Psalm 91 – Ja, U, Here, is my skuilplek!

Dit is asof Psalm 91 eenvoudig die gedagtegang van Psalm 90 voorsit, beide in terme van die fokus op die idee dat God ons toevlug is, asook in terme van die feit dat daar nie ’n opskrif vir dié Psalm is nie.  Die Griekse vertaling, die LXX, het wel ’n opskrif “’n Loflied van Dawid”.

Corrie ten Boom

Dit is ook ’n Psalm wat van besondere betekenis vir Corrie ten Boom en haar familie was.  In hulle huis in Haarlem, Nederland, wat intussen in ’n museum verander is, lê haar pa, Casper, se Bybel oop by Psalm 91.  Met hulle inhegtenisneming deur die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog, omdat hulle Jode in hulle huis weggesteek het, het hy vers 1 en 2 uit dié Psalm vir sy familie aangehaal, en sonder vrees die beproewing van die aanhouding aanvaar: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Allerhoogste geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’” 

Sy weerstand teen die Nazi’s het tot op daardie stadium reeds vir ongeveer 800 Jode ’n skuiling en bevryding gebied, maar hy is egter tien dae later in aanhouding dood, ’n ander soort “bevryding”, soos Corrie dit later in terme van dié Psalm beskryf, omdat hy in God se wêreld inbeweeg het.

Een van die tekste in Psalm 91 wat vir Corrie self van besondere betekenis was, was die belofte in vers 16: “Met ’n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.”  Dié vers het vir haar betekenis gekry toe sy in solitêre aanhouding opgesluit was op haar 52ste verjaarsdag in die Nazi konsentrasiekamp in Ravensbruck.  Sy het daarin die belofte van die Here gehoor dat dié gevangenis nie die einde vir haar was nie, soos dit inderdaad uiteindelik die geval was.

Daar is ook ’n rolprent gemaak oor haar lewe The Hiding PlaceLees meer oor haar in hierdie kort biografie wat op die internet beskikbaar is.  Sy het die rype ouderdom van 91 jaar bereik – net so oud soos die Psalm se getal – en ’n invloed regoor die wêreld gehad met optredes in meer as 60 lande waar sy veral oor vergifnis en versoening gepraat het.  ’n Geseënde lewe, 11 jaar langer as die kragtige lewe waarvan Psalm 90 praat!

Indeling

Die Psalm kan in twee dele opgedeel word:

  • Vers 1–13 – ’n Beskrywing van die beskutting en beskerming wat die Here is en gee as motivering om op Hom te vertrou.
  • Vers 14–16 – ’n Belofte van bevryding en beskerming van die Here af.

Baie geleerdes onderskei ook verskillende “stemme” in die Psalm wat moontlik in die liturgiese gebruik van die Psalm ’n rol kon speel (aanhalings uit 2014 vertaling – veral vers 9 is duideliker in twee dele geskei in dié vertaling en lees helderder in “stemme” as die 1983 vertaling):

  • Eerste stem: vers 1–2: (Hy) “sê vir die Here: ‘My skuilplek …’”;
  • Tweede stem: vers 3–4: “Ja, Hy is die Een wat jou red …”;
  • Eerste stem: vers 5–8: “Jy sal nie bang wees …”;
  • Eerste stem: vers 9a: “Ja, U, Here, is my skuilplek!”;
  • Tweede stem: vers 9b–13: “Die Allerhoogste het jy jou woning gemaak: onheil sal jou nie tref nie …”;
  • God se stem: vers 14–16: “Omdat hy aan My toegewy is, sal Ek hom bevry”.

Dit is natuurlik nie nodig om twee stemme te onderskei nie, maar dit verleen ’n dinamiese kwaliteit aan die “gesprek” wat as’t ware in die teks van die Psalm opgesluit lê.

Beskutting en beskerming – vers 1–13

Dit is merkwaardig dat dit lyk asof dié Psalm aan ’n individu gerig word om die Here direk aan te spreek as die Een wat beskut en beskerm, moontlik in ’n tyd van gevaar of beproewing.  Die raad wat die Psalm gee, is om God se beskutting en beskerming as lewensmotto te bely, daaraan vas te gryp en op God te vertrou, maar nie saak wat die uitkoms van die lewe is nie.

Die belydenis dat God dáár is vir dié wat Hom vertrou, is ’n fundamentele vertrekpunt vir die lewe van geloof.  Dit is in die “skaduwee van die Almagtige” waar ’n mens veilig kan oornag, soos vers 1b letterlik sê (1983 vertaling: “beskerming van die Almagtige”), iets wat baie keer metafories van die konings van daardie tyd gesê is, dat ’n mens in hulle “skaduwee” veilig is.

God se hulp is egter nie net vir wanneer ’n mens fisies naby Hom is nie, maar ook in die oopte waar die voëlvanger se wip – enigiets wat jou kan verstrik – en dodelike siekte – enigiets wat skade kan aanrig – jou kan tref, want sy vleuels strek ook tot daar.  Só beskerm Hy ons van alle kante.

Daarom hoef ’n mens nie te vrees vir verskrikking in die nag of vir ’n pyl in die dag (vyande), ’n pessiekte in die nag of ’n epidemie in die dag (siekte) nie – vers 5–6.  Selfs in die oorlog sal daar vir jou oorwinning wees (vers 7).  Dieselfde geld vers 9–13 waar die Here belowe, dat as Hy jou skuilplek is, beskut Hy jou van onheil en plae, gee Hy sy engele opdrag tot beskerming.  Hy beskerm jou selfs in doodsgevaar in die natuur (leeus en slange).  Sterk metaforiese taal wat die beskutting en beskerming van die Here belowe met alles wat Hy tot sy beskikking het – natuurlik en bo–natuurlik – aan dié wat Hom vertrou – waar hulle hul ook al mag bevind en in alle omstandighede.

Bevryding en beskerming – vers 14–16

Let op dat dit die Here self is wat nou aan die woord kom, waarskynlik deur óf ’n priester óf ’n profeet, of soos sommige geleerdes sê, nog meer waarskynlik ’n wyse leraar wat die beloftes van die vorige sprekers bevestig: “Omdat hy aan My toegewy is, sal Ek hom bevry.” (2014 vertaling).

Die boodskap is duidelik.  Omdat daar ’n intieme verhouding tussen God en dié persoon is, sal God hom nie net beskerm nie, maar ook sy gebede verhoor en in sy nood by hom wees.  Sy lewe is in God geborge en in ’n lang lewe sal hy hom oor God se hulp kan verbly.

Boodskap van die Psalm

Wat my tref, is dat die boodskap van Psalm 91 nie as’t ware ’n argument vir God se beskerming is nie.  Dit is nie asof die Psalmis iemand probeer oortuig dat God vir beskerming vertrou kan word nie.  God se beskerming word eenvoudig as ’n realiteit geskets waarmee gelowiges tot vertroue in God aangemoedig word.  Niemand hoef daaroor te twyfel nie.  God kan vertrou word.

Dié vertroue kan ook vasgehou word, selfs al het ons verskillende ervarings van God se beskerming.  Dit is waarmee die verskillende ervarings van Corrie en Casper ten Boom in hulle vertroue op die belofte van hierdie Psalm my help.  Corrie het ‘n lang lewe gehad in haar vasgryp aan die boodskap van die Psalm.  Casper het ‘n korter lewe gehad, maar steeds ook in sy eie vasgryp aan die boodskap van die Psalm.  Twee teenoorgestelde ervarings – een boodskap: die Here is vir hulle ‘n skuilplek.  En ek gebruik doelbewus die teenswoordige tyd …

Hulle gesamentlike ervaring leer my dat die ervaring dat God ’n skuilplek is, nie in die eerste plek lê in die fisiese beskerming of beskutting in hierdie lewe nie, maar ook en miskien selfs veral in die ewige dimensie daarvan.  Só het Casper dit ervaar.  Hy het gelewe, al het hy fisies gesterwe.  Só het Corrie dit ook ervaar.  Sy het wel aanvanklik die fisiese dood in die strafkamp vrygespring en so God se beskerming ervaar.   Maar, sy het met haar uiteindelike dood egter steeds God se beskerming geniet, toe sy soos haar pa die ewigheid betree het.

Dit is ook wat Jesus vir ons oor dié teks geleer het.  Dit is nie ’n magiese belofte van fisiese beskutting, beskerming en bevryding in alle omstandighede nie.  Toe die duiwel met die versoeking in die woestyn voorgestel het dat Jesus van die tempel afspring, omdat die Here in Psalm 91:11 belowe dat die engele Hom op hulle hande sal dra en sal sorg dat Hy nie sy voet teen ’n klip sal stamp nie, het Jesus dit getroef met ’n aanhaling uit Deut. 6:16: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” (Matt. 4:5–7).

Tog bly God se bewaring ‘n werklikheid!  Ook fisies!  Dit is wat Jesus ervaar het.  Aan die een kant het Hy aan die kruis gesterwe, maar God het Hom nie in die steek gelaat nie.  Aan die ander kant het Hy ook weer uit die dood uit opgestaan, want God het Hom nie in die steek gelaat nie.  Daarin lê die evangelie van Psalm 91 opgesluit, ook vir ons.

Ek kan dus weet: God sal my ook nie in die steek laat nie.  Of ek nou lewe en of ek nou sterwe: “Ja, U, Here, is my skuilplek!”

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (6)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: