Skip to main content

Psalm 94 – U wat onreg straf, verskyn tog!

Hierdie Psalm is bedoel as ‘n versekering en bemoediging vir die geloofsgemeenskap wat smag na reg en geregtigheid op aarde.  Die lerende inhoud en vloei daarvan in vier duidelike dele dui waarskynlik op ’n liturgiese preek–Psalm.  Die Psalm kan as volg opgedeel word:

  • Belydenis oor God se Regterskap as appèl dat Hy moet optree – vers 1–7;
  • Appèl op die onverstandiges en dwase – vers 8–11;
  • Bemoediging van dié wat op God se woord bly vertrou – vers 12–15;
  • Gebed dat God teen korrupte regters sal optree– vers 16–23.

BELYDENIS: ”U wat onreg straf, verskyn tog!” – vers 1–7

Die Psalm begin met die belydenis oor en appèl op God: “Here, God wat onreg straf, U wat onreg straf, verskyn tog!”  (vers 1).  Daarin lê die boodskap en krag van die Psalm.  Die 2014 vertaling vertaal “wat onreg straf” met “wat vergeld” wat heel korrek op die omkeer van die situasie dui, wat dié wat onreg pleeg hulle “verdiende loon” gee.

Kom, Regter Van die aarde, reken af met die mense wat hulle teen U verhef.” (vers 2).  Die Psalmis gebruik hier ’n baie belangrike titel vir God wat sy reg oor almal op die aarde beskryf: “Regter van die aarde.”  Dit is omdat God die reg oor die hele aarde het as Skepper, dat Hy vir die handhawing van die reg oor die hele aarde gevra kan word.  Dié gebed maak dus staat op die uitvoering van God se regsheerskappy oor alles wat leef en beef.

Die Psalm is daarom ook gemik téén dié mense wat God se reg dwarsboom, dié wat hulle teen Hom verhef (vers 2 – “hoogmoediges” – 2014 vertaling), dié wat hulle verlustig in die leed van ander mense (vers 3), dié wat oorkook van vermetelheid (“woorde onbeskaamd laat uitborrel” vertaal die 2014 vertaling!) deurdat hulle spog met die onreg wat hulle begaan (vers 4).  En dan lys die Psalmis die mense wat daardeur getref word: die weduwees, vreemdelinge, en weeskinders (vers 6).

Let op dat dit die weerloses in die gemeenskap is wat genoem word, dié wat óf hulle versorgingsisteem verloor het – weduwees en weeskinders – óf dié wat inkommers is en sukkel om deel van die gemeenskap te word – vreemdelinge (weens politieke of ekonomiese redes – lees wat Lev. 19:34 daaroor te sê het).  Let ook op die solidariteit na beide kante toe.  Dié weerloses skaar hulle by die volk van God en die Psalmis reken hulle as deel van die volk van God, hulle is deel van God se “erfdeel” (2014 se vertaling van “wat aan U behoort”).  Belangrik!

Dan sê hulle nog: ‘Die Here sien dit nie, die God van Jakob merk dit nie op nie.’” (vers 7 – 2014 vertaling).

APPÈL: “Sien dit tog in, julle onverstandiges onder die volk!” – vers 8–11

Hier sien ons dat die goddeloses en onverstandiges deel van die Godsvolk is.  Daarom kan dié Psalm ook aan hulle gerig word.  Hulle word as onverstandig en dwaas uitgekryt, omdat hulle twee goed van God nie verstaan nie.

  1. God het hulle gemaak – ore, oë, gedagtes.  Hy weet aan die eenkant daarom op intieme wyse presies hoe hulle is en wat hulle hoor, sien en dink.  In ’n sekere sin beteken dié gedagtes nie veel nie, want die Here weet “dat dit nietigheid is” (vers 11 – 2014 vertaling – 1983 het: “dit beteken niks” wat miskien ‘n bietjie oordadig is!).  Maar, dit beteken aan die ander kant ook dat God kan sien, hoor en dink, asof dit nodig is om dit te onderstreep!
  2. God is die hele tyd betrokke by mense, regoor die wêreld, in elke nasie.  Hoe?  Om mense op te voed, te onderrig en kennis mee te deel, sê Psalm 94.  Ons hoor hier iets van Psalm 19 se onderrig wat vanuit die Skepping uitgaan.  Ek het vroeër hieroor geskryf: Psalm 19 – God bestaan en God praat met ons.

BEMOEDIGING: “Hoe gelukkig is die mens vir wie U teregwys, Here” – vers 12–15

Die Psalmis rig hom vervolgens op diegene wat bereid is om te luister na wat hy te sê het, dié wat hulle deur God wil laat opvoed (“teregwys” – 2014 vertaling). Dié onderrig kom uit die “woord” (“wet” in die oorspronklike teks), waarin die ander deel van Psalm 19 in herinnering geroep word.  Sulke mense sal nie net gelukkig wees nie, maar ook rus kry na tye van teëspoed (onheilsdae – 2014 vertaling) as die Here optree teen dié wat goddeloos opgetree het.

’n Wonderlike belofte van die Here om aan vas te hou in tye van teëspoed!  Die Here sal sy volk nie in die steek laat nie, daarop kan die volk vertrou.  “Sy erfdeel sal Hy nie laat vaar nie.” (vers 14 – 2014 vertaling). Die regspraak sal weer regverdig wees en “almal met opregte harte sal dit steun” (vers 15 – 2014 vertaling).

GEBED: Die Here ons God sal korrupte regters vernietig – vers 16–23

Ná die interne aanspreek van die onverstandiges en die bemoediging van die opregtes, wend die Psalmis hom teen dié plek waar onreg die meeste gedy, die korrupsie van dié wat verantwoordelik is vir die regspraak, die regters.  Hy noem dit “die setel van vernietiging” (2014 vertaling – vgl. vers 15 waar dit reeds aangeraak is), mense wat God se duidelike uitsprake in sy wet skade aandoen.

Hy vra dus die retoriese vraag: “Wie sal vir my opstaan teen kwaaddoeners?” (vers 16 – 2014 vertaling).  En antwoord dit met die getuienis dat dit uiteindelik net God self is wat kan en sal help.  Anders was die stilte van die graf immers lankal reeds sy tuiste.  Dit was juis toe hy gedink het dat sy voete gly (“gaan swik” – 2014 vertaling) dat die Here se troue liefde hom ondersteun het.  Selfs wanneer hy baie onrus in sy binneste ervaar, ontstellende gedagtes  wat vermeerder en hom sy rus ontneem, is dit God se ondersteunende vertroosting wat hom tot bedaring bring.

Laat my dink aan wat Paulus veel later sou skryf in Filippense 4:6–7.  Ek het daaroor die volgende geskryf:

“Met hierdie gedagtes oor God se nabyheid as begronding vir hulle vreugde en inskiklikheid, is dit geen wonder dat Paulus daarvandaan beweeg na die gemeente se behoeftes en besorgdhede nie.  Omdat God naby is, kan hulle oor alles en in alle omstandighede na Hom toe gaan in gebed.

Letterlik staan daar in vers 6: “maak in alles (alle situasies) julle versoeke (aitema) bekend aan God deur gebede (proseuche) en versoeke/petisies (deesis) met danksegging (eucharistie).”  

Die verskillende woorde vir gebed in die vers moenie te veel onderskei word nie, omdat dit eintlik as sinonieme gelees kan word.  Die punt van die vers is eintlik net om duidelik te sê: angstigheid oor allerlei word deur voortdurende veelvuldige versoeke verlig!

Die aanmoediging tot gebed word opgevolg met een van die mees ongelooflike beloftes wat Paulus gee, letterlik vertaal: “gevolglik sal die vrede (eirene) van God, wat alle begrip/denke (nous) te bowe gaan, oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”.

Dit is die enigste plek in die NT waar só van “die vrede van God” gepraat word.  Paulus bedoel hier nie die vrede met God nie, maar die vrede van God, die vrede wat Hy self het, die vrede wat Hy self is, die vermoë wat Hy het om nie angstig te raak oor allerlei nie, maar in beheer en veral getrou aan Homself te bly.

Dít is wat die harte en gedagtes van die gemeente sal bewaar.  En dié vrede gaan alle denke te bowe – dit bedoel letterlik dat dit iets is wat beter is as die beste beplanning!  Ons gedagtes en emosies is soos ‘n oorlogsterrein wat God sal beskerm teen angstigheid en chaos.”

Lees meer hier by my bydrae: Filippense 4:2-23 – Om saam in die Here te wees, bid en leef.

Terug by die Psalm – die Here duld nie korrupsie in die regspraak nie; Hy wil nie hê dat enigiemand ellende aangedoen word nie.  Daarom is Hy self ’n toevlugsoord, ’n veilige vesting, ’n rots by wie gelowiges kan skuiling soek en vind.  Hy is die een die onregverdiges sal laat boet vir hulle onregverdige dade, wat hulle sal verdelg oor hulle boosheid. Trouens: “met hulle kwaad sal Hy hulle vernietig,” (vers 23b – 2014 vertaling), d.w.s. hulle sal val deur hulle eie toedoen.

Die boodskap van die Psalm

Die Psalm bring groot rus in my gemoed.  Net soos God die reg in die heelal handhaaf, só doen Hy dit op aarde.  Ons mag dus die gebed in die Ons Vader bid: “Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” (Matt. 6:10b).  En ons mag God vertrou dat Hy dit in spesifieke sake sal doen, bv. in hoe regspraak uitgeoefen word.

Selfs as dinge op die korttermyn nie uitwerk nie, bly Hyself vir ons ’n toevlug – Fil. 4:6–7 bring my tot rus! – en gee Hy rus van die ontstellende gedagtes wat in ons binneste vermenigvuldig (vers 19), en beur ons op deur sy vertroosting, NT gesproke deur Die Vertrooster, die Heilige Gees.  Die vrede van God sal oor ons gevoelens en gedagtes die wag hou, belowe Paulus ons.

Ek neem dié vers met my mee vandag: “Wanneer ontstellende gedagtes meer word in my binneste, dan beur u vertroosting my op.” (vers 19 – 2014 vertaling).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders