Psalm 93 – God is Koning oor die wêreld en in die geloofsgemeenskap
Hierdie Psalm vier God se heerskappy oor die chaosmagte wat stabiliteit gebring het oor die wêreld (vers 1–4) sowel as sekuriteit in die geloofsgemeenskap (vers 5). Dit resoneer met die gedagte van die rus waarvan Gen. 2:1 praat wat beide ’n Goddelike dimensie as ’n menslike dimensie het. Dit is waarom dié Psalm dan ook met die “sabbatsweek” geassosieer is (vgl. my bydrae oor Psalm 92).
Die Here is Koning oor die wêreld – vers 1–4
Let op hoe God se koningskap van ouds af geteken word: “U troon staan vas van vroeg af; U is van ewigheid af.” (2014 vertaling). Hy is omgord met krag en majesteit.
Die druising van die “riviere” staan vir beide die geraas van “baie waters” (vers 4; vgl. Gen. 1:2) wat die oerchaos waaruit God geskep het, in herinnering roep, sowel as vir die geraas van die nasies (Jes. 17:12 – vgl. Ps. 2). God troon dus oor die skepping sowel as oor die mensdom.
Die Here is Koning in die geloofsgemeenskap – vers 5
Dieselfde God is ook Koning in die geloofsgemeenskap. Daarom kan ’n mens sy riglyne vir die lewe (verordeninge [1983 vertaling] of bepalings [2014 vertaling]) navolg, want nie net staan dit vas nie, dit is ook betroubaar, want dit bring sekuriteit, stabiliteit en rus vir en in die geloofsgemeenskap.
Om die waarheid te sê, die tempel word op ander plekke ook God se rusplek genoem (bv. Ps. 132:14: “Dit is my rusplek vir altyd; hier wil Ek woon, dit is my begeerte.”). Daarom is heiligheid iets wat pas nie net by sy huis nie, maar ook in die lewe van sy mense. Sy bepalings sal dus tot in lengte van dae nie net van krag bly nie, maar van betekenis vir alle gelowiges bly.
Die boodskap van die Psalm
Die Psalm leer my dat God vir stabiliteit in die wêreld en sekuriteit in die geloofsgemeenskap sorg. Daarvoor kan ’n mens Hom vertrou. Dit kan ’n mens ook van Hom vra. Daarom kan ek ook myself gee vir sy riglyne vir die lewe, want dit is in Sy teenwoordigheid wat ek self en die geloofsgemeenskap betekenis en sin vind. En dit is ’n boodskap wat dié wêreld moet hoor.
View all posts in this series
- Inleiding op die 4de Psalmboek: Psalms 90-106 - June 2, 2014
- Psalm 90 – Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid bekom - June 3, 2014
- Psalm 91 – Ja, U, Here, is my skuilplek! - June 4, 2014
- Psalm 92 – Groots is alles wat U doen, Here - June 5, 2014
- Psalm 93 – God is Koning oor die wêreld en in die geloofsgemeenskap - June 6, 2014
- Psalm 94 – U wat onreg straf, verskyn tog! - June 9, 2014
- Psalm 95 – Die Here is ons God, en ons is sy volk - June 10, 2014
- Psalm 96 – Sing en getuig tot eer van die Regeerder en Regter van die aarde - June 11, 2014
- Psalm 97 – Verbly julle, liefhebbers van die Here - June 12, 2014
- Psalm 98 – Hy kom om oor die aarde te heers - June 13, 2014
- Psalm 99 – Kom buig in aanbidding voor Hom: Heilig is Hy! - June 16, 2014
- Psalm 100 – Juig al wat leef, juig voor die Heer! - June 17, 2014
- Psalm 101 – Ek wil my daaraan wy om met integriteit te lewe - June 18, 2014
- Psalm 102 – Hy sal ons gebed nie minag nie - June 19, 2014
- Psalm 103 – Ek wil die Here loof met alles wat in my is - June 20, 2014
- Psalm 104 – Hoe groot is U, hoe groot is U! - June 23, 2014
- Psalm 105 – Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het - June 24, 2014
- Psalm 106 – Verlos ons, Here ons God! - June 25, 2014