerk, anders sou dit hulle suur bekom.  Maar, hulle het nie op sy woorde ag geslaan nie (vers 28).

4.  VESTIGING: Die vestiging van die volk deur die Uittog, woestyntyd en Intog terug in die beloofde land – vers 37–45

Die Uittog uit Egipte word daarna beskryf met ’n paar uitsoek aspekte van dié proses – die goud en silwer, die begeleidende wolk en vuur, die kwartels en manna, die water uit die rots – sonder om te vertoef op die uitdaging wat die volk aan die Here in die woestyn gestel het.  Die Here se waarmaking van die belofte aan Abraham, sy dienskneg, word eerder in herinnering geroep (vers 42) met die vreugde wat Hy aan sy volk, sy uitverkorenes, verskaf het.

Hy het aan hulle die land van ander volke gegee, sodat hulle nie net ’n ruimte kan hê om in te floreer nie, maar “sodat hulle sy vaste voorskrifte kan nakom en sy wette kan naleef.” (vers 45 – 2014 vertaling).  “Halleluja!”  “Prys die Here!”

Die boodskap van die Psalm

Soos met die res van die 4de Psalmboek, fokus Psalm 105 op die feit dat Jahwe reg deur die eeue getrou gebly het aan sy verbond met die volk van Israel.  Dit is ook ’n boodskap wat die nasies betrek.  Soos God getrou was aan die aartsvaders in Kanaän só was Hy dit aan die volk in Egipte.  Hy het sy verbond nagekom en hulle verlos uit hulle verdrukking en weer gevestig in die land van die belofte, Israel–Kanaän.

Die implikasie is dat God presies dieselfde sal doen vir enigiemand wat Hom ernstig neem en hulle op sy troue liefde verlaat, selfs dié nasies wat hulle aan die verkeerde kant van die impak van die verlossing en vestiging van Israel bevind het.  Waar met God gewaag word, word jy ingetrek in ’n verhouding met Hom (verbond) en kan jy staatmaak daarop dat ook jy ’n gesalfde (geroepene) en profeet (bekend met God se wil) word wat op God se verlossing, versorging en vestiging kan staatmaak.  Dan sal jy ook sy voorskrifte wil en kan nakom.

Almal moet dít hoor.  “Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.”  “Halleluja! “

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar